Jy blaai in die argief vir 2012 November.

Profile photo of izakdv

by izakdv

But will it stand up in court?

November 28, 2012 in Uncategorized

Zapiro praat oor sy boek

Zapiro het gisteraand sy nuwe boek But will it stand up in court? bekendgestel by die The Book Lounge in Roelandstraat. Die plek was stampvol.

Koop dit hier.

Die omslag is natuurlik deur Brett Murray se “The Spear” geïnspireer. Zapiro en Murray was saam op Rondebosch Boys High. In Zapiro se woorde: “He was a great artist, then already. I was this kid doodling in the margins. I guess it’s still the same!”

Zapiro in volle vaart

Zapiro is ongetwyfeld een van die land se bekendste koerantpersoonlikhede – deels waarskynlik weens die feit dat Jacob Zuma ontsettend veel doen om Zapiro se naam die hele tyd in die nuus te hou. Tog is hy steeds nederig en só gemaklik met Jan Publiek. Hy het selfs om verskoning gevra dat nie meer seker was hoe om naam te spel nie. (Ek bedoel…)

Zuma Exposed

Ek het nogal gewonder hoekom die boek Zuma exposed se prominent uitgestal is?

'n Glasie op oorwinning

Dat die saak teen hom teruggetrek is, het natuurlik hierdie boekbekendstelling in ’n feestelike geleentheid omskep.

Mervyn

Mervyn, die grootbaas van The Book Lounge, se afskeidswoorde was: “Zapiro, fuckin’ respect!”

Ná die tyd het Zapiro vir ’n baie lang tyd boeke geteken en elke enkele persoon laat spesiaal voel. Ek stem saam met Mervyn.

* * *

Iets oor die foto’s: Die heel eerste foto waar ek die boek se omslag op die skerm het, en die een van Mervyn, kort ’n verduideliking. Dit is onmoontlik om die mense in die winkel én die skerm korrek te belig. Ek het dus van elke foto twéé JPGs gemaak (ek skiet net in RAW). Die eerste JPG is om die mense te belig, die tweede JPG was erg onderbelig, totdat die skerm goed gelyk het.

In Photoshop het ek toe die donker foto opgemaak en die helder foto as ’n volgende laag bo-op geplak, toe het ek eenvoudig die oorverligte skerm uitgevee.

Ek het my Canon 7D gebruik en my Canon 24 – 105 f4 L IS USM lens. Ek het op M (Manual) geskiet die ISO was 3200.

geteken

Profile photo of izakdv

by izakdv

Gegroet, Riaan Cruywagen!

November 26, 2012 in Uncategorized

Riaan Cruywagen

Riaan Cruywagen

So, dit is die einde van ’n era. Riaan Cruywagen het vir oulaas die nuus gelees. Ek het gekyk.

Ek het hierdie foto  van Riaan Cruywagen by die Woordfees geneem. Riaan het sy boek, Wat’s nuus, daar bekendgestel. Dit is ’n wonderlike boek wat ek sterk aanbeveel.

Koop dit as ’n sagteband.

Of as ’n e-boek.

* * *

Oor my foto: Riaan Cruywagen se gesig is taamlik wit teen die donker hare en die donker hemp. Daar was baie mense, so ek het geweet ek sou moes gou skiet. Ek het toe met 1 stop oorbelig om seker te maak ek kry sy gesig en het ná die tyd met Digital Photo Professional die balans herstel.

1/100 f2.8 ISO400 (70mm)

Canon 7D & Canon f2.8 L USM 24 – 70 mm lens

Profile photo of izakdv

by izakdv

Betower

November 8, 2012 in Uncategorized

 Betower deur Fanie Viljoen

Koop as sagteband

Koop as e-boek

Fanie Viljoen is een van ons heel bekendste jeugboekskrywers. Die tieners is mal oor hom. Ek kan dit verstaan. Sy stories is altyd interessant en as méns is hy innemend. Wanneer Fanie by skole optree, is sy jeugdige looks boonop nie te versmaai nie – die meisies swymel. (Ek en Fanie is ongeveer van dieselfde stoffasie, maar hy laat die meisies kriewel, terwyl hulle vir my óóm sê. Sies, dis onregverdig 😉

Fanie se skooloptredes is belangrik, want hy doen baie marknavorsing. Hy weet wat werk en hy weet waarvan sy lesers hou. Fanie is ook baie aktief op Facebook, en ander ruimtes, waar hy fyn luister na sy teikenmark – en direk met hulle in interaksie tree.

