Rapsodie vir ‘n blaasorkes

Mei 15, 2009 in Sonder kategorie

Die Diensvakskool- leërorkes van negentienvoetsek was saamgestel uit ‘n veertigtal jong latte, uit alle windrigtings, herkomste en begaafdhede (of nie).

Die saamgooi van so ‘n diverse groep in een poel lei nogal tot die afskaaf van baie skerp kante; vredemaak met ‘n klomp van jou eie geite en verskeie lesse in beskeidenheid.

In een so ‘n voorval was ons een nag op pad terug per trein vanaf Bloemfontein na Voortrekkerhoogte.

Op daardie ouderdom het ‘n trein se soete skommeling ‘n manier om ‘n mens te herinner aan die bestaan en belangrikheid van jou eie hormone, veral as daar op dieselfde trein enkele eksemplare van die vroulike spesie teenwoordig is.

Daardie nag was die keuse nie besonder wyd nie. Daar was ‘n blonderige dame met aansienlike omtrek en onseker afkoms, en dan ‘n maerder uitgawe wat vermoedelik êrens ‘n paar voortande verloor het en geneig was om diep slukkie uit ‘n klein, bruin botteltjie te neem.

Die trompetafdeling het hulle toegespits op die blondine (so much more to enjoy, vermoed ek) terwyl die drommers ‘n voorkeur ten opsigte van maer brunet aangedui het. Daar was volop skeunse insinuasies en beloftes, maar uiteindelik het ons onder die wakende oog van samjoor Slabbie die aftog geblaas en gesteurd in die kooi gaan klim. Elke nou en dan het die klank van Oom Slabbie se spykerstewels in die gang dan ook verseker dat geen vuilspel plaasvind nie.

Die fisiese voorkoms van die manne in die orkes het gewissel vanaf normaal, tot iets onwelriekends uit Orfeus se Doderyk. Fieljam (naam natuurlik verander) was een van die meer gelukkiges, en Brunet het menige skewe haasbekglimlag in sy rigting geslinger.

So het dit dan ook gekom dat daar laat die nag ‘n skerp kloppie aan die deur van die kompartement was. Soos een man was ons al ses wakker. Asof hy weet, het Fieljam die deur oopgeskuif, en daar staan Brunet: deurskynende naaitie en al. Soos in enige jongman se droom, net bietjie maerder.

Niemand het asemgehaal nie. Binne die volgende vyf minute was Brunet van haar voete en in Fieljam se kooi. Tien ore het tot die uiterste gespits in die donker elke golfie van die geluide wat vandaar gekom het probeer ontleed. Daar was ‘n paar effense stampgeluide, ‘n hyg en toe is Brunet uit die bed, uit die kompartement.

Steeds het niemand asemgehaal nie.

Eers ‘n paar minute later het ons stadig teruggeleun in ons kooigoed en die oomblik getroetel.

Toe het elkeen van ons ‘n sigaret opgesteek.

11 antwoorde op Rapsodie vir ‘n blaasorkes

  1. boerseun1 het gesê op Mei 15, 2009

    Ek’t ook so bietjie trein gevat in die army, maar ons offesiere het sommer self die wippe reg gesien. Gn kans dat een van ons rowe dit sou regkry nie. Groete

  2. Janklaas het gesê op Mei 15, 2009

    Dis maar hoe dit werk in die dierewêreld…

  3. Janklaas het gesê op Mei 16, 2009

    😉

  4. Henk Botha het gesê op Mei 4, 2013

    Wie sal ooit oom (samajoor) Joe Slabbert vergeet, veral as hy se”Orkes die konel het vir my gese……”.en toe se ek vir hom “konel………..”
    Ou liegbek

  5. Ek was lank nie hier op nie…….ja, het hom goed geken…was in 1974 in sy orkes….maar soveel van lieg….kanselleer sommer naweekpasse dan was dit in opdrag van die “Konel” Kol. Andy Botes of die RSM Snorre Viljoen

    • Ja, dis dieselfde manne. Ek was in 72 daar. Eintlik was dit nogal nie so sleg as wat dit toe gevoel het nie. Kaptein Schultz was ook ‘n karakter in die show.

  6. Ek moet erken die orkes het sy voordele ook gehad..gratis rugby op Loftus, parade in Durban met Reg.Port Natal, Soldoedies uitpaseer op George(Voor hul ‘n orkes gekry het)Lekker bierfees in Windhoek saam met Reg.Windhoek. Maar ai, die liewe rolbalbane se bossies gaan uittrek was wraggies nie pret nie,dan liewer gaan aftjop by k@khuiskloof Elandsfontein.Die adjudant op daardie stadium was LT Strydom (Dame) Sy was die enigste in die eenheid wat werklik begrip gehad het vir ons orkes manne.

    • Ja, ons het ook prettige besoeke aan Standerton, Bloem, Kroonstad, Potch, Bethlehem en Heilbron gehad, by parades en landbouskoue. Join the band, see the world!

      ‘n Vroumensadjudant! Wow, ons sou dit waardeer het, maak nie saak in watse vorm nie.

  7. Moet ook natuurlik nie vergeet van die Tukkie jooloptogte saam met die Tukkie trompoppies en die HF Verwoerd hospitaal trompoppies nie…vele sport(s) gehad. Ook saam met hul opgetree by die Pretoria skou. Op trein terug van Durban af land 3 meisies van Pretoria jeug orkes saam met ons in die kompartement….lekker gekuier…kry hul egter ‘n groot verrassinng toe ons op Pretoria stasie afklim……hul rytuie was op Germiston afgehaak en is toe geskei van hul groep…ou Slabbie wou niks weet dat ons hul help nie en moes net die Bedfords klim….wonder nou nog wat van die 3 girls geword het!!!

  8. Op trein terug vanaf Durban land 3 girls van die Pretoria of Transvaalse jeug orkes(Kan nie meer mooi onthou nie)saam met ons in die kompartement. Lekker gekuier. Groot was hul verrassing toe ons op Pretoria stasie afklim en pelle is nie daar nie. Hul rytuie was op Germiston afgehaak. Ons wou nog die girls help maar ou Slabbie wou niks weet nie,ons moes net die Bedfords klim terug hoogte toe.Wonder nou nog wat van die arme girls geword het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.