Jy blaai in die argief vir 2009 Mei.

Blog-moord

Mei 31, 2009 in Sonder kategorie

Bel die Litnetpolisie.

Ek het die moordenaar van muse in my eie sitkamer ontdek. Ek het daardie vernietigende krag ontdek wat die bloed uit die laaste bietjie skep-lus kan wurg.

Ek het DSTV. Na soveel jare kan ek nou ook inskakel op Kyknet, kan ek nou sport kyk, het ek toegang tot flieks, Mythbusters, National Geographic, musiekvideos, Top Gear…
 
What to do, what to do? Die idee het so goed geklink. Daar was die jaarlikse bonus, daar was die rugby-eindstryd, daar was kinders wat die vakansie huis toe kom. Dinge wat soveel prettiger geklink het as om my lang kop te stamp en timmer vir ‘n vers of ‘n storie.

So was dit ook. Nadat ons Saterdag oopmond en oorbluf, vol biltong, nartjies, bloed en sweet van ‘n manjifieke rugbywedstryd op die groot skerm stadig tot lig en die werklikheid teruggekeer het, was daar nie die vaagste gedagte aan ‘n blog nie. Vir die eerste keer in weke, moet ek sê.

Skielik verstaan ek nou waarmee gewone sterflinge hulleself besig hou. Skielik verstaan ek dat ek die enigste aap uit my skoolgroep is wat desperaat op Facebook probeer rondaas vir geselskap. Al die tyd was die klomp bokkers rustig voor hulle televisiestelle uitgekamp, bier in die een hand en ‘n geelwortel in die ander, terwyl ek my desperate krete in die leegte van die kuberruimte uitgeëggo het.

Dan is daar ook nog die klein sakie van ‘n hoop nasienwerk wat ek moet afhandel voordat ek Dinsdag Gauteng toe vertrek tot die naweek. Blye voortuitsigte van wedersiense en alles, maar skielik is my lewe ontstellend vol. Skielik ontdek ek dat blogs nie meer net gebeur nie, maar dat dit ‘n pynlike geboorteproses word.

Duidelik lê hier vir my ‘n periode voor van nuwe prioriteite. Verbrande DSTV…

Vooroordeel

Mei 29, 2009 in Sonder kategorie

Elkeen van ons het al op die een of ander manier onder die onbillikheid van vooroordele deurgeloop. Opinies is mos ‘n wrede kwas wat almal een kleur verf, al wil jy sê “ons is nie almal so nie”.

Dis ‘n soort vrees vir die vreemde, vooropgestelde idees wat ons etikette op groepe mense laat plaas en ons rede gee om hulle te minag en te haat. Sommige van hierdie idees is saam met ons moedersmelk ingegee: ons is meerderwaardig, minderwaardig of heiliger; hulle is skelm, uitbuiters, rassiste, aarts-sondaars…

Lang inleiding. My punt?

As ek dalk suur is oor my nuwe etiket van WAM (white Afrikaans male), is daar tog geen manier hoe ek my die seer kan indink van ‘n vrou wat die glasplafon bereik het nie, al werk sy hoe hard en al is sy hoe begaaf.

Ek sou ‘n tierende, woedende gay gewees het as ek moes weet mense verwerp my bloot oor wat ek werklik glo en is; kerke stig gebedsgroepies en skep meganismes om my na hulle norme te verander. Ek sou wanhopig moes konformeer as ek weet ek mag op geen manier wys wat binne in my aangaan nie, anders sal my dierbares en die gemeenskap my verstoot.

Ek sou seker ook ‘n terroris geword het as ek weet dat die vel waarbinne ek gegiet is, my vir ewig sou reduseer tot ‘n tweedeklas-burger in my eie land.

Daar is seker ‘n sprankie van hoop. My kinders gaan met mense van alle rasse om en word daarmee groot. Ons kan, as volwassenes, kan deesdae saam sit en skerts oor ons eie vooroordele. My eie ingebore gay-vrees het ek genadiglik jare terug ontgroei toe ek deel geword het van die dorpsgemeenskap in Knysna en te doen gekry het met die vele dierbare gay vriende wat ek daar gemaak het. Ons kry nou al hoe meer op ‘n daaglikse basis te doen met die soort mense wat ons altyd gevrees het. En genadiglik is daar meer forums, meer aanvaarding, beter wette wat die pyn relatief effens kan versag, as ek lees hoe dit in ander Afrikastate gaan.

As ek kan verander, kan ander ook. Beskawing bring lig, en lig bring hoop.

Ek sou graag op hierdie hoopvolle noot wou afsluit, maar ek is nie blind vir gevaarlike strominge nie: kerk-fundamentalisme, populisme, chauvinisme, en al sulke goggas wat maklik wortel skiet in vrese, geïsoleerde gemeenskappe en in primitiewer denke. Dit verg net een charismatiese leier, prediker, politikus, oproerder om baie jare se goeie werk weer ongedaan te maak. Ek skat elkeen het seker die plig om dit dan uit te wys vir wat dit is.

