Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Vog-wil

September 30, 2009 in Sonder kategorie

Hoewel Janklaas g’n snars daarvan verstaan het nie, moes hy in sy kleintyd die volgende vers leer:

A garden is a lovesome thing, God wot!
Rose plot,
Fringed pool,
Ferned grot–
The veriest school
Of peace;…… (waddehel?)

Hierdie einste vers het by Janklaas kom spook toe hy sy eerste huis aan die suide van Pretoria gekoop het. Die verkopers was twee oumense wat baie lief was vir tuinmaak en die plek was ‘n lushof.

Janklaas het gebaai in die glorie as verbygangers stadiger gery het om die verskeidenheid lelies te bekyk en kastig ongeërg sy mini-eden bly natspuit.

Nou, elke paradys het seker sy slang, en Janklaas s’n het op ‘n vreemde manier op hom afgeseil.

Die oorvloed van vrugte wat die eerste somer gebring het, was gou ‘n verleentheid. Jan het uitgedeel en uitgedeel, en steeds was daar massas perskes en appelkose wat onder die bome lê en vrot het. Dit het allerande onheile meegebring, soos bye, vlieë en knorrige bure.

En toe, die insig. Janklaas sou wyn maak. In Kerkstraat was ‘n sluwe winkeltjie wat die nodige boeke, materiaal en houers verkoop het en spoedig het drommevol vrot vrugte geprut in die buitekamer.

Laat ek dit sommer dadelik duidelik maak: appelkooswyn is sleg. Sleg. Tog het die hordes bouers in die ryk buurman se erf dit met groot dankbaarheid ontvang en gebruik.

Die skewe garage is vandag nog daar te sien.

Katobawyn en perskewyn is sagter op die tong, maar selfs daar het die oorvloed ‘n probleem geraak.

Vandaar, die tweede insig. Janklaas sou die wyn distilleer. En, wat hier verder vertel word, het natuurlik glad nie gebeur nie.

Toerusting en die nodige kennis is bekom, selfs die ou suurlemoenblaartjie waaroor die finale produk moet uitvloei. Eksperimente is uitgevoer en kort voor lank het die eerste, kosbare, helder sappies uit die pypie gevloei.

Wat ‘n lus. Dit is sorgvuldig gebottel, gebruik en uitgedeel en allerweë met groot dankbaarheid ontvang.

Enter, van links, buurman Bokkie. ‘n Vlieënier in die lugmag, ‘n plek waar Bokkie skynbaar die meer kru en ook fyner kunsies van diep drink deur sware ervaring aangeleer het.

Bokkie het drank geken, maar Bokkie het nie mampoer geken nie. Tydens ‘n kuier een aand was Janklaas beïndruk met Bokkie se toepassings en verbruik van mampoer as voor-, hoof- en nagereg, en dan nog in die koffie ook.

Die volgende oggend, egter, was Bokkie nêrens te sien nie. Bokkie was in die bed. Hy was ‘n kermende karikatuur van homself, met rooi vlekke oor sy andersins sagte gelaat, bra soos ‘n gekookte dalmation.

Laat dit van ons manne gesê word dat hulle murg in hulle pype het. Teen die aand was die klanke van musiek en brakery in die tuin langsaan die teken dat Bokkie al klaar genoeg herstel het en besig was om ander te vermaak.

Janklaas is oudergewoonte die volgende dag werk toe en met die tuiskom was daar duidelik moeilikheid. Daar was polisievoertuie voor Bokkie se huis.

Later sou Bokkie oorgestrompel kom en verduidelik dat die polisie sy garage tang vir tang deursoek het. Dit blyk dat een van die gaste so gemarineer was met die mampoer dat hy huis toe gegaan het en sy vrou geslaan het. Dié onsportiewe vrou verklaar toe aan die polisie dat Bokkie ‘n fabriek in sy garage het vanwaar hy die ganse verenigde volke van die voorstede van alkohol voorsien.

Die Janklaas Distilleerdery het taamlik vinnig daarna produksie gestaak.

Dagbreek op Godsewil

September 25, 2009 in Sonder kategorie

In die rooi oggendson

op die plaas Godsewil

blaf ‘n hond voor ‘n oop hek –

die erf is te stil.

Voor die stal blaas ‘n koei

wasemwit wolkies uit,

maar die voerbak is leeg

en die deur is gesluit.

Op ‘n mat in die huis

langs ‘n vlek koue tee,

lê die koplose lyf

van boer Gerhard Viljee.

Bethlehems ster

September 22, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n ander konteks is Tobias seker ‘n effektiewe, aangename lid van die samelewing, gewillig om sy deel by te dra met ‘n blymoedige gees en ‘n hart daartoe geneë om met lus, manlik en kloekmoedig op sy lewenspad te gaan.

