Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Kleuter

Mei 21, 2009 in Sonder kategorie

Sommer net omdat jy wil
het jy jou koutjie uitgepil –
betrag jy dit, misnoegd en kil
waar dit, vies, op jou borslap krul.

‘n Kosmos buite is onbegaan
oor ons klein stryd in Spekboomlaan.

                                                                                                                                Pretoria 1987

Geloftedag

Mei 21, 2009 in Sonder kategorie

Dis Vrydag, in die sestigerjare. Dis Geloftedag. ‘n Dag wat plegtig, met tuitlippies uitgespreek word.

Pa sit by sy lessenaar, besig om een of ander laaste kwessie op te los. Vanuit ‘n wolk soet haarsprei skree Ma vir ons kinders instruksies. Ousus is al gereed, Ouboet het die Hudson gaan uittrek en ons twee kleintjies is knorrig besig om ons Sondagbeste aan te trek.

Ons is nie lus om te gaan nie. Herinneringe van laasjaar en voorlaasjaar se Geloftefeeste is nie baie bemoedigend nie, en ons sal eerder op die tjoep in die dam gaan ronddryf en in die louwarm water rondplas. Maar, ons het geleer dat dit die een dag is waaroor jy nie kla nie, dis ‘n Ding Wat Moet Gedoen Word.

Die fees is by Houtkop, naby Vereeniging. Dis eers later jare dat die naam vir my vreemd ironies begin klink het.

Die stamperige grondpaadjie na die sinksaaltjie lei tussen geelgroen soetdoringbome en haakdorings deur wat vol in die blom staan. Die geur is amper oorweldigend soet en die sonbesies is al van ligdag af besig om hul viole te stem. Elke motor kies sy staanplekkie, want dis waar ons later die piekniektafeltjie gaan opslaan.

Die saaltjie is nog koel en die groot kantflappe wat opgeslaan is laat die soetwarm somergeure tussen die harde tuinbanke deur krul. Vanoggend preek Dominee Lombard, en genadiglik is die diens nie baie lank nie. Ek kan gelukkig agter Tannie Sou se groot hoed skuil en trek skewebek vir Grootjan oorkant die paadjie.

Kort voor lank hol ons klomp kinders buite rond. Die dogtertjies het pragtige rokke aan en dit belemmer hulle bewegings, veral in daardie vorm van gestruktureerde vry wat ‘touchies’ genoem word. Ek jaag natuurlik hoofsaaklik vir Alensia, die punt van my hart.

Lekker warmgespeel breek die gevreesde oomblik aan. Met die kerkerige deel van die verrigtinge agter die rug, is dit nou tyd vir die Groot Toespraak.

Eers word daar ‘n klomp lekker volksliedere gesing. Pa het ‘n forse stem en hy lei die sang deur die Vlaglied, Kent gij dat volk, Die lied van jong Suid-Afrika en selfs Sarie Marais.

Teen hierdie tyd is die sinkgeboutjie natuurlik erg warm gebak in die somerson en menige tannie waai hulle rooi gesigte koel met die opgevoude feesprogrammetjie. Oom Willie is ‘n goeie spreker wat met bewende snor die Voortrekkers uit Graaf Reinet gaan haal en hulle dan voor jou oë in ‘n mistige laertjie kan kom neersit. Buite skree die sonbesies hulle gatte af en ek en Alensia glimlag soetjies vir mekaar.

Seker veertien, vyftien uur later (dink ek) maak Oom Willie uiteindelik klaar. Nou word die Gelofte gelees en ter afsluiting word nog ‘n paar liedere gesing. Ons kan nie wag om uit die stomende saaltjie te tou nie. Party spring sommer deur die oop kantflappe.

Terwyl Pa nog vir oulaas met die Feeskomitee vergader, word die waatlemoen wat onder ‘n nat sak gelê het, oopgesny. Ma haal die blougekookte eiers en koue(rige) wors uit die bak, Ouboet slaan die tafeltjie op en ons eet. Uit-blerrie-eindelik.

Die fees is verby en ons kan huis toe gaan om lekker te kuier en te swem.

Ek mis die geur van daai soetdorings. En, as die fees dan destyds so goor was, hoekom verlang ek so terug daarna?

Troos

Mei 20, 2009 in Sonder kategorie

 

Langs vonke van ‘n vreemde vuur
wonder jy onsteld
wat vandag se as nie
alles gister was nie.

