‘n Naam soos Ludwig

Desember 16, 2016 in Uncategorized

Vandag is Beethoven se verjaarsdag.

Ek het al baie gewonder hoe dit moes wees om ‘n gewigtige naam soos Ludwig van Beethoven te dra. Stel jou voor hoe jy as laerskoolkind vorentoe sou geloop het om jou boek te gaan haal as Juffrou “Ludwig van Beethoven!” uitlees. Man, ek sou geloop het soos ‘n baas. Van heel agter die klas uit tot heel voor en weer terug.

Mens kry natuurlik sy moderne gelyke onder die Afrikaanses: die Barnhoorns, die Philipusse (of is dit Philippi?), die Veldermans, die Servase, die Zoltans, die Severiusse… daar is net nie ‘n manier hoe ‘n mens só ‘n naam smalend kan probeer sê om die jafel te verkleineer nie.

Hierdie soort van swierige name kom, lyk dit vir my, meer dikwels hier in die Kaapwêrelde voor. Dis half of die droë grasvelde en swaarkry van die ou Noorde al hierdie geite uit ons mense uitgedroog het. Daar is jy Tom, Dick of Pietie, soos die gees die vaad’re maar lei.

Maaind joe, daar was ‘n onlangse tyd toe name met ‘n “é” bitter gewild was in ons volk. Dit was die tyd van die Ziané’s, die Angené’s, die Marené’s, asof die volk alles op die “é’s” wou plaas. In ‘n onlangse studie deur die Sarie-tydskrif of só iets, was die wenner hoeka iets soos Ansjané.

Volgens Shakespeare so ‘n roos met enige ander naam net so soet geruik het, maar ek verskil wanneer jy dit met ‘n “k”, ‘n “d” of selfs ‘n “v” spel. Name máák saak. Ek kan nie onthou hoevele kere mense al vir my gevra het waar die naam “Koot” vandaan kom nie. Hoe moet ek weet?

In die 1500’s was daar byvoorbeeld in Oostenryk ‘n vername wetenskaplike met die name (onder andere!) van Aureolus Theoprastus Bombastus von Hohenheim. Vir ‘n gewone man sou dit waarskynlik genoeg wees, maar toe hernoem hy homself na Paracelsus, wat blykbaar nog ‘n trappie hoër is.

Wys jou net.

Dit laat my dink aan die storie van die nooi wat haarself by die tennisklub voorstel: “My naam is Annetjie, maar my vriendinne noem my sommer Chauvenet.”

Nostalgie

Desember 16, 2016 in Uncategorized

As ‘n mens aan die weggooikant van sestig raak, word nostalgie jou grootste vriend. En, jou grootste vyand.

Wyser manne sal jou vertel om nostalgie te vermy – dit rem jou as jy moet aanpas en bybly by ‘n moderne, veranderde werklikheid. Dit maak jou hartseer, want jy onthou vergange dinge kwansuis asof dit die werklikheid is. Dis soos om soet te droom en dan in ‘n tronk wakker te word.

Andere sal jou weer wysmaak dat nostalgie die paraffien is wat die lampie aan die gang hou in die ouetehuis. Daar kan jy daelank na hartelus sit en nostalgeer en glimlag oor die bekende, outydse werklikheid waarin jy ronddool. Jy is nie meer alleen nie.

Dis met so ‘n sak, boepensvol nostalgie dat ‘n mens op ‘n laat Saterdagaand sit en ou, verlore tye so stadig, met ‘n brose gemoed, tussen jou vingers wegvryf. Dan dink jy aan óú naweekaande se saambraai, ‘n  geskoffel op ‘n lekker boerepartytjie of sommer net die sit en wees saam met jou geliefdes. Jy dink aan soete ou liefdes, soentjies agter die verhoog, aan maanligpoeier op die water en mooi woordjies in jou gloeiende ore. Dis wanneer jy saam met Fonnie op RSG ‘n skelm Rapsie voor Middernag geniet het en jou verlekker in Tom Jones se Funny, Familiar Forgotten Feelings.

