Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

As ek opkyk

Julie 31, 2009 in Sonder kategorie

Iets omtrent boontoe kyk het in my verander deur die jare.
 
Toe ek klein was, op ons klein hoëvelddorpie, was die nagte donker en die sterre helder. Wanneer ons buite was was die melkweg, verskietende sterre en die diep donkerte bekende gesigte. Ons sou op die gras op ons rûe lê en die stadige satelliete vir mekaar uitwys. Maanlignagte was helder en Oom André het my eenkeer opgetel en die gesig van die man in die maan gewys.
 
Sterre was klein spikkeltjies, ietwat nietig, soos die skitterstof op die rooi glasbolle wat ma aan die kersboom gehang het. Vaagweg kon ek sien dat hulle patrone volg, want ons het die Suiderkruis en die Drie Susters geken.
 
Êrens langs die pad het iets verander. Ek het begin lees oor die heelal, en oor wat sterre regtig is.
 
‘n Nuwe wêreld het vir my begin. Ek het begin besef daardie klein spikkeltjies wat ek daarbo gesien het, was elkeen ‘n reusagtig groot, skynende sfeer wat in die ruimte hang. Daardie wit kombers in die melkweg was in der waarheid saamgeweef deur dermiljoene groot skynende bolle van voortdurende kernontploffings, elke bol waarskynlik groter as ons eie son. Elkeen sover van mekaar af as wat dit lyk hulle van ons af is.

Daardie eenvoudige besef dat die sterre nie spikkeltjies is wat om ons onthalwe aan die hemel uitgesproei is nie, het my asem weggeslaan. As ek opkyk, kyk ek in elke rigting in ‘n onmeetlike ruimte in van chaos, van hoogs ordelike bane en patrone, van groot skeppings en magtige vernietigings wat al miljarde jare aan die gang is. Dan besef ek dat wat ons hier as groot natuurkragte of rampe beskou, ‘n belaglike nietigheid is in hierdie heelal van kateklismiese ontploffings en veranderings.
 
Dan is dit met ontsag dat ek opkyk. Vanaand kan ek met my verkyker bo my kyk en die manjifieke Omega Centauri sterregroep sien. In ‘n teleskoop slaan dit jou asem weg – ‘n versameling van sterre so dig opeengepak dat dit van ons af soos ‘n ronde wolk lyk. Later kan ek met die verkyker ‘n reusagtig groot ander melkweg in die noorde sien, Andromeda.
 
Deur my teleskoop sien ek Saturnus se ringe en besef dis nie net ‘n prentjie nie – dis ‘n groot sfeer in die koue, leë ruimte wat getrou saam met ons om die son geswaai word. Elke aand kan ek met ‘n klein teleskopie sien hoe Jupiter se mane se posisies om hom verander.

Deur die verkyker sien ek die bekende, groot gevormde stofwolke – oorblyfsels van ontploffings of nuwe sterre wat vorm. Ek sien dubbelsterre wat verskillende kleure het soos pêrels, ek sien sterre wat flikker bloot omdat hulle om mekaar draai en mekaar wegsteek. Daar is ‘n leeftyd van juwele om te sien.
 
Dan is sterrekyk nie meer ‘n stokperdjie nie.
 
Dis ‘n seremonie.

Tog gegrief

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

Van party dinge moet mense hulle voorpootjies afhou. Jy neuk nie daarmee nie.

Jy vat nie ‘n Rembrandt en maak daarvan Kersfeespapier nie. Jy vat nie ‘n Jaguar en pimp hom met drukvinne en platserige, breë tekkies nie.

Jy toon die nodige respekte.

Jy vat nie Elvis se sielvolle “Can’t help falling in love”, smeer hom vol reggae nie en mompel die woorde so afgetrokke asof jy eintlik eerder wou sit en sokker kyk, al is jy ‘n UB van oor die 40 jaar.

Jy vat nie Nilsson se intense “Can’t live if living is without you” en verander dit in ‘n vertoonstuk vir jou tonale fratse nie, al noem hulle die wind Mariah.

Jy vat nie die Bee Gees se se briljante, understated “To love somebody” en gaan versmart dit met soveel kwelende pynpassie dat hulle die ateljee agterna moet uitmop nie, al klink jou naam soos biltong.

Jy vat ook nie Bread se delikate “Everything I own” en gaan pomp dit uit met ‘n lekker gemoedelik / lokaal / rustige basghitaartjie / fluitjie / drommetjie nie, al is jy ‘n boy met die naam Jors.

‘n Mens toon die nodige respekte.

Bloeddruk

Julie 30, 2009 in Sonder kategorie

Dis dalk die koors wat praat, maar dit wil al hoe meer vir my voel asof ek begin vrede maak met my spoke.