Jy pas te teer hier tussen ons
en op jou eie wondertog
soek jy in afgebrande veld
‘n anker, troos, jouself
in heelal wat vir ander geld.

Ek wens ek kon jou meer beloof!
Ek sal die heuwels afstroop,
Die son keer wat jou oog verblind –
My dogter, rooikop, liewe kind.

Rolprent-geite

Mei 19, 2009 in Sonder kategorie

Ek is nou nie die eerste wat al oor hierdie kwessie skryf nie, maar lyk my die neiging duur voort, dan moet ‘n man mos maar daaroor praat, of hoe?

Op die swart-en-wit skerm van die Redan-inry kon Roy Rogers honderde skote uit sy getroue rewolwer afvuur vanaf sy perd se rug. Dit was maar orraait – ons het gedag dit moet so wees.
Dit was maar die eerste van ‘n reeks rolprent-geite wat ek mee te doen gekry het. Deur die jare het ‘n groot klomp ander verskyn wat my stelselmatig meer en meer begin irriteer het.
 
Hoekom gebeur dit klokslag in ‘n fliek dat die persoon wat deur die polisie gesoek word, toevallig op die kroeg se skerm vertoon word wanneer daardie persoon in die kroeg aankom? Asof!
 
Jy sien dit elke keer. Riaan Cruywagen sal sommer in sy hoofberig al noem: “En in Pretoria word daar steeds gesoek na … wat …”. Vul maar in. Riaan het al ‘n bruin tên op sy voorkop van al die kameraligte wat ons vindingryke regisseurs op hom gooi. Dan moet onse held in die storie natuurlik vlug vir sy lewe. So asof hulle in Suid-Afrika ‘n vale hel omgee vir nog iemand wat ontvoer is, of ontsnap het. Die kanse is groter dat hulle eerder ‘n gevangene sal wys wat dit NIE vandag reggekry het om te ontsnap nie.
 
‘n Ander ding is die hoflike Japanese gevegte, waar die held teen ‘n kring skurke veg, en hulle dan een vir een beurte maak om deur hom opgevoeter te word, voor hulle weer na hulle plek in die kring terugkeer. Asof.
 
Hier in die Kyp Flêts sal die kring wel om hom staan, maar dan sal almal gelyk instap met spenners, uitlaatpype en toiletbakke om die snot vir eens en vir altyd uit die ou uit te foeter.
 
Jy kan ook maar weet dat die skurk in die fliek weer sal opstaan sodra onse held sy rug draai. As hulle dit dan nou weet, hoekom doen hulle nie ‘n behoorlike jop nie? Bind sy skouers aan sy hakskene vas, of iets. Ek wil sien hoe kry hy dit dan reg om weer op te staan, wat nog te sê ‘n oorlas van homself te maak. Beste wat hy kan doen is om jou met sy boude te stamp.
 
Wat ek ook voor moeg is, is dat die heldin in die fliek dan uiteindelik besluit om self die saak op te los, en dan vir ure lank deur die skurk geteister te word. Ek het dit vir die eerste keer in die fliek “Blind terror” gesien, en nie daarvan gehou nie. Is sy stjoepid, of wat? Ek meen, bel die buurman, bel die plumber, vat jou broer saam, bly weg daar of iets.
 
Dan, daardie soort toeval dat die held se vrou, of vriendin, toevallig by die deur sal inkom daardie een keer dat die held ‘n ander meisie in sy arms moes vashou, al is dit nou om vir haar die Heimlich-maneuver te gee. Dan storm vrou/vriendin natuurlik daar uit en nog vyftien minute word by die storie gevoeg.
 
Nog ‘n geit wat my pla, is die Amerikaanse manier om ‘n skare te hê wat handeklap as held en heldin uiteindelik omhels. Wel, ek het al in die openbaar probeer vry en al wat jy kry is ou tannies wat snork en ou ooms wat kwyl. As hulle dan sou handeklap, is dit vir die slim sakkeroller wat die beursie uit jou broek se agtersak steel.
 
En verder is ek tot oor my ore moeg vir die underdog-storie: die orkessie, die dansertjie, die baseballspelertjie wat vir die kinders in die groot, slim skool ore aansit. Of die fliek waar die arme vrou die hele fliek deur geboelie word en net in die laaste vyf minute haar wraak kry. G’n wonder ons het soveel onopgeloste issues in ons gemoedslewe nie.
 
So ja. Op ‘n manier voel ek beter. 

Sonder slag of stoot

Mei 18, 2009 in Sonder kategorie

Anders as die gemiddelde persoon, hou ek nie daarvan om geslaan te word nie.
 
