Jy blaai in die argief vir 2009 April.

Soweto-shuffle

April 30, 2009 in Sonder kategorie

Ek is bevoorreg om ‘n werkplek te deel met honderde studente.

Klokslag, op die dae wat ek laat is, beland ek agter ‘n seksie (nee, nie sexy nie) van drie of so skuifelende dames wat draal op die ritme van ‘n onhoorbare antieke, swewende Afrikamelodie. 

Hierdie skuifel het ons nou benoem as die Soweto shuffle. Vaardige bedrywers van hierdie pas kry dit reg om ‘n tree te gee, dan heeltemal op die voet te rus, voordat die ander rustig nadergetrek word. Daarna word die aksie herhaal, maar met die ander voet totdat hulle, soos Naas sou sê, aan die einde van die dag by hulle bestemming kom. Die prentjie is voltooi as daar op die gesig van die bedrywer ‘n uitdrukking van absolute vrede en harmonie met die heelal is.

Ek het nou al vrede gemaak met hierdie stap en sy ewige aard, maar vanoggend het ek ‘n ontstellende nuwe variasie daarop gesien. Ek ry toe agter ‘n motor wat so stadig ry dat jy nie kan opmerk dat die omgewing verbyskuif nie (omtrent soos ‘n horlosie se uurwyser). Verder lyk dit van agter af of die motor nie ‘n bestuurder in het nie. Toe ek uiteindelik, pers van pure ontsteltenis verbyry, sien ek die kort bestuurderes sit met dieselfde uitdrukking van hemelse vrede op haar gesig. Toe weet ek.

Wat sou mens nou die gemotoriseerde weergawe van die shuffle noem?

Cherish en die aarde

April 29, 2009 in Sonder kategorie

Die lied ‘Cherish’ was nog altyd vir my mooi. Dit sê so reg van ‘n mens se magteloosheid om presies te sê hoe jy voel – ‘that has the right amount of letters, just the right sound, that could make you hear, make you feel that you are driving me out of my mind…’

Ek soek nou al maande na woorde, iets wat nie in ‘n banale gedig sal ontaard nie, woorde wat sê hoe ontsteld ek voel oor wat ons aan die aarde doen. Ek is nie ‘n ‘tree hugger nie’. Ek praat ook nie van global warming nie. Ek praat van die klein dingetjies wat ons met die beste bedoelings aan die aarde doen, in ons ywer om voort te bestaan of mooier te lyk.

Ons het in ‘n taamlike balans met die omgewing geleef, totdat tegnologie ons in staat gestel het om dinge ver bo ons eie vermoëns reg te kry. Ons kan met masjinerie groter veranderinge maak, met chemie die aanvalle van die natuur oorkom, met medisyne langer leef as wat ooit die bedoeling was. In 100 jaar het die mens se lewensverwagting met 20 jaar toegeneem. Ons kan siektes oorkom.

Meer nog, ons roei uit omdat dit ons pas. Honderde vierkante kilometer oerwoud in Borneo word uitgeruk om palmbome te plant, sodat ons meer palmolie vir grimering kan hê. By ons word in die see gemaai vir perlemoen, haaivin, om snaakse mannetjies meer viriel te maak. Fynbos word uitgeroei vir blyplek van die nuwe massas mensmateriaal.

Ek kan die hele dag so aangaan. Julle ken dit alles. Moet nooit die National Geographic koop en daarin sien hoeveel asemrowende mooi voëls, diere, plante word daagliks uitgeroei ter wille van ons hebsug of oorlewingsdrang nie.

Met die omvang van sy nuwe vermoëns is die mens die grootste parasiet wat moeder aarde nog voortgebring het. “Skaars minder as die engele om u troon”, sê ons. “Die kroon van die skepping”, glo ons.

Ba.

Nostalgie

April 29, 2009 in Sonder kategorie

 

So word die jonkwees water

so warrel nou die wind

so sag dreineer die dae

so mis ek jou, my kind

Karoo toe!

