Blog-moord

Mei 31, 2009 in Sonder kategorie

Bel die Litnetpolisie.

Ek het die moordenaar van muse in my eie sitkamer ontdek. Ek het daardie vernietigende krag ontdek wat die bloed uit die laaste bietjie skep-lus kan wurg.

Ek het DSTV. Na soveel jare kan ek nou ook inskakel op Kyknet, kan ek nou sport kyk, het ek toegang tot flieks, Mythbusters, National Geographic, musiekvideos, Top Gear…
 
What to do, what to do? Die idee het so goed geklink. Daar was die jaarlikse bonus, daar was die rugby-eindstryd, daar was kinders wat die vakansie huis toe kom. Dinge wat soveel prettiger geklink het as om my lang kop te stamp en timmer vir ‘n vers of ‘n storie.

So was dit ook. Nadat ons Saterdag oopmond en oorbluf, vol biltong, nartjies, bloed en sweet van ‘n manjifieke rugbywedstryd op die groot skerm stadig tot lig en die werklikheid teruggekeer het, was daar nie die vaagste gedagte aan ‘n blog nie. Vir die eerste keer in weke, moet ek sê.

Skielik verstaan ek nou waarmee gewone sterflinge hulleself besig hou. Skielik verstaan ek dat ek die enigste aap uit my skoolgroep is wat desperaat op Facebook probeer rondaas vir geselskap. Al die tyd was die klomp bokkers rustig voor hulle televisiestelle uitgekamp, bier in die een hand en ‘n geelwortel in die ander, terwyl ek my desperate krete in die leegte van die kuberruimte uitgeëggo het.

Dan is daar ook nog die klein sakie van ‘n hoop nasienwerk wat ek moet afhandel voordat ek Dinsdag Gauteng toe vertrek tot die naweek. Blye voortuitsigte van wedersiense en alles, maar skielik is my lewe ontstellend vol. Skielik ontdek ek dat blogs nie meer net gebeur nie, maar dat dit ‘n pynlike geboorteproses word.

Duidelik lê hier vir my ‘n periode voor van nuwe prioriteite. Verbrande DSTV…

6 antwoorde op Blog-moord

  1. borrels het gesê op Mei 31, 2009

    Sies Janklaas … om jou blogmaats darem so maklik te wil vergeet 🙁

  2. Janklaas het gesê op Mei 31, 2009

    (snik) Ek sal julle nooit vergeet nie!

  3. Janklaas het gesê op Mei 31, 2009

    Eisj, ja, dit ook nog…

  4. Janklaas het gesê op Junie 1, 2009

    Ek sal dit so probeer, maar ek vermoed ek gaan dan nog meer bollie as gewoonlik skryf!
    Julle vroumense is beter met multitasking.

  5. jjanajj het gesê op Junie 2, 2009

    ek hou van dstv. baie. daarom het ons dit maar nog nie.. ek en guy sal nooit enigiets anders doen nie.. not good for the creative types, eh?

  6. Janklaas het gesê op Junie 2, 2009

    Dit slurp die bloed uit jou uit.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.