by

eMajuba, ’n baie gebalanseerde teks

Januarie 22, 2015 in Uncategorized

emajuba

Ek was baie aangenaam verras met Dawie Louw se roman, eMajuba. Dit is ’n vars, nuwe blik op die Anglo-Boereoorlog, maar ook ’n teks wat verskeie generasies van vryheidsvegters in die Suid-Afrikaanse samelewing ondersoek, waaronder MK. Selfs die Ierse Republikeinse Leer word betrek.

Ek sal my bes doen om nie te veel van die storie weg te nie, maar enige een wat nog twyfel: Lees dit! Dit is oor en oor die moeite werd. Ek sien die boek begin op Goodreads ook spoed optel, en met reg.

Koop dit en lees dit, dan kom julle terug en kyk of julle met my idees saamstem. As julle egter meer wil weet, goed, ek sal probeer om nie die pret te bederf nie.

Terloops, in die boek is die outeur net bekend as d louw, heel funky.

d louw

Dawie Louwe saam met Madri Victor van die US Woordfees. Dawie praat om 12 Maart, 12:00, in die Erfurthuis met die bekroonde radiopersoonlikheid, Iris Bester, tydens die Woordfees. Die koste is net R40. Moenie dit misloop nie!

 

Die oorlog in moderne letterkunde

Die Anglo-Boereoorlog is nog lank nie uitgewoed in die psige van die Afrikaner nie en die afgelope ruk het uitstekende boeke rondom hierdie tema ontstaan, dink maar aan Kamphoer van François Smith, Sirkusboere van Sonja Loots en Fees van die ongenooides deur PG du Plessis.

Nou het Dawie Louw sy eMajuba hierby gevoeg en Bets Smith se pas verskene Onder ’n sterrehemel moet ook bygetel word.

Elkeen van hierdie tekste ondersoek ’n ander hoek en eMajuba betrek sommer ’n aantal ander oorloë ook.

 

Die storie in ’n neutedop

Die verhaal begin in die hede met die aankondiging dat ’n verkragtingsaak teen die stinkryk Boris de Beuck teruggetrek is. Nóg ’n ryk man loop skotvry weg ná hy ’n vrou wreed aangerand het.

Dié keer het Boris egter die verkeerde meisie oorrompel. Nelia is ’n kuberkenner en sy werk veral op die voorkoming van kuberterrorisme, daarom het sy egter ook toegang tot stelsels wat die meeste kuberkrakers se oë sal laat traan van begeerte. Nelia gaan haarself laat geld. Boris en die ander vennote van DBR moet maar net weet hulle stelsels sal nie teen háár kan staande bly nie.

Nelia kry ook steun vanuit ’n onverwagse oord: Ene Retief Boshoff kontak haar en bied sy hulp aan. Hy is ’n geskiedkundige en hy het boonop ’n historiese wrok teenoor die De Beucks: Sy oumagrootjie is tydens die Anglo-Boereoorlog wreed verkrag en die gesin glo dat ’n De Beuck van die buurplaas moontlik verantwoordelik was. Die ergste van alles is dat die De Beucks joiners was. Hulle plaas het dus gedy tydens die oorlog terwyl die Boshoffs alles verloor het.

Terwyl Nelia dus werk aan ’n wraakaanval op Boris de Beuck se maatskappy, is Retief Boshoff besig om stap vir stap sy eie geskiedenis, en dié van die De Beucks, aan Nelia op te dis.

Retief se eie pa en ma was ANC-kaders, terwyl Boris de Beuck se oom hom by die weermag aangesluit het.

Meer wil ’n mens nie verklap nie. Lees die boek.

 

Die belang van Majuba

Daar is ongelukkig twee besliste kampe onder Afrikaanses rakende die twee Vryheidsoorloë wat deur die Boere geveg is.