Met ‘n bietjie oefening kan jy vir jouself hele sepies so oproep – ‘n lou vakansie in Natal, ‘n klam aandpiekniek in Magnoliadal, ‘n sagte aandsoen in ‘n jasmyngegeurde tuin, ‘n wittebrood-sonsondergang  by Bloubergstrand…  Jou verbeelding is stuurman, die bootjie gly sag deur ‘n geliefde ou Kammaland.

Sulke tye moet jy jouself net fyn dophou, dat jy nou nie in die verdrietigheid ingly nie. As jy dít toelaat, begin jou hele week sommer onder ‘n miswolk. Jy gaan huilerig slaap en gaan knoetserig opstaan. Maar, dis net hier waar jou vaardige nostalgikus homself onderskei.

Dit verg fyn, fyn oordeel om te weet wanneer daardie motgevrete, glimlaggende ou poedel, wie se harige stertkant jy só lank só liefderik sit en krap het, hom gaan vervies, omswaai en jou gaan byt. As jy verder nog die fout begaan het om jou mymeringe met ‘n knertsie te marineer, gaan daardie punt net so vinnig by jou verbygaan as ‘n kollektebordjie in ‘n Skotse kroeg.

Dan is jy in jou spreekwoordelike kanon. Dis dan dat groot mans verdrietig ou gedigte op facebook sit en verstom wonder hoekom die wêreld nie instroom om simpatieke kommentare te lewer nie. Dán kom jy gewoonlik agter dat nostalgie ‘n eensame stokperdjie is en dat jy die enigste jafel is wat sy verlate skaduweetjie op Gert Moedverloor se uitgestrekte sonondervlakte loop gooi. Deur daardie dal van doodskaduwee loop jy alleen.

En ekke? Jy sal my nostalgie nie met ‘n tang van my afvat nie. Dis my herkoutyd, my hoendervel-lekkerkry, my private klein pretpark. Dit pleister die brak kolle, die sounds of silence, toe met versuikerde weergawes van ou, tere stukke lewe, en dis nét myne.

Geplaas in Aan alle kante, Die Burger, 11 November 2016

Verwonderd oor drome

September 9, 2015 in Uncategorized

Drome was maar nog altyd met my en het dalk ‘n groter deel van my lewe gevorm as wat mens sou dink. Geleerdes skat byvoorbeeld dat ‘n mens se bui in ‘n dag beїnvloed kan word deur ‘n droom wat jy die vorige nag gehad het, maar al van vergeet het. G’n wonder dat ek sommer party dae weeїg of knorrig begin nie.

Ek het drome gewoonlik maar as ‘n natuurlike deel van wees beskou en saamgeleef met wat vir my uitgedeel is – hetsy ‘n nagmerrie, ‘n liefdesdroom of ‘n avontuur. Ek het al my goeie dosis van vasgenael weghardloop, van ‘n krans afspring of met net ‘n hemp aan rondloop gehad, maar aan die ander kant het Racquel Welch en ek al goeie tye saam beleef. Ek glo nie sy sal dit juis onthou nie.

Deesdae fassineer drome my egter meer as voorheen, en ek sien daar word nogal heelwat navorsing gedoen oor hierdie tema. Ek weet byvoorbeeld al lankal dat verskillende soorte vleise by aandete my meer en helderder laat droom en dat die skaapvleisdrome die interessantste van die lot is.

Wat my egter heelwat laat nadink het,, is die detail en oorspronklikheid van die drome. Ek het byvoorbeeld gedroom dat iemand ‘n oorspronklike liedjie sing, en dat die lied eintlik besonder mooi was. Nou, as ek op my eie ‘n liedjie probeer skryf, beland ek gou in ‘n draaikolk en verveel die ding my sommer uit die staanspoor. Waar kom daardie lied dan vandaan?

‘n Ander keer het ek gedroom dat iemand my ‘n spitsvondige opmerking toevoeg, wat ek eintlik eers later gesnap het. Dit is dus asof daar ‘n onafhanklike draaiboekskrywer in my kop funksioneer en ek reageer as’t ware net op sy grille.

In ‘n artikel in Popular Mechanics het hulle eens oor die werking van die skeppende brein bespiegel, en die konsensus was dat ‘n mens se brein eintlik apart van jou bewuste  denke kan funksioneer en jy soort van net sy gasheer is. Hy sal, wanneer dit hom behaag, vir jou verrassende ingewings en idees gee, hy sal op sy eie die antwoorde van blokraaisels gaan soek en dit net skielik op jou dump. Dis ook hy wat die spitsvondige antwoord op jou tong sit, in so ‘n mate dat ‘n mens soms self moet lag vir die snaaksigheid daarvan.