Die ou weet wat hy doen.

Betower was in 2011 die naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie – Nanette van Rooyen se Ek was hier was eerste.

‘n Lekker gewaagde subplot

Die hoofkarakter, Nadia, bly deesdae by haar ouma in Magoebaskloof, want iets verskriklik het by haar vorige skool gebeur. Julle kan self die detail lees, maar daar word vroeg reeds ‘n leidraad gegooi wanneer een van die meisies, Joy, sê sy moet tog foto’s neem as sy iets stouts gaan doen … Hierdie grappie word glad nie goed ontvang nie.

Inderdaad. Onse Nadia is nie meer Die Maagd Nadia nie. Die probleem is egter dat Nadia se ma glad nie belangstel daarin om te sukkel met haar dogter nie. So, in plaas daarvan dat sy haar dogter se oorgang na ‘n jong volwassene vier, pos sy gewoon die probleem na die platteland.

Kan julle dus verstaan waarom Nadia redelik suur is vir die wêreld?

Poenk in die bos

Magoebaskloof is bekend vir die pragtige inheemse bosse wat nog om die dorp staan en dít word ’n belangrike gegewe in die teks.

Nadia, moerig vir haar ma, wantrouig aan die attensies van vriende en boonop sommer net súúr, loop daar vir Poenk raak. Hierdie knaap is ‘n enigma.

Op die oog af is Poenk ‘n brandarm bosbewoner, tog is daar iets veel dieper aan hom. Hy ken die geheime van die bos en dit wil al lyk of hy ook die geheime van Nadia ken, sonder dat sy dit ooit vir hom hoef te vertel. Hy lees boonop diep Engelse poësie.

Ek is steeds nie seker in hoe ‘n mate hierdie karakter ‘n mens of ‘n towermens is nie. As aktant vervul hy egter ‘n belangrike rol in die storie. Hy is ‘n séún en Nadia het hormone. Poenk is egter ook bitter onskuldig. Hy lei Nadia na die bos waar hy haar leer om te luister, om te ruik en om te síén.

Nadia se aangetrokkenheid tot Poenk laat natuurlik die stupid grootmense van hulle koppe raak. Eers haar ouma en dan haar ma raak al weer ernstig bekommerd …

Heling

Nadia moet weer van vooraf leer om mense te vertrou.  Dit is dan Poenk, meer nimf as mens, en tog ook seun, wat maak dat Nadia weer kan begin uitreik. Joy, ‘n getroue vriendin, van wie Nadia eers niks wil weet nie, raak ook betrokke. Deur  ‘n paar slim leuens te vertel aan Nadia se ouma, maak Joy dit vir Nadia moontlik om weer haarself te kan begin ontdek.

Filmies

Fanie ken van show teenoor tell. Daar is telkens los oomblikke waar die verteller verdwyn en die leser ‘n toneeltjie aanskou asof dit deur ‘n statiese kamera geskiet is. Dink ‘n bietjie aan daardie oomblikke in American Beauty waar die kamera vir sekondes lank op ‘n plastieksak konsentreer.

Ek hou daarvan. Dis anders.

Kritiek

Ek moet erken dat ek meer van Poenk se karakter verwag het, maar dis ‘n baie persoonlike ding. Ek voel egter die outjie bly ‘n aktant, hy word nooit hééltemal vlees en bloed nie. Selfs Nadia, wat erg ly onder haar ma se besluite, sou dalk skerper geteken kon word as Poenk ‘n sterker karakter sou kon wees.

Maar, soos ek reeds genoem het, Fanie ken sy gehoor. Dalk het hy dit so bedoel, want hier is ‘n groot stuk magiese realisme in die teks – die titel sê dit reeds. Daar is ook baie simboliek in die boek. ‘n Stukkie glas word byvoorbeeld méér as glas. Dit word iets mooi wat ook stukkend is, of dan iets stukkend, wat ook mooi is.

My kritiek jeens Poenk moet dus getemper word.

Dis anders

Tieners sal vrek hieroor. En volwassenes? Lees dit. Hier is ‘n knap storie wat goed vertel word. Fanie se insig in tieners se koppe is lofwaardig.

Ek kan goed verstaan waarom die beoordelaars gehou het van hierdie teks: Dit waag om ánders te wees.