by

Waar sit my vrou se mojo?

Januarie 20, 2015 in Uncategorized

katerina se mojo

Katerina se mojo gaan oor ’n vrou wat besef haar lyf wil nog, maar haar man is lewensmoeg.

Wanneer hy wil Kanada toe, sien sy nie kans nie.

Die vraag is, kan haar man haar red of moet sy haarself red?

Ek het Katerina se mojo gelees.

Ek dink manne moet ook maar uitvind oor hulle eie vroue se mojo.

Nou ek is ’n man, sien, so toe dink ek: Dalk moet ek by Kristel ’n paar wenke kry. Ek hoop die ander manne lees hierdie onderhoud; en Katerina se mojo is ’n lekker storieboek, so dalk moet hulle dit ook sommer lees. Jy sal nooit weer ’n stuk broccoli in die oë kan kyk sonder om aan hierdie teks te dink nie.

kristel loots

Foto: L’Atelier Fotografieateljee

 

Izak: Waar sit my vrou se mojo?

Kristel: Ag, as meer mans maar kon weet waar ’n vrou se mojo sit! Dis die versugting van soveel vroue wat probeer oorleef met mans wat jare lank al lomp en verbete op verkeerde plekke daarna soek omdat hulle niks weet van ’n vrou se binnewerke nie.

Dis tog so eenvoudig. ’n Vrou se mojo sit natuurlik in haar kop. En haar hart. En natuurlik is dit ook goed gesetel in haar lyf, hoe dan nou anders? Maar dit sal meer as ’n blote biologieles neem om dit vir die meeste mans te leer.

Hoe-om-jou-huwelik-te-red-boekies probeer nou al jare lank vir al wat man is verduidelik dat ’n vrou met haar eie ore wil hoor dat jy vir haar lief is. En dat sy dit met haar eie oë wil sien. En nee, die grotmanmetode het nie eens in die oertyd gewerk nie.

Daar is mans wat meer troetelnaampies vir hul honde het as vir ‘die vrou in die kombuis’. Fluister gerus sweet nothings in haar ore wanneer sy dit die minste verwag, of verras haar met ’n skelm soen in die nek terwyl sy haar voor ’n warm stoof staan en afsloof en haar mojo ontwaak dalk uit die diepe koma waarin jy dit geplaas het.

’n Lojale man wat hom nie teen ’n lamppaal vasloop wanneer daar ’n blondine op stelte verbykom nie, een wat genoeg finesse het om sy gedagtes vir homself te hou, is steroïede vir ’n vrou se mojo.

’n Man wat sy arm om sy vrou se skouers slaan wanneer sy koud kry, selfs langs die braaivleisvuur waar sy pêlle kan sien watter softie hy eintlik is, wakker ’n mojo aan wat oënskynlik al aan die aftree was. Want eintlik raak ’n vrou se mojo nooit buite werking of oud nie, dit vergader net stof omdat dit in onbruik raak.

If you don’t use it, you lose it. ’n Mens wil tog nie met jou mojo mors nie. Om dit rond te swaai vir ’n man wat dit nie eens raaksien nie, is om pêrels vir die swyne te gooi.

 

Izak: Hoe kan ek my vrou se mojo beskerm?

Kristel: ’n Vrou se mojo ís baie broos en, feminisme ten spyt, is dit gewoonlik maar ’n man wat daardie mojo in full force all-systems-go na vore laat kom. Maar dis dikwels ook die einste liefde in haar lewe wat ’n vrou se brose mojo in skerwe kan laat spat. Soms met opset, maar partykeer ook uit onbeholpenheid, onkunde en plein onnoselheid. In Katerina se mojo het die liewe Simon op ’n stadium ’n draai by die bloemiste gaan maak. ’n Uitstekende plan. As hy vir Katerina ’n bos blomme sou laat aflewer, het haar mojo ’n baie nodige boost gekry. Maar toe besluit hy in sy voortvarende manlike stompsinnigheid om haar op ’n ander manier te verras. Behalwe dat Katerina Simon se alternatiewe geskenk met mening en afsku in die asblik wou werp, is sy ook diep seergemaak deur sy gebrek aan insig. (Sug!) ’n Vrou se mojo kan voorwaar sleg verniel word in die roekelose hande van ’n man.

