Jy blaai in die argief vir 2009 April.

‘Transformation’

April 19, 2009 in Sonder kategorie

Hierdie was my bitter opinie oor die logiese uiteinde van SASCO se destydse aandrang op “transformation” van die Vaaldriehoek se PUK-kampus. Parallelle kwinte is een van die eienskappe van Afrikamusiek.

Getransformeer

Fors
En onuitgedaag groei gras.
Breek dit deur barste en
kraak ou monoliete,
bedek dit bloed en bene.
Hipnoties
galm parallelle kwinte
om groteske ruïnes,
vars hernoem na nuwe helde.
Meedoënloos
herower Afrika homself.

Pleknaam-woordeboek

April 18, 2009 in Sonder kategorie

Raai wie was weer verveeld vanmiddag.

Belabela: aandrang om moeder te skakel
Balfour: wetenskaplike term vir persoon wat goed kan konkel
Brackenfell: soort pels, bekend in Despatch, Manenberg en Danville.
Tshipise: laatnag-aartappelskyfies
Elgin: Spaanse jenewer
Eshowe: instrument wat in Zoeloekultuur gebruik word om vigs af te weer.
Gobabeb: Uitspraak van “Hoe gaan dit?” na besoek aan tandarts
Gompies: hoë viskositeit urine
Gouritsmond: Verteller wat vinnig bontspring van een onderwerp na ‘n ander.
Hanover: versoek wat tipies deur motorkapers uitgespreek word
Hermanus: hardlywigheid a.g.v. verstopping van dikderm
Kakamas: ablusiepaal vir honde aan die kant van ‘n tuin
Mabopane: aanduiding dat moeder nie bereid is om herstelwerkies te verrig nie
Mpumalanga: toestemming om meer tyd in die toilet deur te bring
Mtubatuba: iemand wat die vermoë het om baie diep buikwinde voort te bring
Okiep: hoendervleis wat verby die vervaldatum is
Tosca: Motor wat nie aan verwagtinge voldoen nie
Tshwane: term vir ‘n tipe wraaksugtige, of kleingeestige aksie

Kragteloos en ontaard

April 18, 2009 in Sonder kategorie

Gisteraand vyfuur gaan die krag af. Iemand het blykbaar staal van ‘n kragpaal gesteel en dit het omgeval. Sal dalk eers teen sesuur die oggend herstel wees.

O gaats, wat doen ons met onsself heelaand? Hoe hou ons woelige matriekdogter besig? Hoe kyk ons Sewende Laan? Wat van ons planne om te gaan fliek, noudat die fliek ook donker is?

Koop toe maar braaivleis, steek kerse aan, sit batterye in die radio. Ontdek daar is krieket.

Wat ‘n heerlike aand was dit toe! Ons het heerlik in die soel herfsaandlug sit en braai, die krieket geniet, gesels en kalm in daardie halfdroomtoestand gesit wat kampvuurtjies en kerslig geneig is om te versoorsaak. Selfs die kitaar uitgepluk en ‘n paar weemoedige songs oor die Oos-Kaapse stiltes laat weerklink.

Ons oorweeg nou ‘n nuwe agenda vir Vrydagaande.

Al-chemis

April 17, 2009 in Sonder kategorie

 
Merkaptaan en bensofenoon –
Dit is my ryk, dis my domein.
Geen kwetsing hier, geen bly, geen pyn.
Hier plooi ek self, in ure laat
die klein heelal van trek en stoot.
Laat oerou affiniteite kies
wat was en word
– wie trou met wie –
hier is ek god van
minuskule materie.

Seer

April 17, 2009 in Sonder kategorie

Ek het myself toe gister die weelde vergun om lank almal se blogge op Litnet te lees. Wat ‘n plesier. Behalwe dat ek die res van die maand se bandwydte opgebruik het.

Dit tref my toe hoeveel gedistilleerde seer daar op soveel bladsye is. Seer, van elke vorm. Gebreekte verhoudings, verwerping deur kinders, verwerping deur die kerk, eensaamheid, kommer…

REM sing nie verniet nie “Everybody hurts”. Niemand ontkom dit nie. Dit is ‘n werklikheid van die menslike syn. Blykbaar leef tien persent van al die mense wat al ooit geleef het, tans. Miljarde siele, elk soekend na ‘n eie missie, elkeen soekend na ‘n maat, elkeen soekend na erkenning en liefde.