April 28, 2009 in Sonder kategorie

Sien so uit – gaan weer hierdie naweek Prins Albert toe. Hoe klink die liedjie – “daar waar jy vry kan asemhaal”…

Daar waar die sterre hulle gat af skyn. Klink ongelukkig of dit bewolk gaan wees. Die kuierplaas het ‘n moerse 18-duim teleskoop waarmee jy jou eie agterkop kan sien in die donkerswart skitterlug, as jy mooi kyk.

Maar, gun hulle die reën na vyf jaar se droog. Hulle moes hoeka die skape van die plaas af verkoop.

Verlede jaar het ek ‘n fossiel daar opgetel, amper so oud soos Nelson Mandela. Een of ander skedel met tande (soos Nelson Mandela). Dok Jurie van den Heever reken dis niks watwonders nie – die goed is volop daar. Ek het nogtans gedink ek is kaas.

Dis ook Olyffees. By die fees is die vrou wat ek moes getrou het se stalletjie, reg uit die Hel. Man, daardie vrou kan afval maak! Ek het myself laasjaar loopmaag gevreet aan die goed. En konfyt, en droëvrugte, en, en, en…

Daar is selfs olywe. Who cares?

Janklaas Bergman

April 28, 2009 in Sonder kategorie

Kan ek julle voorstel aan my kortstondige Hollywood-loopbaan?

As student het ek ‘n 8mm-kamera aangeskaf waarmee ‘n mens kort filmpies kon maak. Vir so vyf Rand se film kon ‘n mens 3 minute en 52 sekondes se bewegingstyd koop. Dus glad nie die ideale medium vir lang, luierende skote oor vlaktes en oor perde wat grasievol in slow motion galop nie.

Wel, die gogga het my gebyt. Ek het al wat ‘n boek was oor die stokperdjie gekoop en later selfs die vermoë aangekweek om ‘n klankbaan aan die dermpie film te plak. Ek het begin drome droom van ‘n loopbaan in die liggies en boeke verslind oor Fellini, Bergman, Godard, Raj en ander voorbeelde van regisseurs uit ander lande se power pogings om Groot Films te maak.

Nadat ek die familie se babas, troues, die koshuis se diefstal van ‘n kanon en die jool afgeneem het, het ek myself ryp geag vir Groter Projekte. Genadiglik het ek besluit ek sou my tande slyp op ‘n taamlik beskeie poortprojek.

Na ‘n lang soektog het ek besluit op Leipoldt se gedig “Wys my die plek”. Ek het ‘n draaiboek opgestel wat hartverskeurende skote insluit van swartgebrande bome in die veld, van ‘n meisie wat met ‘n soet glimlag slaap, van kabbelende strome en so aan. Vir my koorsige, romantiese jong gemoed het daar nie so iets soos clichés bestaan nie.

Groot projek is met groot ywer aangepak. Ek het die mooiste meisie in die HOD-klas by Magnoliadal tussen blomme laat lê (…), ek het ‘n geskikte swartgebrande boom naby Standerton gevind, en so stukkie vir stukkie die skote in my komplekse draaiboek versamel. Vir die suis van die wind het ek deur ‘n raket se snare geblaas.

Wie sou die teks lees? Ek het ‘n paar oudisies gehou, maar op die ou einde besluit niemand doen dit emosievol genoeg nie. Janklaas sou dit doen.

Die groot redigeerproses het met bewende hande begin. Ek het spoedig opgemerk dat die skote maar bra anders lyk as wat ek dit in my gedagtes voorgestel het. Tyd vir oorskiet was daar nie. Verder is daar ook nie juis tyd vir liriese ontwikkeling van die skote as elke vyf Rand filmpie net so vier minute se inhoud kon bevat nie.

Ennieway. Film is gemaak. Die proefgehoor sou wees my meisie, my beste vriend en sy meisie.

