Jy blaai in die argief vir 2015 Junie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die ATKV wil jóú liedjie hoor!

Junie 25, 2015 in Uncategorized

Is jy ons onontdekte ster? Is jy die volgende Hunter Kennedy?

atkv l 01

Hunter Kennedy

Loop jy met ’n Afrikaanse liedjie in jou kop? Die ATKV sal dit graag wil hoor!

Aspirantliedjieskrywers word genooi om in te skryf vir die ATKV-Liedjieslypskool 2016. Landswye uitdunne word later vanjaar gehou waartydens deelnemers hul slag sal kan wys.

Deelnemers wat nie ’n uitdunronde kan bywoon nie, kan hul inskrywings pos, of ʼn MP3-weergawe van hul liedjies op ons webblad laai.

Deelnemers kan selfs kies of hulle net hul liedjies wil inskryf vir beoordeling, en of hulle dit self wil sing. Die liedjie sowel, as die uitvoering, sal in laasgenoemde geval beoordeel word.

Beoordelaars tydens die uitdunrondes sluit in: Pedro Kruger, Hemelbesem, Anna Davel, Hunter Kennedy en Bouwer Bosch.

ll h

Hemelbesem

Landswye uitdunne begin reeds in Augustus, en inskrywings vir pos- en digitale inskrywings sluit om 17:00 op 31 Desember 2015. Aspirantliedjieskrywers wat tydens die finale beoordeling deur die paneel kundiges gekies word, wen elk ’n plek by die gesogte ATKV-Liedjieslypskool wat gedurende Mei 2016 by ATKV-Goudini Spa aangebied sal word. Finaliste sal dan ’n week lank persoonlike onderrig ontvang by van Suid-Afrika se beste kunstenaars.

ll m 15 05 21 atkv lied6501

Morné van Staden

Volgens die organiseerder, Morné van Staden, is daar is geen beperking op die aantal finaliste wat elk ’n plek wen nie. “Ons poog dus om hierdie geleentheid aan soveel moontlik talentvolle liedjieskrywers en sangers te bied.”

Uitdunne, voorafgegaan deur promosies by skole in die onderskeie streke, sal opgevolg word met werkswinkels. Deelnemers wat talent toon tydens die uitdunne, sal na die werkswinkels genooi word.

Voornemende deelnemers, landswyd, moet kennis neem van die volgende datums en plekke:

Gariepkunstefees (Kimberley): 28 Augustus (uitdunne) en 29 Augustus (werkswinkel) met Hemelbesem en Bouwer Bosch.

Aardklop (Potchefstroom en Promosa): 2 Oktober (uitdunne in Promosa), 3 Oktober (werkswinkel in Promosa) en 4 Oktober (uitdunne/ “open mic”) met Hemelbesem, Anna Davel en Bouwer Bosch.

Stellenbosch: 16 Oktober (uitdunne) en 17 Oktober (werkswinkel) met Pedro Kruger, Hemelbesem en Hunter Kennedy. Uitdunne en regstreekse oudisies sal ook op MFM gehou word.

Mitchells Plain (aangebied by Cedar Sekondêr): 23 Oktober (uitdunne) en 24 Oktober (werkswinkel) met Pedro Kruger en Hemelbesem.

llp

Pedro Kruger

Atlantis (aangebied by die Toerisme- en Kultuursentrum): 30 Oktober (uitdunne) en werkswinkel (31 Oktober) met Pedro Kruger, Hemelbesem en Francois van Coke

Tydens die werkswinkel sal daar op ‘n  een-tot-een-basis met elke finalis gewerk word om te bepaal wie sal deurdring na die finale ronde. Die finaliste se liedjies sal opgeneem word as demo’s wat sal deel vorm van die finale beoordeling.

llda

Daphne Arendz

Daphne Arendz, wat ’n finalis was in vanjaar se ATKV-Liedjieslypskool, sal tydens sommige van promosies by skole optree om haar eie suksesverhaal te vertel. Daphne se liedjie, Die song wil my nie los nie, is gekies as die amptelike temalied van vanjaar se Liedjieslypskoolprojek, wat by ATKV-Goudini Spa aangebied is. Dit word tans opgeneem deur Anna Davel.

lla

Anna Davel

“Daphne se liedjie is gekies as temalied van die projek omdat dit die talle doelwitte van die projek versinnebeeld,” sê Morné Van Staden.

