Sondagmôre blues

Mei 24, 2009 in Sonder kategorie

 ‘n Sondagmôre het al die bestanddele vir ‘n bittersoet melancholie. Veral as dit so ‘n grys, triestige dag is soos vandag. Dan verlang ‘n mens sommer. Na elke familielid, na ou, ou plekke en na amper-vergete tye.

Vanoggend spook so ‘n plek en tyd by my. ‘n Kleintyd, ‘n winteroggend meer as veertig jaar gelede op ‘n plaas in die Oos-Transvaalse hoëveld.

My skoene tok-tok op die knoetserige houtvloer in die gang. Die kombuis is warm en gemeng met die reuk van effens sweterige werkers, brandende mieliestronke in die koolstoof en lig-aangebrande krummelpap. Daar is gemaalde skaaplewer en roereier om te eet.

Ek gaan uit by die sifdeur na die yskoue voorstoep. Die sonnetjie steek braaf sy eerste lang, helder, oranjegeel strale oor die blinkgerypte gras. Die gras en klein spinnerakkies skitter met bewerige reënboogkleure as die oggendluggie daaroor streel.

Swart silhoeëtte in die beeskampie blaas klein wit stoomwolkies teen die heldergeel son. Dis stil, asof iemand rondsluip en vir almal beduie om te sjuut, sjuut… Net die blër van die skape en die put-put-put van ‘n ver Lister-enjintjie veeg-veeg oor die stiltes.

Pa is daar. Oom Koot is daar. Ouboet, ousus en ouersus is daar. Ma is in die huis besig. ‘n Koesterende afdak van liefdevolle troos, van versorging en omgee.

Nou is ek die groot een. Die versorger. Die tye op die plaas is verby. Die son kom nou grys op oor ‘n stad met motortoeters en dreunende lugversorgers.

Ek mis my afdak.

11 antwoorde op Sondagmôre blues

  1. vanduyker het gesê op Mei 24, 2009

    Darem had jy ‘n afdak
    Ons weet net van af*ak
    In ‘n stad sonder meegevoel
    Op die stoep sonder stoel

  2. Neander het gesê op Mei 24, 2009

    Ek gaan nou opsluit ook lewer en mielie pap maak.
    Ek het heimwee na die (mooiste) Vrystaatse rivierplaas.(Tierfontein)

  3. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    Nee, nou’t jy dit erger gemaak. Ek verlang nou sommer na Ma se hoender-in-die-oond.

  4. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    Eina, Jan Plak.

    Ek soek jou kaasresep.

  5. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    Ek het ook so lieflike plaas in Lindley se wêreld geken.

  6. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    Ek verstaan nie mooi nie, maar baie dankie (dink ek) Kammakazi!

  7. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    Baie dankie, Therina. Lyk my dit werk beter as ek eerder met my hart skryf.

  8. Janklaas het gesê op Mei 24, 2009

    …en nou verlang ek sommer terug Vaaldriehoek toe ook. Nie gedink dis moontlik nie.

  9. Berwick het gesê op Mei 24, 2009

    Ek verlang na ook ‘n bietjie.

  10. Janklaas het gesê op Mei 25, 2009

    Ek vrek om weer die blaas van so ‘n Listertjie te hoor.

  11. Janklaas het gesê op Mei 25, 2009

    Jy sê dit.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.