Iemand behoort dit vir elke man op aarde te verduidelik dat selfs al staan jou vrou 20, 30 of meer jaar met ’n voorskoot om die lendene gegord in jou kombuis, is sy nog steeds nie deel van die meublement nie. En so terloops, selfs ’n meubelstuk moet gekoester en af en toe gepoets word as jy dit nog lank wil gebruik. Hou ook in gedagte dat die meubels wat jare gelede aanmekaar getimmer is toe goeie vakmanskap nog gegeld het, gewoonlik langer hou as “die pléstiekgoed van vandag wat almal made in China is.”

’n Man wat weet van ’n vrou se mojo en omgee daarvoor, sal weet watter antwoord om te gee op die vraag: “Laat hierdie rok my vet lyk?” Sonder om ’n leuen te vertel en so sy vrou se vertroue in hom te skaad. “Maar liefie, hoe dan nou anders? Jy ís dan vet,” is helaas ook nié die beste manier om ’n vrou se mojo te aktiveer nie.

 

Izak: Het ek ook ’n mojo?

Kristel: Ja, net jammer die meeste mans verstaan nie die meganisme daarvan nie en weet dus nie wat om daarmee te doen nie. Ek sou graag wou sê dat ’n man se mojo direk verband hou met sy vrou se mojo. As my mojo en jou mojo bymekaar uitkom, kan dit in ’n moewiese mojo ontaard.

Maar daar ís mans, ver en wyd en dun gesaai, die onweerstaanbare George Clooney-tipes, wat ’n mojo uitstraal wat jou verblind – heeltemal op hul eie. Natuurlik het voorkoms baie daarmee te doen, maar dit strek heelwat verder. Dis sy ‘smoothness’, ’n sekere ondeundheid in die diep-donkere geheimsinnige oë, dis die brute krag wat uit hom straal. Mans soos daardie het mojo par excellence! Mans met mag kan met ’n vrou se mojo toor.

Dit gaan daaroor dat ’n vrou veilig voel by so ’n man. Asof sy, met haar mojo in haar skoot, maar net agteroor kan sit terwyl hy die drake vir haar verslaan. En dit lag-lag doen terwyl hy so tussendeur ’n koffietjie sluk. Daarom staan die skoonhede, mojo in die hand, tou om sý mojo in te adem.

Ek dink dis wat Simon aanvanklik vir Katerina was – ’n ridder met ’n mojo. Maar dit was lank, lank gelede…

 

Izak: Die titel, Katerina se mojo, trek nogal die aandag, maar daar is tog ’n tikkie mistiek aan. Wat het jou daarop laat besluit en hoe belangrik dink jy is die titel van ’n verhaal?

Kristel: O, baie belangrik. Die titel is die eerste wat jy sien of hoor van ’n boek. Die titel en die omslag en die hele verpakking van die boek as ’n produk, kan daardie boek maak of breek. Dis waarom uitgewers en medewerkers so ’n groot rol speel in die sukses van jou boek. Ek skryf bloot die storie, die woorde is myne, maar die res van die boekmaak word gedoen deur hierdie dikwels onbesonge agter-die-skerm-werkers.

Dit gebeur blykbaar dat lesers soms na ’n geskikte boek soek op Google of ’n ander soekenjin. As jy ’n moordverhaal skryf sal woorde wat verband hou met bloed en derms in jou titel natuurlik help dat lesers by jou boek uitkom. So is daar ook ’n paar woorde wat lesers van ’n liefdesverhaal nader sal lok. Die titel moet verband hou met die inhoud van die boek en dis veral waar vir nie-fiksie. As jy oor skroewedraaiers wil lees, moet die woord skroewedraaier verkieslik in die titel wees.

Maar ek dink as jy fiksie skryf hoef die titel nie alles so presies uit te spel nie. Daar moet juis iets in die titel wees wat die leser nuuskierig maak, ’n tikkie misterie, sodat hy of sy sal wonder: Nou waaroor gaan hierdie boek nou eintlik? ’n Titel moet met jou leser se kop speel om haar nader te lok.

 

Izak: ’n Mojo is nie iets wat ’n mens normaalweg verwag om in ’n liefdesroman se titel se sien nie. Dis mos iets soos ’n gelukbringer, ’n talisman. Hoe bring jy die storie uit by Katerina se mojo?

