Cherish en die aarde

April 29, 2009 in Sonder kategorie

Die lied ‘Cherish’ was nog altyd vir my mooi. Dit sê so reg van ‘n mens se magteloosheid om presies te sê hoe jy voel – ‘that has the right amount of letters, just the right sound, that could make you hear, make you feel that you are driving me out of my mind…’

Ek soek nou al maande na woorde, iets wat nie in ‘n banale gedig sal ontaard nie, woorde wat sê hoe ontsteld ek voel oor wat ons aan die aarde doen. Ek is nie ‘n ‘tree hugger nie’. Ek praat ook nie van global warming nie. Ek praat van die klein dingetjies wat ons met die beste bedoelings aan die aarde doen, in ons ywer om voort te bestaan of mooier te lyk.

Ons het in ‘n taamlike balans met die omgewing geleef, totdat tegnologie ons in staat gestel het om dinge ver bo ons eie vermoëns reg te kry. Ons kan met masjinerie groter veranderinge maak, met chemie die aanvalle van die natuur oorkom, met medisyne langer leef as wat ooit die bedoeling was. In 100 jaar het die mens se lewensverwagting met 20 jaar toegeneem. Ons kan siektes oorkom.

Meer nog, ons roei uit omdat dit ons pas. Honderde vierkante kilometer oerwoud in Borneo word uitgeruk om palmbome te plant, sodat ons meer palmolie vir grimering kan hê. By ons word in die see gemaai vir perlemoen, haaivin, om snaakse mannetjies meer viriel te maak. Fynbos word uitgeroei vir blyplek van die nuwe massas mensmateriaal.

Ek kan die hele dag so aangaan. Julle ken dit alles. Moet nooit die National Geographic koop en daarin sien hoeveel asemrowende mooi voëls, diere, plante word daagliks uitgeroei ter wille van ons hebsug of oorlewingsdrang nie.

Met die omvang van sy nuwe vermoëns is die mens die grootste parasiet wat moeder aarde nog voortgebring het. “Skaars minder as die engele om u troon”, sê ons. “Die kroon van die skepping”, glo ons.

Ba.

3 antwoorde op Cherish en die aarde

  1. Janklaas jy het reg, die mens is sy eie god en gee dus nie veel om oor die ou aarde wat ons so mooi dra nie.

  2. borrels het gesê op Mei 2, 2009

    Banale gedig???

  3. Janklaas het gesê op Mei 3, 2009

    Ja, woorde klink dan so leeg en hopeloos.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.