Volgens Van Staden wil die ATKV met hierdie projek ’n positiewe bydrae maak tot die Afrikaanse musiekbedryf. “Ons wil ook bydra tot die verryking van mense en hul talent en kultuurervarings. Juis daarom het ons besluit om tydens die uitdunne vanjaar ’n mentorprogram aan te bied. Die doel daarvan is om werklik talentvolle liedjieskrywers die geleentheid te bied om individuele opleiding te kry by ’n span kundiges wat sal aandag gee aan aspekte van basiese musiekonderrig en instrumentale opleiding.” Die mentorprogramme, wat dien as voorbereidingsplatform om talent te kweek en voor te berei op die amptelike Liedjieslypskoolweek, word aangebied in samewerking met Solms-Delta onder leiding van Adriaan Brand en sy span van die Musiek van de Caab-projek, sowel as Hemelbesem, die bekende Afrikaanse kletsrymer.

Finaliste sal op Maandag 1 Februarie 2016 aangekondig word, en die amptelike weeklange Liedjieslypskool sal in Mei 2016 plaasvind by die ATKV-Goudini Spa.

Die ATKV-Liedjieslypskool 2016 word aangebied in samewerking met Vrouekeur. Besoek gerus hul webblad (www.vrouekeur.co.za) vir volledige inligting en inskrywingsvorms.

Vir enige navrae, kontak Morné van Staden (mornev@atkv.org.za).

* * *

Kliek hier vir foto’s van die 2015-finaal.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Laerskool Kenridge se Afrikaansweek, 19-25 Junie 2015

Junie 24, 2015 in Uncategorized

Afrikaans kook tans by die Laerskool Kenridge; dit is alles pret en ter verryking van die leerders.
Die laerskool doen moeite om die laaste week van die kwartaal nuttig én prettig te maak. Verskeie temas, selfs Egiptologie, word gedek. Daar was Dinsdag ook ‘n skaap, hasies, pluimvee en marmotte op besoek.
Die grootste, oorkoepelende tema is egter die Afrikaansweek wat op 19 Junie begin het, en die 25ste Junie sal eindig.
Hierdie enorme projek, wat bestaan uit 64 lesings en werkswinkels, bied iets vir moedertaalsprekers en nie-moedertaalsprekers. Hoewel dit deur LAPA Uitgewers gereël is, word skrywers en uitgewers van LAPA, NB, Maskew Miller Longman en Pearson ook betrek.
Ek kon nie almal afneem nie, maar hier is ‘n paar kiekies.
ken0000133 Eldridge Jason, die skrywer van Gerook, is ‘n senior-subredakteur by Son. Hy het verskeie werkswinkels aangebied om kinders meer te laat ervaar van ‘n loopbaan in die joernalistiek.
ken0000127 Hier sit een van die groepe met koerantberigte, reg om te begin werk.
ken0000135 Carina Diedericks-Hugo het praktiese wenke gegee oor die skryfproses. 

Dit was opvallend stil in Carina se sessie, want almal was aan die skryf.
ken0000134 Marieta Nel, die hoof van LAPA se skole-afdeling, het verduidelik hoe Afrikaans oor die jare woorde geleen het by tale soos Nederlands, Portugees, Maleis, die San-, Nguni- en Sotho-tale.
ken0000129 Die leerders in hierdie sessie was moedertaalsprekers en hulle het verbasend baie geweet oor die herkoms van taal en oor sinskonstruksie. (Hierdie ou joernalis en oud-taalkundedosent moes soms mooi dink oor die antwoorde.)

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) word vanjaar 50 en ‘n nuwe weergawe is op pad. Die Woordeboek is deesdae ook volledig elektronies. Jana Luther en Fred Pheiffer, wat albei woordeboekmakers is, het ‘n paar praktiese lesse met die leerders gedoen.
ken0000136 Jana Luther, wat in beheer is van die HAT.
ken0000137 Fred Pheiffer, wat ook betrokke is die HAT.

ken0000131 Hier is die deelnemers wat uitvind woordeboeke is veel interessanter as wat hulle ooit kon droom.
ken0000126 Daar is ook ‘n baie groot boekuitstalling waar allerlei boeke te koop is.

ken0000138 Liesbet Gelderblom,  van LAPA se skole-afdelings, was een van die organiseerders. Sy het ook ‘n aantal werkswinkels aangebied.
ken0000128

