Jy blaai in die argief vir 2015 Maart.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ontspanningsfiksie verdien regmatige plek as deel van die Afrikaanse literêre kanon

Maart 5, 2015 in Uncategorized

47579558_0_Img2

Dewald Koen, wat vandag verjaar, het ’n uitstekende resensie van Chanette Paul se Siende blind geskryf en daarmee ’n lansie gebreek vir alle puik skrywers van ontspanningsfiksie in Afrikaans.

Hy sê:

Met Siende blind het Paul bewys dat ontspanningsfiksie geensins as tweederangse letterkunde afgemaak moet word nie. Hierdie stiefkind van die Afrikaanse letterkunde (naas die Afrikaanse drama) verdien sy regmatige plek as deel van die Afrikaanse literêre kanon.

Ek kan dit nie beter stel nie, en die Afrikaans letterkunde het sulke stemme nodig.

Die punt is, daar is vier soorte boeke in my opinie:

  1. Moeilike boeke wat ook ’n goeie storie het.
  2. Lekkerleesboeke wat ook op vele vlakke iets beteken.
  3. Boeke waarin die skrywers allerlei letterkundiges truuks probeer, maar heeltemal vergeet om te vermaak.
  4. Ligte vermaak wat in een sitting gelees en geniet kan word sonder om enige verdere vrae aan die leser te stel.

Al vier het ’n plek. Te veel Afrikaanse mense dink egter steeds dat die enigste boeke wat in die kanon hoort, nommer 3 is, terwyl dit wêreldwyd nommers 1 en 2 is wat literêre verkope dryf, met nommer 4 wat dit vir uitgewers moontlik maak om nommer 3 (soms) uit te gee.

48077614_0_Img2 (1)

Chanette skryf, myns insiens, nommer 2 – veral met boeke soos die Maanschijnbaaitweeluik, Laberint, Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld.

49969236_0_Img2

Die leespubliek stem saam. Chanette is net die ander dag vir die derde keer in ’n ry bekroon met die Lekkerlit-prys. Dit wil gedoen wees.

Lees Dewald se resensie. Dis krities, maar besonder knap.

Dankie, Dewald. Lekker verjaar!

En kom luister asseblief na Madri Victor se gesprek met Chanette op die Woordfees.

00 ewebeeld

45859634_0_Img2

46455684_0_Img2

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kom ontmoet puik sjefs

Maart 4, 2015 in Uncategorized

francois ferreira

François Ferreira is een van Suid-Afrika se groot sjefs. Ek plaas hiernaas ’n onderhoud met hom. Jy kan hom ook op Donderdag 12 Maart om 10:00 beleef by die US Woordfees.

Onthou ook dat Nettie Cilliers op 9 Maart die kuns van kleinkoekies verduidelik en op 10 Maart wys die enigmatiese Niël Stemmet waarom erfenis+kos ook nóú se kos is.

François Ferreira se boek, Koskaskos, het pas verskyn. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Cupboard Cuisine. Kom kuier asseblief en kom ervaar François se passie.

00 Koskaskos

IDV: Jy het jou opleiding as sjef in die Suid-Afrikaanse Lugmag begin. Die meeste van ons wat destyds voete gestamp het, kan glad nie ’n gunstelingresep onthou uit daardie dae nie. Wat het jý dan daar geleer?

FF: Ek het my opleiding deur die Lugmag se kookskool gedoen – daar is ons in die ware klassieke styl opgelei. Ek kan verstaan dat die algemene troepe nie dit sal verstaan nie, maar die Lugmag se sjefs het goeie opleiding gekry wat deur die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging goedgekeur is.

IDV: Vandag is jy die hoof van ’n kookskool en ’n gekwalifiseerde beoordelaar vir kookkompetisies. Tog is jy bekend, party mense sal sê berug, daarvoor dat jy nie jou neus optrek vir kortpaadjies wat die kookproses vergemaklik nie. Wil jy verduidelik?

FF: Ek het nooit my neus opgetrek vir kortpaadjies nie, maar ek het ’n probleem as jou kookkuns net op die gebruik van gerieflikheidskos en –produkte geskoei is. In Koskaskos sê ek dat ’n kortpad gebruik kan word deur die gebruik van ’n blikkie, ’n pakkie of ’n sakkie, maar jy moet nog vars kos daarby sit en dit nie “kaal” voorsit nie. In die boek is resepte wat byvoorbeeld hoenderekstrakblokkies gebruik, tog gee ek ’n resep om vinnig jou eie ekstrak te maak.

IDV: Een van die goed wat opval, is hoe jy geure aan die leser verduidelik. Kook jy dus baie met jou neus voor jy proe, of hoe werk dit?

FF: Vir my is reuk en smaak baie belangrik – eintlik is al jou sintuie nodig wanneer jy kook. Ek het die vermoeë om iets te “ruik” of te “proe” terwyl ek aan ’n resep dink of ’n spyskaart skryf.

IDV: Die boek is geskryf vir mense wat lekker kos wil maak met dít wat eenvoudig in jou koskas is, maar jy gee ook raad oor noodsaaklike kruie, speserye en kos wat altyd in die koskas móét wees. Waarom glo jy ’n koskas moenie sonder daardie items wees nie?

