Jy blaai in die argief vir Clarens.

by izakdv

Clarens deur my lens

Augustus 22, 2014 in Uncategorized

Ek wil graag nog ’n paar van my vakansiekiekies deel.

Ons was mal oor Clarens. Ons het nie in die dorp self gebly nie, maar wel in Kiara Lodge, so twaalf kilometer van die dorp af. Besoek gerus www.clarensnews.co.za as julle meer oor die dorp en die akkommodasie wou weet.

(Kliek op elke foto om dit groter te maak.)

clarens a 01

Yarn-bombing, Clarens style! (Ek het die foto spesiaal vir my vriendin Karen Adendorf geneem.)

clarens a 02

Die skaduwees was vir my mooi.

clarens a 03 Drie lede van een gesin geniet goeie koffie en gratis Wi-Fi by Highland Coffee.

clarens a 04

In die koffiewinkel: Die ouens is gesteld op die regte aanspreekvorm.

clarens a 05

Duitse kos by die Roterhahn.

clarens a 06

Die Bibliophile is gevaarlik vir jou beursie as jy hou van boeke. Jy is gewaarsku!

clarens a 07

The Posthouse, ’n baie gewilde eetplek.

clarens a 08

Die NG Kerk is nie net mooi nie, dit het ’n baie trotse tradisie van armmoedeverligting in die naburige township.

clarens a 09

Die geliefde soek naarstiglik na die brouery, want haar man is dors.

clarens a 10

Ek is lief vir ’n biertjie nou en dan, want die koolhidraatvlakke in ’n goeie bier is boonop Banting-vriendelik. Ek ondersteun soms mikrobrouerye. Van die heel lekkerste bier wat ek nog raakgeloop het, kom van Clarens Brewery. Gaan heen en gaan geniet dit. Die personeel is vriendelik en intelligent. Die bier is heerlik.

My gunsteling was die Clarens Amber, maar vir die huistoeneem het ons besluit op hulle Clarens Blonde. My ma, wat baie in Europa reis, was nou weer baie lief vir hulle Clarens Weiss.

clarens a 11

Steeds in die Clarens Brewery. Die geliefde is aan die proe. Hulle siders is ook lekker, maar ek was mal oor die bier.

clarens a 12

Oor ’n biertjie het ons hulle worspot geëet. Vier verskillende soorte wors. Lekker.

clarens a 13

Werkskepping.

clarens a 14

My geliefde het weggeraak in hierdie winkel. Wees gewaarsku.

clarens a 15

Daar is ontsettend baie kunsgalerye in Clarens.

clarens a 16

Heerlike gebak, maar nie vir Tim Noakes nie!

clarens a 17

Nog ’n baie bekende restaurant in Clarens.

clarens a 18

Die pizzawinkel in Clarens is lief vir honde.

clarens a 19

Umm, het ek al vir julle vertel van Clarens Brewery se uitstekende bier?

Kliek hier vir nog van my vakansiefoto’s.

by izakdv

Kiara Lodge, Clarens

Augustus 16, 2014 in Uncategorized

Ek is steeds besig met my vakansiekiekies.

Ons het so twaalf kilometer buite Clarens in Kiara Lodge gebly.

(Kliek op elke foto om dit groter te maak.)

clarens kiara 02

So lyk dit in die nag. Die sterstrepe kry ’n mens deur die lens 30 minute lank oop te hou.

Canon 5DmkII & Canon EF16 f/2.8L USM & Manfrotto driepoot & Hähnel sluiterkabel

30 minute en 49sekondes f7.1 ISO400 (16 mm)

clarens kiara 04

Dieselfde heuwel, nou tydens ’n laatmiddagstappie.

Canon 5DmkII & Canon EF24-70 f/2.8L USM

1/60 f10 ISO100 (28 mm)

Clarens Kiara 01

En so lyk die oord. Hierdie foto is geneem vanaf die heuwel in die vorige twee foto’s.

Canon 5DmkII & Canon EF24-70 f/2.8L USM

1/125 f7.1 ISO100 (24 mm)

clarens kiara 03

Een van die mooi ou huise wat behoue gebly het op die perseel.

