by

Ek was hier

Augustus 23, 2012 in Uncategorized

Koop as sagteband.

Koop as e-boek.

Nanette van Rooyen se jeugroman Ek was hier het my só geïnspireer dat sommer gaan foto’s neem het wat losweg wat by die resensie pas. (Nie dat ek baie aanmoediging nodig het nie!) Die hoofkarakter is gek oor skaatsplank ry en dan ontmoet sy ’n jong knaap wat mal is oor graffiti.

Eers gou hierdie gerusstellende woorde: Die hoofkarakters is nié vandale wat die stad lelik maak nie. Inteendeel.

Ek was hier is ’n spannende, taamlik volwasse liefdesroman wat op die jeug gemik is.

Raak ek nou sag in die kop deur “volwasse” en “jeugroman” in die dieselfde sin te noem? Wel, nee. Ek sou graag wou verduidelik:

Ek gebruik die term “volwasse” om vier redes:

  • Ten eerste is die storie uit die boonste rakke. Nannete van Rooyen is ’n meesterlike verteller.
  • Ten tweede is dit ’n boek wat ewe veel deur ouers geniet sal word as die jeug waarop dit gemik is. En net om seker te maak dat ek nie alleen is in my oordeel nie, het ek die boek geleen vir volwassenes… Niemand het nog gekla nie.
  • Ten derde is die kinders se liefde aanvanklik baie tienerig, maar wanneer ’n krisis opduik, skop ’n verdieping in wat wys dat tieners ook ménslik is (iets wat soms moeilik is om te glo, ek weet). Dié deel van die verhaal – wat ek nie wil uitlap nie – sou ook in ’n volwasse roman kon werk.
  • Die vierde rede lê by die ouers van die twee hoofkarakters. Hulle behandel hulle tieners soos jong volwassenes; dít maak van hulle ronder karakters as die benerige kinders uit die jeugboeke van mý tienerdae wat simpel goed aangevang het en dan pak gekry het.

 Moderne, sprankelende buitestanders

Frankie is die vroulike hoofkarakter. Sy is ‘n skaatsplankryer en is lief vir kunsflieks. Haar pa is ’n kok, en boonop ’n Belg wat steeds Nederlands praat. Haar ma is ’n hippie. Dit is ’n plesier om so ’n interessante huishouding te leer ken.

Frankie bly egter ’n tiener. So wanneer die hormone inskop, moet ma en pa maar bontstaan.

Milan, die manlike hoofkarakter, se pa kom uit ’n kommunistiese land. Hy is ’n stil, sagte man met ’n swart gordel in judo. Hy het sy seun alleen grootgemaak. Die verhouding tussen pa en seun is pragtig, want hier is wedersydse respek. Milan is lief daarvoor om sy kitaar te speel. Hy luister ook Pink Floyd en Led Zeppelin. (Volgens die boek beteken dit hy is “old school”, dít laat my net óúd voel.)

Al die karakkters wat ek hier genoem het, leef dus op daardie randjie van die samelewing – wat hulle ánders maak. Hulle is dus buitestanders, maar beslis nie bleeksiele is nie. Albei die kinders is gewild by die skool en die meisies vry nogal na Milan. Hy het egter net vir één meisie oë, en dis Frankie.

Die liefde tussen tieners

Julle het seker al agtergekom ek hou van ’n mooi liefdesverhaal. As dit boonop een is wat nie volgens clichés en patrone geskep is nie, dan kan jy maar aangee.

Gedurende die loop van hierdie verhaal gebeur ’n verskriklike ding. Frankie se liefde vir Milan word behoorlik getoets. Dit is hier waar ek die volwassenheid raakgelees het waarna ek vroeër verwys het.

Ouer mense is baie geneig om te ontken dat tieners soos “gewone” mense kan seerkry en liefkry. Ons skryf dit so maklik af as “kalwerliefde” of “hormone” – so asof ons nie ook maar deur hormone gedryf word nie.

Ek was hier is vir geen oomblik soetsappig en clichématig nie, maar die manier waar Frankie stukkie vir stukkie haarself in Milan se lewe (en sy klere) in wurm, is pragtig. Die boek is ook nie gewaagd nie – Fanie Viljoen se Betower is veel meer gewaagd as Ek was hier.

Grafitti

 Ja, dis ’n boek oor graffiti. Milan gebruik allerlei maniere om Frankie van hom bewus te laat word en slim graffiti is een van die metodes.

Is graffiti boos? Milan en Franki is albei mal oor Banksy, daardie Engelse kunstenaar wat so beroemd geword het met sy graffiti. Banksy doen moeite om by te dra tot die samelewing. Sy werk is nie bloot terrorisme nie. Frankie is baie mal oor dié idee. Ná Milan haar belangstelling in graffiti geprikkel het, begin sy allerlei maniere navors om nié permanente skade aan te rig nie, maar om juis op ‘n positiewe manier haar merk te laat. (Daar is net één naam wat sy strategies verewig – julle mag raai watter een!)

Afrikaans en Nederlands

Ek was mal oor die taalgebruik in die boek. Dit is glad nie deurspek van Engels nie. Frankie dra wel ’n hoodie, maar dis aanvaarde taalgebruik – net soos ’n doughnut nie ’n oliebol is nie, is ’n hoodie nie ’n kappie nie.

Die taal wat wél die hele tyd met Afrikaans kruis (in sekere stukke dialoog), is die Nederlands wat Frankie se pa deurgaans besig.

’n Ware wenner

Ek was hier het verlede jaar Lapa se jeugromankompetisie gewen. Ek kan verstaan hoekom, maar moenie dat die term “jeug” jou afsit nie. Dis ’n roman hierdie, al is die hoofkarakters jonk en al lees dit baie vinnig.

En as jy iets soek om in ’n tiener se hande te plaas, wel… ek gaan nie met die beoordelaars stry nie!

Dis ‘n lekker boek.

* * *

Oor die foto’s: Ek wou nie die skaatser afneem nie. Ek wou die graffiti afneem met ‘n skaatser daarby.

Ek het dus ‘n Canon 5DmkII en ‘n Canon 16-35mm f2.8L USM lens gebruik.

Om die aksie nie te vries nie, het ek op 1/13 geskiet, ISO100 en f22.

8 antwoorde op Ek was hier

  1. Ek is mal oor graffiti en ek is besonder mal oor jou foto’s!

  2. Izakdv het gesê op Augustus 23, 2012

    dankie! Jy sal dan van die boek hou.

  3. Wraggies mooi foto’s! As ek die uitgewer is gebruik dit vir volgende voorblad!

  4. Ek sien uit na die boek!

  5. Vetjan het gesê op Augustus 26, 2012

    Sy is ‘n baie goeie skrywer.

    Beide karakters se pa kom uit Europa ?

    Een karakter se naam is sommer Milan, wat veronderstel is om baie cool te wees omdat Kundera die enigste Tjeggiese skrywer is waarvan ons weet, die mees algemene naam daar is eintlik Jan, maar dit is seker te gewoon ?

    Net gewonder.

  6. Izakdv het gesê op Augustus 27, 2012

    Kan werk!

  7. Izakdv het gesê op Augustus 27, 2012

    Dis ‘n wonderlike teks.

  8. Izakdv het gesê op Augustus 27, 2012

    Ek wonder ook of Kundera nie iets met die naam te doen het nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.