Vooroordeel

Mei 29, 2009 in Sonder kategorie

Elkeen van ons het al op die een of ander manier onder die onbillikheid van vooroordele deurgeloop. Opinies is mos ‘n wrede kwas wat almal een kleur verf, al wil jy sê “ons is nie almal so nie”.

Dis ‘n soort vrees vir die vreemde, vooropgestelde idees wat ons etikette op groepe mense laat plaas en ons rede gee om hulle te minag en te haat. Sommige van hierdie idees is saam met ons moedersmelk ingegee: ons is meerderwaardig, minderwaardig of heiliger; hulle is skelm, uitbuiters, rassiste, aarts-sondaars…

Lang inleiding. My punt?

As ek dalk suur is oor my nuwe etiket van WAM (white Afrikaans male), is daar tog geen manier hoe ek my die seer kan indink van ‘n vrou wat die glasplafon bereik het nie, al werk sy hoe hard en al is sy hoe begaaf.

Ek sou ‘n tierende, woedende gay gewees het as ek moes weet mense verwerp my bloot oor wat ek werklik glo en is; kerke stig gebedsgroepies en skep meganismes om my na hulle norme te verander. Ek sou wanhopig moes konformeer as ek weet ek mag op geen manier wys wat binne in my aangaan nie, anders sal my dierbares en die gemeenskap my verstoot.

Ek sou seker ook ‘n terroris geword het as ek weet dat die vel waarbinne ek gegiet is, my vir ewig sou reduseer tot ‘n tweedeklas-burger in my eie land.

Daar is seker ‘n sprankie van hoop. My kinders gaan met mense van alle rasse om en word daarmee groot. Ons kan, as volwassenes, kan deesdae saam sit en skerts oor ons eie vooroordele. My eie ingebore gay-vrees het ek genadiglik jare terug ontgroei toe ek deel geword het van die dorpsgemeenskap in Knysna en te doen gekry het met die vele dierbare gay vriende wat ek daar gemaak het. Ons kry nou al hoe meer op ‘n daaglikse basis te doen met die soort mense wat ons altyd gevrees het. En genadiglik is daar meer forums, meer aanvaarding, beter wette wat die pyn relatief effens kan versag, as ek lees hoe dit in ander Afrikastate gaan.

As ek kan verander, kan ander ook. Beskawing bring lig, en lig bring hoop.

Ek sou graag op hierdie hoopvolle noot wou afsluit, maar ek is nie blind vir gevaarlike strominge nie: kerk-fundamentalisme, populisme, chauvinisme, en al sulke goggas wat maklik wortel skiet in vrese, geïsoleerde gemeenskappe en in primitiewer denke. Dit verg net een charismatiese leier, prediker, politikus, oproerder om baie jare se goeie werk weer ongedaan te maak. Ek skat elkeen het seker die plig om dit dan uit te wys vir wat dit is.

8 antwoorde op Vooroordeel

  1. Ditsem Janklaas! Dankie vir die inloer!

  2. Neander het gesê op Mei 29, 2009

    Jan, Baie van ons vooroordele is geneties van aard en sal nooit uit ons sisteme kom nie.
    Indien GM toegepas gaan word, sal die mens in ‘n strooipop of marionet verander.
    Dan kom daar nog meme by, wat ek nog nie eens genoem het nie.

  3. Janklaas het gesê op Mei 29, 2009

    Ek het die meme-gesprek in By gevolg. Vrek interessant.
    Die genetiese ding – seker moontlik, as ek die natuurlike vrees vir spinnekoppe en slange bedink.
    Ek vermoed egter ons het ‘n ingebore afkeer aan gedrag of ‘n voorkoms wat afwyk van ons norm.

  4. Janklaas het gesê op Mei 29, 2009

    Weet. My vrou was ook daar.

  5. Janklaas het gesê op Mei 29, 2009

    Interessante idee. Ek dink ‘n mens sal nogal heelpad opdraand swem.

  6. Janklaas het gesê op Mei 29, 2009

    Dis lekker om te loer, Tweeling.

  7. HarryLouw het gesê op Mei 30, 2009

    Generation X. Elke tydvak het dit hehad. Jy moet maar vrede maak en hoop dinge kom reg. Selfs vir Hitler se oorblywende Jode het dinge reg gekom. Ons WAMs word darem nie vergas nie. Sterkte. broer.

  8. Janklaas het gesê op Mei 30, 2009

    Geduld, né.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.