Verenig

Mei 28, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n buurdorp het daar ‘n ou man met Alzheimers weggeraak. Die hartseer van die kinders het my aan die mymer gesit…

Hy’s die donker, krom gedaante
hy’s die ou man op die hoek
hy’s die een wat in die donker
na homself, sy eie soek

Hy’s al veertien dae verlore
hy’s die man in die koerant
Hy’s die een wat in die trane
van sy hartseer kinders brand

Hy’s die hopie wat hul gister
langs sy vrou se graf ontdek
en sy vingers het die groefies
van haar naam dof nagetrek

Kom die storms, kom die weifel
kom demensie, kom die wind
maar hier, dig by haar gebeente
het hy vredigheid gevind

Pak slae

Mei 27, 2009 in Sonder kategorie

Oom Edgar was waarskynlik die beste pakgeër wat ek kan onthou.

‘n Ware meester, ‘n fynproewer van die genre.

Hy het sy lat in ‘n lang, rooi toevouboksie gehou wat hy altyd met groot sorg en respek oop-en toegemaak het.

Sy hele draaiboek was daarop afgestem om die Pak Slae om te skep in ‘n vreesaanjaende, teatrale episode wat jy nooit weer sal vergeet nie. En ek het nie.

Kyk net. Dit het begin op die pad kantoor toe saam met hom. Terwyl hy jou teer aan jou oor langs hom dra sou hy nie ‘n enkele woord sê nie. Daardie yskoue stilte het strak gekontrasteer met die bedrieglike warm lammigheid wat by jou knieë begin het en al met jou binneboude langs later jou hele onderlyf infesteer. Ek hoor hulle noem dit vrees.

In die kantoor volg natuurlik die preek. Waar Oom Edgar van ander meesters verskil is in die aflewering daarvan. As kort, fris rooikop het hy homself begin opwerk vanaf ‘n rustige adagio, met ‘n toenemende passie waarin sy gesig al hoe rooier en rooier raak. Dit het so min of meer dieselfde effek as daardie dreunende oomblikke voordat die hoof-tornado jou tref. Jy weet, die stadium waarin daar nog net koeie en koolstowe in die lug rondwaai.

Dan, die klimaks. Die kasdeur is sorgvuldig oopgemaak en Die Lat is te voorskyn gebring. Dié is dan met die genoemde groot respek uit die boksie gehaal en liefdevol gestreel. Jy kon amper die weemoed in sy oë lees, dat hy hierdie geëerde, historiese stuk rottang so wêrelds moes aanwend.

En, onafwendbaar, die hees geprewelde “Buk”.

Nou het, soos ek al voorheen genoem het, ons gemoed blykbaar ‘n beskermingsmeganisme ingebou wat die ergste traumas uit ons geheue weer. Jy sal die oomblik voor die ongeluk onthou, maar nie die ongeluk self nie. En so was dit ook hier.

Ek onthou met groot helderheid sy dramatiese aanloop, die optel van die lat, die heldergloeiende lig in sy oë in daardie bloedrooi gesig. Tydens die hou het hy ‘n soort sprong en ‘n Nadal-steungeluid gegee om sy verbintenis te toon.

Jou meer onderskeidende leser sal hier dadelik die ooreenkoms sien met die Celliers-gedig:

Soos ‘n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ‘n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ‘n stapelbou
van marmer wat krul en leef –
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.

En glo my, die ou bliksem kon brul en beef. Ek sal nou nie weet van sy swart fondament nie – na my mening is dit ‘n saak tussen hom en sy vrou en julle behoort julle te skaam dat julle vra.

Maar dan ook:

Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.

..en weer, en weer. Die ding is, na ‘n paar reekse van hierdie gedonder het ek begin agtergekom dat die ou bokker op die laaste oomblik homself inhou om die geweld van die impak te keer. Vir jou as gebukkende het dit natuurlik nie verskil gemaak nie – al het hulle jou stêrre met ‘n hoenderveertjie gestreel sou dit nog steeds vreesaanjaend gewees het.

Agterna sou Oom Edgar die drillende, snikkende hopie jellie in skooldrag optel, jou troos en jou terugneem klas toe. En dié keer gesels hy, oor rugby, oor die weer en what not. Totaal verskillende personae vP (voor pak) as nP. Ek sweer hy het nog in sy binneste geglimlag ook.

Nogtans sal jy daardie pak onthou.

Resep!

Mei 26, 2009 in Sonder kategorie

In ‘n Chemieboek, van alle boeke, het ek ‘n prettige resep gekry.