In ons kerkkoor het ons sekerlik geen rede gehad om enige alternatief te verwag nie. Hoewel hy verkies om op die skrefies tussen veral die soprane se note te sing, was daar nooit twyfel aan sy entoesiasme en oorgawe nie.

In sy werkure het Tobias blykbaar iets te doen met wiele, moere en skroewe en toe die tyd aanbreek vir die kerk se jaarlikse Kerssangdiens, was hy die aangewese man om te vra om die tegniese deel te behartig. Meer spesifiek, is Tobias versoek om te sorg dat daar ‘n ster gemaak sou word wat die drie wyse manne al met die kerkpaadjie langs na die krip in Bethlehem sou lei.

Afsonderlik beskou is dit nogal ‘n taai opdrag. Tobias het nagedink en op ‘n kabelspoortjie besluit, waar die ster hang aan ‘n wieletjie wat op ‘n vislyn ry en dan nog met ‘n ander vislyn aan ‘n visstok van agter in die galery, via ‘n katrol na vore getrek sou word. Hy het eers oorweeg om die dominee te vra om die draad na die preekstoel toe in te katrol, maar dominee was nie lus vir ‘n getrek op die preekstoel nie. Vandaar die trekkery agter.

Tobias het ook by PE se straatstalletjies afgekom op ‘n flitsende rooi liggie, en die is summier deel gemaak van die swewende ster.

Die konsep was min of meer rein en met die oefeninge het die ster getrou die pad na die kansel vir die drie wyse manne uitgeflits. Dat die een wyse man ‘n mullet gedra het en die ander ‘n paar tattoëermerke het die ster darem nie ontstel nie.

So breek die aand van die sangdiens toe aan. Tobias was oortuig dat die koor nie sonder sy soete tone sou kon funksioneer nie en het ‘n skoolseun op die galery staangemaak, trots met ‘n visstok en ‘n paar instruksies.

Alles het half vlot verloop: ‘n paar engele het rondom die krip ballet en die kleuterskool het met toewyding in skaapsklere in hul hoeke staan en blêr. Josef het ‘n dramatiese monoloog gevoer en Maria het die pop in die krip se hofie afgespons.

In die singery kon ek agterkom dat Tobias se gedagtes elders was, want hy was heel nootvas. Elke nou en dan het hy bekommerd opgekyk na die galery, na wat vir hom die belangrikste deel van die verrigtinge was.

Ek glo nie ek hoef eers verder te vertel nie. Natuurlik sou dinge nie reg loop nie.

Toe die tyd aanbreek het die wyse manne niksvermoedend ingekom en hul pad probeer baan na die voorkant. Maar, daar was geen ster om hulle te lei nie. Blykbaar het die wieletjie sommer uit die staanspoor (!) van sy spoor afgespring en net daar agter bly vashaak.

Hier langs my was arme Tobias ‘n studie van pers ontsteltenis. Dit het gelyk of hy op en af spring sonder om te beweeg, soos hy vir die arme operateur probeer beduie hoe om te maak.

Met hulle natuurlike sin vir rigting het die wyse manne nogtans die roete gevind en mompel-mompel tussen die skapies, en die gemeentelede op ekstra stoele, deurgestrompel na vore.

So driekwart deur het die ster darem blykbaar losgekom en tjierie-tjierie agter die wyse manne aangejaag. Daar naby die voorkant, op die punt om hulle in te haal, het die ding weer ontspoor en vir die res van die diens so min of meer tussen Dan en Gilead bly flikker.

Hoekom, weet ek nie, maar iemand het laggend begin handeklap. Gou was die spanning gebreek en het die hele gemeente die ster ‘n ovasie gegee.

Net die tenore en ‘n deel van die basse het Tobias se gesmoorde vloekwoord gehoor. Niemand het hom kwalik geneem nie.

Seevakansies

September 16, 2009 in Sonder kategorie

Geneties gepredisponeer

tot sentimentele soeke

bevind ek my bewoë in donker Umzumbe.

Soekend, in karige gegewe

na tekens van gister –

nefies, niggies, gesin, geliefdes

en wonder, kopskuddend:

waarom het ek dié tye

nie teerder in my hart gebind?

Nee, selfvergenoegd

het ek dit laat begaan,

en weg, weg laat ontsnap.

Is ek dan regtig so vol eiewaan

dat my diepste gedagtes is

of iemand my ook so sal mis?

