Jy blaai in die argief vir Jaco jacobs.

by izakdv

Om te kan droom

November 12, 2014 in Uncategorized

“Philae is talking to us!” Heard from Rosetta Mission Control!

* * *

“Ek wil iets sê en ek gaan dit sê.”

Vanaand was ek so opgewonde soos ’n klein seuntjie oor daardie tuigie wat op ’n komeet gaan land het. Die wetenskap is verstommend.

En tog, weet julle wat? Tog was ek ook vandag trots op skrywers. Want skrywers kan ons laat droom.

Wat ons vandag gesien het, was nie Wetenskapfiksie nie, maar Wetenskapfeit.

EN TOG. Iemand moes dit inspireer.

Laat ek verduidelik.

* * *

Jare terug het Leon Rousseau die Fritz Deelman-reeks geskryf. Die eerste boek is geskryf voor satelliete, maar in daardie dae het hy al die droom gehad dat jy eendag op jou stoel in jou kantoor sal kan sit en van aangesig tot aangesig met iemand anders kan praat.

Gisteraand het ek dit gedoen via Skype met ’n vriendin in die VSA.

En vanaand?

Vanaand het ek in my kantoor, op my stoel gesit en gekyk hoe die nommer 2 in Duitsland sy vinger optel, wys, nog ’n keer wys en toe, saam met ’n hele span groot wetenskaplikes, hulle hande in die lug gooi.

Ek kon dit waarneem asof ek in die saal was.

Wat meer is, ons het gekyk hoe hulle die landing vier van iets wat tien jaar gelede weggestuur is van die aarde af en nou 500 miljoen km van ons af op ’n komeet gaan land het.

Ongelooflik? Ja, amper. En tog waar.

* * *

Hoe ver het ons nie gevorder nie.

Kyk wat skryf Martie Preller op FaceBook vanaand:

Baie baie amazing. Toe hulle op maan geland het. was ons op univ – op pad na Bosveldplaas – by elke dorp stop ons eers en hoor by mense in kafee wat gaan aan! Nie radios in karre! Later opnames in fliek gesien!

Dit was die einste Martie wat vir my die skakel gestuur het om die landing se direkte uitsending te volg: ’n Skrywer wat kan droom, ’n skrywer wat kan inspireer!

* * *

Ek is ’n hopelose wetenskaplike. My arme ma was my wiskunde-onnie op skool en het by tye ook skeinat in my plat skedel probeer inkry. Tog, hoewel my punte beroerd was, het die liefde vir die wetenskap en die nuuskierigheid oor fisika nooit afgeneem nie.

Van die lekkerste projekte waaraan ek nog gewerk het, was ’n reeks ingenieurswesehandboeke. Ingenieurs is slim, maar hulle kan nie skryf nie. Ek kan skryf.

Die punt is, omdat ek kan droom, wil ek meer weet.

Omdat skrywers my kan uitdaag, raak ek grensloos opgewonde oor die wetenskap.

Ek is nie slim genoeg om die goeters te bou nie, maar ek is nuuskierig genoeg om hulle te geniet.

* * *

Om te skryf is nie altyd baie opwindend nie. Jy werk en jy werk en jy werk en jy werk… en jy werk meer. Dan is daar nie veel geld in nie.

Net voor Philae neergestryk het, sê Jaco Jacobs die volgende op FaceBook:

Op dae soos vandag wens ek ek het die beroepsvoorligter se raad gevolg en ‘n dokter of ‘n rekenmeester geword.

Wel. Ek is bly hy het nie.

Jaco inspireer mense om te droom.

* * *

Was dit nie vir dromers nie, sou mense dit nie gewaag het om tien jaar gelede ’n tuigie na ’n komeet toe te stuur nie.

Ek is deksels trots op die wetenskaplikes en wiskundiges wat dit gelaat werk het, maar ek weet daar in elkeen van hulle eens op ’n tyd ’n seuntjie of ’n dogtertjie was wat gedroom het.

Dis hoekom hulle bereid was om te waag!

by izakdv

Benny Lindelauf tree op saam met Fanie Viljoen en Jaco Jacobs

Oktober 27, 2014 in Uncategorized

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_003

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_044

Benny Lindelauf het Vrydag 24 Oktober met Suid-Afrika se twee grootste kinder- en jeugboeksrywers, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs, saamgespan om ’n kreatiwiteitsfees in Bloemfontein by die Hoërskool Sand du Plessis aan te bied.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_011

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_018

Elretha Britz, van die Volksblad, het vroeër hieroor berig (lees die artikel hier).

