Jy blaai in die argief vir 2009 Augustus.

Die fiedeldey van Jan E. Klaas PhD.

Augustus 31, 2009 in Sonder kategorie

As Jan Edelbert Klaas verplig sou word om ‘n taai vinger op ‘n spesifieke jaar te druk, sou die jaar waarin hy so agt geword het, uitstaan as die jaar waarin hy die eerste keer van fiedeldey gehoor het.

Dit was met ‘n kuier van sy liberale doppernefie van Potch. Een aand in die prettige skuimbad het nefie voorgestel dat hulle fiedel. Uit die beskrywing van die aksie het Janklaas onmiddellik besluit dat die doppers se leringe substansieel afwyk van stoere NG-dogma en is alle gedagtes aan fiedel (voorlopig) verban.

Janklaas se volgende kennismaking was toe daar ‘n kamervol biblioteekboeke van die laerskool in Residensia oorgeplaas is na Janklaas se pa se skool.

Synde ‘n ooraktiewe leser (op die platteland word nie sudoku- of tjellolesse aangebied nie) was die vakliteratuurseksie gou deurgewerk. Een van hierdie boeke het egter uitgestaan, omdat dit ‘n reeks interaksies tussen fauna en flora in die natuur beskryf het wat vreemderig ooreengekom het met die fiedelrituele wat neef Jan aanbeveel het.

Die tyd wat Janklaas gekies het om sy nuwe kennis met die gesin te deel, was dalk onoordeelkundig. Dit was met ‘n Sondagmiddagete dat Janklaas uit sy sitplek tussen Pa en Ma verklaar het dat, wanneer ‘n hoenderhaan ‘n hen so erg pik, dit nie noodwendig met aggressiewe bedoelings is nie. Bloot soort van gesê, dag Janklaas, om die gesin gerus te stel.

Watwou.

Doodse, geskokte stilte reg rondom die tafel – Pa, Ma, Ousus, Ouboet, behalwe mede-onskuldige Jongsus wat afgetrokke en tevrede aanhou suig aan haar hoenderbeentjie.

Asemloos en versigtig verwoord Janklaas Senior die vraag op almal se lippe: “Waar. Het. Jy. Dit. Gehoor?”

“O, in ‘n boek in die biblioteek,” antwoord die junior weergawe nonchalant en suig gedetermineerd verder aan sy eie hoenderbeentjie.

Die saak was na sy mening afgehandel, maar later, toe hy sy bron wou gaan bevestig, was die boek weg uit die biblioteek. Tot vandag toe.

Die saak sou seker daar bly staan het, was dit nie vir die noodwendige verloop van grootword nie. Uit sporadiese getuienis en fluisteringe het die fiedelgerugte al hoe meer geloofwaardigheid begin verkry. Dit het tot ‘n fladdering van navorsing gelei.

Bronne was skaars. Ouboet het bruuskerig aangedui dat die tyd van openbaring nog nie ryp is nie. Collier’s Encyclopedia was dus gou geïdentifiseer as die primêre bron met sy deursnitdiagramme. Moderne Mediese Raadgewer het Janklaas en vriende amper permanent uitgefreak met sy grafiese sketse van onderlangse kwale.

Skielik was die lewe anders. Skielik het donkermannetjie speel meer gehandel oor die vind as oor die soek. Skielik was ‘n oorslaap, soos verskeie kere in die verlede, by ‘n geliefde vriendin verboten – daai ma het daai kyk herken. Skielik was vakliteratuur nie meer heeltemal so boeiend as Raquel Welch se nuutste pneumatiese foto in die Scope nie.

Soos sy vriende, het Janklaas reikhalsend begin uitsien na die Koms van die Lente. Bang dat hy die aankoms sou misloop, het Janklaas sy inkom en sy uitgaan noukeurig begin monitor.

Hy hoef nie te gebodder het nie. Een helder Hoëveldnag het die Lente met ‘n groot helderheid aangebreek. O Jerusalem. O Tirus. O Sidon.