  1. Die eerste kamp toon ‘n matelose verering vir alles wat suiwer en wit is in die Afrikaanse geledere en daarmee saam dra hulle steeds ‘n wrok teen alles wat Engels is, dan haat hulle boonop swartes ook, want swartes het glo die Engelse gehelp tydens daardie oorloë.
  2. Die ander, liberale, kamp skaam hulle gewoonlik vir die regses en verkies daarom om so min as moontlik te doene te hê met die twee Vryheidsoorloë en alles wat daarmee gepaard gaan.

Praat jy met die eerste kamp, was daar slegs ongelooflike heldhaftige mense aan Boerekant, en die Engelse was massamoordenaars. Die tweede kamp weier weer dikwels om heldhaftige aksies aan die Boere toe te dig en taamlik gereeld word daar smalend verwys na lafhartigheid en onbeholpenheid aan Boerekant. In tweede kamp is daar ook ‘n ongemak om veel te wil weet oor die konsentrasiekampe en daar heers meestal ‘n totale apatie jeens die feit dat ‘n klein handjie vol ongeskoolde soldate die magtige Britte kon aanpak en ontsettend goed kon doen teen hulle.

Blameer dit apartheid, maar ek was vir lank in die Tweede Kamp. Ek kon en wou my nie met die regse takhare vereenselwig wat die vierkleur uitpluk en haat verkondig teenoor alles wat nie suiwer wit en Afrikaans is nie.

Vreemd genoeg het ’n aantal liberale Engelse vriende my aan die lees gekry oor die Vryheidsoorloë en so het ek raakgesien dat daar nié in kampe gedink hoef te word nie. Ek hou my steeds nie op met die vierkleurswaaiers nie, maar ek begin verstaan dat talle wit en swart Suid-Afrikaners baie opgeoffer het tydens daardie Anglo-Boereoorloë. Ek kan ook al hoe meer parallelle raaksien tussen die konsentrasiekampe en die manier waarop Israel deesdae die Palestyne hanteer.

Hoe meer ek die konteks raaksien van wat in die kampe gebeur het, hoe makliker is dit vir my om die psige van die Boerevegters te probeer verstaan. Had ek toe geleef, sou ek beslis ook die Britte wou moer.

Tog, hoe meer ek lees en verstaan wat daar gebeur het, hoe kwater word ek vir Malaniete wat ‘n paar dekades later die loutere snert van rassesegregasie begin koppel het aan die Boereoorlog.

Die Nasionaliste van doerie tyd het die swart mense se lyding tydens die oorlog heeltemal geïgnoreer en het wit mense gebreinspoel om hulle te laat glo in sogenaamde suiwerheid.

Nou, na ek vir baie jare nie veel wou weet oor die Anglo-Boereoorlog nie, het ek besluit om nie daardie geskiedenis uit te verkoop aan die regses nie. Ek lees nou weer daaroor. Ja, daar was talle lafaards. De la Rey was byvoorbeeld nie sterk leier nie en het hom die hele tyd deur die ou bedrieër, Siener van Rensburg, aan die neus laat lei, maar daar was ook uitstekende krygers onder die Boere en honderde heldhaftige, ongeskoolde Boere wat onverskrokke teen ’n oormag geveg het. Wat meer is, daardie ongeskoolde Boere het met die slag van Majuba iets reggekry wat net die Amerikaners nog kon regkry: Hulle het die magtige Britse Ryk bloedneus geslaan.

Die Eerste Anglo-Boereoorlog was ’n laagtepunt in die Britse Ryk en dit is waarom hulle soveel geld, hulpbronne en mense in die Tweede Anglo-Boereoorlog gepomp het. Die realiteit is egter dat hulle nie die tweede oorlog kon wen op ’n konvensionele manier nie, daarom dan die barbaarse taktieke wat die afbrand van plase en die interneer van vroue en kinders ingesluit het.

