Jy blaai in die argief vir 2009 Junie.

Proesels oor lirieke

Junie 27, 2009 in Sonder kategorie

Ek het in my loopbaan ‘n veilige plato bereik waar ek maar mag sê ek is stjoepid. Miskien het dit my net langer gevat om dit te besef as die mense rondom my.

Toe ek ‘n tiener was, het ons grootoog sommige lirieke van Donovan, die Bee Gees, die Hollies, die Troggs en daai manne nagesing, vas onder die indruk dat dit een of ander dieper betekenis moes hê. Al het ons dit self nie verstaan nie.

Vandag is ek nie meer so seker nie (stjoepid, onthou?). Sing nou “I started a joke” of “The first of May” se lirieke met ‘n reguit gesig, en dit klink selfs ‘n bietjie banaal (oe, oe, heiligskennis)!

Toegegee, die lirieke is seker weliswaar (welluswaar) soms onder die invloed van kookolie of tandepasta gepleeg, maar sommige daarvan klink vir my verdag baie na rymdwang (hierdie frase rym – laat die arme bokkers maar self die ‘dieper sin’ probeer uitmaak, haha). Die melodie maak dit mos klaar digterlik. Enigiemand wat die sin bevraagteken moet eers die fout by homself soek…

Dit is die veilige hawe van obskure teks. Die voordeel is dat die luisteraar dan sy eie betekenis daaraan kan heg, soos wat ‘n moderne skildery met slegs ‘n pers kolletjie in die middel seker tot boeke vol interpretasie kan lei. Dan kan my Oupa op Steynsburg se name vir sy trekosse seker ook as ‘n gedig beskou word: Kruisband en Servet / Poephol en Portret…

Sommige van ons Afrikaanse liedere se woorde is in elk geval so banaal dat ‘n mens moet wonder of daar nie dalk ‘n dieper betekenis in verskuil is nie. “Adadijou, skarumba” is dalk ‘n postmoderne dekonstruksie van intertekstualiteit (‘skuus, Joan H) van een of ander gedugte haikoevers. Ek sal tog nie weet nie – stjoepid, onthou.

As dit nie so is nie, is dit soms ‘n bietjie hartseer dat ‘n kragtige melodie opgesaal is met woorde wat geskryf is om koeie by te melk. Maar dan, van die musiekkant gesien is die omgekeerde seker ook waar: kragtige woorde wat in die sand van ‘n swak wysie wegvloei.

Oukei, nou raak die situasie heeltemal te kompleks. Tyd om te gaan voorberei vir rugby.

Die vrou van Montmartre

Junie 26, 2009 in Sonder kategorie

By die stop in Montmartre, ‘n figuur in ‘n jas
wat inklim en haar in die oop staanplek pas.
Die meeste kyk weg, hulle ken hierdie vrou –
sy leef in ‘n hoek van die stasiegebou.

‘n Ruk staan sy stil, kyk met dowwe oë rond
asof sy die stemming, die smaak wil deurgrond.
Dan neurie sy sag in die laatmiddagson
‘n oeroue liedjie, ‘n Franse chanson.

Die stem word al harder, die woorde kom by,
en iets in die stem roer my gees binne my.
Haar stem waarin weemoed en swaarkry saam beef,
dra krake en klank van gekristalde leef.

Sy sing van ou tye, van liefdes, van flenters,
die seer en die swaar van ‘n halfeeu se winters;
haar bleke vooruitsig, die hoop wat sy droom,
vertaal in ‘n skrynende lied-idioom.

Sy sien in ons oë hoe ons dit herken:
verenigde menswees, met lied uitgepen.
Sy daag ons, soos duisendemaal vantevore
om hulp en om omgee, om menswees se spore.

Sy klim later af, om haar ou gang te gaan
en los ons, verdwaas, om dié seer te verstaan. 

Aanhalings

Junie 26, 2009 in Sonder kategorie

Twee ysige Terry Pratchett aanhalings:

The trouble with having an open mind, of course, is that people insist on coming along and trying to put things in it.

en

‘I reckon,’ said Angelo, looking down, ‘that humans are just about intelligent enough to be crazy.’
‘I think,’ said Masklin, ‘that maybe they’re intelligent enough to be lonely.’

‘Skuus, Wilma.

Junie 25, 2009 in Sonder kategorie

Ek kan nou wel vol bravade sê dat ek doen en sê wat ek wil, maar iets knaag tog aan my gewete.

Ek begin hier al klink soos ‘n gees in ‘n bieghokkie – Dear father, I have sinned – maar juis die anonimiteit van blog maak dat ‘n mens dinge hier kan sê wat jy liewer nie wou sê nie.