Ek vermoed dat as ‘n mens kan leer om hierdie ou in jou kop beter te kan bestuur en vergas, jouself meer vir hom beskikbaar stel, ‘n mens verrassende dinge met hom sal kan regkry.

Erfenisdag

September 24, 2013 in Uncategorized

Tom Müller leef nie meer nie. Maar, Tom Müller bestaan nog.

Tom bestaan in die opname van Freddy wat nou speel, ‘n solus sewe plaatjie wat hy my in standerd drie present gegee het. Die Wolken, der Wind und das weite Meer.

Tom bestaan ook in van my mooiste herinneringe. Tom was aangestel as onderwyser in my pa se klein skooltjie, Laerskool De Deur in die hoëveldse platteland. Hy sou die klasonderwyser wees vir die standerd dries, toevallig die standerd waarin ek myself sou bevind.

Tom was lank en byna pynlik aantreklik. Hy het ‘n lang, blonde kuif gehad en kuiltjies in sy wange as hy glimlag. En hy het geglimlag, gereeld en geredelik.

Klas by hom was heerlik. Hy was toeganklik, aangenaam en ingelig. Hy het kuns as vak gehad op kollege en vir ‘n tyd in ons lewe was ons almal jong kunstenaars, het ons ons beste uitgehaal om Meneer Müller te beïndruk. Hy was ons held.

Ek was bevoorreg, want Tom het by my ousus begin kuier en ek kon dus meer van hom te siene kry. Vandaar ook die Freddy-plaatjie wat ek op my verjaarsdag present gekry het.

Een aand het my ousus gehuil. My ma-hulle het verneem wat gebeur het – Tom was in ‘n motorongeluk. Hy het met sy swart Prefect-karretjie in die reën ‘n voetganger raakgery wat in die donker op die rand van die pad gestap het.

Ons het Tom vir ‘n ruk nie gesien nie. Hy het nie skool toe gekom nie. Hy het ook nie kom kuier nie.

Toe hy weer by die skool kom, was hy ‘n ander mens. Hy was knorrig en asosiaal. Ons klomp jong kannetjies sou nie kon verstaan wat in sy gemoed gebeur het nie. Vir ons was hy net skielik ‘n vreemdeling en daar was geen manier waarop mens toenadering tot hom kon soek nie. Tom het ook nie meer by ousus kom kuier nie.

Die jaar was eindelik verby, en Desember het ons die nuus gehoor dat Tom selfmoord gepleeg het. Nou is al wat ek van hom oorhet die plaatjie en ‘n skewerige foto wat van ver af met ‘n goedkoop kameratjie geneem is.

Koot ou fotos 040

Ek het baie gewonder oor Tom, noudat ek mense en hulle seer beter verstaan. Ek het gewonder oor sy gesin in Bethlehem, of hulle ook seer het, of hy broers of susters gehad het wat hom ook mis. Ek het gewonder of my sus ook nog ‘n bietjie seer het oor Tom.

Ek het probeer soek of daar nog Müllers op Bethlehem woon, maar tyd het alle spore uitgevee.

Nou is hy maar net my eie, kosbare herinnering.

Gorrelinge oor uitsteeksels

Mei 31, 2013 in Uncategorized

Ek word gisteroggend wakker met ‘n eienaardige gevoel in my gesig.

Toe ek by die spieël verbyloop, sien ek dat my bolip, om een of ander rede, skielik in die nag besluit het om op te swel. Sommer so vanselwers, sonder enige elmbooghou van vroulief of geheimsinnige allergieë van visprodukte of iets. Sommer net.

En dit lyk aardig. Nie ‘n fraaie tuitlip soos Angelina Jolie nie, maar ‘n bona fide hanglip soos ‘n tapir.

Gelukkig het ek nie klasse gehad gister nie, en kon ek nog ‘n ruk by die huis rondhang met die hoop dat die swelling sou sak. Watwou, niks. Ek het later agtergekom dat, as my onderlip ook uitstoot, dit minstens lyk asof ek korrel vir ‘n soen. Min of meer soos oom Connie Mulder kon doen.

