Jy blaai in die argief vir 2013 Augustus.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Oor suikerbekkies en ’n klein wêreld

Augustus 31, 2013 in Uncategorized

Ek wil graag die storie deel. Dis deels vrek hartseer en dis deels pragtig. Hierdie voëltjie het my ’n paar lewenslesse geleer.

Klein-rooibandsuikerbekkie in Kirstenbosch

Klein-rooibandsuikerbekkie in Kirstenbosch

Ek, my geliefde, en ons knaap wou Sondag 18 Augustus Kirstenbosch toe gaan. Die son was uit en ons was al drie moeg daarvoor om te hard te werk. My geliefde is ’n professionele persoon en sy werk verskriklik. Ek vryskut, so die ure is geweldig. Albei van ons geniet die werk, maar dit raak soms te veel. Knaap geniet nie die skool nie, maar hy werk hard. So, ons wou die sonskynmiddag aangryp.

Ek was besig om die kameras reg te kry, toe die foon lui. ’n Ou vriend met ’n ernstige dwelmprobleem se vrou is desperaat. Hy sit iewers en selfmoord is op hande.

Wel. Ek is hier weg sonder kameras en kom toe uiteindelik met hom na ons huis toe. Natuurlik is Kirstenbosch daarmee heen, maar die vriend was minstens veilig.

Voor sonop Maandagoggend was sy toestand so swak dat ons ’n ambulans ontbied het. Ek was tot 11h00 Maandagoggend in die noodeenheid, toe kon ek weer kom werk.

’n Week later, op Sondag 25 Augustus was ons almal gaar en die son het uiteindelik geskyn (letterlik en figuurlik). Die rekenaars is toegemaak, die kameras is gepak en ons het ’n heerlike, luilekker piekniek in Kirstenbosch gaan hou.

Die blomme was pragtig en hierdie voëltjie was te oulik. Soms, as jy die knoppie druk, weet jy al die elemente het reg gewerk, dié foto was so ’n oomblik.

Toe neem die werk weer oor.

Teen Donderdagaand onthou ek van die voëltjie en ek ontwikkel die foto (ek skiet net in RAW).

Dis mooi en ek plak dit op FaceBook.

’n Paar uur later laat weet ’n sakekennis uit die VSA sy is mal oor die foto, dis nou haar skermbeskermer.

’n Dag later word ek gevra of dié foto op die voorblad van internasionale katalogus kan kom wat vanuit die VSA versprei sal word?

Ek sê ja en ’n halfuur later laat sy weet dit is op haar rekenaar, danksy DropBox.

Wys jou:

a)      Die wêreld is klein. ’n Foto geneem in Kirstenbosch pronk nou in die VSA op ’n rekenaar.

b)      Dit neem minute om ’n transaksie te beklink aan die aan die ander kant van die aardbol.

c)       Gryp die dag. Gryp die sonskyn. Spandeer tyd met die geliefdes. Hierdie foto sê meer oor saamwees met geliefdes as wat dit oor voëls sê.

d)      Al is die wêreld klein, is ons arm kort. Druk jou geliefdes vas.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ek tree op by die Kalfiefees

Augustus 1, 2013 in Uncategorized

 

Ek is volgende naweek saam Chanette Paul en Johan Kruger @ Die Kalfiefees

Jip. Johan Kruger, skrywer van Die Vloek, en Chanette Paul, skrywer van Siende Blind, sal tydens die Kalfiefees op Hermanus oor hulle werk gesels. Ek is die onderhoudvoerder.

 

Waar: De Voorskooten Restaurant, Aberdeenstraat 4, Hermanus

Wanneer: Vrydag 9 Augustus en Saterdag 10 Augustus

Hoe laat: 15:00

Toegang: R50, dit sluit verversings in

Kaartjies: By die deur

Telefoonnommer: 028 312 2689

 

Die Vloek

Die hoofkarakter, Alwyn Baayenhoek, is ’n suksesvolle prokureur in Pretoria. Hy word binne die bestek van ’n paar weke met verskeie krisisse in sy lewe gekonfronteer: ’n grondeis op die familieplaas, sy onredelike korrelkoppa wat verhoudinge met getroue werkers vertroebel, ’n komplekse opdrag van ’n Switserse maatskappy om ’n lughawe te bou, spanning in sy huwelik en die verbreking van ’n jarelange vriendskap vanweë ’n vriend se onetiese gedrag. Om alles te kroon, loop hy dan ’n familielid raak van wie se bestaan wat hy nooit geweet het nie.

Dié lekker verhaal strek oor ’n bietjie langer as ’n eeu, beginnende by Kortpeet Baayenhoek en Mara wat as pioniers op die plaas Rietvallei kom woon tydens die Anglo-Boereoorlog. Die versteuring van ’n graf veroorsaak dat iemand van die Sekhukhunestam ’n vloek oor Peet uitspreek en “almal van jou wat die water drink”. Die vloek word eers verbreek in die vyfde geslag – omdat Alwyn die insig het om die verneuke van die verlede reg te maak.

Hierdie teks vorm ’n drieluik met Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort en Etienne van Heerden se Toorberg. ’n Moetlees en ’n genotvolle bespreking wat wag.

Dr. Johan Kruger werk gereeld as waarnemende regter, wanneer hy nie tyd saam met sy gesin op die plaas geniet nie.

 

Siende Blind

Siende blind is ’n spel van gesteelde identiteite en verskuilde agendas. Cara van Dijk het om den brode begin romanses skryf – dink aan Mills & Boons. Sy is baie goed betaal hiervoor, maar haar skatryk pa, Karel van der Linde, en snobistiese man, die beeldhouer Paul van Dijk, dwing haar om ’n skuilnaam, Mignon Maydon, te gebruik. Cara bewaak haar skuilnaam baie goed, want toe sy besluit om ’n volle roman, When we belong, te skryf, is daar talle raakpunte met haar eie gesin se doen en late.

When we belong word ’n internasionale treffer en Cara word ryk. Toe plof haar wêreld egter in duie. Haar man skei haar en ’n slim kuberkraker neem haar Mignon Maydon se identiteit oor. Nie net Cara se geld nie, maar haar hele skrywersbestaan word bedreig. Toe ’n aantal mense ná aan haar boonop genadeloos vermoor word, besef Cara dat sy nou vir veel meer as haar loopbaan sal moet veg – haar lewe is op die spel.

Siende blind is ook ’n roman oor die skryfproses. Dis ’n metateks waarin Chanette, sonder om ooit hoogdrawendheid te wees, kommentaar lewer oor die skryfproses en die manier waarop die publiek met skrywers en boeke omgaan. Moet nooit jou oë glo nie, want tot op die laaste bladsy is jy siende blind!

Chanette is ’n skrywer en manuskripontwikkelaar. Siende blind is reeds haar 38ste roman.