So ‘n rukkie terug het iemand iets op haar blog gesê wat my aan die hart gegryp het: Tien dinge wat ‘n pa nooit vir sy dogter behoort te sê nie. En dit het my weer laat dink aan hoe maklik dit is om ‘n letsel op iemand se mensewees te laat.

Verder het dit my ook laat wonder hoeveel van my ondeurdagte opmerkings iemand huis te geneem het en daaroor gaan broei het. Soos, op hoërskool, ‘n onnie wat vir ‘n groterige seun op die sportveld gesê het “…en jy rol seker sommer wenpaal toe”.

Baie snaaks, almal lag, selfs groterige seun. Maar, hoekom onthou ek die uitdrukking op sy gesig vandag nog?

Sjoe, en hoeveel keer het ek gehoor dat iemand as dom, lui of wat ookal beskuldig word… En ook, hoeveel meer lelike dinge word mense toegevoeg as mooi dinge. Om ‘n ware kompliment te gee verg soveel meer van ‘n mens – ‘n goeie selfbeeld, onselfsugtigheid, selfvertroue, opregtheid. G’n wonder ‘n belediging is makliker nie.

Moerse lang inleiding. Ek wil eintlik vertel van ‘n spesifieke geleentheid, daai een wat so knaag aan my.

Nou, dis seker nie die seerste wat ek iemand ooit gemaak het nie. Wat wel waar is, is dat ek daar iemand se vertroue geskend het en dat dit ‘n blywende effek kon hê.

Enkele jare terug moes ek weer vir ‘n ruk gaan skoolhou toe ‘n besigheidspoging ernstig skeefgeloop het. Dit was hemel en dit was hel (veral met die Engelse kinders!). Dit het my baie van myself geleer en baie van die lewe.

Ennieway. By ‘n oueraand daag daar toe ‘n ma op. Wilma (nie haar regte naam nie) was ‘n stil, skrander leerling. Baie vriendelik vra die ma toe hoekom ek haar dogter so ‘n gemiddelde punt vir ‘n taak gegee het, en baie vriendelik het ek aan haar verduidelik.

Die taak was oor die lewe en die bydrae van een of ander wetenskaplike deur die eeue. Meeste het Einstein, Galileo, Curie of so gekies en goed gedoen. Wilma het ‘n vreemderige persoon gekies wat in elk geval nie juis die aarde geskud het nie, het ek gedink. 

Toe vertel sy my hoeveel moeite Wilma gedoen het om iets besonders op te spoor, oor iemand wat op ‘n klein manier ons daaglikse lewens verander het. En, dat Wilma my juis graag wou beïndruk omdat sy so lief is vir die Wetenskap.

Die ma was reg. Wilma het buite die boks gedink en harder as die ander gewerk om iets besonders te vind, en ek was te stupid om dit raak te sien. Die koeël was toe al deur die kerk, die punte was uit en alles.

Ek wens ek kon Wilma weer opspoor om vir haar ekskuus te sê. So gaan baie mense nog op baie wyses haar bydraes in die lewe misken, maar daar moes dit wragtag nie ek gewees het nie.

My lang pad na vrede

Junie 24, 2009 in Sonder kategorie

Ek het uitgesien na daardie ouderdom wanneer ek oor ‘n pad kan stap en die karre moet maar vir my plek maak. Of voor in die tou kan gaan staan in die bank. Maar, om halfpad daar te wees het ook sy kompensasies.

Hier, halfpad daar, het ek vrede gemaak met my beperkings. Ek mag maar kommen wees, want dis my lewe.

As rooiwyn vir my bitter is en witwyn suur, hoef ek nie die bleddie goed te drink nie. Al word daar groot ophef van ‘n boek gemaak en dit lyk vir my boring of pretensieus, hoef ek dit nie te lees nie.

Al sê hulle Bach is Bo, kan ek na Abba luister. Ek kan die radio afsit as ek vir die miljoenste keer die meganiese eerste note van “Jesu, joy of man’s desiring” hoor, net soos wat ek met “Disturbia” doen.

Ek onthou nog die naakte vrees in die oë van my skoolmaats toe ons vir die eerste keer in ‘n Wagneropera sien hoe ‘n sterk vrou met twee Studebaker-wieldoppe as ‘n bra, vir ‘n halfuur lank skree op ‘n helder-verligte klein mannetjie aan die oorkant van die verhoog. Nou kan ek kies watter arias my aangryp en hulle oor en oor speel. So ook boeremusiek, country, Afrikaanse pop en Andre Rieu. Seker g’n wonder my kinders wil die huis verlaat nie.