En, seker hoog tyd. Dis belaglik om tegelyk bloeddrukpille te moet neem en dan jou bloeddruk deur onsinnighede te wil laat opjaag.

Byvoorbeeld. Dit kon my grenseloos ontstel as ‘n jong tiener met sy scrambler sonder uitlaatpyp op ons breë grassypaadjie straataf skeur, soms met ‘n konvooi kornuite in tou. Jy kan hulle drie blokke ver voel aankom.

Ek sou uitstorm en woes beduie, briewe aan die koerant skryf, die gesin uitvreet en die hond skop. Alles vir niks.

Nou sal ek miskien die koerant laat sak en my kop meewarig skud. Hoe’t die groot digters gesê: Papa Joe just smiles politely…

Net so kon scams my erg pla. Ek het ‘n soort bullshit-filter wat goed soos mediese of finansiële wonderoplossings redelik gou kan uitruik, en dan het ek ‘n soort sendelingywer gehad, soos oom Jors Claassen van Stellenbosch, om die wêreld teen hierdie euwel te waarsku.

Deesdae is dit amper asof ek begin voel dat mense ‘n sekere verpligting het om liggelowige dwase van hulle geld te skei. Net soos ek dit verdien het om te sien dat die jong man wat ek met R20 gehelp het vir ‘n “begrafnis” ‘n kort rukkie later met ‘n paar biere uit die drankwinkel kom.

So het ek ook die lus verloor om in debatte te beland oor politiek en evolusie. Ek glo in elk geval nie ek het in my deurlugtige jare op hierdie planeet al ‘n enkele persoon omgehaal tot my standpunt nie. So, laat hulle gan doppies blaas as hulle so wil voel.

Daar is baie prettiger goed om oor vies te raak. Soos Hlophe. Soos Sewende laan. Soos besoedeling en oorbevolking. Perlemoen en renosterhorings. Bosluiskoors.



Al die veld is olik

Julie 29, 2009 in Sonder kategorie

“Hmm,” sê die medisyneman. “Hmm,” en lig sy swaar kop op.

My hart bons besorg. Is dit griep? Is dit varkgriep? Of, nog erger, want dit klink erg pynlik, is dit voëlgriep?

“Jy het bosluiskoors,” sê die man.

Bosluiskoors! Dis nou wat ek oorhet van ‘n heerlike naweek se stap, sterrekyk en ontspan in die pragtige Oos-Kaapse boswêreld.

Dit verklaar ook die seer-jeukende kolletjies op ‘n paar strategiese plekke.

Die medisyneman lig sy staf op en verklaar: “En jy mag vir sewe dae geen werk doen nie. Nie jy of jou os of jou esel nie.”

Brilliant! dag ek. As ek nou net verby hierdie bakleiende impi’s in my kop kan kyk, die geswelde kliere, jeukplekke en die sweet en die walpurgisnagte, is die korttermynvooruitsigte eintlik erg prettig.

So, verskoon maar as julle vir ‘n paar dae stadiger sal moet lees omdat ek so stadig moet tik. Janklaas is op ‘n go-slow strike.

Walpurgisnacht

Julie 28, 2009 in Sonder kategorie

Ek het nie ‘n kloe wat hierdie woord beteken nie. Maar, dit het daai regte soort bloeddorstige klank van ‘n Wagneropera en donderweer. Dit is dus presies die regte woord wat ek nou nodig het, mits julle in gedagte hou dat ek iets grusaams en duisters daarmee bedoel..

Ek het laasnag ‘n walpurgisnacht beleef.

Ek het in sweet en koue rondgerol, by die stadsliggies van die hel verbygeloop, en soos ‘n vis in die woestyn die droë lug gehap-hap onder die eindelose klanke van Rihanna se Disturbia.

Ek vermoed ek het griep. So, moenie inasem terwyl julle hier lees nie.

En ver

Julie 27, 2009 in Sonder kategorie

Wat kan ek nou nog sê?
Sy weet, sy weet hoe na sy lê
aan ek en myne
en so baie wat ek self nie ken nie.
Sy’s nou weer sy,
en nie meer deel
van my smal heelal.

Ek weet, ek weet, ek weet
sy is daar…
Ek reik, ek gryp, ek tas na haar,
maar selfs téénaan haar
is my arms te kort
om haar aan te raak
en in my word
‘n lamp ‘n vlam wat brand en brand
aan my, en foto’s teen die wand

Sappige skinnerstorie

Julie 27, 2009 in Sonder kategorie

Oplaas het die geluksengel oor Shanaaz geglimlag.
 