Die kamer is voorberei en die ratelende projektor is aangeskakel.

Freek het eerste begin. ‘n Snaakse snorkgeluid het êrens uit sy walglike lyf ontsnap. Dit het Elma die moed gegee, sy het openlik begin giggel, en soos die meesterstuk afgeloop het was die drietal gereduseer tot ‘n magtelose hopie drillende mensvleis wat net so nou en dan kon opkom vir lug.

En ek? Ek het eenkant gesit en dapper gegrinnik terwyl hierdie die stelselmatige aftakeling van my droompie flikkerend voor my eighe oghe afspeel, onder die begeleiding van ‘n emosiebelaaide Leipoldtgedig en die klanke van my asem deur ‘n raket.

Miskien moes ek hulle voor die tyd gesê het dis nie ‘n frieken komedie nie.

It’s only words

April 26, 2009 in Sonder kategorie

 Ek sal nie juis brêg oor my woordeskat nie. As ek in my blokraaiwoordeboek kyk, is daar op enige gegewe bladsy seker tien, twintig woorde wat ek nie kan gebruik nie. Toegegee, sommige is seker verouderd of vaktaal, maar dit moet lekker wees om die volle registers van die taal soos ‘n magtige orrel te kan ooptrek wanneer jy wil.

Mens sien dit veral wanneer skrywers argumenteer. Skielik word daar soorte woorde uit hulle skedes geruk sodat die arme ontvanger eers moet woordeboek toe sluip voordat hy sy salvo in respons kan afvuur. Van buite lyk dit na ‘n uiters hogere gesprek, gevoer op die vlak van die gode, totdat mens op die ou einde sien dat dit ook maar ‘n gepieng-pong is tussen brose ego’s oor aardse sake.

In my gedagtes sien ek skrywer A, langs sy woordeboek, besig om woord 1 te oorweeg teen woord 2, dit vir die nodige skerpte te ondersoek en dan sugtend om te blaai na moontlike woord 3. Aan die ontvangkant sien ek skrywer B ruk by elke voltreffer en met ‘n bloedrooi gelaat sy eie lys van kwetswoorde nadertrek.

In hierdie trant pla dit my dat die donnerse geoloë dit nie in hulle harte kan vind om ‘n boek te skryf wat deur gewone sterflinge verstaan kan word nie. Soos die Franse taal, is dit my hartsbegeerte om meer van hierdie ding te verstaan. Maar dan val hulle weg met vakterme wat hulle met ander vakterme verduidelik. “Daarop volg fluviale en lakustriene modderstene en skalies”… Waddehel?

So gepraat van, ek ontdek elke nou en dan ‘n nuwe woord wat vir my om een of ander rede baie ‘weird’ is. En, ek kan nie mooi ontsyfer hoekom die woord so snaaks is nie!

My gunstelinge is:
Sjofel
Vadsig
Stiekem en
Skunnig.

Saam lyk dit soos die name van ‘n groep Noorweegse trolle.

Kan iemand help, hoekom lyk hulle vir my snaaks?

Soort van dankie

April 24, 2009 in Sonder kategorie

As ek buite gaan dwaal na ‘n stortreën of hael
en ‘n skerp sonnestraal alles omtooi met praal,
as die geil geur van groei uit ‘n geelhoutboom bloei
oes ek duisendemaal wat geen geld kan betaal.

As die volmaan die see goue rimpels kom gee
en die seelug se soet al my sinne wil voed;
as die wit spikkelskuim oor my voete kom pluim
bruis dit sag in my bloed van die hemelse goed.

Val die oggend se lig op die kreukelgesig
van ‘n muisasemkind nog met drome verblind
en ‘n glimlag haar baai met die soet wat sy saai
bars my hart van geluk as ek haar vas kan druk.

As ek terugkyk sien ek net die swaar en die las
waar ek mooi dinge miskyk omdat dit my pas;
as die tyd dan moet kom dat my keel sal verstom
gun my dan, Heer
hul stemme, ‘n laaste keer.