Canon 5DmkII & Canon EF24-70 f/2.8L USM

1/40 f10 ISO250 (32 mm)

 Besoek gerus Clarens News (www.clarensnews.co.za) as julle meer oor die dorp en die talle moontlikhede vir akkommodasie sou wou weet.

Kliek hier vir nog vakansiefoto’s.

by izakdv

Met ys, ja

Augustus 12, 2014 in Uncategorized

Suid-Afrika is oor die algemeen ’n warm land, maar as dit koud word, dan bibber ’n mens maar.

Ons tydjie in die Oos-Vrystaat het saamgeval met baie lae nagtemperature. Een van die joernaliste van die Clarens News, Mary Walker, het sommige nagte -14 grade Celsius gemeet. Waar ons gebly het, was -7 nie snaaks nie.

In die berg het die watervalle gevries en waar daar nie direkte sonskyn was nie, het hulle gevries gebly.

Ek en my ma het een bitter koue oggend ’n paar foto’s gaan foto’s neem in Golden Gate.

Kliek op elke foto om dit groter te maak.

Golden Gate Frozen fall 1

Een van die talle bevrore watervalle.

Canon 5DmkII & Canon 300mm f/4L IS USM

1/320 f8 ISO800 (300mm)

 golden gate frozen river 1

Selfs lopende water is met ys bedek.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM

1/15 f8 ISO160 (16mm)

 golden gate frozen river 2

Ek het die een met ’n lang sluitersoed geneem om die vloei van die water en die ys te toon.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM

1/2 f22 ISO100 (35mm)

* * *

Vir meer inligting oor die Oos-Vrystaat, besoek gerus http://clarensnews.co.za/.

Vir meer vakansiekiekies, kliek hier.

by izakdv

Vakansiekiekies: Hoe oud is die rotse?

Augustus 2, 2014 in Uncategorized

Na aanleiding van die vorige kiekies, het Isa Konrad daar uit Switserland gevra hoe oud die rotse is? Hierdie foto toon die lae die beste, so kliek asseblief op die foto om dit volgrootte te sien.

Onder die foto probeer ek verduidelik.

ll11

Die rooi laag onder is moddersteen en is 200 tot 260 miljoen jaar oud. Die Vrystaat was toe ’n vloedvlakte, soortgelyk aan die Okavango vandag.

Die rooi gedeeltes is dus sediment wat oor miljoene jare neergelê is. Moddersteen is meer poreus as die lae daarbo.

Toe verander die klimaat en 40 miljoen later was die Vrystaat ’n woestyn.

Die geel laag is die sogenaamde Clarenssandsteen. Hierdie laag is 196 miljoen jaar oud. Die westewinde het voortdurend sand aangewaai en duine het gevorm, wat later versteen het.

’n Hele aantal dinosourusse het hier geleef in daardie tyd. Die mees algemene dinosourus in die streek was die Massospondylus, iets wat baie soos ’n hedendaagse sekretarisvoël gelyk en geloop het.

Toe kom die chaos. Vir 55 miljoen jaar was die Oos-Vrystaat geleë op aktiewe vulkane. Die vertikale swart vlekke en die harde bokant van die berge, is lawa. Die vulkane het uiteindelik uitgewoed en die harde kors, wat alles toe bedek het, kon stol. Die lawe is baie hard en verweer stadiger as die sagter lae daaronder.

Die foto hieronder het ek bo-op die Brandwag geneem. Daar was ’n loeiende wind toe ons daar was. Julle kan sien hoe onegalig daardie harde klip verinneweer. Let ook op hoe die ligene daarop groei.

ll34

Kliek op die foto om dit groot te maak, en kliek hier vir nog vakansiefoto’s.

* * *

Tegniese goed: Die boonste foto

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/30 f5 ISO200 (29mm)

 Die onderste foto

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/500 f5 ISO100 (16mm)

by izakdv

Vakansiekiekies: Ys in die Echo Ravine

Augustus 2, 2014 in Uncategorized

Ná ons die Brandwag geklim het (sien vorige foto’s), het ek en die geliefde in die Echo Ravine, in Golden Gate, gaan stap. Ek het gehoop om ’n bevrore waterval te kry.

