Jy blaai in die argief vir Naomi Bruwer.

by izakdv

Mooiloop in Wellington

September 10, 2014 in Uncategorized

_MG_5283

Om te reis is om om te verander. Om die reis aan te pak, verg moed.

Om die reis te voltooi, maak van jou ’n ander mens.

Om te reis is in Gerrit Rautenbach se bloed.

_MG_5296

Gerrit het op Saterdag 6 September in die Breytenbach Sentrum in Wellington opgetree. Ek en hy het gesels en Naomi Bruwer het ook deelgeneem, maar sy het toe van die verhoog af geglip om foto’s te neem.

_MG_5287

Al die foto’s in hierdie inskrywing is Naomi s’n. Dis hoekom ek op so baie is! (Maar sy is ‘n baie goeie fotograaf, selfs ek lyk oukei!)

_MG_5257

Van ons land se grootste skrywers en kenners van kortkuns is in hierdie teks opgeneem. Dít alleen maak hiervan ’n versamelstuk, maar wag tot jy die foto’s sien, dan besef jy, hier is ’n kleinood gebore. Die name in hierdie bundel laat jou reeds lippe aflek: Abraham H. de Vries, Andre P. Brink, Carié Maas, Chris Barnard, Dawid de Wet, Dolf van Niekerk, Eben Venter, Elias P. Nel, Gerrit Rautenbach, Hennie Aucamp, Johan Bakkes, Johan Myburgh, Koos Kombuis, Mariëtte Crafford, Minette Brink, Nanette van Rooyen, Naomi Bruwer, Riana Scheepers en Ronel Nel.

_MG_5293

Lesers van Mooiloop, die Afrikaanse weergawe van die tydskrif Getaway, het geweet die redakteur, Gerrit, se skeppendheid en passie vir die Afrikaanse verhaal het van sy tydskrif veel méér gemaak as ’n vertaling van ’n Engelse maandblad.

Reeds toe die laaste weergawe van Mooiloop in 2008 verskyn het, wou Gerrit ten alle koste die reisverhale van ons land se beste in een bundel bewaar. Dit het ses jaar geneem om hierdie droom waar te maak, en hier is dit nou: Mooiloop, mooiste reisstories is ’n versigtige keur uit die mooiste en die beste van dít wat in die tydskrif verskyn het. Ook Gerrit se visuele insig gaan nie verlore nie. Hierdie boek, in volkleur, bied beide leesgenot én uitsonderlike foto’s.

_MG_5278

M.C.A. Seyffert sê in T.T. Cloete se Literêre Terme & Teorieë: “Reisverhale is so oud soos die mens self. Verhale oor reise was onder die eerste stories wat deur die primitiewe mens oorvertel is…” Seyffert noem ook dat Homeros se Odusseia ’n reisverhaal bevat. Daardie gedeelte ná die Trojaanse Oorlog, toe almal weer op pad was huis toe, word ’n epiese tog van menslikheid, natuur en drama.

Die leser kan nou moderne reise ervaar deur die oë van joernaliste soos Johan Myburg en Naomi Bruwer, of skrywers soos Eben Venter, Chris Barnard, Hennie Aucamp en Riana Scheepers wat jou meevoer na hulle hartland. Die drama is steeds daar: Hulle laat jou die opwinding smaak van daardie eerste duin wat in ’n viertrek baasgeraak word, jou tone krul soos die spoke van die verlede riel trap op ’n vergete dansvloer in die Karoo, of hulle neem jou voetjie vir voetjie saam op die bakleistryd om Kilimanjaro te klop. As jy ooit gewonder het waar die hart van die Kgalagadi nou eintlik lê, sal hierdie bundel die antwoord verskaf, of nog beter, dit sal jou uitdaag om sélf die wandelstaf op te neem om reis lyflik te ervaar.

Koos du Plessis het gevra: “Wie sou die ware swerwer wees? Die een wat reis, die een wat lees?”

Gelukkig het Gerrit gaan reis sodat ons kan lees.

* * *

Gerrit tree nog ’n paar keer op:

Donderdagaand, 11 September, Wilge 10, Hennopspark (Centurion); Navrae anneliecilliers@gmail.com

Saterdag 13 September, Op die stoep in Nelspruit; Navrae an.vdwalt@gmail.com

Woensdag 17 November, Bargain Books Middelburg, Middelburg Mall (15:30), RSVP: Sonja 013 244 1243; middelburg@bargainbooks.co.za

_MG_5273

‘n Mens wonder watter reise hierdie knapie nog gaan onderneem. Theo Kemp, bestuurder van die Breytenbach Sentrum, se seun het pas begin loop. Mooiloop, ou seun!