Jy blaai in die argief vir Fanie Viljoen.

by izakdv

Benny Lindelauf tree op saam met Fanie Viljoen en Jaco Jacobs

Oktober 27, 2014 in Uncategorized

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_003

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_044

Benny Lindelauf het Vrydag 24 Oktober met Suid-Afrika se twee grootste kinder- en jeugboeksrywers, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs, saamgespan om ’n kreatiwiteitsfees in Bloemfontein by die Hoërskool Sand du Plessis aan te bied.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_011

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_018

Elretha Britz, van die Volksblad, het vroeër hieroor berig (lees die artikel hier).

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_049

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_050

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_051

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_029

Al drie sprekers het oor hulle eie werkswyses gesels en daarna het Lindelauf die leerders aan die werk gesteek. Al drie het toe die onderskeie groepe bygestaan.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_055

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_017

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_030

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_035

Benny Lindelauf was baie positief oor die werk wat die leerders gedoen het. Saterdag het hy op Facebook die volgende gesê:

Imiteerde vandaag met 100 leerlingen in Bloemfontein een gedicht van Toon Tellegen (‘Opzegversje’). De eerste regel van dat gedicht is:’Boosheid is een stof’. Een emotie wordt in die regel gekoppeld aan een voorwerp. De leerlingen kozen zelf een emotie en iets waarmee ze het vergeleken. Zo ontstonden varianten als: ‘Mijn woede is een blinkend mes’ of ‘Jouw liefde is een lepel honing.’ En dat waren dan nog maar de eerste regels van hun gedichten! Aan het slot vroeg ik wie zijn gedicht wilde voorlezen. In zo’n grote groep ( met verschillende scholen) is dat altijd lastig. Het vraagt leeuwenmoed om dan op te staan en voor te dragen. Maar Zuid Afrika kent vele leeuwen. Er kwam een heuse rij van jongeren die hun tekst wilden voordragen. Mijn dag kon niet meer stuk, mede dankzij mijn Zuid Afrikaanse schrijfcollega’s en helpers Fanie Viljoen en Jaco Jacobs.

x14 10 24 Benny Lindelaufnm_066

* * *

Die meeste foto’s is deur Eureka Barnard geneem op Fanie Viljoen se kamera. Fanie was so gaaf om hulle aan te stuur.

Eureka Barnard is die hoof van Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV). SASNEV het vir Lindelauf na Suid-Afrika gebring.

by izakdv

Om oor seks te skryf

Oktober 11, 2014 in Uncategorized

Twee opmerkings van twee skrywers het my aan die dink gesit.

Die eerste was ’n ruk gelede toe Karina M. Szczurek (outeur van Invisble others) aan Karin Schimke gesê het sy is “interested in sexuality beyond which she is comfortable.” Vir haar is ’n boek, of dan om te lees oor daardie soort seks, ’n manier om in haar verbeelding te deel in dít wat sy nie noodwendig aan haar lyf gedoen wil hê nie.

Toe skryf Johann de Lange gister die volgende: “Izak, ek het gevoel dat die boek te veel seks bevat & te min oor my alledaagse lewe wat sê nou maar ‘n hetero leser sou boei. Die dagboekinskrywings het ek nooit geskryf met die oog op publikasie nie, maar as iets om my in te verkneuter/verknater op my oudag. Ek het die ms twee keer onttrek & besluit om my gut te vertrou.”

Nou moet ek Johann de Lange se stuk in konteks plaas. Hy het dit aan my op Facebook geskryf (as ’n openbare kommentaar) nadat ek navraag gedoen het oor die nie-verskyning van sy boek Gulp.

Ek en hy het daarna ’n paar privaat boodskappe ook gewissel, maar vir nou is dit ter sake dat Johann raakgesien het dat ’n kommersiële sukses nie noodwendig sal spruit uit hierdie teks nie. Was ons in die VSA sou dit genoeg verkoop het om ’n wins te maak, in Suid-Afrika is dit onwaarskynlik dat ’n kommersiële uitgewer hulle geld sal terugkry.

Dit is grootmoedig van Johann, maar ek dink dat daar ander roetes is om wel die teks te laat verskyn.

Die vraag is egter of die heteroseksuele persoon sal belangstel in so ’n teks? Wat my terugbring na die gesprek tussen Schimke en Szczurek, waar hulle ’n verhoog gedeel het met Michiel Heyns en Damon Galgut. Dié gesprek het op 17 September plaasgevind tydens die Open Book Fees en was getiteld “Writing Sexuality”.