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_049

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_050

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_051

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_029

Al drie sprekers het oor hulle eie werkswyses gesels en daarna het Lindelauf die leerders aan die werk gesteek. Al drie het toe die onderskeie groepe bygestaan.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_055

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_017

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_030

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_035

Benny Lindelauf was baie positief oor die werk wat die leerders gedoen het. Saterdag het hy op Facebook die volgende gesê:

Imiteerde vandaag met 100 leerlingen in Bloemfontein een gedicht van Toon Tellegen (‘Opzegversje’). De eerste regel van dat gedicht is:’Boosheid is een stof’. Een emotie wordt in die regel gekoppeld aan een voorwerp. De leerlingen kozen zelf een emotie en iets waarmee ze het vergeleken. Zo ontstonden varianten als: ‘Mijn woede is een blinkend mes’ of ‘Jouw liefde is een lepel honing.’ En dat waren dan nog maar de eerste regels van hun gedichten! Aan het slot vroeg ik wie zijn gedicht wilde voorlezen. In zo’n grote groep ( met verschillende scholen) is dat altijd lastig. Het vraagt leeuwenmoed om dan op te staan en voor te dragen. Maar Zuid Afrika kent vele leeuwen. Er kwam een heuse rij van jongeren die hun tekst wilden voordragen. Mijn dag kon niet meer stuk, mede dankzij mijn Zuid Afrikaanse schrijfcollega’s en helpers Fanie Viljoen en Jaco Jacobs.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_066

* * *

Die meeste foto’s is deur Eureka Barnard geneem op Fanie Viljoen se kamera. Fanie was so gaaf om hulle aan te stuur.

Eureka Barnard is die hoof van Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV). SASNEV het vir Lindelauf na Suid-Afrika gebring.

by izakdv

Jaco Jacobs: ek dink wel daar verskyn te min

Mei 21, 2014 in Uncategorized

Jaco Jacobs

Jaco Jacobs is die mees suksesvolle skrywer van kinder- en jeuglektuur in Suid-Afrika. Hy skryf vir die klein kaboutertjies én vir tieners van verskillende ouderdomme. Verder vertaal hy in sy vrye tyd kinderboeke. Ek was dus verheug toe hy in sy besige skedule ’n paar minute afgeknyp het om sý idee oor die onderwerp te lug.

In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Ek dink “jongvolwasselit” is bloot so ’n klomp lettergrepe in ’n ry dat die term nie maklik in Afrikaans sal posvat nie! Maar as ’n mens na die onderliggende betekenisverskil kyk en dit in ag neem: Ja, ek dink wel daar verskyn te min tienerboeke (die term wat ek sommer in die algemeen verkies om te gebruik) vir die ouer segment in die mark – vyftien en ouer. Onlangse boeke soos Christien Neser se heerlike Elle-reeks, Solette Scheeres se Glam-divas en Marisa Haasbroek se pas verskene Iewers vlieg daar fairy dust vul gelukkig hierdie leemte mooi.

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

My kinder- en tienerjare is die tydperk van my lewe wat ek waarskynlik die intensste beleef het, en om in my skryfwerk daarna terug te keer, kom vir my heel natuurlik. Ek hou van die moontlikhede vir vernuwing, die elektrisiteit, die opwinding wat hierdie genre inhou.

Daar is ’n verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur. Wil julle verduidelik hoe julle dit sien? Ek hou daarvan om dit eenvoudig te definieer: Kinderliteratuur het as primêre teikenmark lesers jonger as ongeveer 12 jaar, en is gemoeid met die uitbeelding van situasies, karakters en ruimtes wat tot hierdie ouderdomsgroep se leef-, taal- en ervaringswêreld spreek. Jeugliteratuur (of tienerliteratuur) kan dieselfde gedefinieer word, met die verskil dat dit gemik is op lesers van sowat 12 tot 18 jaar. As jy jongvolwasselit by die definisie wil inbring, kan jy jeugliteratuur definieer as gemik op lesers van sowat 12 tot 15 jaar, en jongvolwasseliteratuur as leesstof vir lesers van 15 tot sowat 18 jaar. Maar ons tradisionele afbakening van die jeugliteratuur (sonder die onderskeid van die term jongvolwasselit) het in die praktyk buitendien nog altyd voorsiening gemaak vir ’n ouer en ’n jonger segment.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal julle aanbeveel?

Drie boeke wat ek onlangs gelees het en wat my baie beïndruk het, is die blitsverkoper The fault in our stars (John Green), Why we took the car (Wolfgang Herrndorf) en Iewers vlieg daar fairy dust (Marisa Haasbroek).