Punt is, ek hoef nie meer dat ander vir my voorskryf wat is mooi en lekker nie. Ek begin dit nou uiteindelik self raaksien. 

Swanesang

Junie 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek kyk by my kantoorvenster uit na die mistroostige winterreëntjie buite, en beginne toe toepaslik mymer oor dinge bitter en suur.

Nadat ek my pad afwaarts deurdink het via politiek, die ekonomie en die sin van lewe, beland ek toe by die tema van musiek. En hier praat ons diep musiek, die soort wat jy op begrafnisse sal hoor. Minstens ses voet diep.

En, vraag ekke toe vir myself af: myself, watter musiek spreek nou so tot jou hart dat jy nie sal omgee om dit op jou begrafnis te hoor nie? Dis nou te sê, as jy dit sou kon hoor, né.

Daar beland ek toe by drie songs wat my soetjies sal laat glimlag en ‘n traan wegpink. Dis nou te sê, as ek ek dit sou kon doen, né.

Getrou aan die somber aard van die geleentheid, sal dit operamusiek moet wees. G’n regdenkende wese sal “Jamaica farewell” of “Hoe ry die boere” daar wil hoor nie. Flippen definitief nie “Vrot pampoen” of “Another one bites the dust” nie.

Ennieway, (en hou op om my te laat afdwaal), ek het toe op drie songs besluit.

Die eerste is “Una furtiva lagrima” van Donizetti. Ek het geen idee wat dit beteken nie, maar dit kan nie te sleg wees nie want ek het al in flieks gesien dat mafiadons ook daarvan hou om dit by hulle begrafnisse te hoor. Vroulief sê dit het iets met ‘n traan te doen. Of dalk iets met betonskoene.

Die tweede lied pluk my hart reg uit my bors uit en vryf dit op ‘n wasplank. Dis aangrypend genoeg om ‘n bulterriërbrak hartroerend aan die snik te sit. “Casta Diva”, uit Norma van Bellini. Weereens, geen idee wat dit beteken nie, solank dit nie ‘n Italiaanse seepadvertensie is nie. Of “O koud is jou handjie” of “Leen my jou bromponie” sê nie. Dis net vrek mooi.

Die laaste een doen dieselfde aan my as die vorige, net bietjie erger. Dit gee my ook hoendervel. Wat miskien handig sal wees as ek na warmer oorde verhuis. Hierdie lied is “O silver moon”, uit Rusalka van Dvorak. Nou, hier weet ek gelukkig wat dit beteken (dis Engels!), maar nie juis hoe dit van toepassing kan wees nie. Sal wel iets uitdink, skat ek.

Dis nou te sê, as ek ek dit sou mag doen, né. 

Pa blog

Junie 22, 2009 in Sonder kategorie

In my kleintyd was ‘n pa ‘n pa. ‘n Man wat sy man kon staan.

Sy doen en late is nie bra bevraagteken nie – net Ma het daardie reg gehad. Toe ek gebore is, was hy al klaar vyf-en-veertig jaar oud, dus was daar ook niks van hans tiener-wees en terugpraat nie.

Daarby was my pa ‘n taamlik formidabele karakter, ‘n skoolhoof, ‘n volksleier, ’n groot kerkman en al daai dinge. Jy torring nie met sy soort nie. You’ve got to ask yourself – are you feeling lucky?

Altans, so het ek gedag.

Voor sy dood, alleen in die aftree-oord, het iemand die insig gehad om hom sy ‘memoirs’ te laat aanteken, en ek het onlangs hierdie goed onder oë gekry. Daaruit kom ‘n hele ander prentjie, van ‘n sagter man met sy eie vrese en drome. ‘n Man wat in sy jongtyd ‘n volle lewe gehad het, Tuks VSR, Tuks tennisspan, sanger, geswore alleenloper (voor my ma hom getref het)…

‘n Man wat in hierdie notas lang Engelse gedigte, stukke Shakespeare aanhaal, ‘n man wat nogtans twyfel oor sy eie lewe en wat hy bereik het.

Hoe het ek toe gewens dat hy ook kon geblog het, dat hy sy gedagtes, sy belewenis van die werklikheid en sy insigte vir ons kinders kon boekstaaf.

En, dit het my toe laat nadink. Waar kan daar ‘n beter rekord wees van die innerlike jy, van jou frustrasies, jou vreugdes, jou vermoëns, as in daardie paar ene en nulle van jou blogs wat êrens in Litnet se kuberkelders gebêre word?