So ‘n paar jaar later het Janklaas Senior besluit dat die sakuitgawe Janklasie seker nou ryp genoeg is om onderrig te word in ware NG-dogma, en het hy ‘n bejaarde, voosgevatte boekie (“Wat elke seun moet weet”) op Janklaas se tafel laat lê.

Hy hoef ook nie te gebodder het nie. Vir die volgende sowat veertig jaar sou fiedeldey Janklaas se getroue daaglikse meeloper, en soms dryfveer word.

Totdat hy blog ontdek het.

Twee vrae

Augustus 29, 2009 in Sonder kategorie

My ma se bestaan was deurdrenk met musiek,

met soete genot as sy speel.

Ek sien nog haar vingers wat klankmosaïek

uit die swartwit ivoorklawers streel.

Maar, waarom moes dié lied haar aanhou verruk

toe daar aan die end van haar lewe

demensie die sap uit haar wese kom druk:

“Mag die hemel jou vergewe”?

****

Jy hang ‘n bestaan tussen krukke,

jou liggaam verwring van die seer

Skeefgedruk deur ’n vreemde boetseerder

wat skep en dan transfigureer.

Verduidelik dan vir my jou keuse: waarom,

uit al die uitdrukkings, van hartseer tot vrees –

die een wat jy kies om jouself te vermom

’n glimlag, ’n glimlag moet wees?

Vrugte van alleenwees

Augustus 27, 2009 in Sonder kategorie

Vanaand verlang ek na ‘n paar ou-goed.

Ek mis die geur van hael op ‘n hoëveldnamiddag.

Ek mis die voel en vat van Pa se koue, droë oumenshand.

Ek mis iemand groot en sag wat mens vashou, jou hare streel en sê alles, alles is oukei.

Ek mis die soet, pienk geur van Ouma se groot, skoon karoobadkamer.

Ek mis die op-die-gras-lê en vorms in wolke soek saam met boet en susters.

Ek mis die kanon “Kyk wat brand daar” wat ons in die kar saamsing op pad Potchefstroom toe.

Ek mis die saamplas met ‘n tjoep teen sononder in die groot, ronde, slykerige dam.

Ek mis die mislike Springbokradioliedjies waarmee ons in die mòres wakkergemaak is.

Ek mis die suis in die wind en die swaar tortelroepe in die hoë bome langs die rivier by Vosloopark.

Ek mis die luister na “U eie keuse” en radioteater om die ou koolstoof in die kombuis.

Ek mis die dooies wat ek so liefgehad het, sonder dat ek dit geweet het en sonder dat ek dit vir hulle kon sê. Ek mis die wat nog leef en vir wie ek nog steeds nie sê hoe lief ek hulle het nie.

Ag, ek mis sommer weer kleinwees.

Adel op die ashoop

Augustus 27, 2009 in Sonder kategorie

Dis die eerste keer dat ek haar in Spar sien. ‘n Mens sal baie goed weet as jy haar al vantevore gesien het.

Dis in die loop van haar, die staan as sy ‘n pakkie vashou om die prys te kyk. Dis wat sy doen met die cliché van die kort tiervelrokkie, die hoëhakskoene, die leerbaadjie, die blonde hare en die bruingebrande vel.

Dis in die uitdagende manier hoe sy haar veertig-plus jare dra, hoe sy vierkant die agteraf kyke teruggooi. Haar ervarenheid dra sy soos ‘n trotse trofee.

By die kasregister is dit in die takserende blik na die jong knaap agter haar, wat sy so pas in puberteit ingeskok het met haar lae buk om ‘n munt op te tel.

Buite klim sy in ‘n geroeste Cortina. In my verbeelding word dit ‘n staalblou Mercedes met ‘n afgeslane kap, waarin sy terloops haar twee Borzoihonde se koppe streel voordat sy uitry en met ‘n sierlike draai om die hoek verdwyn.