Schimke het die gesprek gelei en het uitgelig dat iets soos “cottaging”, ’n Britse woord vir cruising in openbare toilette (genaamd cottages in staid England) vir haar ’n nuutjie was, ook dat ’n mens uit Michiel Heyns se beskrywing veel meer leer as bloot nuwe woordeskat. (Sien ook hierdie resensie van A city imagined.)

Uiteindelik is daardie cottaging-ervarings wat Heyns beskryf natuurlik nie veel anders as die glory holes en ander vorme van mans optel in Suid-Afrika, of elders, nie. Trevor Kleynhans se Secrets make you sick het vir my ’n baie goeie insig gegee in hierdie wêreld. Daar is ook talle Nederlandse romans wat hierdie seuntjie van die plaas gehelp het om meer te leer oor wêreld. (My komvandaan is kleindorps, ek is op rekord dat Hammond Innes se boeke my die eerste keer laat verstaan het wat seks beteken. Nou ja.)

So, hier wil ek met Szczurek saamstem: Dit is goed om te kan lees hieroor.

Om oor seks te skryf, en openlik daaroor te wees, gaan egter oor meer as net voyeurisme (wat tog ’n groot deel van lees oor seks is).

Galgut en Heyns het ook daar by Open Book gewys dat D.H. Lawrence se Lady Chatterley’s Lover grootliks geskryf is as ’n vorm van protes – nie net teen die klassisme wat so openlik in die boek betrek word nie, maar ook teen die nie-uitpraat-nie oor seks, want, so het Lawrence klaarblyklik geglo, die onderdrukking van seksualiteit lei net tot seksuele siektes.

Dink ’n bietjie aan wat John Fowles beweer in The French Lieutenant’s Woman – dat daar meer bordele was in Victoriaanse Engeland as in enige ander tyd. Hoekom? Seks is onderdruk en dan soek mense dit elders.

Donderdag, ’n paar dae gelede, het Phophi,  ’n jong (swart)  vriendin van my dogter op Facebook, geskryf (sic): “I honestly Think that if more black parents talked to their children about sex and relationships instead of just pretending the entire ordeal doesnt exist, we would see a huge recession in the number of Teenage pregnancies and HIV rate… Dont be that parent!

Beter as dit kan ek nie sê nie.

Ek probeer hard om juis nie daardie soort ouer te wees nie. My matriekdogter kla selfs dat ek te veel oor seks praat. Ek moedig ook my dogter aan om wyd te lees – ook oor seks. Enige iets van John Cleland se Fanny Hill: Memoirs of a woman of pleasure tot Fifty shades of Grey dra ek aan. Ook visuele pornografie weerhou ek nie van haar nie.

Ek ervaar deur ander te lees.

Ek wil hê my dogter moet ook.

Daarom is die skryf van ervarings oor die self belangrik.

Brent Meersman se 80 gays around the world is ’n goeie voorbeeld van ’n teks wat handel oor seks. Aan die een kant is dit ’n klomp bieg-jy-of-brag-jy-stories. Meersman se sekservarings laat die meeste van ons groen van jaloesie, maar dit is óók ’n diep menslike boek oor taboes wat mense seermaak. Mike Nicol het oor hierdie boek gesê: “These stories transcend the gay theme, they are about people making (or failing to make) their way in the world.  Their essential human condition is easy to feel and identify with.”

Tydens die Open Book gesprek het Galgut en Heyns juis ook daarvan gewag gemaak dat “queer sexuality” geensins homogeen is nie. In verskillende dele van Afrika word dit anders uitgeleef en dit verskil ook baie van die onderskeie Europese kulture. Dink ook aan die belangrike werk wat mense soos Zackie Achmat doen in die joernalistiek met persoonlike verhale.

Daarom moet ons skryf en beskryf. Meersman se 80 gays around the world is hoogs aan te bevole. Ek sê dit vanuit my eie, veilige, heteroseksuele perspektief.

Ons moet ook, soos Meersman, die verskrikking van sensuur aanspreek. Dink aan die geweld wat teen gay mense gepleeg word in talle dele van die wêreld, maar ook steeds teenoor heteroseksuele mense wat dit durf waag om die erg konserwatiewe geloofspolisie in enige van die groot wêreldgelowe uit te daag.

By Open Book het Schimke Fanie Viljoen se Uit voorgehou as ’n voorbeeld van iemand wat dit durf waag om sy eie mark te verklein met die doel om ander ter wille te wees.

Uit

Viljoen is bekend vir sy uitdagende tekste, soos Pleisters vir die dooies en Breinbliksem, maar toe hy ’n openlik simpatieke gayteks geskryf het, was daar ’n wesenlike gevaar dat ’n deel van sy mark hom sou swartlys.

