Jy blaai in die argief vir 2015 Februarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

De Kock is vry, maar wat sê die Letterkunde?

Februarie 16, 2015 in Uncategorized

Ek was van plan om ’n dubbele resensie te skryf en toe kom krap Anemari Jansen en Piet Croucamp my lewe deurmekaar.

Ek wil steeds skryf oor ’n Man van min belang en Kodenaam Icarus. Toe ek beplan het om hierdie stuk te skryf, was Eugene de Kock egter agter nog tralies. Nou is hy vry, maar dit neem niks weg van hierdie twee boeke nie.

 

Die agtergrond tot hierdie stuk

Chris Karsten se ’n Man van min belang het my heeltemal oorweldig. Dit is ’n moeilike boek, maar besonder slim en ek was heimlik jaloers, want ek sou graag so ’n storie wou skryf. Nou is dit gedoen en dit is veel beter gedoen as wat ek sou kon.

Toe is ek gelukkig om Henk Breytenbach se debuutroman, Kodenaam Icarus, vroeg reeds te lese te kry, en die interteks met Chris Karsten se roman was so interessant dat ek die twee teen mekaar wou stel.

Toe, omtrent op die dag wat Henk Breytenbach se Kodenaam Icarus vrygestel word, loop De Kock as vry man uit die tronk en Anemari Jansen se boeke oor De Kock word aangekondig. Daarmee saam, egter, besef ek toe dat ek haar roman, Glipstroom, nog nie gelees het nie en dit is ’n fout wat ek later gaan regstel.

50360566_0_Img2

Kodenaam Icarus

Henk Breytenbach se Kodenaam Icarus is ’n heerlike spanningsroman.

Vic Nel is ’n breker wat nie om amnestie aansoek gedoen het nie. Hy besef nou dat ’n deeglike tronkstraf vir hom voorlê as hy ooit iewers in iemand se strik trap. Vic leef dus incognito.

Wanneer hy een aand ’n jong prostituut te hulp snel, slaan hy so effens té hard en sy vingerafdrukke verskyn op ’n klaarblyklike moordtoneel. Die polisie kom gou agter dat die slagoffer hom vrek geskrik het en nie aan sy wonde beswyk het nie, maar Vic Nel is skielik weer in die onwelkome kollig.

Hier kom die interessante interteks met Karsten se boek nou in. Die manne wat destyds Vic se bevelvoerders was, is steeds baie, baie magtig, is steeds baie ryk en hulle sal nooit verdink of vervolg word vir enige wandade nie, al het hulle ook nie aansoek gedoen vir amnestie nie. Dit is ou Vic wat nou op eiers moet loop terwyl die ryk bliksems, wat die opdragte gegee het, hand om die blaas sit met die ANC-regering.

Die toenmalige hoof van Nasionale Intelligensie besluit om druk op Vic te plaas om vir oulaas ’n joppie te doen. Dié joppie wys vingers na president Jacob Ntombela. Wat meer is, glibberige prez Jacob se doen en late word direk in verband gebring met die verdwyning van die Helderberg, daardie Boeing 747 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat eendag net verdwyn het. Vic Nel en ’n pragtige stripper val in die pad en hulle vlug, dit terwyl beide die amptelike polisie en die ou apartheidspioene ’n prys op Vic se kop het.

Ek wil nie regtig meer sê nie, want Kodenaam Icarus moet gelees word. Dit is ’n kragtige debuut.

46968275_0_Img2

’n Man van min belang

Chris Karsten se ’n Man van min belang is ’n boek van ENORME belang en wil ek nou al sê: Jy gaan waarskynlik ’n eerliker prentjie in hierdie boek kry oor Eugene De Kock en sy betaalmeesters as wat jy in enige niefiksieteks sal kry. Fiksie laat jou toe om goed te sê, al mag jy nie.

In Karsten se boek leer ons ’n tronkvoël ken wat help om vermiste persone op te spoor. Dit was onmiddellik vir my duidelik dat die persoon op De Kock gebaseer is, al gee Karsten hom ’n ander naam.

Ek wil dit ook duidelik stel dat Karsten nooit vir ons wil laat glo dat hy oor De Kock geskryf het nie, maar as ’n mens iets weet van Eugene de Kock en sy onlangse vrylating, dan sou jy kon begin vermoed hoe naby hierdie boek sou kon kom aan niefiksie.