Hartsake op note

Augustus 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek het al voorheen op hierdie deurlugte forum genoem dat ek, ten spyte van my ruwe uiterlike, eintlik maar ‘n sentimentele ou tert is. En, vanoggend in die kerk (tydens kollekte natuurlik) probeer ek toe onthou watter musieke my in my lewe regtig ontroer het. Nie net mooi was nie, maar regtig, regtig ontroer het.

Dis maklik om hulle uit te ken. Van so ‘n dekade gelede af is dit daardie stukke wat onbeskaamd trane op my wange laat land. Ek vermoed hulle gaan klits iets ondeunds op ‘n my brein se limbiese stelsel, of hulle gaan neuk rond daar by my hart se goete.

Die effek gaan verlore as ‘n mens die lied te veel hoor, daarom rantsoeneer ek myself as ek eers agterkom die lied werk vir my.

Van die eerstes wat dit reggekry het, was die Kerslied “Met middernag” (O Holy night).

Snot en trane.

Toe kom Laurika met “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Ek kon nie verstaan hoe die vrou die lied kon sing sonder om te snik nie! Ongelukkig het ek dit nou al te veel gehoor.

Dan, natuurlik, “Everybody hurts”, veral as jy die video kyk. En Beethoven se Vyfde klavierkonsert.

Van kleins af kom Schubert se Consolation nr. 3. Pure soete troos. Nou vir wat laat dit my dan tjank? (Ek sien toevallig op Youtube een van die subtitels vir hierdie stuk is “Aprés une lecture du Dante”. Klink my darem dis nie net by my wat studente troos nodig het na ‘n lesing nie…).

Nog een is “The last rose”, ‘n ou Ierse liedjie, maar soos gespeel deur die orkes van Andre Rieu. Weereens, dis nie musiek nie – dis louter voel! Wow, daai Ierse fluit…Saam met Berwick en ander kan die verskeie inkantasies van Cohen se “Halleluya” ook die ding doen, al het ek die song al ‘n bietjie deurgeluister en gesing.

Die mees onlangse een is “You’re so beautiful” van die Parlotones. Wat natuurlik ‘n probleem is, want hulle gebruik nou die koor in ‘n advertensie. Baie embarrassing vir die kinders, so ‘n ou slobberende pa tydens die breek in rugby.

Die lied wat nou eintlik vanoggend die kraan oopgedraai het, was “Plea for Africa”. So ‘n paar jaar terug het ek in ‘n kerk in Noorweë gesit en luister hoe die Oos-Kaapse Kinderkoor hierdie lied, met sy soet harmonieë sing.

Hulle moes my omtrent daar uitdra.


 

Wat gryp julle aan, geliefdes?

Artikel 2 van Murphy se wet

Augustus 21, 2009 in Sonder kategorie

Fynproewers wat, soos ek, waardering het vir al die nuanses van Murphy se wet, sal maklik tekens daarvan kan herken.

Kortweg gestel, sê die wet dat, indien iets kan skeefloop, dan sal dit ook. ‘n Ware kenner sal dus uit ‘n bepaalde gegewene die afloop kan voorspel. Kies maar bloot die slegste moontlike scenario en sit rustig terug om die verloop van jou voorspelling te waardeer. As ‘n sny brood val, ontspan maar. Die botterkant SAL die grond eerste tref.

Lanklaas het ek egter so ‘n voortreflike illustrasie van daardie wet beleef soos vandag.

Die saak het eintlik ‘n aanloop. Maar, soos ek gesê het, as ek die gegewene vir julle beskryf, sal julle waarskynlik self die prentjie kan voltooi. Toets maar self.

Dit begin met ‘n pap wiel by motor A. Op sigself geen krisis nie, want ek het tyd om die wiel te gaan laat herstel Maandag terwyl Mevrou Klaas oudergewoonte met motor A werk toe gaan. Die fout kom egter in dat ek nooit die herstelde wiel terugsit in motor A se bak nie en houtgerus, heelweek met die wiel in die bak van wrak B rondry.