Toe Schimke vir Galgut vra of hy in ’n teks soos Uit sou belangstel, was sy antwoord dat hy dit nou waarskynlik nie meer nodig het nie, maar dat hy as ’n gay tiener in Pretoria waarskynlik maar te bly sou wees vir so ’n boek: “In Pretoria it might have been a fantastic godsend.”

Viljoen se boek is baie heteronormatief – die karakter probeer ontsettend hard om ’n “ware” seun te wees. Viljoen se leser het dit waarskynlik nodig, want soveel mense dink dis ’n keuse wat jy uitoefen om gay te wees. Uit toon hoe moeilik dit is om jouself te verloon ter wille van die samelewing se vooroordele.

Wat my terugbring by wat Johann de Lange gesê het: Markkragte is ongelukkig bepalend. Ek stem met hom saam. Tog. Daar mag daar mense wees wat juis uitgedaag sal wil word. Met die internet as medium en met e-boeke, sou ’n mens kon hoop dat nie alle tekste oor seks, ánders die streng heteronormatiewe tipe, noodwendig ongepubliseer gelaat sal word nie.

by izakdv

Pleisters vir die dooies: Ware transgressiewe letterkunde

Junie 25, 2014 in Uncategorized

’n Resensie van Pleisters vir die dooies in interteksslagmaat (1)

pleisters

Môreoggend gaan hy een vir een ’n groot klomp kinders by die skool skiet; een ná die ander.

Ek verwag iets ongeloofliks wanneer ek die sneller trek. Dit sal wees soos ’n moerse vuurwerkvertoning waar die vonke oopspat oor die donker.

Dwa! Dwa! Dwa!

Ek verwag dat bloed só sal oopspat teen die skoolmure. (bl. 8)

Die titel sê dit reeds: Hierdie boek gaan nie maklik wees nie. Pleisters help niks as daar ’n koeël deur jou kop is nie.

Dwa! Dwa! Dwa!

Ek verwag afgryse in die kinders se oë. Ek gaan kyk hoe hulle siele uit daardie selfde oë sypel.

Dit sal asemrowend wees. Ek weet dit net.

Asemrowend. (bl. 9)

Maar dit is môreoggend, eers as die skool begin. Vannag is sý nag. Hy wil eers ’n nag vol avontuur hê, want môre sal sy laaste wees.

Die ek-verteller sien homself as die verlosser. Hierdie wêreld het te veel seer. Hy gaan sekermaak dat hy ’n aantal mense uit hulle miserabele bestaan help. Hy word aangevuur deur iets in hom, iets soos ’n engel wat hom sterk maak, wat vir hom die moed gee.

Miskien is die swaartekrag sterker

Miskien is ek gemaak om te sterf

Maar as ek val, val ek soos ’n engel (2)

Sy pa suip, vertel stories oor die Grens en bliksem sy kinders.

Maak my groot en breek my

Maak my groot en breek my af

Dis ’n bose kringloop

en onder draai die duiwel rond (3)

Wanneer sy pa gesuip is, haal hy sy pistool uit en sê vir sy kinders hulle is slap, want hulle ken nie die Grens nie, hulle was nog nooit in ’n oorlog nie; dis Grens met ’n hoofletter.

Hier is hy 25

langs ’n tenk in die woestyn

waar jong soldate oud word

en leer van dood en pyn (4)

Interessant, die Grens is dus nog met ons, twintig jaar ná demokrasie. Ek het net die ander dag nog gesê dat mý generasie se grensverhale nie hierdie generasie aanspreek nie. Nou is hier ’n nuwe tipe Grensverhaal in Afrikaans.

Leer my om my kinders te vermoor

Leer my om alle liefde te versmoor

En onder draai die duiwel rond (5)

Vannag het hy die pistool gevat en albei die gelaaide magasyne. Daar is ook ’n spul ekstra koeëls, genoeg om ’n lang lys van sy skoolmaats te verlos van hierdie walglike wêreld. Hy gaan sy eie Grens oorsteek.

Vryheid!

Die novelle se motto kom uit Chuck Palahniuk se Fight Club (6):

This was freedom. Losing all hope was freedom.

Palahniuk, en ander wat soortgelyk skryf, noem die soort werk transgressiewe fiksie, dit beteken dat hulle karakters skep wat die taboes in ons samelewing uitleef.

Transgressive fiction authors write stories some are afraid to tell. Stories with taboo subjects, unique voices, shocking images – nothing safe or dry.