FF: Speserye en kruie gee kleur en diepte aan enige dis. Baie mense is bang vir speserye en kruie, want hulle het nie die selfvertroue om dit te gebruik nie, maar as hulle aanhou oefen sal hulle met meer selfvertroue kos met speserye en kruie kan maak.

IDV: Wat is die heel belangrikste items wat nooit mag opraak in joue eie koskas nie?

FF: Paprika en die bestanddele vir ’n garammasala, asook: meel, olyfolie, eiers, wortels, uie en seldery.

* * *

00 101 kleinkoekies

Ek het vroeër ook ’n onderhoud met Nettie Cilliers geplaas. Sy tree 9 Maart om 10:00 op.

* * *

00 erfiniskos

Ek het al by meer as een geleentheid oor Niël Stemmet berig. Hier is ’n foto-essay waar hy saam met Isabella Niehaus kook, en hier tree hy in Tulbagh op.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wanneer word ’n debuutskrywer na waarde geag?

Maart 2, 2015 in Uncategorized

Ek was bevoorreg ’n vroeë kopie van Santie van der Merwe se debuutroman, ’n Gelyke kans, in die hande te kry. Dit verskyn hierdie week op die winkelrakke.

gelyke kans

Met haar kinders uit die huis is, blom Jessica se lewe, danksy haar nuwe oudhedebesigheid. Dan, eendag uit die bloute, kom Anton, haar man, die pa van haar kinders en die een wat nog altyd daar vir haar was en sê: Daar is iemand anders.

Jessica is totaal verward én verneder.

Daar is heelwat trane en sy vlug na hulle strandhuis waar sy ’n ou vlam ontmoet.

Hoor ek die tromslae?

Wel, ja en nee. Joe, die ou vlam is baie beskikbaar, maar Anton besef hy was dom en vra of hy nie dalk kan terugkom nie?

Jessica staan nou voor ’n dilemma en uiteindelik is haar antwoord vir albei manne dat sy regtig nie iemand in haar lewe nodig het nie. Dankie!

Ek is mal hieroor. Jessica leef eers weer vir haarself voor sy ’n besluit maak en daardie besluit word nie verklap voor die heel, heel einde nie.

Intussen is dit Anton, die mán, wat besef hy sal moet vry na hierdie vrou as hy haar weer wil hê. Goed so. Hoeveel mans lys hulle vroue onder “bates” wanneer hulle die belastingvorms invul en voel dan baie selftevrede? As jy een van hulle is, dan gaan JY binnekort ’n las word, meneer.

Ek was baie verras deur hierdie boek. Dis g’n stuk borrelgom met ’n voorspelbare plot nie.

Dit ís baie goed geskryf en dit probeer hoegenaamd nie pretensieus wees nie. Hier is nie pogings tot veelvlakkigheid of intertekstuele speletjies nie, hier is doodgewoon ’n lekkerleesboek wat jollie goed aanmekaargesit is.

Beslis iets vir vroue, maar ek as man het dit geniet – juis omdat Anton die een is wat moet mooi trap en inderdaad ook probeer. Mans moet dit dalk juis lees.

Die boek opper ook vrae: Wat ás daar ander mense in ons huwelik inkom? Hoe hanteer ons dit? Te veel mense dink dit sal nooit gebeur nie en hardloop dan weg wanneer dit wel gebeur. Hierdie boek laat ’n mens dink.

Ek was beïndruk met Gelyke kans, want dit is so eerlik. ’n Vrou kán sonder ’n man klaar kom, maar mans en vrou mag hunker. Jessica is geskets op ’n manier dat ek haar soos ’n vriendin sou wou koester. Boonop, tot op die heel laaste bladsy het ek nie geweet wat haar finale besluit sou wees nie. Dít wil gedoen wees. Gelyke kans is ’n puik debuut. Ek kan nie wag vir meer boeke uit hierdie skrywer se pen nie.

Die vraag is of iemand soos Santie van der Merwe ooit in die oë van die slim mense geag sal word? Mense soos Margaret Bakkes is altyd so half met agterdog bejeën omdat hulle boeke oor vrouesake durf skryf.

Natuurlik is iets Kamphoer ’n veel meer komplekse teks (ek is mal daaroor), en daarom sal ’n mens langer kon stilstaan by die lees daarvan, maar dan is Chanette Paul en Marita van der Vyver ook skrywers wat geweldig baie vlakke in húlle werk inbou en steeds onderskat word wanneer die kanon ter sprake kom.

Mans, lees ’n Gelyke kans voor jy dit vir jou geliefde gee. Dalk sal jy eendag ook moet vra vir ’n gelyke kans.

Koop dit en kry raad!

’n Gelyke kans, deur Santie van der Merwe, word deur LAPA uitgegee en sal  R214,95 kos in die handel. Die ISBN is 978-0-7993-7361-5.

Onthou, die beste ding wat jy vir enige skrywer kan doen is om aan te dring dat jou plaaslike boekwinkel die teks sal bestel.