Hierdie afwyking is deels te wyte aan ‘n ontwerpfout in my familielyn, waar ons bedeel is met meer as die gemiddelde aantal vierkante meter neusgrootte. Reeds in standerd een het Cheeky Cronje hierdie afwyking met ‘n goedgemikte reguitlinker probeer regstel, maar net reggekry om die algemene rigting van die Neus permanent te verander. Kyk ek wes, kyk die Neus noordwes. In krieket was my neus gemiddeld gemik na kort-regby.
 
Natuurlik het dit sy voordele: ons is van die enigstes wat met gemak onder ‘n stort kan staan en rook. Hulle sê ook ons leef langer as die man op straat, want as ons ons laaste asems uitblaas, blaas ons dit weer by ons neusgate in.
 
Maar, ek dwaal af.
 
In die laerskooltjie aan die einde van die wêreld waar ek grootgeword het, was oorlewing die hoofsaak. Daarna was sport, soos in die res van Suid-Afrika.
 
Een so ‘n sport was boks. ‘n Vegknoper sou by jou aankom en vra: “Sug jy vir Bennie?” Sou jy nee sê, hol die klein donner terstond na Bennie toe en vertel hom dat Janklaas oral loop en rondvertel dat hy Bennie nie sug (vrees) nie.
 
Pouse sou die saak noodwendig op die ringtennisbaan besleg word. In die beginjare kaalvuis, maar ons het darem later bokshandskoene gekry.
 
Daar het ek nog ‘n klomp natuurwette geleer:
• Die Non-transitiewe wet: as A vir B pakgee, en jy gee vir A pak, beteken dit nie jy kan ook vir B pakgee nie.
• Die kommutatiewe wet: in ‘n algemene geslaan (‘n rumoerdery) wen niemand. En die onnies gee jou ook nog pak.
• Pyn is seer.

Soos julle kan aflei, was ek dus in my goeie kwota van gevegte, wat my vrot sinsbou verklaar. Maar, daar was ‘n paar spoke in die skool: manne wat, sonder om ooit in ‘n geveg te beland, ‘n aura gehad het van onoorwinlikheid. Vegknopers het geweet om wye draaie om hulle te loop.

So gebeur dit dat ek op hoërskool, so standerd nege, ‘n pad kruis met een van hierdie legendes. ‘n Hele paar jaar het ek dit reggekry om enige gevegte te vermy, maar hier was my lot verseël. Dalk het ek skeef gefrons, dalk het ek te na aan sy dampkring gekom. Weet nie. Punt is, ek ry toe saam met die ou in die bus huis toe.

Aan sy houding van trotse verdoemenis kon ek aflei dat die oomblik van oordeel nader namate die afklimpunt naderkom. In my gedagtes het ek besluit wie my radiotjie sou erf en wie die hond in die vervolg sal moet kosgee.

By die eindpunt aangekom was my ergste vermoedens bevestig toe ek sien twee van sy assessore klim somber saam met hom af. Ek het begin wonder waar my bloed die maklikste afgespuit sou kon word: gras of grond?

Ek kan nie die presiese woorde van die uitdaging onthou nie, my knieë het te veel geratel.

En daar, en daar kry ek die briljantste ingewing. Dis asof ‘n helder lig op my skyn en ‘n hemelse koor “AAAA” sê.

‘n Stem kom uit my uit wat iets sê soos: “Boekoe, ek is nie lus om met jou te baklei nie. Jy gaan my net papslaan en ek hou nie daarvan nie”.

Skok. Skok en afgryse. Hier ontneem ek die grimmige man sy billike wraak, nogal voor sy kornuite!

Hy het my nog ‘n keer uitgedaag, maar met my nuwe bravado het ek net geglimlag en geweier om my hande op te lig.

In daardie harde plotwêreld was my naam grond, vir minstens ‘n middag.

Die volgende dag was die storie by die skool. Die vreemdste ding: meisies het my kom gelukwens en my vrinne het my nog net so aanvaar. Ek het niks verloor nie!

Om die waarheid te sê, ‘n week later het Boekoe MY om verskoning kom vra! Wat op aarde het daar gebeur?

Gandhi was toe al die tyd reg. Vrede is ‘n opsie.

En my neus het geen verdere skade opgetel nie.