Daar is geen twyfel dat Fanie Viljoen se Pleisters vir die dooies volledig die gebied van transgressiewe fiksie betree nie. Gedurende die nag drink die hoofkarakter brandewyn en hy besoek ook ’n prostituut.

As ’n prossie met jou klaar is, is sy met jou klaar. Jy moet geen goue sterretjie op jou voorkop van haar verwag oor jou vaardigheid in die bed nie. (bl. 59)

Die prostituut raak kriewelrig as hy haar vertel hy gaan môre ’n klomp mense doodmaak. Sy ontbied hulp in die vorm van ’n baie groot Nigeriër wat die verteller kom aanrand.

Dit is maar een van die gevegte daardie nag. Die geweld wat hy ervaar, laat hom heel voel, dit maak nie saak hóé stukkend se lyf is nie. Dit laat hom dink aan ’n rekenaarspeletjie.

Sy duim beheer kontroles

wat ’n vliegtuig laat versnel

en hy lag soos net ’n kind kan lag

oor dié visioen van hel (7)

Die verteller word stukkend geslaan, hy skop ’n ander man byna dood en beland tussen ’n klomp demone in die begraafplaas, maar hy absorbeer die pyn – dit laat hom nóg sterker glo in die missie wat hy op homself geneem het.

Hy’s die meester van sy wêreld

Hy word ’n god, ’n generaal (8)

Sy innerlike engel loop al die pad met hom saam.

Hy’t ’n jas wat blink soos maanlig

Op die water van ’n meer

En vlerke wyd en witter

As ’n albatros se veer (9)

Vroeg in die storie kom die verteller op kransduiwe af wat vergiftig is. Hulle ly natuurlik en hy maak hulle almal dood, om hulle te verlos. Dan sny hy die vlerke af en neem dit met hom saam, want vlerke teen die maanlig is pragtig.

 

Transgressie nie apatie nie

Daar is niks eenvoudig of maklik aan hierdie novelle nie.

Fanie Viljoen se novelle is dun, slegs 140 bladsye lank, amper soos Albert Camus se L ‘Étranger (10) van 1942. Tog, al pleeg Mersault moord op die Algeryn, is daar min ooreenkomste tussen Camus en Viljoen se tekste.

Mersault is totaal apaties. Die moord word gepleeg sonder om daaroor te dink en ná die tyd is daar geen emosie of aanvaarding van skuld nie. Dit het maar net gebeur.

Die verteller in Viljoen se roman aanvaar die volle verantwoordelikheid vir sy dade. Hy maak selfs ’n video om te sorg dat almal, die ouers, die polisie en ook sy pa, later sal verstaan waarom hy bereid was om ’n massamoordenaar te wees.

Hy weier ook om sy pa te skiet, want dit sal te maklik wees. Hy wil sy pa laat leef met die wete dat dit sý geweer was en dat dit sý dronkpraatjies was wat uiteindelik gemaak het dat sy seun as die “verlosser” van sy vriende sou optree.

 

Daar is al oor geskryf, maar nie só nie

Ek het opsetlik Pleisters vir die dooies gelees teen erkende tekste in ons Afrikaanse musiekskat. Goeie woordkunstenaars soos Coenie de Villiers worstel ook met die vrae wat Fanie Viljoen vra, maar ek kan nie dink aan ’n enkele Afrikaanse teks wat soortgelyk aan hierdie een is nie.

Daar was Ryk van die rawe (11) deur Jaco Fouché wat ook handel oor ’n nag in die stad met ’n hoofkarakter wat allerlei soortgelyke goed beleef, maar Fouché se karakter was ’n deelnemer, nie een wat sy lewe opsetlik tot ’n punt wil bring nie. Ook in Richard de Nooy se Zacht als Staal (12), wat hier in Suid-Afrika te koop is as The big stick (13), is daar ’n passiewe reaksie op die eens aktiewe seun se lewe.

Blou trane (14), deur Daniella Day, is al ’n hele stappie nader, maar nog eens is die hoofkarakter ’n slagoffer, nie die een wat aktief soek na dit wat gebeur nie. (Lees gerus my onderhoud met Daniella hier.)

Koos Prinsloo se Slagplaas (15) dalk? Miskien al ’n stappie nader.

Eben Venter se boeke skuur ook dikwels, maar Fanie Viljoen neem hipperrealisme na ’n volgende vlak in hierdie teks.

Ek het in 2008 ’n kortverhaal gepubliseer met die titel “Transgressie” in Byna Liefde (16), maar ná ek en my redakteur lank daaroor gepraat het, moes ek dit afskaal, juis omdat die leser nog glad nie reg was vir die grense wat ek hulle wou laat oorsteek nie.

