Profile photo of izakdv

by

Marita van der Vyver: Van Rooikappie se ouma tot ’n ouma wat rock

November 21, 2014 in Uncategorized

10376259_10152448119006064_2134128937146422362_n

Foto: Marita van der Vyver se amptelike Facebookblad

Marita van der Vyver se boek, Die coolste ouma op aarde, het reeds ’n paar mense geïnspireer om oor hulle eie oumas te besin. Toe vra ek haar om ons te vertel waar sy aan hierdie blink gedagtes gekom het.

49969229_0_Img2

Marita, Die coolste ouma op aarde is ’n prettige boek. My vrou het al klaar besluit dis die kerskouspakkie vir ’n paar jongmense wat ons ken. Waar kom die idee vandaan?

Dis ’n láng storie want dit kom al ’n lang pad saam met my. Ek was as jong vrou weird genoeg om goeie kinderboeke te begin versamel, omtrent soos my tydgenote goeie wyn versamel het. Teen die tyd dat ek ma geword het, het ek klaar ’n hele biblioteek gehad – en dit het my en my kinders die afgelope 20 jaar veel meer plesier gegee as wat ek ooit uit ’n wynversameling sou kry. (’n Bottel kan jy net een keer oopmaak en wat binne-in is net een keer geniet, ’n boek kan jy oor en oor oopmaak en oor en oor geniet.)

Ek het die ou meesters van kinderboekillustrasies in my versameling, mense soos Maurice Sendak (Where the Wild Things Are is seker sy bekendste, maar my eie gunsteling is In the Night Kitchen) en Tomi Ungerer (ek het ’n stokou Afrikaanse vertaling van sy klassieke Die drie rowers), en ek het saam met my kinders aanhoudend nuwe gunstelinge ontdek. Soos die Britse Anthony Browne met sy onweerstaanbare gorilla-prentjies en Babette Cole (Mamma het ’n eier gelê bly een van die prettigste maniere om “die feite van die lewe” met jou kinders te deel) of meer onlangs die Duitse Wolf Erlbruch (wys my die kind wat nie gek is oor Die storie van die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het nie).

Tog, dit het my van die begin af gepla dat so baie van die oumas in kinderboekillustrasies nie lyk soos die lewende oumas wat ek om my sien nie! Toe my seun Daniel klein was, het dit my groot vreugde verskaf om hom en my ma saam dop te hou. Sy was ’n wonderlike ouma, maar sy het glad nie soos ’n storieboekouma gelyk of opgetree nie. Sy het nie ’n grys haar op haar kop gehad nie, sy was ’n verpleegkundige wat haar lewe lank buite die huis gewerk het, sy het rondgery en rondgereis en verskriklik gelees. Omtrent tien jaar terug, toe ek weer eens nuwe kinderboeke saam met my dogter Mia ontdek, het ek agtergekom die storieboekoumas het helaas nog steeds nie verander nie.

Maar die finale hupstoot vir Die coolste ouma op aarde was waarskynlik dat ’n paar van my vriendinne onlangs vir die eerste keer ouma geword het – en ek kon net nie aan hulle dink as “oumas” nie. Party van hulle is so sexy en die woord ouma is so onsexy! Toe besluit ek om iets aan die saak te doen, sodat die oumas in ’n boek ook ’n slag soos regte oumas kan rock.

10500579_734067623314012_5357481662581007020_n

Het jy cool oumas gehad? Vertel ’n bietjie?

Nee. Maar dis nie hulle skuld nie. Daai tyd was Afrikaanse oumas nie veronderstel om cool te wees nie. My pa se ma het soos ’n storieboekouma gelyk met spierwitgrys hare en ’n sagte, ronde lyf so lank terug soos ek kan onthou. Ek het nou die dag met ’n skok besef dat sy baie jonger as ek was toe sy al so gelyk het!