Vanoggend gee ek wrak B in by die keraats om ‘n weerspannige rem te laat regmaak. Stap sommer van daar af werk toe, heerlik fluitend in die kil seebriesie. Kry ‘n lift huis toe vroegmiddag en maak my baie tevrede tuis op die bank met die plaaslike Herald en ‘n toebie.

Die onheil het begin die oomblik toe die foon lui. Vroulief. “Waar is jy nou?” vra sy.

Ek kon as’t ware my nekhare voel rys. Dit blyk toe motor A se band het gebars op die pad na Uitenhage en daar sit sy, sonder spaarwiel. En hier sit ek, sonder kar.

Ek vra jou, wat is die kanse? Vir jarrre geen papwiel nie, nou sommer twee, een nogal sonder spaarwiel.

Ennieway.

Ek moet my weg maak na wrak B by die mekenniek en hoop die arme ding lê nie daar oopgespalk op die operasietafel nie. Val toe maar in die pad en hoop iemand ontferm hom oor my beteuterde figuur. En, sowaar, daar kom n teksie aan. Ek draf toe tot by die gawe mama wat die teksie naderwink en klim summier saam met haar in.

‘n Paar suur gesigte draai op stywe nekke na my toe. Die ses rand betaal ek met liefde. Ek beduie na die wielspenner en verduidelik aan die bestuurder en sy kondukteur dat my motor se band gebars het. Fok jou, sê  hulle rûe.

Wrak B was, wonder bo wonder, beskikbaar en gou is ek met goeie spoed op pad na ons buurdorp. Vroulief is gelukkig nie suur nie. Haal die verlepte band af en gooi hom argeloos eenkant toe.

Big mistake.

Die band hop eenkeer, en spring toe doeikant toe waarna dit, huppelend van vreugde, teen die agt meter hoë wal afbons en dan, met ongelooflike fokus en determinasie, sekuur en stadig rol tot in die groot poel water daar onder.

Wat kon ek doen. Ek en Mevrou Klaas bars uit in ‘n histeriese lagbui. Ek meen, wat is die kanse?

Ek het maar my pad skuifel-skuifel tot daar onder gemaak en, soos ‘n besorgde Petrus, die staande waat’re begin betree.

Die wat weet, sal saamstem dat rioolwater ‘n eiesoortige geelgroen doodsheid het wat dit op ‘n manier platter en stiller as ander water laat lê. Hierdie poel was ‘n uitnemende voorbeeld van die genre. Die kastige graseilandjie waarop ek wou staan het dadelik meegegee en ek moes maar enkeldiep my pad na my prettige papwiel toe baan. Toe moes ek nog hierdie geurige objek teen die agt meter hoë wal uitrol en in statige motor A se bak gooi.

My verwagtinge van Murphy was my redding. Anders het ek seker nou nog daar in die klewerige poel rondgeplas van pure frustrasie.

En, sommer vir effek het my rekenaar se battery pas pap geword. Toe ek nadertree om hom in te prop, trap ek my enigste oorblywende glas-bierbeker murtu.

Viva Murphy.

Binnepret: ‘n orgie van bnw’e

Augustus 20, 2009 in Sonder kategorie

“Dit is ook seker maar tyd dat hierdie dinge aan ‘n einde kom.” So dink Lafras somber by homself terwyl hy meganies die kronkels van die vae voetpaadjie in die eensame donker volg. 

Die boomtakke vorm makabere gedaantes teen die blinkgrys vlekke van lui, maanverligte wolke. Die strakke kleurloosheid van die yl mistigheid rondom hom vorm ‘n gepaste agtergrond vir die morbiede gedagtes wat soos taai golwe deur sy wroegende denke spoel.

Van agter ‘n lendelam heining blaf ‘n maer brak sinies.

In sy sak voel Lafras die sagte flarde van die bitter brief. Keer op keer het hy dit oorgelees totdat hy later in ‘n vlaag van futiele frustrasie die papier in klein veseltjies uitmekaargerafel het.

