Soort van dankie

April 24, 2009 in Sonder kategorie

As ek buite gaan dwaal na ‘n stortreën of hael
en ‘n skerp sonnestraal alles omtooi met praal,
as die geil geur van groei uit ‘n geelhoutboom bloei
oes ek duisendemaal wat geen geld kan betaal.

As die volmaan die see goue rimpels kom gee
en die seelug se soet al my sinne wil voed;
as die wit spikkelskuim oor my voete kom pluim
bruis dit sag in my bloed van die hemelse goed.

Val die oggend se lig op die kreukelgesig
van ‘n muisasemkind nog met drome verblind
en ‘n glimlag haar baai met die soet wat sy saai
bars my hart van geluk as ek haar vas kan druk.

As ek terugkyk sien ek net die swaar en die las
waar ek mooi dinge miskyk omdat dit my pas;
as die tyd dan moet kom dat my keel sal verstom
gun my dan, Heer
hul stemme, ‘n laaste keer.

2 antwoorde op Soort van dankie

  1. net myself het gesê op April 24, 2009

    nou het ek hoendervleis. dit is verskriklik mooi.

  2. Janklaas het gesê op April 24, 2009

    Baie dankie! Dis seker sentimenteel, maar ek het dit eendag in ‘n ‘purrr’-oomblik geskryf.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.