Daai bros gaatjies met die suiker om wat ‘n mens in Crunchies kry, is maklik om te maak.

Jy neem:
2 eetlepels goue stroop
2 eetlepels suiker

Kook dit stadig saam vir 20 minute in ‘n groterige pan.

Voeg dan by een teelepel koeksoda en roer dit vinnigerig by die mengsel in. Nie te vinnig nie, dan koelêps die borrels (Hallo Borrels!).

Die mengsel begin groei soos dit skuim vorm (staan liewer terug, Eva, mens weet nie hoe groot gaan hierdie ding word nie).

Gooi die mengsel in ‘n gebotterde bak en laat stol.

Eet. Geniet.

Ek is gewoonlik te haastig, dan loop ek vir twee dae met blase op my tong van ‘n slap, skuimerige gloeiende lekkergoedderm. Laat die ding tog stol!

Uitgestelde plesier

Mei 25, 2009 in Sonder kategorie

Op skool het ons Afrikaans-onderwyser eenkeer die woorde “pejoratiewe konnotasie” gebruik.

Ek het hierdie woorde verskriklik grênd bevind en in my mond rond- en rondgerol.

Sedertdien was my lewe een lang soektog na ‘n geskikte situasie om daardie woorde in ‘n sin te gebruik. Ek dink, as ek in die regte kringe beweeg het, sou ek ‘n saak kon uitmaak dat die word “Boer” in sekere kringe nou ‘n pejoratiewe konnotasie verkry het.

Aaa. Uiteindelik kon ek dit hier doen. Dankie, dit was baie vervullend.

Soos met Frans. In standerd agt het ek skielik die begeerte ontwikkel om Frans te leer. Ek het ‘n boek gekoop, “French in three months”.

Dis nou meer as dertig jaar later. Of hulle het gelieg, of ek is stjoepid. Ek is so min of meer deur die boek, maar as iemand op TV Frans praat, hoor ek net ‘n nasale ge-ô of ge-aa.

Nou wil hulle hier hê ek moet Xhosa leer. Hallooooo! Die taal het iets soos dertien klapklanke, voordat hulle selfs met die alfabet begin! Ek het nie eers genoeg organe om al daai klanke mee te pleeg nie.

Maar, ek skat as Julius Malema dit kon aanleer, kan ek ook. Tensy hy kroek en skelmpies Afrikaanse briefies aanstuur.

Iesj. 

Sondagmôre blues

Mei 24, 2009 in Sonder kategorie

 ‘n Sondagmôre het al die bestanddele vir ‘n bittersoet melancholie. Veral as dit so ‘n grys, triestige dag is soos vandag. Dan verlang ‘n mens sommer. Na elke familielid, na ou, ou plekke en na amper-vergete tye.

Vanoggend spook so ‘n plek en tyd by my. ‘n Kleintyd, ‘n winteroggend meer as veertig jaar gelede op ‘n plaas in die Oos-Transvaalse hoëveld.

My skoene tok-tok op die knoetserige houtvloer in die gang. Die kombuis is warm en gemeng met die reuk van effens sweterige werkers, brandende mieliestronke in die koolstoof en lig-aangebrande krummelpap. Daar is gemaalde skaaplewer en roereier om te eet.

Ek gaan uit by die sifdeur na die yskoue voorstoep. Die sonnetjie steek braaf sy eerste lang, helder, oranjegeel strale oor die blinkgerypte gras. Die gras en klein spinnerakkies skitter met bewerige reënboogkleure as die oggendluggie daaroor streel.

Swart silhoeëtte in die beeskampie blaas klein wit stoomwolkies teen die heldergeel son. Dis stil, asof iemand rondsluip en vir almal beduie om te sjuut, sjuut… Net die blër van die skape en die put-put-put van ‘n ver Lister-enjintjie veeg-veeg oor die stiltes.

Pa is daar. Oom Koot is daar. Ouboet, ousus en ouersus is daar. Ma is in die huis besig. ‘n Koesterende afdak van liefdevolle troos, van versorging en omgee.

Nou is ek die groot een. Die versorger. Die tye op die plaas is verby. Die son kom nou grys op oor ‘n stad met motortoeters en dreunende lugversorgers.

Ek mis my afdak.

Saterdagaand

Mei 23, 2009 in Sonder kategorie

Ek herstel nog stadig nadat ek vanmiddag iets intelligent oor rugby probeer skryf het. Lyk my alles wat ‘n mens daar kan sê het Leon Schuster, Steve en ‘n leërmag stampmusikante reeds gesê.

Sal nou maar rustig sit tot Fonnie se “Raps voor middernag” begin. Dis vir my die heel mooiste, hoopvolste en rustigste tyd van die hele week.

Lekker slaap, Medebloggers.