Die Laerskool Kenridge is tweetalig. Hulle leuse, wat hier op ‘n deur verskyn is, Elke kind, Elke kans, Elke dag, Every child, Every chance, Every day.

ken0000132

Die skool het ‘n mooi biblioteek.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Om uit te kom

Junie 20, 2015 in Uncategorized

Dis koud. My foon sê dis 6º C, maar die windjie maak die aanvoelbare temperatuur laer. Hier in die Kaap het die son vanoggend eers om 07h50 begin opkom. Die strale is nog nie by ons op die Cape Flats nie.

bbFullSizeRender 3

Ek parkeer om 08:00 die motor by Valhalla Park se openbare biblioteek.  Daar staan van die kinders al. ’n Weldoener het ’n bussie geborg om hulle Paart toe te neem. Hulle gaan die Taalmonument besoek, en hulle gaan kyk na werksgeleenthede in die gasvryheidsbedryf.

Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om in die motor te bly sit, maar ek kyk na die kinders en klim toe maar uit.

Dit ís koud. Deksels.

Dis slim kinders hierdie. Hulle het almal die finaal gehaal in die Valhalla Park-streek vir die leeskompetisie. (Hier is die berig oor die kompetisie.)

Ek stap nader.

Die inkommer laat die gesprek opdroog. Ek groet. Hulle antwoord in Engels en ons gooi ’n paar woorde in Brits, maar toe iemand in mooi Afrikaans iets sê oor die koue, toe antwoord ek in Afrikaans.

Die skanse kom af.

Hulle wil weet of ek deel is van die uitstappie. Nee, sê ek. Ek het net gou iets kom aflaai. Maar dit is vir die uitstappie.

Nou is daar stilte, toe vra iemand of ek dalk die mense se nommers het wat die kinders neem? Nee, sê ek weer, maar ek ken vir Reney. Sy werk in die biblioteek en sy gaan saam. Ons moet haar selnommer vra.

Dit raak weer stil. “Nou hoekom staan meneer dan hier in die koue?”

Ek sê ek wag mos, net soos hulle.

“Ja,” sê die een meisie se ma. “Ek kan mos nie my kind hier los nie. Ek loop nie voor ek nie met my eie oë gesien het my kind klim in die taxi saam met die regte mense nie.”

“Is so!” beaam ’n ander ma. Toe, so half of dit nodig is om te verduidelik, draai sy na my toe. “Is my meisiekind, die een. Sy is al wat ek het. Vir haar sal ek sterf.”

Dêmit mense. Moederliefde.

Maar toe gebeur nog twee gesprekke wat my hart weer laat punt trek.

Gesprek 1

Die een ma vertel opgewonde hoe trots sy is dat haar kind juis gekies is vir ’n uitstappie.

Die ander beaam. Toe besing ’n ander ma die lof van die biblioteekpersoneel wat hierdie goed doen en, voeg sy trots by, sy was ook al op ’n uitstappie saam met die biblioteek. Daardie dag het hulle gaan loop in die natuurreservaat om die UWK.

Nou, jinne mense, vir die wat nie die Kaap ken soos ek nie: Die hek van UWK is presies 6,7 km pad af. Ja. Jy het reg gelees. Die uitstappie wat sy onthou, die een wat sy met trots deel, haar eie ontvlugting uit Valhalla Park, was minder as 7 km weg.

Dôner.

Gesprek 2

Reney daag op en ons laai die kos af, wat ’n maatskappy geborg het.

Die personeel ken my, groet my op die naam en gesels met my soos ’n gelyke. Dit moes die ys gebreek het, want toe kom vertel die ma wat bereid is om te sterf vir haar kind hoe trots sy is op hierdie meisiekind: Die kind het al te vore op ’n uitstappie gegaan – daar na ’n hoërskool in Kaapstad waar sy toetse geskryf het, want sy is slim. Ongelukkig was daar ander wat beter punte gekry het. Tog, hulle gee nie moed op nie. Hulle hoop die kind kan hier uitkom…

bbFullSizeRender 4

Wie het ’n miljoen dat ons vir hierdie kinders kan beurse gee na goeie skole toe? Hier sit die helfte van hulle: betyds, slim en boonop mooi ook. Agter is Reney. Dis haar man se verjaarsdag, maar sy gaan saam.

* * *

Ek het vanoggend weer besef hoeveel ek gewoon nie weet nie.

Deksels, man. Armoede is boos.