Die vraag is egter nie wat oor die ou in die tronk geskryf word nie, maar wel wat oor sy betaalmeesters gesê word en oor die opdraggewers wat mense laat verdwyn het. Húlle leef goed en mense soos De Kock moes tronkstraf uitdien.

Karsten is ’n baie goeie joernalis en hy skryf óók baie goeie fiksie.

’n Man van min belang is ’n enorme boek. Dit is dik, dit lees nogal grinterig en dit het reeds twee baie belangrike pryse ingepalm. Dit was tweede in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd en dit het dit het die ATKV-Prosaprys gewen. Die beoordelaars van die ATKV-prys het raakgesien dat Karsten ’n geweldig aktuele roman skryf onder die vaandel van ’n whodunnit.

Maklik is die boek nie. Selfs ek moes mooi kophou, maar hoewel dit moeite verg, is dit al daardie moeite werd.

 

Opsommenderwys

Lees eers Henk Breytenbach se Kodenaam Icarus. Dit is ’n lekker storie, dit lees ook maklik en vinnig. Dan lees jy ’n Man van min belang, deur Chris Karsten, want jy sal die parallelle baie vinnig raaksien.

Daarna kan jy die niefiksie takel.

47944020_0_Img2

Die eerste niefiksieboek wat ek sal aanbeveel, is Elaine Bing se Ek het gemartel. Dit is moeilik, maar dit vertel jou van drie mense wat net so wel Vic Nel kon heet. In hierdie boek sal jy sien hoe goed Breytenbach se navorsing oor die psige van die vlugteling is.

covs-eugene

Dan, natuurlik, Eugene de Kock, deur Anemari Jansen wat einde Maart verskyn.

 

Lees ook gerus

– Hanlie Retief gesels met Piet Croucamp

– De Kock is reeds vry en het werk gekry

– Good behaviour pardons De Kock

Profile photo of izakdv

by izakdv

Baleka Mbete crosses the line

Februarie 16, 2015 in Uncategorized

In the Rwandan genocide, the “others” were revered to as cockroaches. Those cockroaches had to be killed until the graves were full.

It was a simple strategy: Dehumanise the enemy and tell your followers that, since these “others” were lesser beings, killing them was not a problem.

On Saturday 14 February, the ANC stooped to the same levels. ANC national chairperson Baleka Mbete, was reported saying: “If we don’t work we will continue to have cockroaches like Malema roaming all over the place”.

Well, well. Was that why armed police were called in to remove the EFF from parliament – a move that has never even been paralleled by the NP?

Is that why the SABC’s cameras were instructed not to show the violent removal of people asking when or how Zuma would pay back the money?

Is that why an extremely convenient technical “glitch” happened so that cellphones, the one medium that would show the police in action in parliament, would not work?

I am sorry. Not only was Mbete’s actions on Thursday night beyond comprehension, she has now crossed the line in using Rwandan tactics.

Please read the book Inyenzi by Andrew Brown to see why Mbete’s words are not innocent at all. (The word inyenzi means cockroach.)

41058349_0_Img2

*

On a much better note: I want to urge everyone in this country to listen to Charlie Chaplin’s brilliant speech from the movie The Great Dictator.

Please watch this. It is only five minutes, but we can save the world if only we would all do what he asks.

charlie chaplin

Profile photo of izakdv

by izakdv

Nog ’n kaalvoetmarathon

Februarie 15, 2015 in Uncategorized

izak 42 barefoot

Ek voltooi die Peninsula Marathon wat deur takealot.com geborg is en deur Celtic Harriers aangebied is op 8 Februarie.

helpers run

Dit was die Helper’s Run, ’n amptelike wedloop wat ’n week voor die groot wedloop plaasvind. Veertig van ons het die Helper’s Run gedoen, en het op die dag van die amptelike marathon, op 15 Februarie, diens gedoen op die roete. Die marathon begin by die Kaapstad Stadion en eindig in Simonstad.

8

Ek hou daarvan om mense te herinner dat ek graag die wonderlike werk van die Durbanville Kinderhuis steun.

Besoek hulle asseblief by http://www.durbanvillekinderhuis.org.za/

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die rooi partytjie vir die roekelose KATERINA SE MOJO

Februarie 14, 2015 in Uncategorized

Gisteraand se partytjie, onder die vaandel Rooi en Roekeloos, was wonderlik.