‘n Hoopvolle, koel aandwindjie pluk-pluk aan sy deurmekaar kuif. Hy trek die vingers van sy sweterig geklemde hand geïrriteerd deur sy hare, om minstens ‘n skyn van respektabiliteit te probeer herstel.

Vanaand is dit maak of breek. Vanaand word hierdie uitmergelende twyfel uit die weg geruim, sodat hy minstens in ‘n soort vrede met sy doellose lewe op die plaas kan voortgaan.

Deur die mistigheid sien hy die dowwe skynsel van die geel lamplig uit die geboutjie voor hom. ‘n Wantrouige bokram volg met geel oë Lafras se laaste treë na die voordeur van die eenvoudige hut.

Hy klop sag. Huiwerig. Skepties.

Die bo-deur kraak stadig oop en ‘n kersverligte gestalte loer knorrig uit.

“Oom, kan ek met Anna praat?”

Die figuur kyk woordeloos om en Anna kom van agter ‘n tafel nadergeskuifel. “Ja?” vra sy. Niks meer, niks minder, net “Ja?”

“Hoekom wil jy nie saam met my dans toe gaan nie?” vra Lafras, sommer direk.

Anna is ‘n rukkie stil. “Ek wou saam met jou gaan, maar toe jy nie vra nie het ek maar vir Jonovan ja gesê,” sê sy skamerig.

Lafras lyk effens oorbluf. “O,” sê hy. “Oukei dan.”

Lafras draai om, draai sy vaal jas stywer om hom en val weer in die moeë, uitgetrapte paadjie huis toe.

Kurator

Augustus 19, 2009 in Sonder kategorie

Liewe Jessie,

Ek het verkies om jou my eiendom te maak vir die klompie dae jou gegun

uit die ewigheid, die groot tik-tak van die heelal.

Ek is jou enigste goed – jou sorg, jou eet, jou lê, jou speel, jou kwaad.

Wat ek nie gee, kry jy nie.

Nie aandag nie, nie liefde nie, nie warmte of snoepgoed.

Dan is jy net ‘n ding, soos ‘n stoel. ‘n Ding wat eet en begrawe moet word.

Dan moet jy jou troostelose tyd deurtik, deurbedel, met al vooruitsig ‘n pynlose dood.

Gelukkig gebeur dit mos nie met mense nie, né Jessie.

O, soetste Kaap

Augustus 17, 2009 in Sonder kategorie

Sjoe. Wat ‘n naweek.

Vrydag het ons die ouerlike ding gedoen en na Stellenbosch gevlieg. Die okkasie is Kleinklaas se deelname aan Maties se Sêrkompetisie-finale. 

So halfvyf daar ingeklok en besef dis ernstige sake hierdie. Die tou staan drie mense dik by die lang gang uit. Besef ook so min of meer dat ons nie sitplek gaan kry nie, want elke Matie en sy hond en sy kosbak loop rustig en gaan druk voor by sy pelle in. Ons klomp ouballies agteraan kyk mekaar net knorrig aan. Dink ook daaraan dat hierdie blerrie klomp waarskynlik tot by die ore vol varkgriepvirusse is.

Vrou glimlag net fyntjies. En stywerig. 

Kom uiteindelik tog voor in die saal aan en sien dis gelukkig nog taamlik leeg. Big mistake. In al die rye van die hele voorste blok sit daar ‘n kordate studentjie wat “plekke hou vir sy koshuispelle”. Dêm. Tipies skandemaker-outoppie gaan vat ek een van hulle aan en besef gou ek gaan my gat sien met hierdie smooth talkers. Vrou beduie franties dat sy agter, langs die skoonmaker, wel ‘n plekkie opgespoor het.

Kort voor lank raak die hele plek vol. Ten spyte van my knorrigheid moet ek erken dis ‘n vrek oulike klomp jongelinge. Fraai dametjies en wakker, viriele mans. My arme rooikopdogter.

