Jy blaai in die argief vir 2013 Desember.

by izakdv

Maar Tintin in Tibet

Desember 27, 2013 in Uncategorized

MAAR TINTIN

 Te koop by Kalahari.

Ook beskikbaar as e-boek.

 As daar een boek is wat my heeltemal onkant gevang het in 2013, is dit Maar Tintin in Tibet deur Annelie Ferreira. Dit is vars, dit is anders en dit lees baie lekker. Dit is my goedvoelboek van die jaar.

Soos met alle resensies probeer ek baie hard om nie die verhaal weg te gee nie, maar ek wil tog waarsku: ’n Deel van hierdie boek se genot is om heeltemal onvoorbereid om te gaan met die teks. Dus: As jy nie jou lees wil bederf nie, gaan ervaar dit eers self. Dan kom kyk jy of jy met my saamstem.

Ek wil graag die boek oopkrap vir ’n leser wat meer wil weet, maar ek gaan poog om nie té swaar te wees nie, want die teks self is borrelend, al spreek dit moeilik kwessies aan.

 

’n Lekkerleesboek

Maar Tintin in Tibet is ten eerste ’n lekkerleesboek. Hoewel ek moeite sal doen om te verduidelik dat daar waarskynlik meer in die teks steek as wat ’n mens sou vermoed, sou dit ’n fout wees om nie in die eerste plek die teks te lees vir die suiwer genot daarvan nie.

Daar is skreeusnaakse oomblikke en die manier waarop Annelie Ferreira in ’n jong student se kop en taalgebruik kan inskuif, is benydenswaardig. So open die teks:

Dae soos daai Vrydag behoort te kom met ’n waarskuwing.

’n Soort shit alert, sê maar op jou selfoonwekker, verskaf deur ’n span van die Huisgenoot­-astroloog, Die Burger se Weerhaan en George Claassen. Dit behoort alle areas van shit te dek (bladsy 5).

Dit is ongetwyfeld die soort teks wat ouers vir hulle tieners (ouer as veertien) en hulle twintigers in die hand moet stop, maar eers self ook moet lees. Dit is dus ’n boek wat oud én jonk sal aanspreek, hoewel dit nie vir jong kinders veel sal beteken nie, daarvoor is die goed wat aangespreek word heeltemal te volwasse.

Ek dink byvoorbeeld nie my knaap van elf sal dit geniet nie, maar jong volwassenes, hulle ouers en hulle oupas en oumas sal.

 

Die karakters

Lukas is ’n predikantskind en het sy eerstejaar in teologie gedoen, maar toe opgeskop. Daarna is hy VSA toe waar hy vis gepak het om geld te verdien sodat hy kon studeer wat hý wil. Ons ontmoet hom aan die einde van sy derde jaar, pas klaar geskryf (daar is nog een sleepvak) en nou is hy op pad Struisbaai toe saam met Ingrid.

Ingrid is sy meisie, sy stukkie, sy lekkerindiebed. Ingrid is pragtig en die kelners kan nie hulle oë van haar borste afhou nie. Sy is ook baie slim. Wiskunde is haar ding. Dis nou as Lukas nie haar klere van haar lyf vry nie.

Lukas se pa, dominee Kruger van Bloemfontein, is een van daardie oudedoosdominees wat Radio Kansel luister en glo ’n vrou sal jou nie respekteer as jy eers met haar seks gehad het nie. Om die waarheid te sê, dominee Kruger van Bloemfontein glo die wêreld se probleme is volledig te danke aan Eva en haar nageslag, want hulle wil nie meer tevrede en onderdanig wees nie.