15 01 29 mojo_006 epos

Só het die uitnodiging gelyk. (Kliek op elkeen van die foto’s om hulle groter te maak.)

kristel loots (4)

Só lyk Kristel Loots se warm boek Katerina se mojo.

kristel loots (9)

Elias P. Nel het die gesprek met Kristel gelei en hy hét toe opgedaag met ’n knalrooi brandblusser.

kristel loots (10)

Die gaste het baie gelag, want Kristel en Elias was verskriklik snaaks. Hier gee Elias vir Kristel ’n bossie broccoli vir Valentynsdag. As julle wil weet hoekom, lees Kristel se boek.

kristel loots (11)

Kristel, wat niks hou van kameras nie, was baie sjarmant getooi. Dit is steelkiekie.

kristel loots (3)

Die kos was ook rooi.

kristel loots (5)

kristel loots (7)

kristel loots (8)

kristel loots (6)

kristel loots (1)

Die gaste was mooi in rooi getooi.

kristel loots (2)

kristel loots (12)

Die huis was ’n ongelooflike ervaring.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Waar was jy toe… André P. Brink sterf?

Februarie 7, 2015 in Uncategorized

Julle weet mos, ’n mens onthou daardie oomblikke. Waar was jy toe…karina en andre

Karina Szczurek en André P. Brink, op 13 November 2014

Ek weet presies waar ek was toe ek hoor van André P. Brink se dood. Ek weet selfs na watter CD ek geluister het.

Ek is Saterdagoggend vroeg deur Wellington toe, want die Wellington-gesinstak van die ATKV het ’n entrepreneursgeleentheid vir skoolkinders aangebied. Op pad terug, net buite Wellington, lui die foon. Dit is ’n joernalis van Eye Witness News. Toe hoor ek: André P. Brink se lang, lang skaduwee is nie meer nie.

Ek glo nie ek is reg, of het selfs die reg, om ’n huldeblyk te skryf nie.

Ek gaan eerder vir julle vertel wat ek in Wellington gedoen het, want daar, net ’n klipgooi van Breyten Breytenbach se geboortehuis, is ’n geleentheid aangebied wat vir André P. Brink sou laat glimlag.

Die Wellington-gesinstak van die ATKV het begin om entrepreneurskapklasse aan te bied vir jong leerders uit die distrik. Daar is hopeloos te veel werkloosheid en té min kinders sal ooit in die formele sektor werk kry.

Nou werk die ATKV saam met die Polisie, die Plaaswerkersforum, AgriMark en die plaaslike skole om ’n aantal kinders ’n intense kursus te gee in entrepreneurskap.

atkv entrepeneurs ammal

A.O. Pierre Hugo (Suid-Afrikaanse Polisie), Klaas Morkel (Plaaswerkersforum), Herbert Sills (Voorsitter van die ATKV Wellington-gesinstak), Petrus Fortuin (Mentor), Jack de Jager (ATKV-lid), Roné Sills (ATKV), Tharina schweidler (ATKV), Jimmy Cloete (Mentor), Barend Sylvester (Agrimark), Melvina Mason Hearne (ATKV) en Niklaas Thomas (Entrepreneur)

Die projek dek ’n formele kurrikulum waarin die kinders geleer word hoe om produkte te identifiseer, hoe om professioneel op te tree teenoor kliënte, hoe om te bemark en selfs hoe om later logo’s te ontwerp vir hulle eie besigheid.

AgriMark het saad geskenk waarmee die kinders kan begin woeker, maar die jongelinge moet ook allerlei praktiese goed doen om meer uit te vind oor hoe bestaande besighede in hulle omgewing werk. By elke skool is ook ’n mentor, iemand wat reeds op plase werk, wat die kinders sal lei en sal raadgee met die kweek en versorging van hulle saailinge.

Uiteindelik sou ’n mens hoop dat hulle sal hekel, of brei, of houtwerk doen of karre was, of wat ook al, solank hulle self sal begin besef hulle moet geld maak deur dienste te bied wat ander benodig.

niklaas thomas

Niklaas Thomas, wat ’n mens! (Kliek hier vir ’n YouTube-video)

Vanoggend was Niklaas Thomas, daardie bobaas motorwasser daar om die kinders aan te moedig. Mense, was dit ’n belewenis. Hy is nie net slim nie, hy het ook ’n fantastiese aanslag met kinders. Onnies, neem kennis. Ek sal Niklaas vir ENIGE skool aanbeveel. (Ek weet nie hoe goed sy Engels is nie, maar sy Afrikaans is pragtig.)

atkv Niklaas Thomas

Niklaas bekoor oud en jonk

Afrikaanse organisasies, soos die ATKV, doen deesdae oneindig baie vir die mensdom. Dit is wat André P. Brink ook in sy lewe gedoen het.