Fynvatverse

Mei 16, 2009 in Sonder kategorie

As ‘n gefassineerde passasier in hierdie wispelturige lyf wat ek mee ge-issue is, het ek opgemerk dat daar frases van verse in ons poësie is wat my so kan ontroer dat ek hulle glad nie hardop kan opsê nie. Sentimentele ou tert wat ek is, het ek besluit om my gunstelinge hier te versamel, onder julle skrynende blikke. Ek moet ook toegee dat dit in elk geval taamlik outydse verse is. Wys jou net. Wat, weet ek nie.

Die eerste een soek ek eintlik hulp mee. Dit was destyds in ons matriekhandboek (ja, daar was toe al poësie) en ek vermoed dis dalk Elizabeth Eybers:

Saans sprei die branders waar hule loop
in wit pousterte, sterre oop.

Sjoe. Ek wens ek het dit gesê. Die volgende een is deur S. Ign Mocke:


Hysbakbestuurder

Hy was die voorman op die plaas Kasteel,
maar hoor hy nog die vlakpatrysies kweel,
hier waar hy agter tralies sit, terwyl
’n staalpot heeldag met hom jo-jo speel?


Eina. Weereens, ek wens ek het dit gesê. Die volgende is van Opperman:

Wanneer jy hierdie laaste brief
agter die duin gelees het, lief,
skeur en skeur dit in niks minders
as ‘n duisend spikkelvlinders
wat wegdwarrelend op die wind
in die see hul einde vind,
want oor die vlaktes tussen ons
is al ons drome disseldons.

En laastens, WEG Louw:

Vaalvalk

Wit is die wêreld
van outydse wee,
en ‘n treurige wals
is die vroemoresee;
dou oor die duine, geen windjie wat waai,
net ‘n vaalvalk wat sing soos hy draai, soos hy draai . . .

Poësie het dieselfde effek op my as musiek. Dis die suikerlagie wat die boodskap verby al my skanse vat, en doer, diep binne my siel gaan aflaai.

Ek wens ek kon op ‘n manier hoor wat die verse is wat julle aangryp. Ek wens ons kon hulle êrens op ‘n webblad versamel, vir almal om te waardeer. Die Groot Verseboek(e) intimideer my. TE groot.

Rapsodie vir ‘n blaasorkes

Mei 15, 2009 in Sonder kategorie

Die Diensvakskool- leërorkes van negentienvoetsek was saamgestel uit ‘n veertigtal jong latte, uit alle windrigtings, herkomste en begaafdhede (of nie).

Die saamgooi van so ‘n diverse groep in een poel lei nogal tot die afskaaf van baie skerp kante; vredemaak met ‘n klomp van jou eie geite en verskeie lesse in beskeidenheid.

In een so ‘n voorval was ons een nag op pad terug per trein vanaf Bloemfontein na Voortrekkerhoogte.

Op daardie ouderdom het ‘n trein se soete skommeling ‘n manier om ‘n mens te herinner aan die bestaan en belangrikheid van jou eie hormone, veral as daar op dieselfde trein enkele eksemplare van die vroulike spesie teenwoordig is.

Daardie nag was die keuse nie besonder wyd nie. Daar was ‘n blonderige dame met aansienlike omtrek en onseker afkoms, en dan ‘n maerder uitgawe wat vermoedelik êrens ‘n paar voortande verloor het en geneig was om diep slukkie uit ‘n klein, bruin botteltjie te neem.

Die trompetafdeling het hulle toegespits op die blondine (so much more to enjoy, vermoed ek) terwyl die drommers ‘n voorkeur ten opsigte van maer brunet aangedui het. Daar was volop skeunse insinuasies en beloftes, maar uiteindelik het ons onder die wakende oog van samjoor Slabbie die aftog geblaas en gesteurd in die kooi gaan klim. Elke nou en dan het die klank van Oom Slabbie se spykerstewels in die gang dan ook verseker dat geen vuilspel plaasvind nie.

Die fisiese voorkoms van die manne in die orkes het gewissel vanaf normaal, tot iets onwelriekends uit Orfeus se Doderyk. Fieljam (naam natuurlik verander) was een van die meer gelukkiges, en Brunet het menige skewe haasbekglimlag in sy rigting geslinger.

So het dit dan ook gekom dat daar laat die nag ‘n skerp kloppie aan die deur van die kompartement was. Soos een man was ons al ses wakker. Asof hy weet, het Fieljam die deur oopgeskuif, en daar staan Brunet: deurskynende naaitie en al. Soos in enige jongman se droom, net bietjie maerder.