Blou Bulle

Mei 23, 2009 in Sonder kategorie

Op Loftus vergader die skares
waarvan baie nie heeltemal “daar” is.
Ek vermoed hierdie klomp
is of stjoepid of stomp
om te suip voor die boerewors gaar is

                                                        

                                                                                        Djieee,Limericks.is.moeilik.com

Geskokte stiltes

Mei 22, 2009 in Sonder kategorie

Ek deel die eienskappe van ‘n Vinnige Bek en ‘n Stadige Brein met heelparty moderne jong politici.

Dikwels beteken dit dat jy ‘n bebloede bek en ‘n nog stadiger brein oorhou, maar dis nie nou die punt nie. Die punt is dat ons beoefenaars van VBSB mettertyd nogal kenners word van ‘n hele verskeidenheid van geskokte, swanger stiltes. Hierdie stilte ontplof dadelik nadat ‘n mens ‘n besondere onnosel ding gesê het.

Jy kry jou klein, cute swanger stiltetjie. Dit duur gewoonlik net ‘n paar sekondes, soos wanneer jy per ongeluk ‘n wind opbreek as julle in ‘n ingehaakte kringetjie staan en psalms sing. Volgende is die wollerige, ronde, kuifkop- swanger stilte, soos wanneer jou ma jou stash Scope-tydskrifte (met inkriminerende post-its ingeplak) ontdek. Dan is daar nog ‘n reeks tussenin totdat jy uiteindelik kom by jou industriële sterkte, hoekige, harige skeurtandstilte. Hy is omtrent so swanger soos daai Amerikaanse octomum met die agt kinders.

Ek is seker julle ken hom. Maar, ter wille van didaktiese volledigheid, noem ek gou hier ‘n voorbeeld of twee.

Toneel: akademiese bestuursvergadering, om die grootbaas se tafel. Ek staan in vir my baas. Die tema van die gesprek is die besondere goeie prestasie van ‘n uitblinker- damestudent.

Tydens die gesprek is ek natuurlik in ‘n ander wêreld. Ons huppel oor sonnige grasvlaktes, duifies koer, snaakse blou voëltjies fluit saam met my wysies en almal is gelukkig. Tog voel ek my geroepe, toe ek opkom vir lug, om hardop te meld dat “Al wat sy nodig het, is ‘n goeie vry”. En, toevallig was dit taamlik duidelik uitgespreek net toe daar ‘n stilte in die gesprek was. Die eggo’s het in die gang weergalm tot in die kombuis.

Nou, in Kollegetehuis waar ek meeste van my fyner lewenskunsies aangeleer het, was daar ‘n standaardkorrelasie tussen ‘n meisie se akademiese prestasie en die leemte aan ‘n ordentlike vry. Geen vrae nie. Maar hier, in die dun lug van die werklikheid, was die skakel skielik nie meer so duidelik nie. Nege paar groot oë het stadig gedraai tussen my en die grootbaas, en iemand spiteful het skielik charcoalbrikette onder my sitvlak kom aansteek.

Tot sy krediet het die grootbaas skielik hardop begin lag. Hy sê toe: ‘Stel jou voor iemand van die koerant plaas die storie “Dosent stel voor dat akademiese presteerder ‘n goeie vry kry”. Natuurlik glad nie snaaks nie. Maar, die borrel van die stilte was gebars. Net betyds.

GEVAL 2.
Toneel: aandete met meisie by toekomstige skoonma, swaer en sy vrou in hulle huis. Ek kom laat van klas af en hoor dat die gesprek handel oor geskikte Latynse spreuke.

Ek is nie ‘n groot kenner van Latynse spreuke nie. Om die waarheid te sê, in my gesprekke sal jy dikwels hoor dat ek doelbewus geen Latynse spreuke aanhaal nie. Mense haal soms paragrawe van my aan om te illustreer hoedat ek glad nie Latynse spreuke gebruik nie.

Maar, hierdie aand voel ek my geroepe om die groepie uit hulle ellende te help. Dit verg ‘n goeie ridder om op die toneel te verskyn as jy sien dat die storie besig is om dood te loop weens ‘n droogte aan insette.

Ek spring toe in met ‘n voorstel. “Moenie op die sypaadjie piepie nie” bied ek hulpvaardig aan.

Geskokte stilte. En nog een.

Toe, taktvol, toekomstige skoonma: “Janklaas, ons is op soek na ‘n spreuk om op … (oorlede skoonpa) se grafsteen te sit.”

Eina.

Hier lê hy tussen ons: jou industriële sterkte, hoekige, harige skeurtandstilte.

Ek vermoed swaer het die stilte uiteindelik gebreek deur aan te bied om wyn te skink. Ek is nie seker nie. My kop het te veel gesuis van daardie kosmiese helderheid dat ek weereens ‘n doos van myself gemaak het.

Maar, so leer ‘n mens. Tot die volgende keer.