In beide hierdie oorloë was daar puik mense, mans en vroue, wit én swart, wat hulle alles gegee het om die Britte te verslaan. In eMajuba is daar byvoorbeeld ’n vrou wat as spioen optree. Bets Smith se Onder ’n sterrehemel het ook so ’n karakter. Daar wás sulke vroue. Bets skoei haar spioen op die ware verhaal van die vrouevegter Johanna van Warmelo.

 

Die belang van eMajuba, die kuberslag

In d louw se eMajuba vind daar inderdaad ’n eMajabu plaas. Die magtige Britse ryk word baie hard geslaan deur ’n aantal vasberade Suid-Afrikaners, maar hóé moet julle maar self lees. eMajuba moes die wrede sterftes in die konsentrasiekampe wreek. Nou, maar as ’n honderd jaar later, was daar weer iets wat die Britse koningin kon laat sweet.

 

Die belang van eMajbu, die boek

Die grootste krag van eMajuba is dat dit die Anglo-Boereoorlog uit die hande van suiwer, wit Afrikaners haal. Die tweede Majuba word behaal deur mense wat alles behalwe “suiwer” is, tog is hulle Afrikaans.

Wat meer is, die teks betrek ANC-kaders as positiewe rolmodelle – Chris Hani is byvoorbeeld ’n gesiene man in hierdie teks.

Ek is baie positief oor eMajuba, want, soos met Chanette Paul se Ewebeeld, word die lot van vroue ook hier deeglik ondersoek.

Ek is, terloops,  skepties is oor die kwantummodel wat die kuberspesialiste gebruik, maar nou ja, gelukkig sou slim kuberkruisvaarders dieselfde kon regkry met meer konvensionele wapens, so die storie self val glad nie plat nie, dit is maar ’n slim sci-fi-speletjie. Nelia erken op bladsy 182 dat sy uiteindelik meer “konvensionele kuberkraakmetodes” ook inspan.

 

Dus?

Dus, lees die boek. Dit kry met reg baie goeie resensies. Ek het dit baie geniet.

 

Onthou die Woordfeesoptrede

12 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

3 antwoorde op eMajuba, ’n baie gebalanseerde teks

  1. Baie dankie Dawid Louw vir hierdie uiters aktuele boek ( al skryf jy die storie as fiksie ) wat binne die werklikheid van vandag net op die regte tyd verskyn.
    Ons nuwe geveg is weer teen die imperialiste wat weer op ons eie bodem ons wil vernietig – hierdie keer is die aanslag teen ons taal ( en kultuur ? ).
    Dankie dat jy op meesterlike wyse en onbeskaamd die gevaar uitwys en ons ( hopelik! ) sal laat toetree tot hierdie “Derde Vryheidsoorlog”.
    Ons mag nie “joiners” word nie, ons mag nie “verraaiers” word nie, ons moet “bittereinders” wees.
    Ons wag vir die opvolg.

  2. Ek weet seker nie wat ek mis nie maar hetophou lees met die eerste beskrywing van ene Retief Boshoff wat op die blakon uitstap en oor die stad uitkyk met ‘n glasie wyn in die hand.. die beskrywing was so soetsappig ek kon nie verder lees nie. Het deur die boek geblaai en nog dele daarvan gelees maar het die skryfstyl onvolwasse gevind. Ons bespreek die maand e Majuba by ons leeskring en die skrywer is self aan die woord. Miskien oortuig hy my om weer die boek op te tel…

  3. Ek weet seker nie wat ek mis nie maar hetophou lees met die eerste beskrywing van ene Retief Boshoff wat op die blakon uitstap en oor die stad uitkyk met ‘n glasie wyn in die hand.. die beskrywing was so soetsappig ek kon nie verder lees nie. Het deur die boek geblaai en nog dele daarvan gelees maar het die skryfstyl onvolwasse gevind. Ons bespreek die maand e Majuba by ons leeskring en die skrywer is self aan die woord. Miskien oortuig hy my om weer die boek op te tel…

Los ’n antwoord vir Magriet Rossouw. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.