Net ’n dag te vore lees ek weer hoe een van die Rock girls vertel hoe moeilik dit is om skool toe te gaan as die bendes skiet in Mannenberg. Ons kla vinnig oor geweld, maar ons het nie ’n idee hoe dit is om werklik in ’n oorlogsone te bly nie.

Dit gebeur egter nie net in Suid-Afrika nie. Lees gerus hierdie insiggewende berig oor die werkersklas in die VSA.

* * *

As jou maag nog kan hanteer, hier is ’n artikel oor die lewe in ’n plakkerskamp op Worcester.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Jeugdag? Ngezilimi Abaningi namuhla!

Junie 16, 2015 in Uncategorized

Ngezilimi Abaningi namuhla!

Many languages today!

Baie tale vandag!

atkvhandevat2

Ek is een van die baie mense wat vandag my kop in skaamte moet laat sak en sê: “My kennis van inheemse tale, naas Afrikaans, is gebrekkig.”

Ek praat ’n klein bietjie Zoeloe, maar dis gebrekkig.

Ek verstaan ’n bietjie Xhosa, maar nie veel nie.

Why? Because my black friends have the courtesy to use English when we converse.

The problem is, I want to be multi-lingual, yet my Dutch is better than my Xhosa. Sad. I even have to admit that I’d get better marks in German than in Zulu. Really sad.

That is why I am thrilled that Government is moving to teach more languages at school level, here is an article explaining government’s efforts.

I would certainly support the principle.

Moedertaalonderwys is iets wat baie Afrikaanse kinders as ’n gegewe aanvaar, maar hoeveel ander kan dit in Suid-Afrika opeis?

Ons moet ook versigtig wees dat hierdie geleenthede vir ons kinders nie tot wrywing lei nie. Talle Afrikaanse skole wil nie meertalig word nie – wat beteken dat daar tans baie Afrikaanse skole in Gauteng is met piepklein klassies, terwyl Engelstalige skole uit hulle nate bars.

Ons moet dus mooi dink hoe ons moedertaalonderrig korrek wil beskerm, want moedertaalonderrig is belangrik.

Ons moet begin deur te erken: Uitstekende onderwys in die inheemse tale is moontlik. Ek het vroeër vanjaar berig oor die wonderlike werk wat gedoen word by die Tshiamo Primary School in Vergenoeg, net buite Kimberley. Hierdie kinders se graad R- tot Graad 3-onderwys is in Sotho. Dit is voorwaar ’n modelskool, lees gerus die berig.

Die ATKV was baie nou betrokke by die verbetering van Tshiamo Primary en daarom het ’n persverklaring van  Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede by die ATKV, my aandag getrek. Sy sê: “Jeugdag [is die] ideale tyd om oor taalregte te besin”.

My eerste reaksie was: Oi! Maar toe sê sy: “Dit is nie ʼn dag waaroor Afrikaanssprekendes graag praat nie, maar daar is dalk ‘n paar goeie taalregtelesse wat ons uit die gebeure van 16 Junie 1976 kan leer.”

Britz erken dat die onbesonne besluit van J.G. Erasmus, Streeksdirekteur van Bantoe-onderrig (Noord-Transvaalstreek), om studente te dwing om Wiskunde in Afrikaans te studeer, baie skade aangerig het. Maar dan moes die kinders in Engels hulle algemene Wetenskap leer. Nie een was die taal waarin hulle gemaklik was nie.

Hier stem ek met Britz saam. Ons moet erken dat taal kan skade berokken, maar die jeug moet weer leer om trots te wees op ons verskeie inheemse tale.

One moet baie versigtig wees om nie Afrikaans weer op ander af te dwing nie. Die ATKV speel in hierdie verband ’n slim spel. By ’n onlangse vergadering met die ANC, het Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-Groep, die volgende gesê: “Die ATKV is gemoeid met taal en kultuur en ons gebruik dit om ‘n diverse nasie te bou en sosiale kohesie te bewerkstellig. En dit is wat ons die meeste van die huidige stand van sake in ons land bekommer. Die ATKV sien die diversiteit van die verskillende taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika as ‘n reuse bate en daarom streef ons na inklusiwiteit.”

Ek waardeer dit van die ATKV. ’n Groot deel van hulle werk het niks met Afrikaans te doen nie, want hulle besef ons taal moet deel wees en bly van die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Dus: Soms wonder ek of Afrikaanse skole nie moet sê nie: “Natuurlik sal ons tweetalig word. Afrikaans en Xhosa, Afrikaans en Sotho…”

Ek is ernstig. Ons moet mooi dink oor tale op Jeugdag.

