‘n Spirituele tuiskoms: Die Nuwe Graskoue Trappers terug as wêreldkampioene
Julie 23, 2015 in Uncategorized
Die tweede deel van hierdie inskrywing is ernstig, dit gaan oor die Khoi se spirituele teenwoordigheid, maar kom ons kry eers die jolliefikasie agter die rug, want daar is plek vir albei.
Die Nuwe Graskoue Trappers is terug! Hulle het gister, 22 Julie om 14:00, as wêreldkampioene by Kaapstad Internasionaal geland.
Kliek op die foto’s om hulle groter te maak.
Kliek hier vir ‘n onderhoud met Floris Smith wat gistermiddag op LitNet verskyn het.
Kliek hier vir ‘n videogreep wat iets van die klank vasvang, maar ook onderhoude dra met Floris Smith en die Khoi-hoofman, Senior chief Abré Hector.
Kliek hier vir SABC2 se dekking van die geleentheid.
Die verwelkoming wat die rieldansers gekry het, was oorweldigend. Ek het al baie groot mediageleenthede gedek, maar gister was een van die grootste.
Nie net was daar ‘n enorme perskontingent nie, daar was ook vriende, familie, verteenwoordigers van die Cederberg munisipaliteit en die ATKV, en ‘n hele korps tradisionele Khoi-leiers.
In die tweede helfte van hierdie stuk gaan ek meer oor die Khoi berig, maar eers gaan ek ‘n oorsig gee oor die oorweldigende ontvangs wat die kinders en die orkes gekry het.
Die foto’s vertel ‘n storie. Beleef die emosie!
* * *
Die Khoi-teenwoordigheid
Nou vir iets ernstiger.
Min mense besef hoe geweldig belangrik gister se teenwoordigheid van die Khoi- en die San-gemeenskappe se leiers al daar was.
Ons doen bitter min om erkenning te gee aan hierdie tradisionele leiers, maar hulle daarwees was op die vlak van Prins Charles wat sou besluit om ‘n Engelse Folk Dance-groep op Heathrow te gaan inwag – saam met ‘n groot aantal van sy adjudante en ‘n klomp hertogs en die aartsbiskop van Canterbury.
Die riel is ‘n onderdeel van die oudste vorm van dans in Suid-Afrika. Baie van die passies, die vinnige trap-trap met die regtervoet en die mimiek, dit alles kan direk teruggevoer word na die rituele van die Khoi en die San. Van daardie rituele vind vandag nog plaas, ons weet dit net nie en verstaan dit nie.
Ek het al baie hieroor gelees en sien dalk iets raak in die danse wat ander van ons met ons Westerse idees nie sien nie, maar ek weet ook dat ons, ek beslis ook, nog meer moet gaan leer.
Die kontak met die Khoi-leiers het begin toe daar vir elkeen van die aankomelinge ‘n stukke vel om die kop gebind het. Dit is ‘n eerbetoon, een wat nie sommer gebeur nie. Dink maar weer aan die krone van die Engelse adel, dan begin ons besef hoe hoog die leiers hierdie groep rieldansers se prestasie geag het.
Daarna is rook oor die groep geblaas. Die res van die media het dit nie raakgesien nie, maar hier, linksvoor, sit ‘n man wat rook uit ‘n tradisionele koker blaas.
Hier is die detail. Let op die twee horings – dink maar weer aan die hooftooisel van ‘n aardsbiskop.
Enige een wat al moeite gedoen het om oor die San en die Khoi te lees, sal weet dat hierdie Sjamanistiese gebruik iets baie spiritueels is. Dis ‘n heiliging, dink daaraan dat die Aardsbiskop van Canterbury by Heathrow sou wees om wierook te waai oor die groep Engelse dansers.
Kan julle begin besef wat gister gebeur het op Kaapstad se lughawe?
Daar is twee redes waarom ek geweldig geraak is deur die teenwoordigheid en meelewing van die leiers:
Ten eerste is daar deur hulle die erkenning gegee dat die riel ‘n klein, maar deeglike deel is van die hulle kultuur se baie komplekse rituele danse. Dis al wat al wat ons as Westerlinge in Afrika ken, maar dit is daar. (Ter verduideliking: Om te sê die riel verteenwoordig die Khoi, sal wees soos om te sê Boeremusiek is hoe alle Afrikaanse kuns is.)
Die tweede punt gaan ook oor erkenning: Dit gaan oor die groothartigheid van die Khoi om te sê: Goed, as julle dan hierdie deel van ons erfenis wil bewaar, dan maak ons dit oop vir alle Suid-Afrikaners. Word deel. Let op dat daardie punt deeglik gemaak word in my video-onderhoud met Senior Chief Abré Hector.
Senior Chief Abré Hector
Terloops, ek het dit met die hoof van protokol bevestig: Hy staan bekend as Senior chief. Hoekom? Want dit is wat ons, sonder die tongklappe, hom kan noem. Ek en jy kan die regte term nie uitspreek nie, laat staan nog lees en spel.
Ek was baie diep geraak deur die Khoi-leiers se teenwoordigheid. Dit was vir my ‘n spirituele ervaring wat moeilik is om te beskryf.
Marietjie Luyt het gesê op Julie 23, 2015
Baie dankie hiervoor. Die foto’s en video’s van die kinders, die musikante en hul afrigter, mnr Floris Smith, is wonderlik.
Dit was ook baie insiggewend om meer te leer van die geestelike aard van die Khoi-leierskap en -rituele.
izakdv het gesê op Julie 23, 2015
Vir my ook was dit ook insiggewend, Marietjie.
Anthony Wilson het gesê op Julie 25, 2015
Baie geluk en Baie Trots op die groep! Bly dat van die oudste danse wat die kontinent ooit gesien het nou Internasionaal tot sy reg gekom het!
izakdv het gesê op Julie 25, 2015
Inderdaad!
Anthony Wilson het gesê op Julie 25, 2015
Dié was baie belangrike inligting wat nie geredelik beskikbaar was nie. DANKIE!!!
izakdv het gesê op Julie 25, 2015
Plesier!
Gwendoline Fourie het gesê op Julie 25, 2015
Bravo,,Vorsprung!VeelsgelukFantasties! Ek het Jul verlede haar by die Kirkwood Wildsfees in aksie gesien !Jul maak jou hart swel van trots !Dit sal fantasties weees as hul landwye opvoerings kan doen.Veels geluk!