Ná ek my feite op die iPad getik en ’n laaste keer bladgeskud het met Niklaas en die groot name van die ATKV-tak, klim ek en my Avanza en ry terug huis. Ek kies Johannes Kerkorrel en was besig om te luister na “Hillbrow”, toe die foon lui en Eyewitness News se verslaggewer my vertel  van André P. Brink.

Al wat ek vir die res van die pad kon dink was: André sou ook trots gewees het op dit wat vanoggend op Wellington gebeur het.

Brink het naby ons gewoon en tot onlangs het ek hom nog gereeld fier en regop sien stap om ’n koerant te gaan koop, kierie en al. Sy grootmaakdogter, Olga, het in 2013 matriek geskryf by St George’s Grammar School, waar my seun ook is.

olga

Olga, van wie André in ’n Vurk in die pad vertel, gedurende 2012 in my ateljee geneem

Dit was ’n voorreg om soms in sy dampkring te beweeg. Dit was egter ook ’n enorme voorreg om ’n paar uur na sy dood te beleef hoeveel Suid-Afrika reeds ten goede verander het in André P. Brink se leeftyd.

brink  potgieter

André P. Brink en sy uitgewer, Alida Potgieter, van Human & Rousseau, geneem op 13 November 2014 in The Book Lounge

Profile photo of izakdv

by izakdv

ATKV-Dramaskryfskool by Woordfees

Februarie 2, 2015 in Uncategorized

atkvdraakdrama

Hear ye! Hear ye! Willem Wikkelspies mag een van die bekendste dramaturge wees, maar Suid-Afrika het self ’n ongelooflike aantal skrywers vir die verhoog. As jy wil leer hoe om jou eie drama te laat vlieg, skryf in!

atkvdrama

Die ATKV bied van 5 tot 7 Maart 2015 tydens die US Woordfees in Stellenbosch ’n skryfskool aan vir nuwe, jong en opkomende dramaturge.  Vir drie dae lank sal daar aan dramatekste geskryf en geskaaf word.  Onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in: genre en styl, storielyn, karakterisering en dialoog, asook opvoerbaarheid.  Tydens praktiese werksessies sal kursusgangers nuwe tekste skep.

atkvdraakdrama3

Die kursusleiers is Dr. Pierre-André Viviers (beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks 2012 en 2014, Anderkant nêrens se mense, Droombos), Johann Smith (beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks 2008 en 2011, draaiboekskrywer vir 7de Laan, skrywer van o.a. Simfonia, IntussenIN en ONSkuld) en Tina Kruger (mede-skrywer van die film Leading Lady, die jeugdramareeks Sterlopers en die dramareeks Getroud met Rugby 5, asook skrywer van toneelstukke soos Slotte en Grendels, NX Brieweboks en Kaaskenades).

Hennie van Greunen (van Wordsmith’s Theatre Factory, skrywer van Tjello(esie) en Violin(ce), Lara Smit: Boernooi, Blougat, Lyf, Anna se Engel, Oorlog, Die Hangkas Haas, Die Laaste Aand, Junkiedrome, Café Boerlesque, K, gly en Jong Dames Dinamiet, asook vertaler van formaat) en Wim Vorster (skrywer van Skimmespel, Waterman, Terugkere, Kruispad, Smeltkroeg en Pretpark, asook outeursregadministrateur en bibliotekaris by DALRO vanaf 2000 tot 2010) sal as gassprekers lesings aanbied.

Die koste vir die skryfskool beloop R980 per persoon – dit sluit die kursusmateriaal, middagetes en ligte verversings in.

Alet Steenkamp, tienerboekskrywer wat in 2014 die skryfskool bygewoon het, beskryf dit as “een van die beste skryfskole wat ek bygewoon het. Die terugvoer en kommentaar op my teks het dit baie waardevol gemaak.” Nog ’n kursusganger sê: “Ek sal elke jaar kom, dis hoe verrykend dit was.”

atkvdraakdrama2

Kom, skep ’n nuwe teks met behulp van kundige leiding en praktiese wenke! Stuur ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za of skakel 011 919 9078 vir meer inligting.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 13 Februarie 2015.

Die slypskool is vir almal in die hoërskool en ouer. Enige een is welkom om aansoek te doen.