My ma se ma het hare op haar ken gehad wat ons gesteek het – my sussie het altyd weggehardloop as sy haar moes soen – en spatare wat soos blou slange om haar kuite gekronkel het en waarvoor ek my morsdood gegril het. Maar sy’t die lekkerste tjoklitkoek gebak wat ek ooit geproe het en sy’t my ma se ou papierpoppe in ’n plat boks gebêre en my toegelaat om daarmee te speel, so dit was vir my heerlik om by haar te kuier. My dogter het nou nog daardie verflenterde ou papierpoppe hier in Frankryk en hopelik sal sy dit eendag weer vir haar dogter, wie weet waar in die wye wêreld, gee. Dit is waar die papierpoppe in my roman Die blou van onthou  vandaan kom – nog ’n storie oor ’n ouma en ’n kleinkind. [Die blou van onthou ook as e-boek.]

10624727_736128063107968_8166899329118088582_n

Jy het ’n groot aantal verskillende oumas beskryf. Sterk vroue, mense wat uitstaan. Selfs die enkele oumas in jou boek wat skynbaar stereotiep is, staan op hulle eie bene in hulle eie, lelike skoene. Daar is iets aan die boek wat my vertel dit is eintlik ’n boodskap aan jongmense (veral jong meisies) dat hulle mag droom. Is ek reg?

Ek’s soms verstom – en dikwels gevlei – oor die boodskappe wat mense in my boeke lees waarvan ek glad nie bewus was terwyl ek dit geskryf het nie! Al wat ek eintlik met hierdie boek wou doen (behalwe om oumas bietjie te laat rock), was om kinders te laat verstaan dat elke ouma uniek is, en dit maak nie saak hoe jou ouma lyk en wat sy doen nie, ’n regte, lewende ouma is beter as enige storieboekouma.

Daar’s baie kinders wat sonder oumas grootword of wie se oumas te ver woon om ’n hegte verhouding met hulle op te bou. My ma is dood in dieselfde week as wat my dogter gebore is, dus het Mia nooit haar Afrikaanse ouma geken nie, en haar Franse ouma woon in die verste hoek van Frankryk. Ek het gesien hoe mis sy ’n ouma wanneer haar maatjies oor hulle oumas praat.

10003017_733546233366151_7183059874107992209_n

Zinelda McDonald se illustrasies is só lekker. Hoe het julle mekaar gevind en saamgewerk?

O, sy’s ’n vonds! Sy’s bloedjonk en nog onbekend, maar ek kan nie spog dat ek haar gevind het nie, dit die uitgewer, Miemie du Plessis, wat ons bymekaar uitgebring het. Al wat ek gedoen het, was om my neus op te trek vir ’n paar ander illustreerders se werk wat Miemie vir my gewys het. (Ek moet haar bedank vir haar geduld want ek’s vol fiemies as dit by illustrasies kom.) Maar jy weet, nes ’n versamelaar van goeie wyn nie sommer enige dooswyn sal drink nie, sal ’n versamelaar van goeie kinderboeke mos ook nie tevrede wees met illustrasies wat soos Disney of Pixar se animasiekarakters lyk nie! Maak nie saak hoe tegnies perfek sulke prentjies is nie, dit kort ’n eie karakter.

Die groot illustreerders wat ek bewonder, se werk is onmiddellik herkenbaar as hulle s’n en net hulle s’n. Meesters soos Maurice Sendak het inderdaad verskillende style vir verskillende stories beproef, maar as jy eers wéét hy het die storie geïllustreer, kan jy jou nie voorstel dat enigiemand dit anders sou kon doen nie.

Daar’s ’n soort onvermydelikheid aan goeie illustrasies. Presies hierdie prentjies pas by presies hierdie woorde. Dís die gevoel wat ek gekry het toe ek Zinelda se eerste proefillustrasie sien – van die ouma wat soos ’n rock-ster saam met ’n kleinkind konsert hou – en ek het dadelik vir Miemie laat weet: I think we got it.