Kristel: ’n Regte, egte mojo is glo ’n toorsakkie vol goetertjies wat in voodoo gebruik word, maar dis nou nie eens naastenby waaroor ek skryf nie. Daar is nie ’n perdehoef óf ’n haaspootjie êrens in die boek te vinde nie.

’n Vrou se mojo is iets heeltemal anders, maar daar kleef ook iets geheimsinnigs aan. Jy het dit of jy het dit nie en jy kan dit ook nie koop of by iemand leen nie. Dis iets soos… dis jou sjarme, jou oemf, jou woema, jou sprankel, daai ding, die eks-faktor waarsonder geen vrou wil wees nie, ’n sekere energie.

Solank as wat jy jou mojo het, is jy “in the zone” en jy leef voluit. Jy’s op ’n high. Maar jy kan jou mojo verloor as jy nie versigtig is nie. En dis… terrible.

Dis ’n sinkende gevoel as jy besef jy het dit verloor.

Die titel van die boek het eers ’n paar wilde draaie gemaak voordat daar op Katerina se mojo besluit is. Aanvanklik is die boek nogal geskryf onder die vaandel, 50 Fantasieë.

Maar ons wou darem nie hê sy moet gesien word as baie naby familie van “daardie ander boek” nie. Daarna is Katerina geskryf onder die titel, Broccoli is nie blomme nie. Wat iets weergee van die onbeholpenheid van ’n man wanneer hy ’n vrou probeer behaag. Maar die titel sou heel moontlik te vreemd wees en my slim uitgewers het besluit op Katerina se mojo.

 

Izak: Die feit is, broccoli ís nie blomme nie en dié stukke inligting, of dalk gebrek aan inligting, laat Katerina se mojo met ’n ernstige knou. Die lesers moet nou maar self lees, maar, in het breë, hoe kry mens jou mojo terug?

Kristel: Om jou mojo te verloor is nie heeltemal dieselfde as om in ’n depressie te verval nie. Dis net… ’n lig wat in jou doodgegaan het.

Dis wat met Katerina gebeur het, dinge wou net nie vir haar reg loop nie en daarom het dit vir haar begin voel sy het haar mojo verloor en dis ’n baie hartseer ding om te gebeur.

Ek dink die eerste stap wat jy moet neem, is om te besef dis nodig om jou mojo terug te kry en veral dat niemand dit werklik vir jou kan gee nie. Jy sal dit self moet terugkry. Soms gebeur dit dat ’n mens platgeslaan word deur tragedies wat ek my nie eens wil verbeel nie, en dan sal dit baie moeilik, indien nie onmoontlik wees nie, om weer regtig op te staan en aan die dans te gaan.

Maar die gewone dinge wat met mens gebeur, jy verloor jou werk, of jou geliefde draai sy rug op jou, jou seun druip matriek, of ’n duif blerts op jou kop, daardie tipe van ding, is iets wat verwerk moet word. En jy sal jouself moet ken om te weet hoe jy dit gaan doen.

’n Vrou in haar liefde verlaat kan maklik aflei haar mojo is nou vir altyd verlore en desperaat probeer om ’n nuwe man in haar lewe en haar bed te kry. Iets wat maklik op ’n ramp kan uitloop.

 

Izak: Ek is na aan vyftig. Liefdesverhale oor middeljariges en selfs effens ouer mense is nie so algemeen nie, maar jy doen dit. Het dit jou skryfstyl tot ’n mate beperk om vanuit die perspektief van ’n meer volwasse persoon te skryf?

Kristel: Katerina is amper vyftig. Nog nie heeltemal vyftig nie, maar baie amper en vir haar, soos vir baie vroue wat nie van beter weet nie, is dit ’n verskrikking. In ’n vrou se lewe is elke dekade wat sy betree in ’n mate ’n Rubicon. Dit vát aan ’n mens. Aan jou lyf, maar veral aan jou psige. Natuurlik is Katerina nog lank nie oor die muur nie. Deesdae is veertig die nuwe dertig en dit lyk my vyftig is ook die nuwe dertig. Katerina het beslis nog ’n groot aptyt vir dinge van die lyf. En sy het nogal ’n probleem daarmee.