Ons leer ook, nogal onverwags, Lukas se ma ken. Sy was tot en met die begin van die boek ’n stil, sagte predikantsvrou. Nou moet die leser maar self sien wat gebeur, want haar nuwe vriendin dra nie ’n bra nie. Nodeloos moet ons ook erken dat dominee Kruger van Bloemfontein se iesegrimmige houding jeens vroue dalk juis te doen het met die “nuwe” vrou wat nie meer onderdanig wil wees nie. Ja, op dieselfde dag as wat ons, die leser, haar leer ken, leer Lukas en dominee Kruger haar ook vir die eerste keer werklik ken – al leef hulle reeds meer as twintig jaar met haar saam.

Lees maar self wat híér uitkom. Dis nogal sexy.

 

Die storie

Lukas en Ingrid is toe nooit Struisbaai toe nie. Op pad na sy woonstel ry ’n leerlingbestuurder sy Golfie flenters en terwyl hy nog daar staan en gesels met die man van die bestuurskool, bel sy pa om te sê hy (dis nou die dominee) staan en wag voor Lukas se woonstel.

Lukas haas hom na die deurmekaar woonstel en daar vertel dominee Kruger van Bloemfontein vir sy seun dat daar skynbaar ’n messias in Beaufort-Wes is, hulle twee moet gaan ondersoek instel.

Arme Lukas. Daar gaan sy naweek saam met Ingrid. Boonop, asof dinge nie erg genoeg is nie, sê Ingrid ewe skielik sy wil uitmaak.

Wat volg is ’n chaotiese paar dae waartydens Lukas en sy pa drie keer deur die Du Toitsklooftonnel moet ry voor hulle uiteindelik op Beaufort-Wes opdaag.

Wat hulle daar kry, gaan ek nie verklap nie, maar ek kan wel sê dat dit ’n Damaskuservaring was.

 

’n Uitdaagboek

Die teks ís uitdagend, hoewel dit dun is (net 143 bladsye) en soos ’n spanningsverhaal lees.

Aan die een kant spreek dit talle eg Suid-Afrikaanse kwessies aan: Rassisme, dweepgodsdiens, gay bashing, ’n Victoriaanse preutsheid rakende seks voor die huwelik, boersheid jeens seks oor die “kleurgrens”, armoede en roekelose taxis is maar ’n paar daarvan.

Pa sug graag: “Wat jy saai sal jy maai”, gewoonlik in gesprekke oor F.W. en die uitverkoop van die Afrikaners, vroue in die kerk, gays in die kerk, ensovoorts – hy’s NG predikant, maar van sy beste vriende is Doppers (bladsy 5).

Aan die ander kant vra die teks ook van die leser om sekere vooroordele af te lê:

Enigeen kan dit mos verstaan?

Enigeen wat nie soek na die geringste verskoning om in ’n tirade uit te flip oor die jong mense van vandag / nuwe Suid-Afrika / goddelose wêreld / tick a box nie (bladsy 20).

Dit is ook, soos Etienne van Heerden se Klimtol, ’n scriptible teks (aldus Barthe se definisie), die leser moet dus self sekere gate invul en help skryf aan dit wat nie gesê word nie.

Ons is bevoorreg om puik, toeganklike skrywers in Afrikaans te hê. Dink aan skrywers soos Chanette Paul en Karin Brynard, wat ook alledaagse Suid-Afrikaanse kwessies aanspreek, maar vir die gewone leser skryf. Paul en Brynard daag uit, hulle tekste is tjokvol literêre verwysings, maar is met besondere vernuf afgerond sodat die leser gewoon kan voortblaai en die teks geniet. Tog is daar diepgang vir dié wat dieper wil lees.

Ek sou Ferreira se Maar Tintin in Tibet ook in hierdie kategorie plaas.

’n Leser kan beslis die storie geniet sonder om die verwysings te snap (en hierdie leser het waarskynlik ’n groot aantal gemis). Tog, sonder die nodige skakels is die teks minder voltooid.