In elk geval, ek is toe maar so vort die dag in. Natuurlik het die mooiste meisie in die klas besluit om juis gister haar navorsingstopic met my te kom bespreek. Ek vermoed sy is my kantoor uit met meer vrae as wat sy mee ingekom het.

Teen gisteraan het die swelling gesak en kon ek weer myself in die gesig staar.

Sommer so terloops het dit my laat dink aan ‘n Bybelstudie-eksamen op laerskool, toe ons onsmaaklik baie van jafels met die name Rehabeam, Agab en Rehobeam geleer het. Daar het ek ‘n paar prettige frases teëgekom: “Is dit jy, jou beroerder van Israel?” het een op ‘n slag hoogs ontsteld gesê. Nice, né? Soms wil ek my kinders so aanspreek.

Ook, toe een van die konings nog so wys met sy een arm, bly sy arm net so staan. Sy woorde was vir my so koddig, iets soos: “Bid tog tot jou God dat my arm na my kan terugkeer…”

Ek weet nie of dit nog so geskryf is in die nuwe vertaling nie, maar ek het half simpatie met die jafel gehad toe ek my eie lip gister na my wou laat terugkeer.

 

Vrydagvoer

Februarie 22, 2013 in Uncategorized

‘n Seerower, wreed en geroem
het sy hakkelry probeer verbloem.
“K-korrel!” skree hy,
“V-vuur!” toe daarby –
toe klap die skoot: “B-b-b-boem!”
 
 

Ja oukei. Flou, ek weet. En sorrie, Pedrie.

Van Schuster na Shakespeare

Februarie 13, 2013 in Uncategorized

Dit tref my toe netnou in ‘n vergadering dat ek kwalik langs my neus kan afkyk na Schuster se flieks. Dit was vir my altyd sêd dat sy ‘humor’ so sterk moet staatmaak op menslike liggaamsfunksies. Selfde met Casper de Vries – sy grappies is rêrig nie eintlik snaaks as ‘n mens die taboefaktor van al sy vloekwoorde daaruit sou haal nie.

En hier doen ek presies dieselfde met my limerieke.

Wat my ook so ligweg gepla het, is hoe ek by bestaande grappies moet plagieer vir inhoud om vorm voor te gee, tot dit my weer getref het dat Shakespeare maar min of meer dieselfde ding gedoen het met baie van sy dramas. So, hier is ek nou geskwiez tussen die profane en die goddelike, alles net oor die hogere kuns van limerieke.

Nietemin, en ook nie te veel nie, hier is vandag se poging:

Vir toiletgebruik, sê McKechnie
is twee Rand belegging nie sleg nie.
Maar in die besoek
het hy net gepoep –
dit is mos nie biillik of reg nie!

 

Limerick met ouderdomsbeperking

Februarie 12, 2013 in Uncategorized

Jammer, geen gratuitous violence of sex nie. Net ‘n skurwe woord…

Die kerk was geskok toe oom Fielies Breda
‘n duif op die dak met ‘n “Fokof!” verja.
Die leraar maan gul:
“Sê net “sjoe-sjoe” en hul
sou self gefokof het, Oom moes maar net vra.”

 

Riskante rym

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

‘n Goedbedoelende vriendin sê dat my versies te pornografies is. Hierdie is seker nog meer gewaagd:

 
‘n Lustige priester, Ignasie,
leer seuntjies klein van katkisasie.
Hy leer hul veel meer
as bloot sedeleer –
Hy werk nou in Pollsmoorplantasie.
 
 
Op ‘n prent waar Oom Zuma ontbloot is
Sien mens duid’lik dat hy nie ‘n Jood is.
Maar die groot oorlogskreet,
sê die vroue wat weet,
is dat daai ding nie werklik so groot is.
 

Sal julle my in die tronk kom besoek?

 

Die goed is verslawend!

Januarie 24, 2013 in Uncategorized

Verstrooid meng San, koekbakker boerin
‘n paar korrels lood by die roer in.
Maar slegte geluk –
toe Sannatjie buk
toe skiet sy die kat in sy murin.