Maar… sy is ook menopousaal, sy hotflush vir die vales en soms oorreageer sy dalk ’n bietjie. En dieselfde tyd wat haar hormone in ’n harwar is, is die tweeling in hul tienerfase. Daarom is die huis waarin hulle bly soms ’n oorlogsone is.

Katerina is gebore in die stuiptrekkings van die Babyboomer-era, wat beskryf word as ’n tyd toe nuwe denke baie van die ou tradisionele gewoontes uitgedaag het. Ek dink ’n mens kan dit selfs al sien in die karakter van Katerina se ma, waar die tannie eintlik die broek in die huis dra; iets waarvan Katerina glad nie hou nie omdat sy ’n besonder sagte plekkie vir haar pa het.

 

Izak: In die boek lees ons van emigrasie. Met die groot getal Suid-Afrikaanse expats wat die afgelope jare hul die wêreld oor gevestig het, is dit seker ’n baie relevante kwessie. Hoe raak dit die lewens van die gesin in jou boek?

Kristel: Radikaal. Soos vir enige werklik lewende gesin en familie. Dis dikwels die misdaad in die land en wat beskou word as die verval van sekuriteit en infrastruktuur oor die algemeen wat mense hierdie besluit laat neem. Suid-Afrikaners wat die land verlaat word dikwels ook gekritiseer oor hul keuse. In Simon se geval, sou daar selfs meer kritiek teen sy besluit kon wees en Katerina gee hom ook lekker gas toe hy, as dokter, besluit om Kanada toe te gaan. Sy eie land het dokters baie nodig en hy hardloop weg na ’n plek toe waar die sneeu vensterhoog staan.

Hiermee kon Katerina net nie vrede maak nie en dis wat die gaping tussen haar en haar man laat ontstaan het, maar daar was ’n goeie rede waarom Simon sy dokterstassie wou pak en landuit wou gaan. Ek dink dokters oor die algemeen, die wêreld oor, beleef traumatiese ervarings en ’n Suid-Afrikaanse dokter wat in ’n staatshospitaal werk, kan maklik oorweldig voel en later aan iets soos uitbranding ly.

Dis net dat Katerina nie met haar man se idees en gedagtes oor emigrasie kon saamstem nie. Daar was te veel waarvan sy sou moes afskeid neem en sy was nog nie bereid om dit te doen nie.

Om te verhuis word beskou as een van die mees stresvolle ervarings van ’n mens se lewe. Om te emigreer is soveel erger. Alles wat jy agterlaat, waarvan jou mense die grootste hartseer is. Ek dink almal wat ’n familielid oorsee het, sal identifiseer met Katerina se tweestryd en die probleme wat daarmee saamgaan om so ’n radikale verhuising aan te pak.

 

Izak: Jou vorige boek, Die ander vrou, het van jou lesers gevra om na die verhaal van die ánder vrou in ’n verhouding te luister en het hulle feitlik gedwing om simpatiek teenoor haar te wees. In hierdie geval is daar weer ’n ander vrou, maar dis iets heeltemal anders en ek sal nie die speletjie weggee nie, maar hoekom is sy hier?

Kristel: Helaas, ja. Maar dis hierdie keer ’n ander vrou van ’n ander aard. Nog iets waarvan ek dink baie van my lesers ondervinding het. In die werksplek skuur mans en vroue op daaglikse basis skouers met hul kollegas van die teenoorgestelde geslag. Natuurlik is hierdie verhouding veronderstel om suiwer professioneel te wees en dit is seker so in die meeste gevalle, maar kollegas leer ken mekaar tog ook op persoonlike vlak. Hulle gesels in die hyser of oor ’n koppie tee, hulle weet dikwels van mekaar se kinders en selfs heelwat van mekaar se persoonlike sake.

Die grootste deel van sy wakker-ure bring ’n man, in hierdie geval ’n dokter, deur saam met die mense in sy werksplek. Hulle werk is ook hul belangstelling, ’n man se loopbaan is sy lewe. En natuurlik ’n man is geprogrammeer om nie te multi-task nie. Anders as ’n vrou wat nooit regtig ophou dink aan haar kinders by die huis nie, is dit van nature dalk vir hom makliker om daardie gedagtes opsy te skuif terwyl hy in sy beroep staan. Voeg al hierdie dinge saam en ’n vrou kan soms bekommerd raak dat haar man ’n meer intieme verhouding met daardie sexy girl by die werk het as met jou. En daardie intimiteit hoef nie noodwendig fisiek van aard te wees nie.