I kufanele izame kakhudlwana.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ena Murray deur die oë van ander

Junie 8, 2015 in Uncategorized

Ena Murray: 27 Desember 1936 – 4 Junie 2015

Alle foto’s deur Susan Bloemhof

Lekkerleesboekrak op Facebook was die eerste. Voor sonop was die nuus daar: “Rus in vrede Tannie Ena Murray. (1936-2015)”.

Dié boodskap is op 4 Junie 2015 geplaas die deur Marion Erskine, die skrywer van Donatello en Volksie (Tafelberg, 2010).

Dit is gepas dat dit juis ’n skrywer van ’n liefdesverhaal is wat haar dood aan die wêreld rugbaar gemaak het. Dit is ook gepas dat ’n groep op die sosiale media, wat gewy is aan lekkerlees, die draer van die boodskap sou wees, want Ena Murray is by verre die mees geleesde skrywer in Afrikaans en haar boeke is skaamteloos geskryf om lekkerlees te bevorder.

Murray het begin skryf voor die dae van rekenaars en voor die sosiale media. Die feit dat haar lewe wyd so gevier op hierdie platforms vertel ons iets van die grootsheid van hierdie fenomenale mens.

Die bevestiging van haar dood het gekom van Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB Uitgewers. Murray is skynbaar net ná vier  die oggend (4 Junie 2015) oorlede.

Susan Bloemhof, Etienne se gade, het hierdie foto’s gestuur. Hulle is kleinnode, want Ena Murray was bekend daarvoor dat sy kamerasku was.

Die foto’s is in Augustus 2012 geneem in te Santos Haven Aftreeoord, Mosselbaai. By dié geleentheid het Etienne Bloemhof namens NB Uitgewers die prys aan haar oorhandig as “Die Gewildste Skrywer in Afrikaans.” Hierdie prys is nie uit iemand se duim gesuig nie. Week ná week is daar ten minste een omnibus van Ena Murray op Nielsen top 100 – baie dikwels is haar boeke egter in die top 10.

’n Persverklaring deur NB Uitgewers sê dat daar 131 titels uit haar pen verskyn het en dat daar reeds 40 omnibusse verskyn het waarin haar werk heruitgegee word.

Tien jaar gelede het hierdie omnibusse reeds meer as 350 000 eksemplare verkoop.

Eer

Murray is in 2013 deur die ATKV vereer van haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Die ATKV se skrywersalbum bied ook ’n oorsig van hierdie fenomeen se werk.

Wat ander skrywers sê

Verskeie groot Suid-Afrikaanse skrywers het gereageer toe hulle gevra is om hulde te bring aan Murray.

Dina Botha, ’n skrywer van meer as 40 Romanza-titels, en Chanette Paul, wat reeds die Lekkerlit-prys drie maal gewen het, hou tans ’n merkwaardige rekord. Albei was sedert Maart 2013 reeds 76 keer op die Nielsen top 100 vir fiksie, en albei was 39 keer in die top veertig.

Dit is indrukwekkend, maar Murray se syfers is veel beter.

Dina Botha sê die volgende in haar huldeblyk: “Ena Murray is die rede hoekom ek ‘n skrywer wou word. Van kindsbeen af het sy my met haar wonderlike stories na vreemde mense se huise geneem en my vir kort rukkies deel van haar wonderlike karakters se lewens gemaak. Sy het my geleer om te droom en my eie stories uit te dink. Maar, al probeer ek hoe hard, ek sal nooit haar wonderlike kreatiewe skoene kan volstaan nie.”

Chanette Paul het dit soos volg verwoord: “Ena Murray was ‘n absolute fenomeen in Afrikaans. Sy het haar reguit in die harte van vroue ingeskryf en daarmee ook uitsonderlike boekverkopestatistiek behaal.

“Vir my het sy op ’n persoonlike vlak baie beteken, al het ek haar nie geken nie. As daar een skrywer is wat my geïnspireer het om romantiese verhale te skryf, is dit Ena Murray. Sy was my gunstelingskrywer in my jongmeisiedae. Ek kon nie wag vir elke nuwe Ena Murray-boek wat by die biblioteek geland het nie. Daar was niks lekkerder as om daardie eerste paar paragrawe te lees en ingetrek te word in ‘n heerlike romantiese verbeeldingsvlug nie.