1469765_733184876735620_7929231965752310663_n

Jy was baie suksesvol met tienerverhale, soos Hanna Hoekom. Natuurlik is jy onder grootmense bekend vir die talle romans, sketse en selfs kortverhale wat jy geskryf het. Nou ’n kinderboek. Dis ’n wye aantal registers wat jy moet bespeel. Hoe doen jy dit?

Dis darem nie my eerste kinderboek nie. Ek glo dat elke skrywer minstens een keer elke dekade ’n kinderboek moet skryf. Dis die beste manier om in voeling te bly met die kind in jouself, met die grenslose verbeeldingswêreld van ’n kind, wat so dikwels krimp soos ons ouer word.

Maar wat al my verskillende soorte boeke betref, jy ken mos die gesegde van nood leer bid? Vir my was dit nog altyd ’n geval van nood leer skryf. My “nood” is dat ek heeltyds boeke wil skryf, sonder ’n day job om die pot aan die kook te hou, en ek kan nie elke jaar ‘n volwasse roman skryf nie. Daar is wonderlike skrywers wat dit kan regkry, maar ’n volwasse roman kos my gemiddeld drie jaar. Daarom het ek my repertoire van die begin af uitgebrei na ander genres.

Elke nuwe genre is ’n enorme uitdaging wat my onbeskryflik bang maak, maar ek skryf beter as ek bang is. En ek soek steeds nuwe uitdagings. Ek het laas jaar vir die eerste keer ’n radiodrama geskryf en pas vir die eerste keer ’n draaiboek vir ’n rolprent aangedurf.

Jy is ’n kenner op die gebied van sprokies. Sprokies spreek tot ons kollektiewe geheue. Die coolste ouma op aarde is egter opsetlik modern. Hoekom?

Onthou, die ouma is ’n belangrike argetipe in sprokies. Dink maar aan Rooikappie, seker die bekendste van al die Westerse sprokies. Ek het van kleins af gewonder hoe is dit móóntlik dat jy nie die verskil tussen jou ouma en ’n wolf kan sien nie! En toe ek meer as twintig jaar terug Griet skryf ‘n sprokie geskryf het, was dit ook ’n opsetlik moderne weergawe van ’n spul Grimm-sprokies. So miskien is Die coolste ouma op aarde maar net nog ’n tree op die pad wat ek lewenslank met sprokies loop. Van Rooikappie se ouma tot ’n ouma wat rock?

As jy eendag ’n ouma gaan wees, watter soort ouma gaan jy wees?

Daar’s een ouma in my boek “met ’n wilde bos spierwit hare en vreeslik baie boeke”. Sy lê in die bed, nie omdat sy siek is soos Rooikappie se arme ouma nie, maar omdat dit die lekkerste plek is om te lees. Ek hoop nogal dat ek so ’n ouma sal word, maar omdat ek ’n skrywer is wat nie beplan om ooit “af te tree nie, sal ek seker meer agter ’n rekenaar sit en skryf as in ’n bed lê en lees!

c coolste ouma

* * *

Onthou, Marita nooi jou om ’n foto van jou en jou kleinkind op haar Facebookgroep te plak. Die oulikste foto sal jou die kans laat staan om saam met Marita te gaan koffie of tee drink wanneer sy volgende jaar weer Suid-Afrika toe kom. As jy slim genoeg is om ’n kopie van Die coolste ouma op aarde by jou foto in te sluit, dan gaan jy sommer nog punte bykry!

* * *

Koop Die coolste ouma op aarde hier.

* * *

Lees ook:

Benny Lindelauf: My ouma was ’n leunstoel vol stories

Izak de Vries: My cool ouma die proffie

Izak de Vries: My ouma was nie noodwendig die coolste nie

* * *

Ek het vroeër vanjaar met Marita gesels oor haar siening van boeke vir die jongvolwassemark. Lees dié onderhoud hier.

0 antwoorde op Marita van der Vyver: Van Rooikappie se ouma tot ’n ouma wat rock

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.