Dit is seker te verstane dat mens dit veral sal raakloop op ‘n forum vir kreatiewe geeste, soos Litnet. Nur wer die Sehnsucht kennt, weiss was ich leide.

As ek pyn en die gevolge van pyn sien, ervaar ek ‘n groot deernis vir die mens. Ek kan nie voorgee dat ek al meer of net soveel as enigeen gely het nie, maar ek weet wat seer is en ek weet hoe vernietigend dit inwerk op elke aksie, elke gedagte en elke verhouding. Ek weet hoe dit ‘n mens se gedagtegang kan oorneem en ‘n mens se hele dag, en jou nag kan inkleur.

Dan voel ek hartseer oor die seer wat ek al in my voortvarendheid veroorsaak het. Ek kon gou verlief raak en net so gou weer onverlief. Dit het mense gekwets. Ek kon gou kritiseer, gou oordeel, gou verneder. Ek kon woorde goed gebruik vir ‘n slegte doel.

Wat nou? So what? Wat kan ‘n mens aan al die seer doen? Soveel keer het al gewens ek kan my kinders se seer op myself neem, namens hulle ly, solank hulle net weer kan glimlag. Ongelukkig is hierdie uitweg my nie beskore nie.

Mens kan met woorde troos, wys op die groter doel in alles, noem dat dit op jou pad gestuur is en so aan, maar somehow doen dit nie veel vir my nie.

Ek self het my beste troos gevind in die deel met ander, met mense wat bereid is om te luister, met mense wat verstaan. Mense wat weet dat die lewe aangaan, dat jy self ‘n soort betekenis sal vind nadat hierdie seer verby is. Skaars mense, maar hulle is daar. En, soos wat ek gelees het, hulle is hier op Litnetblogs. Dierbare mense wat hulle eie tyd afstaan om deernis te hê met ander wat gebroke is.

Jy is nie alleen nie.

raison d’être

April 16, 2009 in Sonder kategorie

Met ‘n hamergeklop
teen die sewende steen
is daar wesens gepleeg
van klip en molibdeen.

Hulle doen nog veel meer
as aanvanklik gemeen-
hulle vra “Waarvandaan?”
en selfs ook “Waarheen?”
Hulle’s gans onversoen
met die tyd hul verleen:
dis ‘n helse lawaai
tot hul terugkeer tot steen.

Totale aanslag

April 16, 2009 in Sonder kategorie

Ek het my militêre diensplig in die uiters gevaarlike omgewing van die Diensvakskool Blaasorkes in Voortrekkerhoogte deurgebring.

Samjoor Slabbert was ons gesette, bedonnerde aanvoerder. Ten spyte van sy aansienlike omtrek was sy stem verrassend skril en hoog.

Ennieway. Blykbaar was die weermag opgeskeep met hierdie groot konsentrasie toondoof trompetters en het hulle allerhande kursusse gereël om ons so lank as moontlik stil te hou. Een so ‘n kursus was “ongereëlde oorlogvoering”, en so bevind ons onsself toe op een soel lenteaand in die bosse oos van Pretoria.

Die orkes is in twee groepe verdeel en gedagte was dat een groep ‘n hinderlaag moes opstel vir die ander. Ons is toegerus met loskruitpatrone en in breë trekke ingelig oor wat van ons verwag word. Elkeen het toe sy plekkie gaan uitsoek en homself geestelik begin voorberei vir die Groot Slag.

Behalwe Robert Fell. Robert het altyd op ‘n ander ritme as die res geloop, letterlik en figuurlik. In die orkers het hulle hom ‘n sytrom gegee, waarmee hy redelik min skade kon aanrig.

Robert het hierdie missie baie ernstig opgeneem. Hy het ‘n koers gekies vanwaar hy dink die vyand sou kom, weg van al ons ander, en ‘n boom bestyg wat tussen ‘n klomp ander bosse groei. Van hier sou hy die vyandige troepebewegings kon waarneem en hulle neutraliseer, indien nodig.

Die tyd het aangeloop en Robert het begin lomerig raak daar op sy eie. Toe hy na ‘n ruk so half lui uit een oog loer, sien hy ‘n beweging onder in die bosse. Een bondel waaksaamheid vat Robert oombliklik korrel en trek die sneller.

Man, dit was asof die bosse skielik aan die lewe kom. Uit hierdie bos spring ‘n bemoerde Samjoor Slabbert, met die een hand besig om sy broek op te trek en die ander hand beduiend die boom in. “Wie de fok het da geskiet?!” gilder (gil + bulder) Oom Slabbie, bewend van aandoening.