“In 2004 was ek bevoorreg om saam met Ena en Wilna Adriaanse eregaste te wees by ‘n geleentheid. Ek wou daardie aand so graag vir Ena sê hoe sy ‘n eensame meisiekind se lewe opgekikker het met haar stories, maar ek was te ingetoë. Die oomblik was vir my te groot, die gedagte om saam met haar in die kollig te wees, te oorweldigend.

“Vir my lê Ena Murray se nalatenskap nie net in haar boeke nie, dit lê in daardie opwinding wat ek telkens gevoel het wanneer ek een van haar boeke optel. Dit lê in die herinnering aan die onskuldige skooldogter wat tog so gesmag het na die Liefde en dit gedurende die lees van Ena se stories by verstek ervaar het.

“Sonder Ena Murray sou my jongmeisiedae soveel armer gewees het.

“Dankie, Ena. Rus in vrede en in die wete dat jy waarde toegevoeg het.”

(Oor die geleentheid waarna Chanette verwys hierbo, is destyds só berig in Die Burger – die teks in die skakel, die berig het só gelyk, dankie aan Chanette wat dit gehou het.)

Sophia Kapp, nog ’n groot Afrikaanse verkoper, het haar hulde aan Murray só verwoord: “Sy het reusewerk gedoen in ’n literêre wêreld wat nooit haar bydrae daartoe sou erken nie. Sy het grense verskuif in ’n genre wat nooit eintlik agting of respek afgedwing het nie. Sy het geskryf in ’n taal, en vir mense, wat onverreken en gemarginaliseer is. Sy het bly skryf sonder dat haar aandeel daarin om die Afrikaanse boekebedryf solvent te hou, ooit verreken is. Tog het sy aanhou skryf, onverskrokke en onverstoord, want sy het in die liefde bly glo.

“Van ons wat in jou voetspore mag trap, van hulle vir wie jy ʼn uur of twee se vergetelheid geskep het in ʼn onvriendelike wêreld, van almal wat vandag ryker mense is omdat hulle jou stories kon lees: Saluut!”

Kristel Loots, wat al amper vyftig boeke op haar kerfstok het, sê: “Ena Murray het haar lesers geken en verstaan. Sy het geweet hoe om die verbeelding aan die brand te kry en dan die slaapkamer se deur met grasie toe te trek. So het sy op ’n eiesoortige manier ’n deel van die magic van liefdesverhale vir haar lesers te behou. Daar is ’n sagte sensualiteit aan haar verhale wat die droom laat voortleef. En sy het altyd ’n storie gehad om te vertel.”

Haar lewe

Helena Alberta Mans is op 27 Desember 1936 te Loxton in die Karoo gebore. Sy het op Loxton skoolgegaan en het skynbaar reeds in die laerskool begin skryf. Matriek is behaal aan die Hoërskool Victoria-Wes.

Ná skool is sy as verpleegster gekwalifiseer – een van die redes waarom so baie van haar boeke ’n medici tema gehad het.

Murray was twee maal getroud. In 1959 is sy met Boet Murray getroud, maar hulle is ná 20 jaar geskei. In 1981 is sy met Jacques Mostert getroud. Hulle was saam tot met sy dood ’n aantal jaar gelede.

Haar eerste vervolgverhaal is in Rooi Rose gepubliseer en in 1960 het JP van der Walt-uitgewers haar Lisé gepubliseer. (JP van der Walt het later LAPA Uitgewers geword.)

Volgens NB-Uitgewers, wat die grootste deel van haar werk gepubliseer het, kon Murray gereeld tussen dertien en vyftien uur per dag agter die tikmasjien spandeer.

Wat haar uitgewers sê

Tydens ’n kort telefoniese gesprek met Nèlleke de Jager, wat jare lank Murray se uitgewer was, het gesê sy is “nogal verbyster” deur die skryfster se dood. Via ’n persverklaring het Nélleke kort daarna laat weet: “Ena se boeiende vertelstem, humorsin, deernis en insig in mense verklaar haar sukses. Wat my altyd die meeste van haar werk opgeval het, is dat Ena gegló het in die liefde. En vandaar die oortuiging waarmee sy haar stories geskryf het.”

Ena Murray en Etienne Bloemhof

Etienne Bloemhof, die hoof van NB-uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.”

