Geskokte stiltes

Mei 22, 2009 in Sonder kategorie

Ek deel die eienskappe van ‘n Vinnige Bek en ‘n Stadige Brein met heelparty moderne jong politici.

Dikwels beteken dit dat jy ‘n bebloede bek en ‘n nog stadiger brein oorhou, maar dis nie nou die punt nie. Die punt is dat ons beoefenaars van VBSB mettertyd nogal kenners word van ‘n hele verskeidenheid van geskokte, swanger stiltes. Hierdie stilte ontplof dadelik nadat ‘n mens ‘n besondere onnosel ding gesê het.

Jy kry jou klein, cute swanger stiltetjie. Dit duur gewoonlik net ‘n paar sekondes, soos wanneer jy per ongeluk ‘n wind opbreek as julle in ‘n ingehaakte kringetjie staan en psalms sing. Volgende is die wollerige, ronde, kuifkop- swanger stilte, soos wanneer jou ma jou stash Scope-tydskrifte (met inkriminerende post-its ingeplak) ontdek. Dan is daar nog ‘n reeks tussenin totdat jy uiteindelik kom by jou industriële sterkte, hoekige, harige skeurtandstilte. Hy is omtrent so swanger soos daai Amerikaanse octomum met die agt kinders.

Ek is seker julle ken hom. Maar, ter wille van didaktiese volledigheid, noem ek gou hier ‘n voorbeeld of twee.

Toneel: akademiese bestuursvergadering, om die grootbaas se tafel. Ek staan in vir my baas. Die tema van die gesprek is die besondere goeie prestasie van ‘n uitblinker- damestudent.

Tydens die gesprek is ek natuurlik in ‘n ander wêreld. Ons huppel oor sonnige grasvlaktes, duifies koer, snaakse blou voëltjies fluit saam met my wysies en almal is gelukkig. Tog voel ek my geroepe, toe ek opkom vir lug, om hardop te meld dat “Al wat sy nodig het, is ‘n goeie vry”. En, toevallig was dit taamlik duidelik uitgespreek net toe daar ‘n stilte in die gesprek was. Die eggo’s het in die gang weergalm tot in die kombuis.

Nou, in Kollegetehuis waar ek meeste van my fyner lewenskunsies aangeleer het, was daar ‘n standaardkorrelasie tussen ‘n meisie se akademiese prestasie en die leemte aan ‘n ordentlike vry. Geen vrae nie. Maar hier, in die dun lug van die werklikheid, was die skakel skielik nie meer so duidelik nie. Nege paar groot oë het stadig gedraai tussen my en die grootbaas, en iemand spiteful het skielik charcoalbrikette onder my sitvlak kom aansteek.

Tot sy krediet het die grootbaas skielik hardop begin lag. Hy sê toe: ‘Stel jou voor iemand van die koerant plaas die storie “Dosent stel voor dat akademiese presteerder ‘n goeie vry kry”. Natuurlik glad nie snaaks nie. Maar, die borrel van die stilte was gebars. Net betyds.

GEVAL 2.
Toneel: aandete met meisie by toekomstige skoonma, swaer en sy vrou in hulle huis. Ek kom laat van klas af en hoor dat die gesprek handel oor geskikte Latynse spreuke.

Ek is nie ‘n groot kenner van Latynse spreuke nie. Om die waarheid te sê, in my gesprekke sal jy dikwels hoor dat ek doelbewus geen Latynse spreuke aanhaal nie. Mense haal soms paragrawe van my aan om te illustreer hoedat ek glad nie Latynse spreuke gebruik nie.

Maar, hierdie aand voel ek my geroepe om die groepie uit hulle ellende te help. Dit verg ‘n goeie ridder om op die toneel te verskyn as jy sien dat die storie besig is om dood te loop weens ‘n droogte aan insette.

Ek spring toe in met ‘n voorstel. “Moenie op die sypaadjie piepie nie” bied ek hulpvaardig aan.

Geskokte stilte. En nog een.

Toe, taktvol, toekomstige skoonma: “Janklaas, ons is op soek na ‘n spreuk om op … (oorlede skoonpa) se grafsteen te sit.”

Eina.

Hier lê hy tussen ons: jou industriële sterkte, hoekige, harige skeurtandstilte.

Ek vermoed swaer het die stilte uiteindelik gebreek deur aan te bied om wyn te skink. Ek is nie seker nie. My kop het te veel gesuis van daardie kosmiese helderheid dat ek weereens ‘n doos van myself gemaak het.

Maar, so leer ‘n mens. Tot die volgende keer.

7 antwoorde op Geskokte stiltes

  1. Ag jinne Janklaas as dit troos ek doen baie dieselfde ding en dan kan ek myself skop tot die bloed loop…

  2. Neander het gesê op Mei 22, 2009

    Jan, kan nie glo dat Kollegehuis so ‘n positiewe invloed op jou verbale vermoëns gehad het nie. Mooi so.
    Ek was in Olienhout.

    Cherchez la femme!

  3. Janklaas het gesê op Mei 22, 2009

    My ouboet was in Olienhout.

    Die belangrikste gevolg van Kollege is lewerskade.

  4. Janklaas het gesê op Mei 22, 2009

    Gelukkig begin mense deesdae van my verwag om simpel goed te doen.

  5. pasella het gesê op Mei 23, 2009

    Bek en klouseer né. As jy jou bek oopmaak sit jy jou klou daarin. En leer leer jy nooit nie!

  6. Janklaas het gesê op Mei 23, 2009

    En dan klem jy ook nog in die kaak.

  7. Janklaas het gesê op Mei 25, 2009

    Jy’s toevallig presies reg. Scary.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.