In die vreemde geval dat een van ons kinders ooit sou belangstel, sal hulle daar op hulle vingerpunte die essensie van die ware jy kan leer ken. En agterkom dat hulle nie alleen is met hulle vrese nie, dat daar al voorheen mense was wat bly was, wat hartseer was en vol kwaste was. Dat daardie sentimentele streep nie hulle eie skuld is nie, maar erwe van die vaad’re was!

Nou is ek amper bang om verder te tik.

Nuwe studieveld?

Junie 19, 2009 in Sonder kategorie

Soms moet ‘n mens ‘n nadeel in ‘n voordeel kan omswaai.

My kantoor is in ‘n lang gang wat dikwels weergalm van studentestemme, soos hulle deurdrentel van die bo- na die onderpunt en omgekeer.

In die begin kon dit my teen die mure uitdryf, en die verf langs die deur het al begin blasies maak van al die “Sjuut!” wat ek in daardie rigting uitgesis het.

In die proses is ek seker deur al die klassieke fases van die hantering van leed: ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding tot waar ek nou, verby aanvaarding, eerder pret begin hê met die saak.

Sien, ek vermoed ek het ‘n nuwe vakgebied ontdek, of herontdek: Forensiese Ouditiewe Kultuuridentifikasie (FOK) (en ‘skuus vir die ooreenkoms met die ander, meer bekende woord ‘vak’, wat min of meer ‘studierigting’ beteken). Die kern daarvan is dat dit moontlik is om die ras, of selfs kultuur van mense te identifiseer bloot na aanleiding van die toonhoogte of toonpatroon van die gesprek.

Destyds, met die Simpson-hofsaak in Amerika, het die verdedigingspan woedend gereageer toe iemand gesê het dat hy aan die toon en klank van die gesprek kon identifiseer dat dit African Americans was wat met mekaar gesels het. Hoewel die argument toe afgeskiet is, is ek seker elkeen het in sy hart geweet waarvan die man praat. Jy kan met toe oë weet watter ‘kleur’ Amerikaanse fliek hom afspeel.

Ennieway. My beginwaarnemings was soos volg:

  • wit studente: sinne en gesprekke min of meer op dieselfde toonhoogte, met variasies van tot so twee note hoër en terug
  • bruin studente: sinne word afgebreek in so drie aparte frases, beginnende monotoon hoog, met afnemende toonhoogte-intervalle van sowat ‘n verminderde derde elk. Kort sinne bly op dieselfde toonhoogte, met ‘n effense opswaai aan die einde
  • swart studente: gesprekke op een toonhoogte, met dikwelse, lukrake tussenin-note wat tot ‘n derde-interval hoër kan wees
  • Chinese studente: sinne swaai rond in ‘n spektrum van tot drie note hoër en laer.

Die sleutel waarin daar gepraat word verskuif natuurlik hoër na gelang van die mate van opgewondenheid.

En so vermy ek die sleur van nasienwerk…

Ouboet

Junie 18, 2009 in Sonder kategorie

Met jou moet ek nog vrede maak, Ouboet.

Jy was maar altyd daar. Jy het eerste die groot dinge gedoen wat ek eers jare later miskien lugtig sou probeer – Duiweboer, Windbuksjagter, Landbouer met waterslootjies in die perskeboord, Melker van die huiskoei, Snyer van gras, Trekklavierspeler, Klankingenieur, Rugbyspeler, Vryer, Motorbestuurder, Soldaat, Primarius, Onderwyser, Boer. Jy was my touleier op die intreepad in ‘n vreemde, jaloerse wêreld.

So vol teenstrydighede kon jy wees. Soms het jy my beskerm, soms tot magteloosheid getart. Jy was altyd sterk, gewild, maar tog in stryd met jou beeld van jouself. Jy kon my onthaal, versorg, leer bestuur, leer drink, help om my Volla se enjin uit te haal, saam sing en klavierspeel. Maar, dan kon jy so bliksems hardkoppig wees, so dwars, so kras, so krities, so sonder takt.
 
G’n wonder jy was soms my held en soms my grootste vyand nie. Ek onthou hoe hartseer ons was toe ons jou met die eerste besoek alleen by die Leërgimnasium agterlaat. Jy was fors en dapper, vol avontuur, met ‘n uniform en ‘n groot geweer. Jy kon ‘n gat skiet dwarsdeur die bediendetoilet. Jy was die groot student met wie Ma laatnag gesels het oor koshuissake, Biochemie en jou nuwe motor. Jy was boer, eggenoot, vader, ‘n mooi, suksesvolle sterk man.
 