Marga Stoffer, waarnemende hoof van NB-Uitgewers, sê: “Ons is hartseer oor die heengaan van Ena Murray. Sy was ’n geliefde skrywer en ’n merkwaardige mens. Sy is vir lank beskou as ‘die mees gelese skrywer in Afrikaans’, en haar boeke word steeds heruitgegee. Mag sy in vrede rus.”

Elders, op Netwerk24, het George Louw, ’n toenmalige uitgewer van haar werk, ’n baie mooi huldeblyk geskryf. Lees dit gerus hier.

En Danie Botha, ’n toenmalige redakteur van haar werk, se huldiging verskyn hier, ook beslis die moeite werd om te lees.

’n Bittersoet verjaarsdag

LitNet het vroeg daardie selfde oggend, op 4 Junie, berig dat LAPA Uitgewers se Romanza-klub 10 jaar oud is.

Romanza is ’n uiters gewilde reeks boeke wat vir vroue van agt tot tagtig geskryf word; 156 000 van hierdie boeke word jaarliks verkoop. Hoewel die verhale meer modern is as Ena Murray se werk, is daar onder die skrywers en uitgewers geen twyfel nie dat Murray die matriks geskep het vir hierdie reeks boeke.

Alta Cloete het die bittersoet ironie van Murray se dood op hierdie dag van feesviering soos volg beskryf op Facebook: “Dis tipies van die lewe dat ‘n viering en ‘n sterfte so saamval. Op die dag wanneer ons dink oor die werk van Ena Murray vier Romanza hulle tiende verjaardag. Ten spyte van soveel vooroordele bly die liefdesverhaal ‘n gerusstellende teenwoordigheid in duisende lesers se lewe.”

’n Rukkie later, in ’n persoonlike boodskap, het Cloete soos volg gereageer op Ena Murray se dood: “Ena Murray het duisende Afrikaanse meisies aan die lees gekry en hulle as volwasse vroue aan die lees gehou in ʼn tyd toe daar nie soveel goeie ligte Afrikaanse leesstof beskikbaar was nie. Ek vermoed hulle mans het meer dikwels saamgelees as wat hulle dalk sou erken. Haar werk is so tydloos dat dit vandag te midde van die ontploffing van Afrikaanse lekkerleesboeke steeds relevant en gewild bly. Dis ʼn voorreg om ook my beskeie deel te probeer bydra tot die leeskultuur wat sy in Afrikaans help vestig het.”

LAPA het geen sjampanjeproppe geskied op 4 Junie nie (die viering sal op 12 Junie plaasvind), maar die drie uitgewers wat aan beheer staan van die Romanza-reeks, het elkeen hulde gebring aan die grootste van groot Afrikaanse skrywers.

Marlies Haupt het haar hulde soos volg betoon: “Ons het in die platteland grootgeword en ’n besoek aan die biblioteek (70km van die huis af) was ’n groot gebeurtenis. Ek het vinnig deur die kinderboek-afdeling gelees en toe ook deur Saartjie, Trompie, Bienkie en natuurlik Enid Blyton se The Famous Five. My Ma het af en toe romanses uitgeneem … en toe dié gogga eers byt, het ek en my sussies gereeld hare getrek oor wie eerste een van Ena se omnibusse mag lees. Ena het vir romanses gedoen, wat Pavarotti vir operasmusiek gedoen het: Sy het dit op ons boekrakke en in ons huise gevestig as ’n genre wat gelees mag word en moet word. Ena is beslis die doyenne van die Afrikaanse romanse en sy laat ’n reuse nalatenskap agter.”

Cliffordene Norton, haar kollega, verwoord haar bewondering vir Ena Murray soos volg: “Ek het Ena Murray ontdek toe ek een vakansie my auntie Lande se boeke geleen het. Ena Murray was (en is) my auntie se gunstelingskrywer en nadat ’n hele paar daarvan verslind het, kon ek verstaan hoekom. Ek verstaan nou nog hoekom. Het ek ’n gunsteling-Ena Murray-boek? Nee, want almal is awesome! Rus in vrede, mevrou Murray, because you’re a legend. Legends never die!”

Die senior-uitgewer al daar, Charlene Hougaard, het laat weet: “Alhoewel Ena Murray se skryfpen nou stil is, sal haar liefdesverhale voortleef in al haar lesers se harte. Sy het ’n enorme bydrae gelewer tot ontspanningsfiksie in Suid-Afrika, en duisende lesers laat aanhou Afrikaans lees.”