Maar dan is dit te verstane dat daar trouble in paradise sal wees.

In ’n mate is dit ook dikwels die man se werk as sodanig wat “die ander vrou” in jou huwelik kan wees. Dis dan dat ’n vrou soos Katerina kan vereensaam wanneer haar man só betrokke raak by sy werk, dat hy skaars weet wat by sy huis en met sy huismense aangaan.

Daarom gebruik ek ook die aanhaling van Anaïs Nin voor in die boek:

Man can never know the loneliness a woman knows. Man lies in the woman’s womb only to gather strength, he nourishes himself from this fusion, and then he rises and goes into the world, into his work, into battle, into art. He is not lonely. He is busy.

 

Izak: Dit lyk tog vir my asof jy sê dat Katerina, en ander vroue, se mojo deur ’n man gedefinieer word. Gaan die feministe nie vir jou kwaad word as dít is wat jy verkondig nie?

Kristel: Ek dink miskien het die oorspronklike hard core feministe die ding verkeerd beetgehad; die ortodokse, sterk liberale feministe: “A woman without a man is like a fish without a bicycle.” Dis nie heeltemal waar nie. Ek dink soms feministe het hul bras verbrand en toe in ’n stywe, ongemaklike borsrok geklim en dis nie baie slim nie. Katerina is nie die kaalvoet-en-pregnant-in-die-kombuis-tipe nie, sy het wel ’n feministiese streep in haar. Sy wil juis nie sommer net so by Simon se planne inval nie en glo sy kan sonder hom klaarkom as dit is wat nodig is. Die ‘fish without a bicycle’-gedagte. Dit gaan vir my nie daaroor dat ’n vrou noodwendig na ’n man, soos in enige man, smag nie. Jy hoef dus nie aan jou siel en liggaam skade te doen deur vir ekonomiese of sosiale redes ’n man aan jou sy te hê nie. Jy behoort ook nie emosioneel afhanklik te wees van die Noag se ark-konsep van een man, een vrou nie.

Dit gaan dalk eerder daaroor dat daar ’n man kan wees, ’n spesifieke man wat so ’n groot rol in jou lewe speel dat om sonder hom te wil leef, sal wees om halfpad te leef. Dan jaag jy feminisme by die voordeur uit.

Selfs na ’n egskeiding is ’n goeie en gesonde verhouding met die pa van jou kinders baie nodig. Daar kan seker nooit genoeg geskryf word oor die hartseer en verlies wat met ’n egskeiding gepaard gaan nie; en hoe dit die kinders beïnvloed nie. Hulle kies tog maar kant, al doen hulle dit nie altyd openlik nie. En daar is soveel ander mense wat ook beïnvloed word wanneer ’n huwelik rotse se kant toe vaar. Wat van die skoonmense aan beide kante? Deur die jare wat jy getroud was, was jy ook deel van hul lewens en het julle dalk vir mekaar lief geraak. Ook daar kan harte oor en weer gebreek word.

 

Izak: Katerina se mojo word beskryf as ’n Romantiese Komedie. Wat is dit aan die verhaal wat dit as sodanig kwalifiseer?

Kristel: ’n Romantiese komedie, of dit ’n boek of ’n fliek is, kan beskryf word as ’n ligte en humoristiese vertelling van ’n verhaal waarvan die sentrale plot rondom ’n liefdesverhaal draai, een met ’n gelukkige einde. ’n Skrywer soos Marian Keyes is byvoorbeeld bekend vir die skryf van romantiese komedies. Tog kan niemand haar verhale afmaak as suiwer fluff nie. Sy roer soms baie ernstige temas, soos alkoholisme en siektes, aan in haar boeke.

Miskien lê die definisie van ’n romantiese komedie in die verteltrant daarvan. Die gebeure in die verhaal is nog net so traumaties soos in enige ander, maar dit word met satire of sinisme met die tong in die kies vertel om die absurditeite wat so deel van die lewe is, uit te lig.

In Katerina se ervarings is daar baie om oor te huil, maar daar is ook baie om oor te lag.

Die skoolhoof en ander stereotipe karakters wat ek so probeer skilder het, tree miskien nie altyd op soos daar van hulle verwag sou word nie. En ek hoop die lesers gaan die situasies waarin hulle beland as humoristies ervaar.