Fanie skop daardie Grens/grens in die leser se koppe aan flarde. Ons het hier ’n ware transgressiewe teks.

Ek salueer dit.

 

Jeugliteratuur?

’n Paar weke gelede het ek ’n aantal skrywers, waaronder Fanie Viljoen, gevra waar die grense tussen jeugliteratuur en jongvolwasseliteratuur lê? Sy antwoord was:

Die meeste tienerboeke in Suid-Afrika is gerig op ’n jonger tienermark, vir ouer tieners (jongvolwassenes) is boeke in Afrikaans so skaars soos hoendertande. Daar is nie juis boeke met byt vir hulle nie.

Hier is ’n boek met byt.

Dit is nie die eerste keer dat Fanie ’n boek skryf wat hard slaan nie. Met Breinbliksem (17) het hy in 2005 beide die Sanlam-prys vir Jeuglektuur én M.E.R-prys vir jeuglektuur gewen, tog moes talle skole hulle ouers laat toestemming gee dat boek gelees kon.

Maritha Snyman sê die volgende in ’n resensie van Breinbliksem:

Die boek verg oopkop lesers, beslis nie dié wat soos volstruise hulle koppe in die sand wegsteek nie. Dit belig ’n groep jong mense wat ons nie kan wegwens nie. Dis ’n boek wat die moontlikheid inhou om Afrikaanse tieners te oortuig dat daar Afrikaanse boeke is wat hulle kan uitdaag. As jy dapper is, koop die boek vir ’n tiener, lees dit self ook.

Ek moet sê: Pleisters vir die dooies neem Viljoen se werk ’n stap verder.

Pleisters vir dooies is ’n belangrike stuk letterkunde vir volwassenes van alle ouderdomme. Vir jong kinders is dit beslis nie, maar jong volwassenes in graad 11 en 12 sal mal wees hieroor, ook volwasse jonger lesers. (Die boek dra ’n waarskuwing van 17+.) Ek het klaar vir my meisiekind gesê sy moet dit lees.

Breinbliksem het dalk ’n susterteks in SA Partridge se uitstekende Sharp Edges (18), maar ek kan nie dink aan ’n ander Suid-Afrikaanse teks wat met Pleisters vir dooies kan vergelyk nie, hoewel Eben Venter se Wolf, wolf (19) sekere van die kwessies uitlig wat ons hier ook aantref.

 

Reg tot die einde toe

Maritha Snyman sê dat sy nie van Breinbliksem se einde gehou het nie.

Ek moet sê Pleisters vir die dooies se einde is presies soos dit moet wees. Ek wil niks weggee nie, maar die geboorte van ’n jong engeltjie/verlossertjie… Nee, lees self. Hou aan lees. Dis hard, dôners hard, maar dit is elke bloedkol werd.

 

Eindnotas

(1) Viljoen, Fanie. 2014. Pleisters vir die dooies. Pretoria: LAPA.

(2) “Die veldslag”. Woorde deur Stef Bos, vertaling deur Jannie du Toit, van Coenie de Villiers se album Zen

(3) “Sielswartgat” deur Fokofpolisiekar van hulle album Lugsteuring

(4) “Foto’s uit my album” deur Coenie de Villiers van sy album Ek wens

(5) “Sielswartgat” deur Fokofpolisiekar van hulle album Lugsteuring

(6) Chuck Palahniuk. 2005. Fight Club. New York: WW Norton.

(7) “Oorlog-oorlog” deur Coenie de Villiers van sy album Ek wens

(8) Ibid

(9) “Engel” deur Coenie de Villiers van sy album Zen

(10) Camus, Albert. 1942. L ‘Étranger. Parys: Gallimard.

(11) Fouché, Jaco. 1996. Die ryk van die rawe. Kaapstad:Queillerie.

(12) De Nooy, Richard. 2012. Zacht als Staal. Amsterdam: Nijgh & Van Ditmar.

(13) De Nooy, Richard. 2012. The big stick. Johannesburg: Jacana Media.

(14) Day, Daniella. Blou trane. Pretoria: LAPA.

(15) Prinsloo, Koos. 1993. Slagplaas. Kaapstad: Kaapstad.

(16) De Vries, Izak. 2008. Byna liefde. Kaapstad: Tafelberg.

(17) Viljoen, Fanie. 2005. Breinbliksem. Kaapstad: Tafelberg.

(18) Partridge, SA. 2013. Sharp Edges. Kaapstad: Human en Rousseau. Partridge verower die MER prys met hierdie boek in 2014.

(19) Venter, Eben. 2013. Wolf, wolf. Kaapstad: Tafelberg.