Profile photo of izakdv

by

Om oor seks te skryf

Oktober 11, 2014 in Uncategorized

Twee opmerkings van twee skrywers het my aan die dink gesit.

Die eerste was ’n ruk gelede toe Karina M. Szczurek (outeur van Invisble others) aan Karin Schimke gesê het sy is “interested in sexuality beyond which she is comfortable.” Vir haar is ’n boek, of dan om te lees oor daardie soort seks, ’n manier om in haar verbeelding te deel in dít wat sy nie noodwendig aan haar lyf gedoen wil hê nie.

Toe skryf Johann de Lange gister die volgende: “Izak, ek het gevoel dat die boek te veel seks bevat & te min oor my alledaagse lewe wat sê nou maar ‘n hetero leser sou boei. Die dagboekinskrywings het ek nooit geskryf met die oog op publikasie nie, maar as iets om my in te verkneuter/verknater op my oudag. Ek het die ms twee keer onttrek & besluit om my gut te vertrou.”

Nou moet ek Johann de Lange se stuk in konteks plaas. Hy het dit aan my op Facebook geskryf (as ’n openbare kommentaar) nadat ek navraag gedoen het oor die nie-verskyning van sy boek Gulp.

Ek en hy het daarna ’n paar privaat boodskappe ook gewissel, maar vir nou is dit ter sake dat Johann raakgesien het dat ’n kommersiële sukses nie noodwendig sal spruit uit hierdie teks nie. Was ons in die VSA sou dit genoeg verkoop het om ’n wins te maak, in Suid-Afrika is dit onwaarskynlik dat ’n kommersiële uitgewer hulle geld sal terugkry.

Dit is grootmoedig van Johann, maar ek dink dat daar ander roetes is om wel die teks te laat verskyn.

Die vraag is egter of die heteroseksuele persoon sal belangstel in so ’n teks? Wat my terugbring na die gesprek tussen Schimke en Szczurek, waar hulle ’n verhoog gedeel het met Michiel Heyns en Damon Galgut. Dié gesprek het op 17 September plaasgevind tydens die Open Book Fees en was getiteld “Writing Sexuality”.

Schimke het die gesprek gelei en het uitgelig dat iets soos “cottaging”, ’n Britse woord vir cruising in openbare toilette (genaamd cottages in staid England) vir haar ’n nuutjie was, ook dat ’n mens uit Michiel Heyns se beskrywing veel meer leer as bloot nuwe woordeskat. (Sien ook hierdie resensie van A city imagined.)

Uiteindelik is daardie cottaging-ervarings wat Heyns beskryf natuurlik nie veel anders as die glory holes en ander vorme van mans optel in Suid-Afrika, of elders, nie. Trevor Kleynhans se Secrets make you sick het vir my ’n baie goeie insig gegee in hierdie wêreld. Daar is ook talle Nederlandse romans wat hierdie seuntjie van die plaas gehelp het om meer te leer oor wêreld. (My komvandaan is kleindorps, ek is op rekord dat Hammond Innes se boeke my die eerste keer laat verstaan het wat seks beteken. Nou ja.)

So, hier wil ek met Szczurek saamstem: Dit is goed om te kan lees hieroor.

Om oor seks te skryf, en openlik daaroor te wees, gaan egter oor meer as net voyeurisme (wat tog ’n groot deel van lees oor seks is).

Galgut en Heyns het ook daar by Open Book gewys dat D.H. Lawrence se Lady Chatterley’s Lover grootliks geskryf is as ’n vorm van protes – nie net teen die klassisme wat so openlik in die boek betrek word nie, maar ook teen die nie-uitpraat-nie oor seks, want, so het Lawrence klaarblyklik geglo, die onderdrukking van seksualiteit lei net tot seksuele siektes.

Dink ’n bietjie aan wat John Fowles beweer in The French Lieutenant’s Woman – dat daar meer bordele was in Victoriaanse Engeland as in enige ander tyd. Hoekom? Seks is onderdruk en dan soek mense dit elders.

Donderdag, ’n paar dae gelede, het Phophi,  ’n jong (swart)  vriendin van my dogter op Facebook, geskryf (sic): “I honestly Think that if more black parents talked to their children about sex and relationships instead of just pretending the entire ordeal doesnt exist, we would see a huge recession in the number of Teenage pregnancies and HIV rate… Dont be that parent!

Beter as dit kan ek nie sê nie.

Ek probeer hard om juis nie daardie soort ouer te wees nie. My matriekdogter kla selfs dat ek te veel oor seks praat. Ek moedig ook my dogter aan om wyd te lees – ook oor seks. Enige iets van John Cleland se Fanny Hill: Memoirs of a woman of pleasure tot Fifty shades of Grey dra ek aan. Ook visuele pornografie weerhou ek nie van haar nie.

Ek ervaar deur ander te lees.

Ek wil hê my dogter moet ook.

Daarom is die skryf van ervarings oor die self belangrik.

Brent Meersman se 80 gays around the world is ’n goeie voorbeeld van ’n teks wat handel oor seks. Aan die een kant is dit ’n klomp bieg-jy-of-brag-jy-stories. Meersman se sekservarings laat die meeste van ons groen van jaloesie, maar dit is óók ’n diep menslike boek oor taboes wat mense seermaak. Mike Nicol het oor hierdie boek gesê: “These stories transcend the gay theme, they are about people making (or failing to make) their way in the world.  Their essential human condition is easy to feel and identify with.”