Die konsert begin. Dinge het beslis verander. Dis ‘n groot affêre hierdie – die latte moes ure lank geoefen het, want dis danspassies, harmonieë, a capella, nuwe komposisies, viole, tjello’s en goed wat ek nog nooit gesien het nie. Praat van die h*l uit die hoender ruk – is dit nie veronderstel om ‘n prettige sêrkompetisie te wees nie? So dink ek, steeds knorrig.

So mymer ek toe sommer ook oor die verlore studietye en die gevolge daarvan. Onthou skielik met ‘n dwarrelwind van skuld die gevolge van my eie belegging, in my tweedejaar, in die operette Die Sigeunerbaron. Hou onmiddellik op mymer.

Die konsert spoed verby met respektabele hoogte-en laagtepunte.

En toe kom HULLE op. Pieke, my seun se groep.

Bliksem.

Alabama kan gaan slaap. Hierdie outjies se fynste bewegings is uitgewerk en perfek. Hulle sang is afgerond en soet. Hulle spot, hulle dans, hulle kajool, hulle pleit en hulle vlei. Hulle tel die gehoor op, paas ons sorgvuldig rond tussen hulle en gaan it ons weer saggies en teer op ons plekke neer.

Die applous was, soos die cliché sê, oorverdowend.

En so wen hulle toe ook. Hulle stof ‘n koshuis uit wat al omtrent agt jaar na mekaar gewen het.

Aan die trots in my, en die manier hoe Kleinklaas na ons kant toe gekyk het weet ek dit was die moeite werd.

‘n Sentimentele liedjie

Augustus 13, 2009 in Sonder kategorie

So won’t you please play a song, a sentimental song, for my sentimental friend over there…

 ‘n Lui-lou wind kwispel deur die herfsblare in die tuintjie van die koffiewinkeltjie in Hatfield.

 Dit voel half surrealisties. Daar sit sy, ‘n klein figuurtjie wat eens op ‘n tyd my hele wêreld was.

 Genade, sy’t oud en klein geword. Maar nog steeds interessant, verrassend.

 My eerste liefde. Standerd sewe. My eerste stywe soen op die sitkamerbank onder begeleiding van Francoise Hardy. My eerste liefdesomhelsing. My eerste behoorlike vry. My eerste uitgawe aan ‘n pêrelring, ‘n ametishangertjie, blomme.

 Wat het geword van die ewige trou wat ons gesweer het? Die sononder-spesiale tydjie, die bladsye en bladsye en bladsye briewe, ons eie sterregroepie sodat sy in Bloemfontein en ek deur die grou newels van die Vaaldriehoek na dieselfde ding kon kyk…

 Fragmente: ons eerste ontmoeting op die strand in Toti, Oranje Meisieskool se tiekie-aand; “Ruf’ mich an”-versoek via Rocco Erasmus op Radio Hoëveld; Bloemfontein se landbouskou; familie op Koffiefontein; spuitpoep op die Karoopad Verwoerddam toe met skoonpa se bottelgroen Jaguar (blitsvinnig, dankie tog); treffers op LM radio en Vrydagaande op Springbokradio…

 Alles gemarineer in ‘n paar sestigerjare se musiek: Die BeeGees, die Troggs, Bubblegum, Herman’s Hermits, die Tremeloes, Tommy Roe, die Staccatos, Francoise Hardy, Creedence…

 Dan, die werklikheid. Sy ver, ek jeukerig. Die eerste ontrouheid. Dan, ander.

 G’n wonder sy’t my afgesê nie. En daar is ek toe so ewe hartseer!

 En hier sit sy nou, ‘n halwe leeftyd later. ‘n Vreemdeling. ‘n Aardige gesprek wat nie wil vlot nie.

 Ek wil sê, maar dit haak vas: Dankie, meisie. Dankie dat jy my aanvaar het. Dankie dat jy my liefgehad het. Dankie vir al die kosbare herinneringe.

 En, sommer ook: Ekskuus.