Soetste soen

April 24, 2009 in Sonder kategorie

Dit sou bitter lekker wees om elkeen se vertelling te hoor van watter soen in jou lewe die enkele, soetste een was wat jy nooit sal vergeet nie, wat jou bene lam gemaak het.

Ek het aan hierdie storie gedink toe ek weer die mooi lirieke raakgelees het “Sy was ‘n deel van daardie somer / en ek ‘n eensaam digter-dromer”.

Myne was toe ek al student was en ‘n paar soene agter die rug (figuurlik gesproke, sies man!) gehad het. Nou, ek is nie seker hoeveel hiervan my eie ondeunde brein intussen as romantiese dekor bygewerk het nie, maar dis my storie en ek hou daarby.

Lente-aand op die hoëveld. Ek het die Maanligsonate op die draaitafel gesit en ons het buite in die tuin gaan staan. Sy het ‘n sagte wit rokkie met rooi kolle aangehad.

Buite was die jasmyn aan’t blom en die bome het donker maankolle op die wit grasperk gegooi.

Ek het haar vasgehou en sy het na my toe opgekyk. Haar donker oë was groot en stil.

Haar lyf was sag, en ek het haar stywer vasgedruk. Ek het haar saggies begin soen. Haar lippe was sag en klam.

Op daardie oomblik het die wêreld omgedraai. Eeue-oue koormusiek het in my ore begin speel en met die geur van die jasmyn gemeng tot ‘n soet simfonie wat deur my hele wese gesidder het.

Wat dit so anders gemaak het, weet ek nie. Ek dink dit was ‘n soort resonansie van die botsing tussen ‘n klomp bowêreldse kragte, maar ek het nog nooit weer daardie belewenis gehad nie.

Ek sal dit nooit vir haar mag sê nie, want ons is elkeen al lank gelukkig getroud met ander. Maar, ek sal hierdie herinnering koester tot ek op die stoep van die outehuis in my rystoel sit en glimlag.

3 antwoorde op Soetste soen

  1. Janklaas het gesê op April 24, 2009

    Daai’s ‘n ander soort. As jy jonk en lus is, is die chemie kwaadaardig.

  2. borrels het gesê op April 24, 2009

    Deel hiervan klink amper soos ‘n storie wat ek eendag vertel het. Eintlik ‘n briefie wat ek vir die wind geskryf het …

  3. Janklaas het gesê op April 24, 2009

    Dalk het ek dit gedroom. Of dalk het die wind dit aangedra…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.