Niemand het asemgehaal nie. Binne die volgende vyf minute was Brunet van haar voete en in Fieljam se kooi. Tien ore het tot die uiterste gespits in die donker elke golfie van die geluide wat vandaar gekom het probeer ontleed. Daar was ‘n paar effense stampgeluide, ‘n hyg en toe is Brunet uit die bed, uit die kompartement.

Steeds het niemand asemgehaal nie.

Eers ‘n paar minute later het ons stadig teruggeleun in ons kooigoed en die oomblik getroetel.

Toe het elkeen van ons ‘n sigaret opgesteek.

Amor se konfetti

Mei 15, 2009 in Sonder kategorie

Sê maar ek is kommen, maar hierdie prent was vir my baie snaaks, veral toe iemand gewonder het of dit nie Amor is nie.

 

Saamsing

Mei 15, 2009 in Sonder kategorie

Saamsing is iets wat uitsterf. In my kleintyd het ons om die klavier gestaan en die oranje FAK deurgesing. As ons op pad was het ons prettige kanons gesing. As ons kuier was saamsing deel van die verrigtinge. Gelukkig het ek ‘n pa en ‘n ma gehad wat mooi en graag kon sing.

Op varsity is die tradisie min of meer voortgesit. Ons het ‘n serriegroep gehad en op kampe en by die kerk het ons geSING. Het ek maar geweet hoe bevoorreg ons was.

Ek het uitgesien daarna om eendag so saam met my kinders te sing. Ons sou soos die Von Trapp-familie die mooiste liedjies saamkoer, op konserte sing en saam jêm in klein musiekorkessies.

Was ek verkeerd. Sing was net nie ‘cool’ nie. Ek dink die enigste lied wat hulle uit die FAK geken het was Blink Vosperd. Sing kon hulle sing, en mooi ook. Hulle het in ‘n verskeidenheid kore gesing, wat ‘n lus was om na te luister. Maar saamsing? Moenie glo nie.

Ek het maar min of meer opgegee. Ek het wel in die kerkkoor gesing, maar dis nie dieselfde nie. Wat is lekkerder as om daai harmonieë in “Forever and ever” so hoog te gaan haal, dat jou tone eintlik sulke vuisies maak van lekkerkry? En so is daar ‘n magdom van melodieë wat smeek om gepleeg te word.

Tot so drie jaar terug. Hier in my buurt is ‘n groepie afgetrede vriende wat elke maand bymekaarkom, gebind deur hulle liefde vir saamsing en lekker eet. Om een of ander wonderbaarlike rede het hulle my een keer genooi, dit het goed gegaan en ek is daar en dan tot erebejaarde verklaar. Danksy my goeie ouers ken ek omtrent meer liedjies as die meeste van die lede en ons het gou ‘n lywige repertorium van pret-liedjies bymekaargeslaan.

Vanaand het ons hoeka weer vergader. Ons is so vyf met kitare, ‘n banjo en ‘n ukulele, en so vyftien meer wat dan sing, eet en verder sing. En dis bitter lekker. Al die mooiste ou melodieë is versamel: Afrikaans, Duits, Engels en selfs ‘n paar van onsekere herkoms (wat is Tulani Kwabandida?). Ons het ons gunstelinge, soos Red Rose Cafe en Die Muehle von Schwarzwaeldertal, maar ons trek nie neus op as iemand ‘n nuwe treksel wil probeer nie.

En snaaks, nou skielik wil die klein bokkertjies ook sing. Nou ontdek hulle weer die stowwerige kitare in hulle kamers, gluur my verwytend aan omdat ek hulle nie gedwing het nie en bekla die gebrek aan lekker liedjies.

Ek wil vir hulle sê “ek het julle mos gesê”, maar dis darem baie lekker om nou uiteindelik wel te kan saamsing. En dit klink so mooi!

Nou sit twee op Stellenbosch – dalk moet ons maar oor die telefoon saamsing…

Beloftes

Mei 14, 2009 in Sonder kategorie

Die herfs kom weer aan
met ‘n sagte gefluister,
en sluwe beloftes
vir dié wat wil luister.

Hy kom elke jaar
met sy fleurige jas
en strooi bont konfetti
net waar dit hom pas.

Hy dra hierdie jas
om sy lyf te versteek
want winter en dood
is soos beendere, bleek.

Ek ken dié karnallie,
ek weet wat hy wil.
Graag ontbloot ek hom met
hierdie vae paskwil.

                                                                                                                    [Hogsback 2007]