Tydens die Open Book gesprek het Galgut en Heyns juis ook daarvan gewag gemaak dat “queer sexuality” geensins homogeen is nie. In verskillende dele van Afrika word dit anders uitgeleef en dit verskil ook baie van die onderskeie Europese kulture. Dink ook aan die belangrike werk wat mense soos Zackie Achmat doen in die joernalistiek met persoonlike verhale.

Daarom moet ons skryf en beskryf. Meersman se 80 gays around the world is hoogs aan te bevole. Ek sê dit vanuit my eie, veilige, heteroseksuele perspektief.

Ons moet ook, soos Meersman, die verskrikking van sensuur aanspreek. Dink aan die geweld wat teen gay mense gepleeg word in talle dele van die wêreld, maar ook steeds teenoor heteroseksuele mense wat dit durf waag om die erg konserwatiewe geloofspolisie in enige van die groot wêreldgelowe uit te daag.

By Open Book het Schimke Fanie Viljoen se Uit voorgehou as ’n voorbeeld van iemand wat dit durf waag om sy eie mark te verklein met die doel om ander ter wille te wees.

Uit

Viljoen is bekend vir sy uitdagende tekste, soos Pleisters vir die dooies en Breinbliksem, maar toe hy ’n openlik simpatieke gayteks geskryf het, was daar ’n wesenlike gevaar dat ’n deel van sy mark hom sou swartlys.

Toe Schimke vir Galgut vra of hy in ’n teks soos Uit sou belangstel, was sy antwoord dat hy dit nou waarskynlik nie meer nodig het nie, maar dat hy as ’n gay tiener in Pretoria waarskynlik maar te bly sou wees vir so ’n boek: “In Pretoria it might have been a fantastic godsend.”

Viljoen se boek is baie heteronormatief – die karakter probeer ontsettend hard om ’n “ware” seun te wees. Viljoen se leser het dit waarskynlik nodig, want soveel mense dink dis ’n keuse wat jy uitoefen om gay te wees. Uit toon hoe moeilik dit is om jouself te verloon ter wille van die samelewing se vooroordele.

Wat my terugbring by wat Johann de Lange gesê het: Markkragte is ongelukkig bepalend. Ek stem met hom saam. Tog. Daar mag daar mense wees wat juis uitgedaag sal wil word. Met die internet as medium en met e-boeke, sou ’n mens kon hoop dat nie alle tekste oor seks, ánders die streng heteronormatiewe tipe, noodwendig ongepubliseer gelaat sal word nie.

5 antwoorde op Om oor seks te skryf

  1. @izakdv
    Dankie vir hierdie – en ook dankie vir ‘n hele paar boeke wat nou gelees sal moet word.

  2. Gelukkig het mens altyd ‘n keuse. Gee my liewer boeke oor die siel, gees, gemoed, gevoelens. As die twee nog saamgaan en die balans is goed … wel.

    • izakdv het gesê op Oktober 15, 2014

      @Antjie, presies. Dis waaroor dit hier gaan. Sommige mense wil uitgedaag word op ander maniere as ander. Jy’s doodreg!

  3. Mag ek ‘n klip in die bos gooi? Ek is 100% vir die praat-idee. Vir openlikheid en eerlikheid en aanvaarding. Dat publikasies die gesprek en die oopkoppigheid kan aanmoedig, is nie altemit nie. Maar ek is effe dronkgeslaan dat ons die gesprek oor gay seks wil aanmoedig sonder dat ons ooit gewonder het of ons verby “Wat seuns/meisies wil weet” gevorder het t.o.v. straight seks. (Is dit hier ter sake of sit ek die gesprekspot mis?)

    Deel van die straight stilte is sekerlik dat romantici (soos ek) nie te veel oor seks wil praat nie, want ons wil die misterie behou. Of dan, as ons die misterie verloor het, wil ons ten minste die intimiteit daarvan beskerm. Dit maak ons dalk onwillige gespreksgenote in ‘n openbare debat.

    Maar ons is darem gewillig om tussen mekaar en met ons kinders daaroor te praat. Ek wil graag hê my seun moet weet hoe ‘n meisie se kop werk, nie net haar lyf nie. Ek wil hê sy meisie moet weet hoe syne werk. Ek wil (wou) graag vir hulle skryf daaroor. Sommer net stories, nie ‘n preek nie. Oor mense wat mekaar en hulleself moet leer verstaan. Maar ek het my vasgeloop in ouers wat nie wil glo dat agtienjariges (en jonger) nuuskierig is en ontdekkend met hulle eie en mekaar se lywe te werk gaan nie. Dat hulle seksueel aktief raak. Dat hulle meer en beter seks het as hulle getroude ouers.

    Dit is ‘n ontstellende gedagte dat jou kind grootword, ek weet, maar dis ‘n realiteit. En dis die ouderdom waarop dit gebeur. (Ek het lank genoeg vir studente klas gegee om te weet waarvan ek praat.) Tog sien ek min tienerboeke (in Afrikaans) oor straight seks. Ek sien min boeke waarin tieners seks het sonder dat dit in die gedaante van ‘n katastrofe of pornografie uitgebeeld word.

    My punt is: Daar is baie dinge waaroor ons nie praat nie. Die gay-seks-kwessie is een. Maar ek is hoegenaamd nie seker dat ons die “heteronormatiewe tipe tekste” wel sien nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.