Tot sover was haar volwasse lewe ietwat van ‘n nagmerrie. Sy het twee mooi kinders verwek op aandrang van haar gomtor van ‘n eggenoot, en moes hulle maar grootliks self grootmaak. Hy het homself op sy beurt besig gehou met karre, ander meisies en die komplekse bendewerkinge van die noordelike voorstede.
 
Eintlik het sy baie in haar guns gehad. As sy ‘n kamer binnekom was dit asof die delikate weefstof wat die beskawing aanmekaarhou skielik ‘n lekplek ontwikkel en die mees basiese aardse drange by mans vrystel. Met haar stem, die swaai van haar, die geur en die draai van haar kon sy daardie soort gedagtes nalaat waarmee mens laat snags alleen jou hande vol het.
 
En toe die geluksengel. Daar het ‘n Sweed by die fabriek kom werk. Blykbaar het hierdie manne bepaalde predileksies, en haar vorm, glans en inhoud het guns in sy oë ontvang. Van haar kant af het sy blykbaar gereken ‘in die aangesig van jou Sweed sal jy jou brood verdien’, terstond haar man verlaat en by die Sweed ingetrek. En hy in haar.
 
Shanaaz het gestraal. Die Sweed het gesweet en gestraal. Om die waarheid te sê, hy was so ingenome met haar dat, wanneer hy besoekers uit Swede ontvang, hy gereël het dat sy met net ‘n handdoekie om haar lyf gedraai die sitmaker sou binnekom, kastig op soek na iets. Dan sou hy die handdoek afpluk en sy sou kamma-verleë en giggelend uitkwispel, onder die eggo’s vanuit die gapende oop monde van die verstarde besoekers.
 
Sy het hierdie stories met groot smaak gedeel met haar kollegas by die werk. Eendag, egter, het die vertellings opgedroog.
 
Sien, vriend Sweed het skielik ontdek dat Shanaaz se oudste dogter ook die weë van ‘n vrou betree het en het homself daar gaan staanmaak.
 
Krisis. Nou moes daar inderhaas buitelosies vir die twee kinders gereël word. Hierdie paradys was nie gebou vir twee Evas en een slang nie.
 
Mens sou dink dat die storie daar soort van sou eindig, maar dit het nie. Daar is soort van ‘n gelukkige einde. Sien, die Sweed is terug Swede toe, maar hy het Shanaaz saamgeneem. Shanaaz en die bloedjies.
 
Blykbaar het die koms van sy eie baba baie van die steek uit sy angel gehaal. Daar is groot vrede in die huis en Shanaaz en die kinders praat al fluks Sweeds.
 
The moral of the story? Slaan my met ‘n nat vis as ek weet.

Sofapatatta

Julie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek het myself in ‘n soort morele dilemma geplaas.

Dit werk so: in Meimaand het ek, ten einde laaste, my eie besware besweer en DSTV aangekoop, die volle toetie. Dit was net mooi betyds vir die kinders se resestyd en was ‘n aangename afleiding.

Hoewel daar programherhalings is, is daar tog nog uitstekende programme, en met die fasiliteit om opnames te maak, het ek genoeg programme beskikbaar om myself ‘n vakansie lank besig te hou.

En dit is juis die ding. Ek lees nie meer nie en ek blog nie meer nie. As ‘n mens aand na aand blootgestel word aan sommige van die beste produkte van die menslike gees en brein, begin jou eie brose skeppinge bra pateties voel. Om die waarheid te sê, daar kom nou bitter min nuwe idees by my op!

Dieselfde ding het so min of meer met my gebeur oor klavier- of kitaarspeel. As ‘n mens na ander se voortreflike spel luister, raak jy gefrustreer deur die beperktheid van jou eie vaardigheid en hou mens liewer heeltemal op.

As ‘n mens tyd vir jouself het, kan ‘n mens begin tob oor pyn, ongeregtigheid, mooi en ou herinneringe. Nou staan ek in ‘n vloed van ander se gedagtes en belewenisse en ek is heeltemal oorweldig daardeur.

What to do? Is die moeite werd om ter wille van jou eie gees eerder grense te begin stel? Wat is die nut van jou eie skeppinge in ‘n see van nuwe, uitnemende produkte, voortgebring deur van die beste denkers van ons tyd?

Ek het dus nodig om vir myself uit te klaar of daar enige waarde daarin is om jou eie, meer beskeie skeppinge op die mark te stoot as daar dan alreeds so ‘n vloed van briljante werke is, gepleeg deur professionele bedrywers van die onderskeie kunste. Ek skat dis die dilemma van enige beginner-kunstenaar.