 

Die titel en die intertekste

Daar is verskeie belangrike intertekste en die heel belangrikste hiervan word reeds vir ons in die titel saamgevat.

bfw

Die woorde Maar Tintin in Tibet kom direk van Gert Vlok Nel se CD Beaufort-Wes se Beautiful woorde en wel uit die liedjie “Waarom ek jou roep vanaand”. Dit is ’n ode aan Koos du Plessis, die liedjieskrywer. Hier is die relevante aanhaling (ek het ’n paar skyftekens ingevoeg, maar die woorde is Nel s’n):

En ek weet nie of jy ooit ’n Tintenboek gelees het nie, Koos, maar Tinten in Tibet is die enigste boek waarin Tintin ooit gehuil het. Goodbye, Chang, Goodbye. Goodbye.

Die titel verwys dus na die Engelse vertaling van Hergé se Franse teks, en nie na die Afrikaanse vertaling nie.

Tintin in tibet

Tintin is die seun se Franse naam wat in die Engels behoue gebly het. Hy staan in Afrikaans natuurlik bekend as Kuifie. Annelie Ferreira het toe ’n kêrel genaamd Kuifie ingewerk in haar boek (bladsy 7).

Die volgende interteks sal natuurlik dan Kuifie in Tibet wees. Lesers sal beslis waarde vind om hierdie teks (weer) te lees, want ’n groot deel van die Ferreira se boek berus op ’n matriks wat geskep word deur Hergé se strokiesavontuur.

Op hierdie noot moet ek noem: Nel is verkeerd. Kuifie in Tibet is die TWEEDE boek waarin hierdie jong man huil. Die eerste boek waarin dit gebeur is Die blou lotus, en dit is net mooi daar waar Kuifie van die Chinese seun, Chang, afskeid neem. Daar rol die trane.

blue lotus

So, die fyn spel van teks en interteks gaan verder. Die leser kan Kuifie in Tibet lees sonder om Die Blou Lotus te ken, maar kennis van die eerste teks maak die lees van die tweede soveel meer pret.

Ditto natuurlik ook met Maar Tintin in Tibet en Kuifie in Tibet.

As julle verder wil delf, Gert Vlok Nel se teks wémel van intertekste. Julle kan gerus Gert Vlok Nel se liedjie “Waarom ek jou roep vanaand” ’n paar keer deurluister as julle klaar is met Maar Tintin in Tibet, al is dit net om die “beautiful woorde” te geniet.

 

Gert Vlok Nel se lied

Ek kan ’n hoofstuk in ’n akademiese boek skryf oor die intertekste tussen hierdie een liedjie, “Waarom ek jou roep vanaand”, van Nel en Ferreira se Maar Tintin in Tibet. Vir nou is dit belangrik dat Nel se lied gaan oor die verlies van onskuld, van groot word en die soeke na ’n held wat nie meer bestaan nie.

gert

Dit gaan ook oor die lewe (ek het weer ’n paar leestekens ingevoeg, maar nie woorde nie):

Jy was lank my swartste troebadoer, jy’t die troebel water van my hart geroer. Maar eintlik weet ek my hart was toe nog kouewateromoskoon vir die Here & Tintin om in te woon.

Die oorgang van kindwees na grootmenswees, gaan met verandering gepaard. Jy word bewus van die wêreld om jou:

Al die woorde het verander in die palm van ons hand & en nou is dit ’n vreemde land.

Nel se woorde is ’n elegie, ’n groet aan ’n vriend, maar praat ook oor ’n afsterf van iets êrens in jou binneste waarheen jy nooit weer sal kan terugkeer nie:

Koos die lyn is dood tussen my hart & jou mond se mooiste woorde.

Daar het reeds ’n uitstekende resensie van Maar Tintin in Tibet op LitNet verskyn. Professor Cas Wepener, wat spesialiseer in praktiese teologie, se resensie word hoog aanbeveel. (Cas Wepener, 2013. Maar Tintin in Tibet reis ver, maar ook binnetoe. LitNet. 8 Oktober 2013.)