Abrakadaba: geluk

September 15, 2009 in Sonder kategorie

Ook maar ‘n bootjie dobberende op die see van die lewe (!) was ek van tyd tot tyd self erg soekend na geluk en/of troos.

Ek wil beslis nie voorgee dat ek nou al die antwoorde het nie, maar wat ek besef het, is dat geluk in ‘n groot mate ‘n eiegemaakte gedagtetoestand is. Natuurlik is daar noodwendig situasies wat geluk aanhelp of afblaas, maar binne dit kan ‘n mens in ‘n baie groot mate kies hoe jy jouself staanmaak.

So ‘n paar jaar terug het ek op die resultate afgekom van ‘n studie oor geluk wat by die universiteite van Michigan en Illinois gedoen is. Die uiteinde daarvan is ‘n reeks aksies wat ‘n mens self kan doen om jou eie gemoedstoestand te verbeter, sodat ‘n mens nie so uitgelewer hoef te wees aan die daaglikse aanslae nie.

Dit klink miskien eenvoudig en vanselfsprekend, maar as mens mooi oor elkeen nadink sal jy ook, soos ek, die nut daarvan insien. Onthou, jy wil jouself uit ‘n denkbeeldige put uitgrawe waarin jy alleen verkeer, en net jy kan dit doen.

Ek het ‘n paar hiervan ‘n mantra gemaak en dit werk regtig.

  • Dwing jouself om te glimlag.
  • Gee voor jy is gelukkig.
  • Staan regop (!)
  • Dink optimisities – fokus op die oplos van probleme.
  • Moenie sê “probeer” nie. Glo jy sal dit regkry.
  • Ontgif jou brein. Vervang elke negatiewe gedagte met ‘n positiewe een. Geen self-kritiese gedagtes nie – sê ‘stop’.
  • Doen dinge wat jou vermoëns besig hou – take wat uitdaag sonder om jou te oorweldig.
  • Vul jou tyd met die dinge wat jy lief is om te doen – kosmaak, stokperdjies, skryf…
  • Vermy emosionele vampiere: mense wat kla, kritiseer of steun weerhou.
  • Rus. Slaap genoeg.
  • Ontwikkel jou spirituele kant. Geestelike gemeenskappe kan emosionele steun gee. Geloof gee ‘n hoër betekenis en fokus buite die self.
  • Oefen 20-30 minute vir 4 tot 5 keer per week, of ‘n 10-minute stappie voor middagete en na aandete (koebaai 7e laan)
  • Leer van oueres. Mense in hulle 60’s en 70’s is dikwels gelukkig.
  • Verminder stres en situasies wat stres veroorsaak (verkeer?)
  • Neem beheer oor jou eie tyd. Raak bewus daarvan hoe jy jou daaglikse ure deurbring.
  • Koester naby-verhoudings vir  sosiale steun en emosionele vrede.
  • Sien die groter prentjie. Met tyd sal dinge beter raak.
  • Raak betrokke. Maak ‘n impak op jou omgewing en samelewing deur produktiewe aktiwiteit.
  • Lag meer. Lag ontspan en vernietig pyn.

Portret van die kunstenar as n jong man

September 13, 2009 in Sonder kategorie

Dit mag vreemd aandoen, maar Janklaas se…uhm…glorieryke wetenskaplike loopbaan het eintlik ‘n beskeie oorsprong gehad.

Hier sal jou siniese leser dadelik opspring en wys op die beskeie einde wat die loopbaan wel ook gehad het, maar die meer lojale leser sal hom natuurlik sorgvuldig ignoreer.

Dit het begin toe Janklaas, toe nog beskikbaar as slapband-sakuitgawe, een Kersfees ‘n chemiestelletjie by sy liefdevolle ouers persent gekry het. Rye, rye gekleurde chemikalieë en die fraaiste flessies en houertjies (die stelletjie, nie die ouers nie).

Met hande sorgvuldig bewend soos die cliché voorskryf, het Janklaas die wonderwêreld van die Wetenskap betree. Poeiertjies is afgemeet en opgeskud, en toe die eerste borrels in ‘n proefbuis wys dat ‘n spyker besig was om op te los, was Klasie gehaak.

Vir die volgende hemelse paar dae was Klasie in sy kamer toegemaak en aan sy tafel gekluister. Geurige gasse, kleurige mengsels en bont vlamme het sy verwondere gemoedjie na vreemde tye en wêrelde gevoer. Klaas was baas oor die domein van die molekule, die elektron en die atoom.

Gou was die stelletjie se wondere uitgeput en het Klasie meer ambisieuse projekte aangepak. Die apteker op die klein dorpie was verbasend gewillig om te verskaf wat gevra word, seker onder die indruk dat Janklaas weet wat hy doen.