Soetste soen

April 24, 2009 in Sonder kategorie

Dit sou bitter lekker wees om elkeen se vertelling te hoor van watter soen in jou lewe die enkele, soetste een was wat jy nooit sal vergeet nie, wat jou bene lam gemaak het.

Ek het aan hierdie storie gedink toe ek weer die mooi lirieke raakgelees het “Sy was ‘n deel van daardie somer / en ek ‘n eensaam digter-dromer”.

Myne was toe ek al student was en ‘n paar soene agter die rug (figuurlik gesproke, sies man!) gehad het. Nou, ek is nie seker hoeveel hiervan my eie ondeunde brein intussen as romantiese dekor bygewerk het nie, maar dis my storie en ek hou daarby.

Lente-aand op die hoëveld. Ek het die Maanligsonate op die draaitafel gesit en ons het buite in die tuin gaan staan. Sy het ‘n sagte wit rokkie met rooi kolle aangehad.

Buite was die jasmyn aan’t blom en die bome het donker maankolle op die wit grasperk gegooi.

Ek het haar vasgehou en sy het na my toe opgekyk. Haar donker oë was groot en stil.

Haar lyf was sag, en ek het haar stywer vasgedruk. Ek het haar saggies begin soen. Haar lippe was sag en klam.

Op daardie oomblik het die wêreld omgedraai. Eeue-oue koormusiek het in my ore begin speel en met die geur van die jasmyn gemeng tot ‘n soet simfonie wat deur my hele wese gesidder het.

Wat dit so anders gemaak het, weet ek nie. Ek dink dit was ‘n soort resonansie van die botsing tussen ‘n klomp bowêreldse kragte, maar ek het nog nooit weer daardie belewenis gehad nie.

Ek sal dit nooit vir haar mag sê nie, want ons is elkeen al lank gelukkig getroud met ander. Maar, ek sal hierdie herinnering koester tot ek op die stoep van die outehuis in my rystoel sit en glimlag.

Beleef

April 22, 2009 in Sonder kategorie

Toe ek tiener was, was die intensiteit waarmee ek emosies ervaar het, amper te veel om te hanteer. Ek kon langs die see staan en voel hoe die golwe wat breek op die rotse, my tot in my rug hoendervleis gee.

Ek was ook ‘n sot met verliefdheid – ek was seker sestig keer verlief. Ek dink ek was verlief op verliefwees.

Ek het naderhand gebid dat hierdie tye sou verbygaan, dat ek so min of meer ‘n normale sot kon word.

Met ouerword en met ‘n paar teenslae het dit toe ook inderdaad gebeur, soveel so dat ek skielik eendag besef het dat ek my vermoë om te lag en te geniet verloor het, en omtrent net kwellings en herinneringe aan mooi belewenisse oorgehad het. Ek het gedag dit is die natuurlike verloop van dinge, en dat dit dit ‘n tragiese deel is van ouerword.

Dit is darem nie so nie. Ek kan getuig dat ‘n mens weer mens kan word as jy die pyn agter jou kan sit. Vandag lag ek weer lekker, tjank ek in ‘n fliek en waardeer ek weer ‘n mooi natuurtoneel, gedig of musiekstuk.

Lyk my darem mens se gees word nie oud nie.

Graadvang

April 20, 2009 in Sonder kategorie

Ek raak sentimenteel by ‘n gradeplegtigheid. Die gesiggies is vars en hoopvol. Die ouers kom van bitter ver – hulle drome en hulle geld het uiteidelik tot vervulling gekom. Party moes geweldig opoffer, baie het geleen en gaan nog lank terugbetaal aan banke, vriende, familie.

So sit hulle ‘n saal vol. Elkeen droom van ‘n werk en ‘n loopbaan.

Ek wens mens kon die werklikheid nog so ‘n rukkie van hulle af weghou.