Hiermee twee kort aanhalings uit Wepener se resensie wat Nel se woorde dalk beter sal toelig:

In vyftien kort hoofstukke word jy dan ook saamgeneem op ’n reis in ’n Mercedes waarin kinders en ouers, die liefde, “rigting in die lewe” en godsdiens vir ’n boeiende en prettige leeservaring sorg.

Asook:

En pa en seun se verhoudings met die vroue in hulle lewens staan juis op hierdie oomblik voor besondere uitdagings. 

Belangrik: “die lyn is dood” tussen pa en seun aan die begin van hierdie boek. Pa is ’n bedonderde predikant wat nie glo in voorhuwelikse seks nie, terwyl Lukas en Ingrid al lankal hierdie sotlikheid afgegooi het; en dit is maar net die een oortjie van ’n enorme seekoei.

Meer nog: Kyk hoe gereeld Lukas se selfoon nie ontvangs het nie (“die lyn is dood” in Nel se woorde), en hoe belangrik hierdie tegnologiestiltes is vir Pa én seun in hulle verhouding. Wepener beweer dat hierdie netwerkstiltes nodig is die vir wonderwerke wat moet gebeur in dié teks.

 

Kuifie in Tibet

Vir diegene wat nié Hergé se Kuifie in Tibet ken nie, hiermee ’n vinnige opsomming (sonder om die klimaks weg te gee). Kuifie, Kaptein Sardijn en Spokie hou vakansie in die Hotel des Sommets in Vargèse, ’n fiktiewe dorpie in die Franse Alpe.

Kuifie keer terug van ’n deeglike staptog in die berg. Sardijn sê hy is nie nou lus die berge nie, want hulle is te gevaarlik. Kyk, beduie hy na die koerant, daar het pas weer ’n vliegtuig neergestort in Nepal. Die vliegtuig het tydens ’n storm in die berg vasgevlieg.

Kuifie raak aan die slaap ná sy lang wandeling en droom van Chang, die seun wat hy in China ontmoet het. Hy droom die seun roep om hulp.

Kort hierna daag ’n brief van Chang op waarin hy vir Kuifie vertel dat hy wil kom kuier en dit neem nie lank om uit te vind dat Chang op daardie gedoemde vliegtuig was nie.

’n Soekgeselskap het intussen uitgevind dat daar nie ’n enkele oorlewende op die vliegtuig was nie.

Kuifie is egter onkeerbaar: Chang het hom gekommunikeer in ’n droom, en het om hulp geroep. Hy glo vas Chang leef en só beland hy op ’n ongelooflike avontuur om sy vriend se lewe te red, al sê almal dat Chang lank al reeds dood is.

Nou wil ek nie die verhaal weggee nie, maar dit is baie belangrik dat hulle daar in Nepal hoor dat die Jeti, daardie mitiese oerdier van die Himalajas, daar rondhang waar hy Chang wil soek. Die vraag is dan tweeledig: Bestaan hierdie dier, en is dit ’n walglike, hartelose gedierte? Lesers moet maar self die antwoord kry.

Die antwoord op hierdie twee vrae hou direk verband met die soeke na die Messias in Beaufort-Wes. Bestaan die messias, en is die persoon ’n bitter gevaarlike mens?

Lees maar self, ek sal nie die spel weggee nie.

 

Verskeie ander intertekste

Lukas luister langs die pad na die Melktertkommissie en Bruno Mars. Sy pa luister RSG en Radio Kansel. Die Burger word gereeld gelees.

’n Leser kan baie tyd afstaan aan die ondersoek van die onderskeie intertekste, en ek dink dit sal ’n lekker uitdaging wees vir leeskringe.

Jack Kerouac se On the Road mag natuurlik ook betrek word.

complt

Ek moet ook ’n ander boek noem wat enige Kuifie-aanhanger maar kan aanskaf: Michael Farr se Tintin the complete companion (uitgegee deur Last Gasp in St Francisco) is regtig wonderlik.