Maar dan was daar die ander kere. Alkohol het jou kragte verkwis, jou oordeel aangetas, jou waardigheid geknou, die mense om jou seergemaak. Dit was swaar om jou so te sien, ‘n spotprent van jou trotse self. Dan het ek besef hoe intens ek jou liefhet, en hoe ek wens ek kon jou weer terugkry, my ouboet, my trots.
 
En nou is jy dood. Al ‘n paar jaar! Ek het nie eers geweet alkohol kan ‘n mens doodmaak nie. Nie gedink ek sal so swaar moet dra aan jou kis nie. Ek het gedag jy sou tot besinning kom en alles sou regkom. Ek het gehoop jy sou my vergewe vir enigiets wat ek aan jou kon gedoen het, my selfvergenoegde oordeel, die kere wat ek jou verstoot het. Ek het gedag ons sou op die stoep kon sit eendag, en gesels oor die ou dae om ‘n tjoppie op die vuur. Maar jy is weg.
 
En sommer so, sonder dat ek kon vrede maak met jou.
 
Want ek mis jou, jou ou donder.

My ode aan die onnie

Junie 17, 2009 in Sonder kategorie

Ek onthou toe skielik vanaand hoe “Goodbye Mister Chips” my destyds in ‘n kortstondige loopbaan in besiel het. Ek brand in elk geval al lankal om iets oor onderwys te sê.
 
Daar is lekker baie om te sê, omdat daar so ‘n ryke verskeidenheid van soorte onderwysers in al die skole is, en dit heerlik is om die karikature onder hulle uit te wys wat ‘n rol in jou lewe gespeel het. Maar hier, knus op my Lazyboy, wil ek ‘n soort van hulde bring. Hulde aan die beroep, en hulde aan die mense.
 
Ek is seker bevooroordeeld, want ek stam uit ‘n hele gesin van onderwysers. Pa, Ma, Sus, anner Sus en selfs Ouboet die boer het die bloedjies op een of ander stadium voor stok gehad. Self het ek van tyd tot tyd die voorreg en die frustrasies van skoolhou gesmaak, maar ek was te jaloers op my eie lewe en drome om dit so volledig prys te gee. Ek vermoed ook die frustrasies in die loopbaan is deesdae meer as voorheen, maar dis nie waaroor ek wil praat nie.
 
Na my mening is daar geen ander beroep waar ‘n mens in dieselfde mate die voorreg het om ‘n kind se hart, sy wete en sy wese so kwesbaar in jou twee hande vas te hou nie. Vir soveel van die brose jare van sy grootword het jy dit in jou mag om daardie kind se lewe te verander, om hom te vorm, of om hom onherroeplik seer te maak.
 
Ook is daar die wete dat dit ‘n kind is waarmee jy werk, iemand wat nog met groot oë verwonderd kan wees oor die wêrelde wat jy aan hom blootlê. Iemand wat nog onbevange kan “Ooo!” sê omdat ‘n ou verborgenheid skielik vir hom sin maak. Iemand wat jou raad sal volg bloot omdat hy dink jy weet beter, iemand wie se loopbaan jy kan vernietig deur een ondeurdagte opmerking. Elkeen van ons kan sekerlik ‘n voorbeeld noem van iemand wat jou so seergemaak het, of iemand wat jou besiel het. Soms met ‘n enkele sin.
 
Dankie vir die dierbare, dapper mense wat daardie rentmeesterskap verstaan, die besielde onderwysers wat die mens agter daardie stout gevreetjie voor hom sien en wat daardie tydjie waarin hy/sy die mensie kon leen, met ontsag en respek gebruik. Dankie vir hulle wat erns het met die opvoeding van die kinders en vir hulle wat verby die jaar na jaar sleur van sy vak kyk en die kosbare inhoud elke keer met dieselfde entoesiasme aanbied.
 
Dis besondere mense wat hierdie werk reg doen, want dis mense wat hulleself kan vergeet en vir andere kan lewe, mense wat vervulling kan kry uit die prestasie van iemand anders. Dis ware (en rare) onselfsug.
 
Dit het my altyd verbaas hoe volwasse mense my ma kon byloop en bedank, al was sy ‘n Graad Een-onderwyseres. Ek het later besef dat dit waarskynlik een van die min beroepe is waar mense dankbaarheid (of ‘n wrok!) lewenslank teenoor jou kan bly koester vir daardie enkele jaar of twee van kuratorskap. My eie kosbaarste besittings is die enkele briefies van kinders wat gesê het ek het ‘n verskil in hulle lewens gemaak of dat ek die vak vir hulle lewendig gemaak het. Ek sal my Krugerrande enige dag kan weggee, maar daardie briefies? Nooit!