Pak slae

Mei 27, 2009 in Sonder kategorie

Oom Edgar was waarskynlik die beste pakgeër wat ek kan onthou.

‘n Ware meester, ‘n fynproewer van die genre.

Hy het sy lat in ‘n lang, rooi toevouboksie gehou wat hy altyd met groot sorg en respek oop-en toegemaak het.

Sy hele draaiboek was daarop afgestem om die Pak Slae om te skep in ‘n vreesaanjaende, teatrale episode wat jy nooit weer sal vergeet nie. En ek het nie.

Kyk net. Dit het begin op die pad kantoor toe saam met hom. Terwyl hy jou teer aan jou oor langs hom dra sou hy nie ‘n enkele woord sê nie. Daardie yskoue stilte het strak gekontrasteer met die bedrieglike warm lammigheid wat by jou knieë begin het en al met jou binneboude langs later jou hele onderlyf infesteer. Ek hoor hulle noem dit vrees.

In die kantoor volg natuurlik die preek. Waar Oom Edgar van ander meesters verskil is in die aflewering daarvan. As kort, fris rooikop het hy homself begin opwerk vanaf ‘n rustige adagio, met ‘n toenemende passie waarin sy gesig al hoe rooier en rooier raak. Dit het so min of meer dieselfde effek as daardie dreunende oomblikke voordat die hoof-tornado jou tref. Jy weet, die stadium waarin daar nog net koeie en koolstowe in die lug rondwaai.

Dan, die klimaks. Die kasdeur is sorgvuldig oopgemaak en Die Lat is te voorskyn gebring. Dié is dan met die genoemde groot respek uit die boksie gehaal en liefdevol gestreel. Jy kon amper die weemoed in sy oë lees, dat hy hierdie geëerde, historiese stuk rottang so wêrelds moes aanwend.

En, onafwendbaar, die hees geprewelde “Buk”.

Nou het, soos ek al voorheen genoem het, ons gemoed blykbaar ‘n beskermingsmeganisme ingebou wat die ergste traumas uit ons geheue weer. Jy sal die oomblik voor die ongeluk onthou, maar nie die ongeluk self nie. En so was dit ook hier.

Ek onthou met groot helderheid sy dramatiese aanloop, die optel van die lat, die heldergloeiende lig in sy oë in daardie bloedrooi gesig. Tydens die hou het hy ‘n soort sprong en ‘n Nadal-steungeluid gegee om sy verbintenis te toon.

Jou meer onderskeidende leser sal hier dadelik die ooreenkoms sien met die Celliers-gedig:

Soos ‘n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ‘n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ‘n stapelbou
van marmer wat krul en leef –
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.

En glo my, die ou bliksem kon brul en beef. Ek sal nou nie weet van sy swart fondament nie – na my mening is dit ‘n saak tussen hom en sy vrou en julle behoort julle te skaam dat julle vra.

Maar dan ook:

Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.

..en weer, en weer. Die ding is, na ‘n paar reekse van hierdie gedonder het ek begin agtergekom dat die ou bokker op die laaste oomblik homself inhou om die geweld van die impak te keer. Vir jou as gebukkende het dit natuurlik nie verskil gemaak nie – al het hulle jou stêrre met ‘n hoenderveertjie gestreel sou dit nog steeds vreesaanjaend gewees het.

Agterna sou Oom Edgar die drillende, snikkende hopie jellie in skooldrag optel, jou troos en jou terugneem klas toe. En dié keer gesels hy, oor rugby, oor die weer en what not. Totaal verskillende personae vP (voor pak) as nP. Ek sweer hy het nog in sy binneste geglimlag ook.

Nogtans sal jy daardie pak onthou.

7 antwoorde op Pak slae

  1. Neander het gesê op Mei 27, 2009

    Ons het ‘n koshuisvader/LO onnie gehad wat net so was. Hy gee jou nogal die keuse van 3 of 4 houe.
    Dan weet jy nie of die 3 harder of die 4 sagter gaan wees nie. Dilemma.
    Dan skryf hy jou naam netjies in ‘n boek asof dit vir die nageslag behoue gaan bly.

    Nogtans het hy die siel van ‘n seun verstaan. Hy het self 4 seuns gehad en van meisies as veerpootjies gepraat. Op die laaste skooldag het hy sy Hi Fi aangesit met reuse Duitse speakers en Duitse marsmusiek gespeel dat die koshuis dreun.
    Lekker!!

  2. Janklaas het gesê op Mei 27, 2009

    My soort man.

  3. Janklaas het gesê op Mei 28, 2009

    Dankieeee!

  4. Janklaas het gesê op Mei 28, 2009

    Ken hom. Moeilik om dapper te lyk as jou blerrie oë aandring om te traan.

  5. Neffertiti het gesê op Mei 29, 2009

    Ek verlang ook na die platteland se skool.

  6. Janklaas het gesê op Mei 30, 2009

    Dar is elke kind en elke onderwyser nog ‘n individu.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.