 

Terug na Ferreira se teks

Ek het wel ’n stukkie kritiek, maar ek sal dit temper deur myself te antwoord.

Dominee Kruger van Bloemfontein, of dan Kaptein Sardijn soos Lukas na hom verwys, gaan ondersoek die Messias op ’n taamlike James Bond-manier. Teen die einde is daar selfs ’n klein pistooltjie onder sy arm vasgeknyp wanneer hulle die gevaarsone betree. Hy word die hele tyd van SMSe bedien (dis nou as daar ontvangs is) en in Beaufort-Wes is daar selfs ’n geheimsinnige boodskap wat op ’n voorafbepaalde plek vir hom gelos word.

Dit maak die teks spannend en, omdat daar ’n duidelike sprankie humor ingesleep word, vermaaklik. Tog moes ek my afvra wié nou eintlik die boodskappe stuur en hoekom?

Dit word nooit duidelik wie dit was nie. Die dominee word wel gelei om iets te aanskou wat ’n enorme impak op sy lewe sal hê, maar hoekom?

Ek voel wel dat dit kritiek is wat genoem moet word.

Die teenantwoorde wil ek ook verskaf.

  1. Kuifie, in Kuifie in Tibet, word ook “geroep” en die kommunikasie maak nie sin nie. Die leser moet dit aanvaar. Die intertekste is duidelik.
  2. Die Bybelverhaal van die Wyse Manne stel soortgelyke eise aan die leser. Hier is ’n klomp geleerdes wat skielik op hulle kamele spring (die outydse weergawe van die Mercedes) en hulle ry dat die stof klap agter ’n spul tekens aan wat vir buitemense geen sin maak nie.
  3. Dit is waarskynlik in dominee Kruger se geaardheid om alles ’n bietjie belangriker en spoggeriger te laat klink as wat die geval is. Die oubaas is dalk effens stereotiep in sommige opsigte, maar hy het my geweldig aan my eie pa laat dink. Daardie selfaangestelde spoggerigheid waarmee sekere Afrikanermans deur die lewe geloop het, kon ek onmiddellik mee identifiseer.
  4. Ek het vroeër genoem dat Maar Tintin in Tibet ’n scriptible teks is. Dit verwag dus van die leser om sekere afleidings te maak.

Ek beskou punt 4 nié as goed genoeg om gate in die vertelling toe te laat nie, maar ek dink dat die ander drie punte dalk beteken dat die leser kan help kopkrap oor hierdie saak.

Uiteindelik is die rit en die ontdekking al daar geldig. Die ervaring wat Dominee Kruger daar het, verander sy lewe. Lees maar weer die Bybel. In ’n Messiaanse verhaal is dít presies wat moet gebeur.

 

Karaktergroei

Een van die goed wat ons op skool ingeprent word, is dat daar groei moet wees in ’n karakter. Natuurlik is daar tekste waar groei juis nié plaasvind nie, maar in die een gebeur dit deeglik.

Lukas, sy pa, sy ma én sy meisie is beter mense wanneer die leser van hulle afskeid neem. Die veranderings wat hulle ervaar is boonop geldig en duidelik verantwoord.

 

Ter afsluiting

Ek moet ophou. Dié gesprek raak te lank. Onthou dus my woorde aan die begin: Maar Tintin in Tibet deur Annelie Ferreira is beslis my die goedvoelboek van die jaar.

Maar Tintin in Tibet, deur Annelie Ferreira, is in 2013 deur Tafelberg uitgegee.

by izakdv

Agter die skerms by ’n TV-onderhoud

Desember 24, 2013 in Uncategorized

Op Sondag 29 Desember 2013 saai DeKatTV (KykNet, kanaal 144) ’n onderhoud met Eldridge Jason uit oor sy roman Gerook.

Hier is ’n kykie agter die skerms.

(Kliek op die foto’s om hulle groter te maak.)

01

Gerard Scholtz het die onderhoud gedoen. Hier gaan hy vir oulaas deur sy vrae.