(Kliek op die foto’s om hulle groter te maak.)

ll32

Dié foto is geneem net voor ons in die kloof self in is. ’n Mens kan ver sien. In die middel lê Glen Reenen en regs is die Golden Gate Hotel.

Let op hoe dik die rooi laag moddersteen op hierdie foto is, met die doloriet daarbo.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/250 f9 ISO100 (16mm)

ll33

Dié foto is ’n paar honderd meter verder geneem, net daar waar die kloof begin. Die rooi moddersteen is sagter as die basalt wat bo-op lê. Dit is hoe reën, wind en ys hierdie kloof uit die berg gekalf het. Ek het geweet hier moes eens ’n rivier wees, en daarom het ek gehoop op ’n waterval.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/25 f9 ISO100 (16mm)

ll06

Nog ’n entjie dieper in, kan ’n mens ook die geel sandsteen bo die rooi moddersteen sien.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm)

ll27

Hierdie foto toon die basalt wat van die “dak” af val, of wat deur water, en vroeër ook ys, hierheen gespoel is. Die basalt is hard, so dit verweer nie so maklik nie.

Sien julle die donker, vertikale strepe? Dit is waar lawa miljoene jare gelede in die modder- en sandsteen ingeforseer is deur die geweldige druk van onder. In Engels staan hierdie pype bekend as dykes.

Let ook op die dinamiese rykwydte van die kamera. Die donker skaduwees en die helder rots vorentoe is albei belig. Jy gaan dit nie met ’n selfoon regkry nie.

Verder, as julle tegniese detail wil weet: Ek skiet in RAW en ontwikkel elke liewe foto apart. Ek pas ook die kontras aan – dikwels negatief – indien ek met sulke uiterstes te doen het. Canon se gratis sagteware (Digital Photo Professional, verskeep saam met hulle DSLR-kameras) het ook ’n landskapfunksie wat ek dikwels – nie altyd nie – aanwend in hierdie omstandighede. Ten einde laas trek ek die boonste gedeelte van die RGB-kurwe effens af en stoot die onderste gedeelte effens op. Dit is hoe ’n mens sulke kontraste op een foto kan hanteer.  (Nota bene ek skiet heeltemal neutraal, alle nodige kontrasaanpassings word in postproduksie gemaak, soos ons destyds in die donkerkamer gedoen het.)

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm)

ll07

 Net ’n entjie verder aan. Hierdie een moes ek oorbelig. Dieselfde reëls geld as by die vorige foto, maar hier het ek gekies om die lug weg te brand, sodat die skaduwees sigbaar is.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/40 f2.8 ISO100 (16mm) +1 2/3

ll28

En toe die ys! In plaas van ’n groot waterval, kom ons op ’n druppende stroompie af. Snags, met temperature in Clarens van tot -14 grade Celsius, vries die water. In die dag kom hier nie genoeg son om dit weer te smelt nie, so nuwe water vorm eenvoudig ’n yspoel. Aangesien ys uitsit wanneer dit vorm, en aangesien dit elke nag opnuut gebeur, is dit ’n onewerige, gletseragtige gesig wat ons begroet, hier in die hartjie van die Vrystaat.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/250 f4.5 ISO100 (35mm)

ll30

Hier staan ek op die rand van die ys. Ek het die foto geneem om skaal te probeer weergee.

Ja, ek het twee kameras saamgedra. Die een op die ys was met die hoop om voëls te kry (ek sal later een wys wat ek wel gekry het). Dit is die 7D met ’n Canon 70-200mm f2.8L USM + 1.4 aanpasser.

Ja, ek het die Brandwag kaalvoet geklim en ja ek het kaalvoet in Echo Ravine gestap. Ek hou nie van skoene nie; maar dit weet julle seker.

Canon 5DmkII & Canon 16-35mm f/2.8L USM lens

1/20 f4.5 ISO200 (16mm)

ll31

iFoto met iPhone. Ja, sommer.