Een helder dag het Ousus Klaas blykbaar na een of ander boek in Jan se boekrak kom soek. Wat dit was, weet ons nie (historici verskil). Al interessante boek wat hy gehad het, was AP Treurnicht se “Wat elke seun behoort te weet”. O ja, en sy stash Scopes, onderin sy kas. Maar dit terloops.

In elk geval, in die proses stamp sy toe ‘n flessie om.

Nou, as susters in jou kamer kom en in een onophoudelike stroom flessies van jou tafels afstamp, is daar vir seker die een of ander tyd moeilikheid te wagte. So was dit dan ook, want die flessie was vol soutsuur.

Toe Ousus ontdek dat haar pantoffel net bo-op haar voet flap, sonder ‘n sool onder, was die tafel gedek vir onheil. Kort voor lank het ‘n grimmige Klaas Vader, met Ousus in sy sleurstroom, op ‘n oorblufte Janklaas afgestorm gekom waar hy afgetrokke op die grasperk aan sy neus gelê en trek het. ‘n Bewende vinger is in Klasie se rigting geswaai, met ‘n stroom woorde wat in inhoud vaagweg herinner aan die Ou-Testamentiese “Is dit jy, jou beroerder van Israel?”.

Swaar woorde is gewissel en meubels is verskuif, maar hierdie episode het darem ‘n gelukkige uitkoms gehad. Jan Klaas Laboratoriums is na die leë bediendekamer verban, aan die buitenste uithoek van die erf. Van toe af kon jong Jan na hartelus vuurpyle saamflans; met fosfor, waterstofballonne en natriumontploffings eksperimenteer en in die algemeen die menslike kondisie en wêreldvrede bevorder.

En, toe Janklaas se matriekklas een goeie dag, jare later die Puk besoek, en die Chemiedosent ‘n pers gas uit twee onskuldige poeiers voorttower, was die koeël deur die kerk. Vergeet roem en rykdom, Janklaas is net daar ferm op die pad geplaas wat hy dan ook uiteindelik sou studeer.

Eers later het Janklaas die groot lewensles geleer – moenie dat ‘n funky advertensie jou tot ‘n duur keuse mislei nie.

Mymertyd

September 12, 2009 in Sonder kategorie

Elke aand, met sonsondergang, kom sit ou Giel hier.

Dis die plek waar hy vrede kry. Hier, op die rots langs die rivier waar die groot wilgerbome suis en die bye loom in die ou droë stam zoem. Hy luister na die rustige gesis en gespin van die vinke in die lang biesies en tuur in die water waar die lui golfies die helder weerkaatsings van die rooi laatson buig en krul.

As Giel so sit en mymer, haal hy dikwels sy verslete ou bekfluitjie uit en laat die lang, soet klanke uit die kranse om die vallei weergalm. Dan speel hy ou, geliefde melodieë – When I grow to old to dream, Red River valley, Till we meet again…

Dan dink ou Giel aan sy kinders, oral op die uithoeke van die wêreld. Kinders wat nog nou en dan kom kuier met woelige kleintjies, haastige agendas en vele eise.

Hy onthou die teer tye saam en hoe hulle om die tafel oor gister se drome gesels het. Drome wat vandag se harde werklikhede geword het. Drome wat veronderstel was om geluk te bring.

Hy onthou vir Sêra. Sy Sêra. Hy laat homself nooit toe om lank oor haar te dink nie, anders word die aande baie lank.

Sy was nie veronderstel om eerste te gaan nie. Sy was baie sterker as hy en sou hierdie stiltye beter kon hanteer.

Soos dit donker word, tel Giel sy kierie op en pak die voetpaadjie huis toe aan met sy motgevrete, stywe ou brak agterna.

Vanaand sal hy weer radio luister, met leë oë, totdat hy op die stoel aan die slaap raak. More is dalk anders.

Ritrympie

September 11, 2009 in Sonder kategorie

Ek sien jy het my

opgespoor

op Facebook, en ek

het gehoor

jy wonder hoekom

ek ons met

‘n foonoproep

beëindig het.

Ons het so saam-saam

groot geraak

en heelwat kere

opgehaak.

Jy was ‘n deel

van my en ek

met woning in

my hart se plek.

Al was ek sinies

en ontrou

het jy nog aan my

vasgeklou.

Jou sus se bitter

kommentaar

was gans te gou

en gans te waar.

En hy was daar,

hy’t jou getroos

en nou leef julle

liefdeloos.

Daar’s geen verskoning

geen verweer

Ek was maar ek,

en ons nie meer.

Ek’s jammer oor jou

hier en nou

en oor die seer

het ek berou.