02

Eldridge is besig om poeier aan te sit.

03

Jorrie van der Walt, die kameraman, is sommer die ou wat die finale sê het oor grimering ook.

04

Eldridge is reg vir die skermtoets.

05

Dit is wat die kameraman sien.

06

Jorrie is ook in beheer van beligting.

07

En, ja, Jorrie doen die klank ook.

08

Dan is hulle reg om te begin skiet.

09

Later word die hoek verander.

10

So lyk Gerard op die TV skerm.

 47778009_0_Img2

Gerook is ’n wonderlike speurroman.

Dit is ook as e-boek te koop.

by izakdv

Linda Rode by die Valhalla Park Kinderboekklub

Desember 13, 2013 in Uncategorized

Die Valhalla Park Kinderboekklub het op Woensdag 11 Desember hulle jaareindfunskie en prysuitdeling gehad. Elke kind wat deelgeneem het aan hulle boekuitdaging het ’n sertifikaat ontvang en daar is spesiale sertifikate toegeken aan die beste presteerder in drie verskillende kategorieë.

(Kliek op die foto’s om hulle effens groter te maak.)

01

Die leerders is die uitdaging gestel om ’n aantal boeke in Engels, Afrikaans en Xhosa te lees en te resenseer.

02

Linda Rode, die kinderboekskrywer, het die oorhandigings gedoen. Sy het ’n verhaal “Die lappieskombers van drome’’voorgelees uit haar boek In die land van pamperlang. Dit handel oor ’n koning wat in ’n klein kasteeltjie bly. Hy laat dan sy eie komberse opknip en nooi ook ander om materiaal te stuur, sodat ’n lappieskombers gemaak kan word wat groot genoeg sal wees om te sorg dat geen straatkind moet koud kry nie.

Teen die einde van die storie kom sit die koning by die kinders onder die enorme lappieskombers en lees vir hulle ’n sprokie oor ’n towerkombers vol drome.

03

Op hierdie punt het Rode toe ’n spesiale plakkaat aan die Valhalla Park biblioteek oorhandig. Sy het daardie oggend (11 Desember) ’n foto van Luke Walker (Gallo Images) in Die Burger gesien en het dit summier laat vergroot en lamineer sodat sy dit aan die biblioteek kan skenk.

Walker se foto is van dié van ’n golftrofee vir die wenner van die Nelson Mandela-kampioenskap. Dit toon Mandela wat met ’n boek op sy skoot sit, omring deur kinders.

Die foto is hier te sien: http://www.dieburger.com/sport/2013-12-10-grace-droom-van-di-trofee

04

Valhalla Park is ’n baie arm gemeenskap en talle van die kinders het min ander heenkome as die biblioteek.

05

Alan Kannemeyer (hier bo), die assistent-bibliotekaris, het in 2008 met ’n projek begin om die kinders in die biblioteek geïnteresseerd te kry.

06

Die kinder lees, gaan op uitstappies en gebruik die biblioteek as ’n veilige hawe waar die personeel ook opgelei is om as luisteraars en raadgewers op te tree.

07

Dié biblioteek is vroeër vanjaar vereer met ’n spesiale ATKV-Woordveertjie vir die werk wat hulle doen met leesbevordering. Hier is die hele span.

Linda Rode is ook gevra om die sertifikate te oorhandig aan die top presteerder in drie verskillende kategorieë, naamlik die persoon wat die meeste boeke gelees het, die persoon wat die meeste resensensies geskryf het en ook die persoon wat die beste resensie geskryf het.

08

Hierdie jaar het een jong leser, Mikhaila Paulse, al drie die kategorieë ingepalm. Om dit te kon doen, moes sy ook boeke lees en resenseer wat gewoonlik gelees sou word deur kinders wat ouer is as sy. Hier is sy, totaal oorweldig, saam met Alan en Linda.

