Profile photo of izakdv

by

Naomi Meyer: ’n Storie kies nie ’n ouderdomsgroep nie

Mei 24, 2014 in Uncategorized

nm

Naomi Meyer debuteer met Ruik jy die filmster? Tans werk sy as inhoudsbestuurder by LitNet. Sy is ook ’n ma wat baie moeite doen om haar kinders aan goeie boeke bloot te stel.

Ek het haar ook gevra om ’n paar antwoorde te gee op ons vrae.

In die VSA word #IreadYA-week gevier. Ons is meer geneig te praat van jeuglit as jongvolwasselit. Is dit ’n leemte?

Of dit ‘n leemte is, weet ek nie. Dit hang af vanuit wie se perspektief jy kyk. Vanuit ‘n uitgewersperspektief, sou ek raai: as jy ‘n boek vir ‘n sekere teikengroep wil bemark, moet jy jou woorde reg kies. Jeugliteratuur klink soos skoolkinders. Jong volwassenes klink soos mense met wysheid en insig. Wie sal jy wil wees? En ‘n boek wat op watter een van daardie twee maniere verpak is, sal jy dan ook kies om te lees? (Prakties gesproke sal dit wel nogal ‘n lomp woord raak in Afrikaans, behalwe as ons dit ook afkort: jongvolwasse-literatuur.)

Om vir hierdie mark te skryf is bitter moeilik. Hoekom doen jy dit?

Ek het nie regtig gekies om Ruik jy die filmster? te skryf nie. ‘n Meisie met ‘n prominente geboortemerk op haar gesig het eendag op die sypaadjie by my verbygestap. En net daar het die storie begin. Of ek dit geskryf het vir iemand van veertig of veertien, het nie saakgemaak nie. Ek dink nie stories kies juis ‘n ouderdomsgroep nie.

Daar is ’n verskil tussen kinderliteratuur en jeugliteratuur. Wil jy verduidelik hoe jy dit sien?

‘n Storie kies nie ‘n ouderdomsgroep nie, maar ’n mens verstaan die lewe tog verskillend op verskillende ouderdomme. Emosioneel is mens nog nie reg om al die dimensies van die lewe te snap op vyf nie. Tog kan ‘n vyfjarige atmosfeer aanvoel so goed soos ‘n vyf-en-tagtig-jarige. Jou storie kan dieselfde wees, maar jou aanbieding moet geskik wees vir die mense wat jou ideale lesers is.

As ons nou van jong volwassenes praat: Watter drie jongvolwasselitboeke sal jy aanbeveel?

Ek onthou hierdie drie boeke uit my jeug (nie noodwendig uit my jongvolwassedae nie, ek was dalk nog in die laerskool): Blubber van Judy Blume, Ciske de Rat van Piet Bakker en Droomwa deur Barrie Hough.
’n Deel van my jeugboekverwysingsraamwerk was ook Die sakmense, ‘n Pakkie mieliepitte en Gezina en die bruin wind deur Maretha Maartens.

Vandag het ek kinders van my eie en is hulle nog klein. As ek vir hulle voorlees, het ek te doen met ‘n ander soort oorgangsletterkunde: peuterboeke vs kinderliteratuur. Boeke wat ek as volwassene geniet om vir hulle voor te lees, is die Narnia-reeks of die boeke van Roald Dahl. ‘n Juweel van ‘n boek wat ek onlangs ontdek het, is die boek Muncle Trogg deur Janet Foxley. Hierdie boek handel oor ‘n miniatuurreus, maar ek kan dit sterk aanbeveel vir alle ouderdomme mense!

4 antwoorde op Naomi Meyer: ’n Storie kies nie ’n ouderdomsgroep nie

  1. tina10 het gesê op Mei 24, 2014

    So sit mens ‘n mens agter die editor… interessant

  2. Wonderlik, ek sal beslis die boek koop en lees, dis great. Dankie hiervoor. Die arme Naomi moes al vele kere onder my kwaai e-posse deurloop as ek nie iets kon regkry op Litnet nie, soos om ‘n boodskap te los. Dan is ek altyd met ‘n glimlag gehelp. Dankie.

  3. Reguit wish list toe.

  4. Julle is almal gaaf (Izak, jy ook, om vir my die vrae te vra). En julle maak my baie skaam. Wil julle nie as bloggers gesels oor jeug- en kinderboeke wat julle van jongs af bybly nie? Oeps. Daar gebruik ek die woord “jeug” sommer so sonder om te dink …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.