 

Izak: Die redigeringsproses en om soms oor te skryf is deel van boekmaak. Hoe ervaar jy dit en hoe nodig dink jy is dit?

Kristel: Teen die tyd dat ’n skrywer ’n manuskrip na die uitgewers toe stuur, het jy ’n gesplete persoonlikheid ontwikkel. Die een oomblik is jy seker daarvan dis die grootste klomp tjol wat nog onder jou vingers op die sleutelbord gevorm is en die volgende oomblik is jy seker daarvan dit gaan die treffer van die jaar wees en pryse wen wat nog nie eens bestaan nie.

Jy wys hierdie nuwe baba van jou, die uitgewer trek die kombersie van die gesiggie af weg en stuur vir jou ’n verslag wat sê jou baba is nie so wonderlik soos jy gedink het nie en daar’s dinge wat aan haar verander moet word.

Dis nooit lekker om te hoor nie. Oorskryf is nou eenmaal nie lekker nie. Dis soos om ’n rok wat jy klaar gemaak het, los te torring en oor te maak. Jy moet versigtig wees dat die stekies nie wys waar dit losgetorring is nie.

Ek is gewoonlik platgeslaan vir ’n dag en ’n half wanneer ek ’n manuskrip terugkry en dit nodig is om baie daaraan te verander.

Killing your darlings is ’n wrede en pynlike proses. Hoe dit moontlik is, weet ek nie, maar dis altyd daardie dele wat ek gedink het asembenewelend is, wat nie vir die redigeerder werk nie.

Maar natuurlik is dit gewoonlik nodig om aan ’n manuskrip te skaaf al het jy ook gedink jy het al klaar al die polishwerk gedoen.

 

Izak: Probeer jy deurentyd by die “reëls” van die genre bly?

Kristel: Terwyl ek skryf, vergeet ek soms ’n bietjie van die redigeerder, want anders gaan ek so geïntimideer word dat ek die hele tyd oor my skouer gaan loer, selfs wanneer die muse met my aan die dans wil gaan. En natuurlik vat ek soms kanse, ek oortree die sogenaamde reëls en hoop maar die uitgewer sal dit laat verbygaan, of selfs genoeg daarvan hou om te sê: O, dís nou oulik.

 

Izak: Skryf jy jou boeke om dit verkoop te kry of om iets van jou hart af te kry?

Kristel: Weet jy, ek skryf tog maar vir die geld én die glorie, maar ook omdat dit net eenvoudig so lekker is. Dit is wat ek in my klein hoekie doen. I am, therefore I write.

Terselfdertyd voel ek daar rus nogal ’n verantwoordelikheid op ’n skrywer om, as dit enigsins moontlik is, te sorg dat jou boeke verkoop word. Jy is dit aan jou uitgewer, wat uitgawes aangegaan het, verskuldig om nie net gelyk te breek nie, maar ’n wins te maak, sodat dit vir hulle die moeite werd sal wees om weer iets van jou te publiseer. Daarom ook is bemarking vir ’n skrywer van soveel waarde, en bekendstelling en die voorreg om oor haar boeke te gesels.

 

Izak: Jy het al ’n hele paar boeke geskryf. Waar kom jy aan jou stories? Kom hulle na jou toe aangestap? Het jy ’n sekere patroon waarvolgens jy skryf?

Kristel: Daar is ’n tydjie tussen boeke wanneer ek my van die vorige storie probeer losmaak. Gewoonlik klop die volgende storie mos aan die deur terwyl jy nog aan die vorige skryf.

In die tussenintye probeer ek ’n bietjie meer lees as gewoonlik, ek kyk fliek en die beste van alles – hou mense dop; ek luister na hul stories.

Maar eintlik is ek een van daardie skrywers wat die meeste van my inspirasie kry terwyl ek teen die wit plafon vaskyk. Daar speel die meeste tonele voor my oë af. Met ander woorde verbeelding is nog die put waaruit ek die interessantste temas en karakters skep.

 

Izak: Raak jy ooit persoonlik betrokke by jou karakters of sukkel jy om van hulle afskeid te neem?