“…” sê Fell.

“Kom uit, wie is dit?”

“(sluk) Fell, Samjoor….”.

“Fell, is jy fokken jags?” verneem Samjoor. Hy is duidelik ‘n navolger van Freud se teorie van psigiese dryfvere.

“Nee, Samjoor”. Fell kan hierdie vraag met redelike oortuiging antwoord. Seksuele opwinding was ver van sy gedagtes af.

“Kom af daar!”.

Rooi van gekrenktheid ontstrengel Fell sy lang, maer lyf uit die boom. Al wat hy wou doen is om ons land van Die Bose te beskerm. Wat hier aan die gebeur is, is hoogs onbillik.

Wat daar oor die volgende paar minute in dolfyntaal gesê is, het te vinnig verloop vir die menslike oor om te volg. Wat ons wel gesien het, was dat Fell in die donker na die naaste spruitjie gestuur is om iets te gaan uitspoel.

Die uur-en-‘n-half strafdril wat ons van ‘n Samjoor met ‘n grootjas gekry het, sou seker aansienlik korter gewees het as daar nie elke nou en dan iemand proesend begin lag het nie.

Beroerte

April 15, 2009 in Sonder kategorie

In my voortdurende strewe om diepsinnig te probeer voorkom, sleep ek hier nog een van my skeppings uit ‘n ou blogwerf aan (‘skuus Kobus). Dit het so 10 jaar gelede vir my betekenis gehad en selfs Litnet het dit, in ‘n onbewaakte oomblik, geplaas. Dis steeds vir my belangrik, want dit definieer my op ‘n manier, synde een van my oervrese.

Beroerte

In Saal C, aan die kant, langs ‘n Schefflera-plant
lê ek slap in my tronksel van weefsel en vel.
Hier bedink ek die wag tussen helder en nag
terwyl ander hul kwel en my hartklop kom stel.

As ek slaap is ek vry, is dit weer ek en jy,
voel ek vroemôredou in my palm se vou –
sien ek sterre se sprankel, die son in die reën
en ek koester myself in die soet geur van jou.

In die nag is dit stil, net die asempomp raas
om my lewenslui longe vol asem te blaas.
In die gang eggo stappe, ‘n ver foon lui skril –
daar’s ‘n hele gewoel tot die volgende stil.

Ek verbeel my ek hoor weer ‘n katlagterkoor
en die lome geluid as ‘n groenvlerkduif fluit.
Kyk, ek ruik weer die sand in ‘n nat mielieland
en ek sien weer die klam in die oë van my bruid.

Maar hier woon ek alleen, met net wit om my heen.
Ek oorleef sonder lag, sonder leed.
As my God my kan hoor, want my roep is verloor –
mag hy my nie hier binne vergeet.

Paasnaweek

April 15, 2009 in Sonder kategorie

So word ‘n droom soms ‘n nagmerrie. Kyk maar wat het met Louis, my vrou se (ander) baas gebeur hierdie langnaweek.

Vroeg Vrymiddag ry hy die kampeerterrein by Brenton-on-Lake, distrik Knysna binne. Moeg, maar tevrede.

Die kampterrein is ‘n idille van geluk. Klein kindertjies hardloop rond met visstokke, mammies lees “You” in ‘n gerieflike kampstoeltjie en bierpenspappies begin afgetrokke in laasnag se uitgebrande kooltjies krap.

Die kampterrein is vol. Ligweg besorg ry Louis van blok tot blok deur die kamp. Toe, byna desperaat, sien hy dit oplaas: ‘n breë, oop grasruimte onder ‘n kring bome. Vreemd, dag hy, maar parkeer nogtans daar.

Hy bespied die omgewing – geen raserige bure, geen stroomversnellings, geen getyverspoelings… Vreemd, dag hy nogmaals, maar laat dit maar daar. Dalk het iemand so pas die plek ontruim.

Die woonwa word staangemaak en die tent word opgeslaan. Die stoele word uitgepak en gesin Louis maak hulleself tuis. Die eerste biere word geknak namate die sonsondergang die lug begin rooi kleur. Dit was vir Louis vreemd dat verbygangers hul gesig wegkeer, en dat mense in die ander staanplekke soms in hulle rigting wys wanneer hulle gesels. Nietemin, vrede en welwillendheid heers.