09

In ’n boodskap wat voorgelees is tydens die geleentheid, het Mnr GC Jansens, die hoof van Montana Primêr waar Mikhaila skoolgaan, die Valhalla Park Kinderboekklub geloof vir die werk wat hulle doen. Hy het laat weet dat die onderwysers kan sien wanneer kinders aan die klub behoort. Hierdie kinders “styg bo die ander uit”, volgens Jansens.

10

Die boekklublede lees, volgens hom, makliker, skryf beter opstelle en maak minder taal- en spelfoute as kinders wat nie aan die klub behoort nie.

11

Razeekah Campbell het ’n roerende vertoning gelewer van “The greatest love of all” deur Whitney Houston.

12

Hier is die koorgedeelte uit Houston se lied:

I believe the children are our future

Teach them well and let them lead the way

Show them all the beauty they possess inside

Give them a sense of pride to make it easier

Let the children’s laughter remind us how we used to be

13

Dit is ’n voorreg om kinders te sien lees.

14

by izakdv

Nog ’n paar Irma Joubert-kiekes

Desember 1, 2013 in Uncategorized

Irma Joubert het op 6 November twee keer in Pretoria opgetree om Tolbos bekend te stel.

 13 11 07 irma joubert_091

Die oggend het sy ’n Boek-en-Koek-geleentheid gehad by o’Galito, saam Graffiti in die Zambezi Junction. Die tafels het gekreun.

 13 11 07 irma joubert_095

Koek was daar daar genoeg.

 13 11 07 irma joubert_096

Die bestuurder van o’Galito het self seker gemaak almal kry genoeg.

 13 11 07 irma joubert_097

Hier is Irma saam met Elsa Liebenberg van Graffiti.

 13 11 07 irma joubert_099

Irma se ma het die geleentheid bygewoon. Hier is Irma se seun, die politieke joernalis Jan-Jan Joubert, saam met sy ouma.

 13 11 07 irma joubert_103

Die drie generasies op een foto.

 13 11 07 irma joubert_114

13 11 07 irma joubert_111

Die plek was gepak.

 13 11 07 irma joubert_138

Hier is Leonie van Rensburg (regs), die eienaar van Graffiti in die Zambezi Junction, besig om geskenke uit te deel saam met Suzann Prinsloo, bemarker vir Graffiti. Irma het ook ’n verhaal in Spoorvat, wat hier weggee word.

 13 11 07 irma joubert_145

Daarna kon Irma en Jan-Jan gesels.

 13 11 07 irma joubert_153

Irma het ná die tyd gaan boeke teken in die winkel.

 13 11 07 irma joubert_155

Die tou om boeke te koop was baie lank.

 13 11 07 irma joubert_165

Hier is Irma saam met die span.

 13 11 07 irma joubert_170

Raai wat, ek was ook daar. Leonie hierdie kiekie geneem.

 13 11 07 irma joubert_171

Is hulle nie mooi nie? Al drie in die trilogie: Ver wink die Suiderkruis (1), Tussen stasies (2) en Tolbos (3).

 13 11 07 irma joubert_173

Later daardie aand het Irma opgetree by Graffiti in die Lynnwood Bridge-sentrum. Ook hierdie winkel was gepak.

 13 11 07 irma joubert_177

Hier is Irma en Jan-Jan saam met Sonja Janse van Rensburg, die eienaar van Graffiti in die Lynnwood Bridge-sentrum.

 13 11 07 irma joubert_180

Hier is Frans Swart van Maroela Media saam met Sonja.

 * * *

Terloops. Al hierdie fotos geneem met ‘n Canon 7D & ‘n 24 – 105 mm f4 IS L USM lens, saam met ‘n Speedlight 430 II-flits.

As ek net een lens kan neem, is die 24 – 105 dikwels die antwoord, tensy ek weet ek in baie lae lig sonder ‘n flits moet werk, dan sal ek soms die 24 – 70 mm f2.8 L USM kies.