by

Is Afrikaans deel van ons Vryheid?

April 27, 2015 in Uncategorized

Ons het Vryheidsdag gevier deur in die Distrik Ses Museum te gaan rondloop met die kroos. Saam met ons was Zack, ’n bestuurder by ’n groot selfoonmaatskappy, en sý seun.

Ek en Zack filosofeer baie, so vandag was Rhodes en kolonialisme ook deel van die woordpotjie wat ons geroer het. ’n Deel van dié gesprek was ook hoe ’n mens Nkandla en soortgelyke vergrype versoen met die ideaal van vryheid en gelykheid?

Natuurlik draai ’n mens se kop ook na jou eie plek, jou eie vryheid, jou eie taal… Net hierna deel ek graag ’n aantal wyse woorde oor Afrikaans; woorde van Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep en ’n klompie Afrikaanse kunstenaars, maar eers terug na die museum.

Zack se ouers is destyds geskuif.

Terwyl ons daar was, het ons vir meneer Benjamin raakgeloop. Hy kon ons ’n foto wys waar hy as jong seuntjie op die trappies van ’n huis in Distrik Ses sit. Hier is hy soos hy vandag lyk.

So word die geskiedenis werklik.

Ná die besoek aan die museum, het Zack vir ons pannekoek gebak.

Vryheid, gelykheid en Pannekoek!

* * *

Soos beloof, iets oor Afrikaans en Vryheid: Ek hét verlede week hieroor berig, maar die ATKV het nou vir my ’n dokument gestuur met ’n ander deel van Japie Gouws se toespraak, wat ek vandag, op Vryheidsdag, graag deel. (Kliek hier vir ’n berig en foto’s van die geleentheid verlede Maandag.)

“Taal en kultuur is ideale instrumente om nasiebou en versoening te bewerkstellig”, het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, by die WOORDtroFEES toekenningsgeleentheid op Stellenbosch gesê.

“Die Afrikaanse huistaalgemeenskap, saam met ander Suid-Afrikaners wat elke dag Afrikaans gebruik, is meer as 20 miljoen mense”, het Gouws gesê. “En Afrikaans is allermins net wit; 60% van Afrikaans huistaalsprekers is bruin, swart en Asiër”.

Dit het tyd geword dat die Afrikaanse gemeenskap met mekaar in debat tree oor hoe ons ons sprekers se erfenisse gaan ontgin en erken en bewaar. Daar moet, op ‘n kreatiewe en inklusiewe wyse, werk gemaak word van bekende maar veral ook onontginde erfenisgoedere wat erken en bewaar moet word.

“Die groter inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap behoort leiding te neem met projekte vir nasiebou en versoening”, het Gouws gesê. “Ons is uitstekend geposisioneer om dit te doen.

“Afrikaans, as wesentlike en waarskynlik die mees inklusiewe taal in Suid-Afrika, behoort aan die voorpunt te staan van hoe nasiebou en maatskaplike kohesie prakties kan werk”.

“Ons is dit nie net aan Afrikaans verskuldig nie, maar ook aan die hele Suid-Afrika”.

Karen Zoid, wat ‘n toekenning tydens die geleentheid ontvang het, het beaam wat Gouws gesê het. Sy het bygevoeg dat ons moet doen wat ons goed doen, sonder om dit geforseerd te doen.

Simon Witbooi, beter bekend as Hemelbesem, en Jacques de Villiers, die bekroonde sanger Joshua na die reën, het Gouws se standpunt ondersteun.

Gouws het Afrikaanse feeste, soos die Woordfees, en alle Afrikaanssprekendes uitgedaag om hierdie geleenthede aan te gryp.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.