As ek myself kan oortuig dit het ‘n nut, is ek bereid om ernstig te oorweeg om my prioriteite te herrangskik en weer te belê in die binnewêreld van Janklaas die Verskriklike.

Wysgeer Riaan

Julie 22, 2009 in Sonder kategorie

Weereens ‘n koerant-kwessie.

Ons is ver heen op die pad van groei as ons ons volks-wysgere uit die geledere van ons sangers kies. Steve, Chris Chameleon, Koos Kombuis is so min of meer blykbaar die ghoeroes van ons tyd, as ‘n mens kyk na die prominensie wat hulle kry.

Uit my eie bloggery het ek agtergekom dis verslawend om jou eie opinies so uit te sproei. ‘n Mens begin jouself selfs mettertyd glo!

Een van hierdie neo-wysgere is Riaan van Heerden. Hy weet te vertel dat saamwoon noodsaaklik is voor die huwelik, sodat jy as’t ware weet waarvoor jy jou inlaat as jy dan eindelik trou.

Dis so half sêd as dit waar moet wees. Sou twee geesgenote by mekaar uitkom, lief wees vir mekaar en hulle gesonde verstand gebruik om die ander se leefwyse te verstaan, moet hulle eers die vereiste drie jaar Riaandiens doen voor hulle kan trou. Intussen belê die meisie haar opsies in hierdie man, terwyl die jafel skadeloos ‘n nuwe eksemplaar kan gaan uitneem sodra sy diensjare verby is. En, as daar dalk ‘n kind uit hierdie diens gebore is, is dit maar die moeder se probleem.

Ek dink my probleem is met sy premis dat vertroudheid met die ander se leefwyse die grootste bydraer is tot huweliksukses. Na my mening is daar nog ‘n horde ander faktore ook wat verhoudinge kan verongeluk, soos werksomstandighede, verleidinge, stres, finansies en persoonlikheidsgroei wat net so ‘n swaar rol speel en wat selfs nog met die kan gebeur wat hulle verpligte diensjare oorleef het.

Ennieway, nou voel ek ook beter.

Broer Janklaas

Julie 19, 2009 in Sonder kategorie

Janklaas het met belangstelling die nuwe debat oor Afrikanerorganisasies in Rapport gadegeslaan.

Dit het hom laat dink aan die era in sy prille jeug toe hy ook ‘n geit gehad het om hierdie dinge te doen. Sy pa was immers al die jare ‘n Groot Broer, al moes Klasie dit eers as volwassene agterkom. Verder was daar altyd die geldige argument dat ander groepe organisasies het wat namens hulle opstaan, hoekom nie ons ook nie?

In hierdie tyd was Janklaas ook al bewus van die teenstrominge, want dit was daar in die vurige jare van hot-en-haar Afrikanerpolitiek. Boeke het oor die onderwerp verskyn en groot ontmaskerings is gepleeg. Klaas was verbaas om sy eie familie se name in hierdie boeke aan te tref.

In hierdie boeke, en in koerantbriewe is die organisasies afgemaak as middele om selfsugtige doelwitte na te streef en eie loopbane te bevorder, wat sekerlik dikwels die geval was.

Nietemin het hierdie organisasies ook begin klink na middele tot verandering, en was daar invloedryke mense aan die stuur wat nuwe, hoopvolle klanke begin maak het.

En so. met die nodige seremonie en swier, en die drink van hoenderbloed by kerslig is Janklaas toe tot die Geledere van die Hogeres verhef, synde van edele inborste (!…!..?), die regte kerk en so aan..

Keer na keer het Janklaas grootoog by vergaderings opgedaag, gereed om as Instrument tot Verandering aangewend te word. Keer na keer moes Janklaas na omsendbriewe sit en luister en na daaropvolgende gesprekke oor die ellende van die huidige situasie, volgens die opinie van ‘n klomp bejaarde mans.

Dit was ook gou duidelik dat hierdie groep geen begeerte had om tot enige wesenlike skeppende aksie oor te gaan nie. Dit was gelaat vir die mindere ligte, die wannabes, wat rondgepik het rondom die ligkring van hierdie uitgelesenes. Hulle sou die konserte reël, die musiekfeeste, die skoolpryse en wat nog. Hulle is die ware onbesonge helde van hierdie hele volksopera.

Wel, die eetgoed was altyd lekker. Janklaas het ‘n paar gawe mense leer ken, maar stadigaan verveeld begin raak met hierdie dreinering op sy tyd en sy sakgeld. Uiteindelik het Janklaas toe ook die ongehoorde stap geneem om uit hierdie spel te bedank.

Gelukkig is daar ander mense wat hou van hierdie soort stuff. Hulle doen goeie werk. Mag hulle so voortgaan.