Kristel: Ek dink alle skrywers is ’n bietjie ‘van die pad af’. Terwyl jy aan ’n verhaal skryf, kamp die karakters in jou kop en trek hulle amper saam met jou en jou gesin in jou huis in. Ek weet ek klim saans saam met myne in die bed. En soms droom ek selfs van hulle.

Skryf is magic. Soos wat ’n boek vir jou lesers ontvlugting bied, soveel te meer vir ’n skrywer. Daar is meer as een lewe te leef, al is dit net in jou verbeelding.

Ek lag en huil letterlik saam met die karakters in my boeke. Ek dink as ’n mens ’n storie so kan vertel dat jy jouself emosioneel kan raak by die lees daarvan, jouself hardop kan laat lag of aan die ween kan kry oor die toneeltjie wat jy voor jou oë sien afspeel, dan het jy, met Groot Genade, geslaag met die vertel van die storie. Die afskeid van jou karakters is nooit maklik nie, behalwe dat jy soms, soos met gewone kuiermense later gatvol kan raak vir hulle en wens hulle wil hul ry kry.

 

Izak: Hou jy die leser altyd in jou gedagtes? Hoe sien jy haar en vir wie skryf jy nou eintlik?

Kristel: Ek skryf hoofsaaklik vir vroue van alle ouderdomme, want dis een van die wonderlike dinge wat ek ontdek het: Hoe eenders ons is en hoe anders. Die basiese wense en begeertes dra ons almal met ons saam, dit maak nie saak hoe jou lyf lyk of hoeveel jaarringe daar op jou nek is nie. Die hunkering en begeerte na liefde is jou metgesel, seker maar tot die dag van jou dood. En natuurlik in elke vrou skuil daar so ’n ietsie van ’n flirt, en van ’n feeks, en van ’n engel en natuurlik ’n duiwel. Nog iets wat ek deur die jare geleer het, is dat ’n vrou mos nie noodwendig aan haar binnekant net so oud is soos aan haar buitekant nie.

Ek wens mans wíl soms ’n liefdesverhaal of twee lees. Dit kan hulle dalk insae gee in hoe die binnewerke van ’n vrou werk en dít kan tot almal se voordeel strek.

 

Izak: Hoe verskil ’n liefdesverhaal wat sowat tien, twintig jaar gelede geskryf is, van een wat in 2015 gelees word?

Kristel: Ek het groot respek vir die vroeëre skrywers wat ons ander ‘wannabees’ nog steeds uitlag as dit by verkope kom. En ek wens ek kan met hul bankrekenings spog. Maar tog dink ek die liefdesverhale wat nou geskryf word, is meer lewensgetrou. Dit het veral te make met die taal wat gebruik word. Dis nie meer suiwer Algemene Beskaafde Afrikaans wat gehandhaaf en gebesig word nie.

Ek verstaan dat dit vir puriste ’n probleem kan wees, maar ek is baie mal daaroor dat uitgewers jou toelaat om te skryf soos daar gepraat word.

Verder moes alle verhale, nie net die liefdesverhale nie, ’n facelift ondergaan. Tien, twintig jaar gelede was daar nie sosiale netwerke nie, van Twitter en Facebook het die skrywers sowel as die karakters in die boek niks geweet nie. Deesdae loop mense met ’n slimfoon of ’n tablet in hul hande rond, hulle Skype mekaar en daar word selfs “virtueel gevry” – as ek daardie woord kan gebruik. Van al hierdie verwikkelings moet daar melding gemaak word wanneer jy oor mense skryf wat dit in die werklike lewe sou gebruik.

 

Izak: Hoe belangrik is terugvoer vir jou en watter terugvoer kry jy oor jou verhale?

Kristel: My innerkind smag na goedkeuring en lek elke smeerseltjie heuning om die mond op wat vir my uitgedeel word. Om te hoor van ’n leser wat jou boek geniet het en om te sien sy ‘get’ wat jy daarmee probeer sê het, is een van die vreugdes van skryf. Sosiale media het die poort na kommunikasie tussen skrywer en leser oopgegooi en dit moontlik gemaak om te hoor waarna lesers van liefdesverhale soek. Nie almal is altyd orals ewe mal oor alles wat jy skryf nie, maar dit gee jou dan ook die geleentheid om hulle te probeer verlei om weer een van jou boeke te beproef en, wie weet, dalk nog lekker daaraan te lees.

0 antwoorde op Waar sit my vrou se mojo?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.