Skielik is dit asof die son verdwyn. ‘n Groot skaduwee trek oor die kampterrein, en tot Louis se ontsteltenis lyk dit asof die skaduwee op hulle staanplek fokus. So was dit ook. ‘n Reuse tregter kolganse sirkel krysend om hulle en daal stadig op die bome neer, kennelik van plan om hulle vir die nag daar tuis te maak.

Ek weet nie hoe goed jy kolganse ken nie. Fraai en snaaks, maar met ‘n stem reguit uit die dieper spelonke van die hel. Een voël kan ‘n voorstad laat sidder. ‘n Klomp van hulle kan ons volkshelde vervaard in die Helde-akker laat regop sit. “Mamma, ek is bang”, sê Louis se kinders van onder ma se rok.

Wat kan mens doen? Hulle moes maar mooitjies die geraas deursit en voorgee dat dit is wat hulle eintlik wou hê, terwyl pa se kiewe witgeklem was en ma die kinders se voorkoppe met klam lappies dep.

Teen laatnag het dit stil geraak. Gesin Louis het bewerig in die bedjies geklim en uiteindelik ‘n smaaksel gekry van die vrede wat hulle kom soek het.

Ha, so dink jy, natuurlik. Deur Disney bederf dink jy elke storie moet mos ‘n stroopeinde hê. Wel, nie vir gesin Louis nie.

Teen so tienuur begin dit – dowwe plofslae wat weergalm op die woonwa se dak. Eers min, toe baie. En hard.

Blykbaar werk ‘n gans se roetine as volg: met tuiskoms na ‘n dag se werk rapporteer jy die gebeure aan die ander ganse in die Suidelike Halfrond. Daar is blykbaar ook ruimte vir ‘n Hoekie vir Eensames om ‘n advertensie in hierdie tydsgleuf in te pas, solank jy dit net luidrugtig doen.

Dan, stiltetyd. Elke gans doen hier nabetragting en raak respekvol stil. Jy mediteer oor die heelal, verhoudings, die sin van die lewe en seks. Daarna kan jy gaan slaap.

Slaaptyd is ook die tyd om die buik te open, om die lastige afvalstowwe en die odd geslukte klippie of viskop in ‘n klam plas te laat gaan. Gesommeer oor ‘n hele groep bome het dit dieselfde effek as toe Napoleon in die 1812 Overture sy grofgeskut op sy teenstanders loslaat. En dit is wat, soos strome van seën, op Louis se woonwa neergedaal het.

Louis is nou weer terug by die huis. Hy het nog nie die krag om sy woonwa onder die hoop ghwano uit te delf nie en dit sal hom ‘n naweek neem om die voëlpasta van sy tent af te krap.

Met ‘n knars

April 14, 2009 in Sonder kategorie

So ewe onder my neus word ek ouer. En op snaakse plekke.

Hierbinne voel dit nog dieselfde, en ek verbeel my dat my vrinne alleen ouer en grys word terwyl ek dit vryspring. Tog, soms word ek met ‘n knars herinner aan wat met my gebeur.

Soos die naweek. Daar is ‘n lekker skerp duin wat smeek om teen afgespring te word, en ek daag ook sommer dadelik die dogter vir ‘n verspring. Toe, so halfpad deur die sprong terwyl die lug en ‘n deel van die provinsie om my ore suis en ‘n ontstellende groot klont moeder aarde my al vinniger tegemoetkom, besef ek dat dit dalk nie ‘n goeie idee was nie. Hier is ek, swaarder as ooit, in ‘n benekas, broser as ooit, en ek is besig om my heelhuids te begewe in ‘n onnosel toets van Newton se slim wette.

So was dit ook toe die landing uiteindelik plaasvind. Daar was so ‘n soort sieklike knars uit my knie, ‘n vibrasie van die hele lugraam en die Oos-Kaap en daar lê ek. Seer en beseer en skuins teen die duin.

Ek het maar my waardigheid probeer behou terwyl ek soos ‘n slak op my pens teen die res van die duin afvloei. Dogter vind dit so snaaks, sy neem ‘n foto. Ek glimlag dapper en byt die tjankgeluid terug terwyl ek die sand uit al my skarniere en voeë vee en probeer opstaan.

Wonder bo wonder diffundeer ek orent, en kan ek selfs beweeg. Maar pynlik. En stadig.

Dit sal ek nie weer probeer nie.