’n iPhone neem redelike foto’s as daar genoeg lig is, maar vrot foto’s as die lig taan. Daar is ook geen dinamiese rykwydte nie, maar in hierdie geval werk die kontraste gelukkig tot die foto se voordeel. Mense wat goeie foto’s kry met ’n iPhone sal gou baie beter foto’s neem met selfs ’n eenvoudige mik-en-druk Canon, of Nikon. Maar vir nou, hier is ’n cool foto uit ’n iPhone.

* * *

Kliek hier vir nog vakansiefoto’s.

by izakdv

Silwerrugjakkalse baklei by ’n karkas

Julie 23, 2014 in Uncategorized

Nota Bene: ‘n Slim vriend, Jan Moodie, het ‘n paar uur ná my bloginskrywing daarop gewys dat die Canis mesomelas in Afrikaans die rooijakkals genoem word, en nie die “silwerrugjakkals” soos ek dit hier gebruik het nie. Ek behou egter my inskrywing, juis omdat die “verkeerde” naam se gereeld voorkom. Maar nou weet ek ook.

Ons wou aasvoëls in Golden Gate afneem (sien hier). Dit het min in die sak gebring, maar ons was baie gelukkig om twee silwerrugjakkalse te kry by die karkas.

Kliek op die foto’s om hulle groter te maak.

j01

j02

Daar kom ’n uitdager aan… En toe waai die hare.

j03

j04

j05

j06

j07

j08

j09

j10

j11

Die eerste twee foto’s is geneem met ’n Canon 7D en Canon EF 300mm f/4L IS USM

Eerste foto: 1/500 f7.1 ISO400

Tweede foto: 1/400 f4 ISO125

Die res is geneem met ’n Canon 5DmkII en ’n Canon 70-200mm f2.8L USM + 1.4 aanpasser MkII.

Die bakleifoto’s het maar ‘n paar sekondes geduur. Hulle tegniese detail sien so daar uit: 1/500 f4.5 ISO400.

* * *

Ek het ’n paar jaar gelede ook ’n paar mooi foto’s van ’n silwerrugjakkals gekry, kliek hier.

by izakdv

Om aasvoëls te soek in die koue

Julie 21, 2014 in Uncategorized

Ons was ’n paar dae met verlof, na my ma toe, en natuurlik is die kameras saam.

Die tweede week van ons vakansie het ons in Kiara Lodge gebly – so halfpad tussen Clarens en Golden Gate.

My ma is ’n uitstekende fotograaf (sy het my geleer), so toe ons hoor dat daar ’n zebrakarkas lê in Golden Gate, moes ons die aasvoëls gaan probeer vind.

Ons het Sondagoggend gehoor van die ’n karkas en die middag daarheen gery, maar daar was geen aasvoëls nie.

Toe besluit ons om die volgende teen dagbreek by die karkas te wees, hopende om hulle honger mae en opwaartse lugstrome te benut. (Soos dit warmer word, styg die lug op.)

Maandagoggend kruip die twee van ons toe uit die bed.

vv1

Die probleem is dat dit vrek koud was. Teen die tyd dat ons, kort na dagbreek, in posisie was, wys my foon dat die temperatuur darem al gestyg het na -7 grade Celsius.

Ons het lank gewag voor die voëls nadergekom het. Op ’n stadium het twee baardaasvoëls ’n reccie gedoen, maar helaas, hulle het verbygehou.

Toe kom ’n kransaasvoël nader en gaan sit taamlik ver van die karkas af.

vv4

(Kliek op die foto om dit groter te maak)

Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/500 f6.3 ISO250

Ná ’n tydjie het hy opgestyg, nuuskierig nader gevlieg en weg was hy.

vv3

(Kliek op die foto om dit groter te maak)

Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/500 f4 ISO100

Gelukkig kon ek ’n klompie foto’s kry soos hy nadergekom het.

vv2

(Kliek op die foto om dit groter te maak)

Canon 7D; Canon EF 300mm f/4L IS USM, 1/640 f4 ISO100

Ongeveer ’n uur later het ek en my ma die skuiling verlaat om te sien of ons voëls gewaar. Ja, inderdaad. So vyf kilometer verder was ’n swerm voëls aan die sirkel om ’n vars karkas – op ’n plek waar dit nie bereikbaar was nie. Nou ja.

Kliek hier vir nog vakansiefoto’s.