Ek wens ek kon dit

anders wil,

maar lewe is lewe –

verder stil.

Meneer die Voorsitter…

September 10, 2009 in Sonder kategorie

Vergun my om die vagewêreld van akademiese kongresse met julle te deel.

Hierdie kongresse is soort van verpligtend vir loopbaanvordering, vir befondsing en vir blootstelling, maar moenie ‘n fout maak nie – dis saai. Saai, saai, saai.

Dit is hier dat Jannie en Sannie kom rekenskap gee van die vordering met hulle navorsing. Die ding is, J&S doen waarskynlik navorsing op ‘n esoteriese takkie van ‘n verlate studieveld, om te verseker dat hulle werk as ‘nuut’ en ‘uniek’ beskou sal word. Verder is hulle verslag in elk geval ‘n droë uiteensetting van die navorsingsmetode en die ontleding van die data.

So nou en dan is daar ‘n uitsondering. Sommige sprekers kweek baie hard aan ‘n image van eksentrisiteit en hulle aanbieding sal waarskynlik deurspek wees met cartoons, spreuke en liriese foto’s. Jy sal hom met die opstap herken aan sy strikdas en sy gryns van bose antisipasie. Die vrouliker weergawe sal jy herken aan die geklingelinge van enkelringe en ander juwele.

Die eintlike pret lê egter in die analise van die toeskouers.

Jy kry jou eager beaver nuwelinge wat ademloos die syfers sit en indrink. Jy kry jou gewone kongresganger wat in elk geval net daar is om sy eie verslag te lewer en tipies die sessies sit en omslaap, daarom die afdruk van die kongreslêer en potlood op sy wang. Dan kry jy die ou klomp gesoutes, wat verveeld sit en nasien, of iets dergeliks, totdat vraetyd aan die beurt kom.

Vraetyd is eintlik die groot brêg. En, die groot veldslag.

As Prof A se proseliete op universiteit A min of meer dieselfde navorsing doen as die op universiteit B, kan jy seker wees daar sal sorgvuldig wippe gestel word om te bewys wie s’n is die langste.

Die vraesteller sal stadig opstaan, met sy bril op die lêer tik en noem: “In ons eie navorsing het ons gevind dat…”, en dan sy handgranaat gooi. Of: “In sy nuutste artikel in … beweer So-en-so dat …”, en dan vra hoe dit by die spreker se werk aanpas. Punt gemaak – ons hier is eintlik die kenners, en julle is eintlik so ‘n bietjie agter. Sag en subtiel, maar eintlik vernietigend.

Jy kry ook jou jafel wat ‘n punt wil maak, en dan aan die einde gevra word wat dan eintlik sy vraag is. Dan dink hy maar vinnig iets uit.

Agterna is almal met stywe lippe groot pelle by die dinee, maar jy kan maar weet dat ‘n klomp nuwe byle skerpgemaak gaan word vir die volgende kongres.

Die dinge waarmee ons onsself tog kan besig hou…

Slegte koffie

September 10, 2009 in Sonder kategorie

Slegte koffie vanaand het my laat terugdink aan die oerkoffie wat ons destyds in Kollegetehuis ingeneem het. Iets soos slykwater uit ‘n ou kruiwa. Wat in Turkye gebou is. Met trekarbeid.

Hierdie koffie het my darem ‘n plesiertjie ook verskaf. Brink Grobler was ons bedonnerde pennosele reusagtige rugbysenior wat my een aand bars opgekommandeer het om vir hom te gaan koffie haal. In die rondte wat ek gemaak het was daar geen mede-eerstejaar in die gang wat teensinnig was om ook in sy reusekoppie te spoeg voordat ek die koffie vir hom gaan ingooi het nie. Ek het later gedink dit was seker een van die gesondste koffiekoppies wat die jafel in sy hele deurlugtige koshuisloopbaan gedrink het.

En dank vader ek skryf onder ‘n skuilnaam. Daai ou was groot. Dalk is hy nog.

Ons het ook bygedra om Maroela se koffie se smaak te verbeter deur een aand ‘n onderbroek in hulle ketel te gaan dump. Vra maar vir Pienkpolkadot, niks soos ‘n goeie marinade om die meer delikate smake na vore te bring nie. Wonder of hulle dit ooit agtergekom het. Of, dit het dalk van hulle beter mense gemaak, uitstekende bloggers.

Maar, so loop geregtigheid seker sy gang toe ‘n klomp Maroelastudente my een nag tydens ‘n onderbroekraid onder hande gekry het. Ek sweer ek was vandag nog skoenpolitoer uit sommige valleie uit.