Jy blaai in die argief vir 2012 Augustus.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Poppekas

Augustus 27, 2012 in Sonder kategorie

 

Koop as sagteband.

Koop as e-boek.

Ek was aangenaam verras deur Poppekas, want die storie was so onverwags. Kan Deborah ‘n riller skryf? Duidelik kan sy. Haar vorige werk het my nie voorberei op die jollie lekker storie wat ek in hierdie boek raakgeloop het nie.

Poppekas is ‘n slim riller met soveel kinkels dat jy ná elke klompie bladsye dink: Deborah, jou bliksem.

Alles begin wanneer ‘n nagsub van ‘n koerant in die magtige Immedia-groep saam met ‘n kollega gaan kyk na die teatrale inploffing van ‘n paar koeltorings in Kaapstad. Tydens dié gedruis, kap die kollega om. Voor ons heldin egter die noodnommer kan bel, word die man weggedra deur vier vreeslik amptelike menere en dan verdwyn hy.

Sodra die nagsub dan begin navraag doen oor die kollega se welstand, word sy in die pad gesteek, haar vriendin in die personeelafdeling word verplaas en ‘n aantal boewe begin haar dophou.

Dit neem nie baie lank nie voor die leser agterkom dat Immedia besig is om te eksperimenteer met menslike poppe nie – hierdie poppe word geprogrammeer om gehoorsaam hulle werk te doen.

Veel meer van die verhaal gaan ek nie uitlap nie, want ek wil nie spoilers inbou nie.

Metaforiese denke

 

Ons peetkind, ‘n pragtige veertienjarige tiener met baie lang bene, was mal oor Poppekas. Haar ma, ‘n ewe mooi veertigplusser met ‘n enorme stuk lewenswysheid agter haar, het dit eweneens geniet. Die boek werk dus op vele vlakke.

Ek sou graag enkele slim punte wou uitlig waarna ‘n leser kan uitkyk, sonder dat ek die storie gaan weggee.

1. Kapitalisme: Ek het reeds die menslike outomate genoem. Aanvanklik lyk dit of die Immedia-groep besig is om op ‘n slim manier van hulle menslike werknemers ontslae wil raak. Dink daaraan: rekenaars is duur om te installeer, maar daarna ontvang hulle nie ‘n salaris nie, hulle neem nie verlof nie en hulle word nie siek nie. (Terwyl ek dít tik, dink egter nou ek aan al die rekenaars wat ek al moes hospitaal toe neem, maar goed…)

Coleman Andrews, daardie Amerikaner wat ‘n tyd lank in beheer was van die SAA, was bekend daarvoor dat hy outomatisasie teengestaan het. Dít het vir hom vriende gekoop in die vakunies, want hy wou werk skep. (In Suid-Afrika word vliegtuie steeds met die hand gewas, in Europa glad nie.) Wanneer dit dus blyk dat die Immedia-groep maniere soek om meer rekenaars in te bring, skyn die res van die boek baie eenvoudig te wees. Wat sal byvoorbeeld gebeur as jy ‘n rekenaar kan oplei om bestuursfunksies oor te neem? Slegs die harde feite sal oorweeg word – geen emosies sal meer te sprake wees nie.

Daar is ook ‘n kort, grafiese scéne waar ‘n redelik hooggeplaaste amptenaar ‘n vroulike outomaat verkrag. Tegnies, wel, is dit nie verkragting nie, want sy kan nie voel nie. Maar die metaforiese saadjie word geplant.

Die boek is egter nie eensydig in die verdoemenis na wins nie. Die vraag word selfs openlik gevra of daar nie iets kan wees soos ‘n kapitalisme met ‘n sosiale bewussyn nie?

2. Mag: Poppekas maak egter ‘n nog belangriker punt. Mag maak mense mal. Ek gaan beslis nie die storie uitlap nie, maar die werklike skurke blyk toe nie diégene te wees wat ons aanvanklik verdink nie. Mense kan ook soos outomate agter ‘n leier aanloop. Dink aan Nazi-Duitsland se Hitler, as jy liefs nie aan Suid-Afrika se Malans en Verwoerds wil dink nie, of dink aan Malema wat so gewild is.

Dit is toevallig menslik om, soos outomate, jou emosies en eie denke af te stomp sodat jy klakkeloos ‘n leier, of ‘n ideologie, wil volg. In die boek word selfs die magtige Immedia-groep uiteindelik ‘n slagoffer van ‘n magshonger kabaal wat ménse soos outomate misbruik – moord, roof, verkragting en breinspoeling word op ménse uitgevoer, ménse word uit die weg geruim met dieselfde gebrek aan emosie waarmee ‘n rekenaar afgeskakel word.

Toe ek Drie rooikoppe, sewe dae en een stad geresenseer het, was ek krities daaroor dat die ultraregse man in die boek soos ‘n moroon uitgebeeld word, want, het ek gevoel, dis eers wanneer die leser in aanraking kom ménse waarvan jy hou, net om gewalg te word deur hulle ideologie, dat die impak van ‘n geloof in die Herrenvolk jou die hardste tref. Hoe kán so ‘n oulike mens sulke snert glo?

Deborah Steinmair se Poppekas kry dít reg. Die mense waarvan jy die meeste hou, is uiteindelik ook diegene wat jou die meeste ontstel.

3. Denke: Ek dink die boek sê uiteindelik dat jy vir jouself moet dink. Kyk bietjie wie (of wat?) uiteindelik self dink en dan die oplossing bied… Dis ‘n verassing, glo my.

Is dit moontlik dat hoogs intelligente en baie vriendelike mense soos outomate agter ‘n ideologie kan aanhardloop? Ja. Is dit moontlik om buite jou geprogrammeerde/gebreinspoelde self te kan dink? Ja.

Ons kan almal soos marionette in ‘n poppekas aan toutjies dans. Hoe moeilik dit ook mag wees, ons moet die toutjies knip.

Kritiek?

 

Ek het plek-plek gewonder oor die tegnologie. Diegene wat iets van selfone verstaan, sal weet hoe verspot maklik dit is om mense se posisies te bepaal deur middel van driehoeksmeting. Ek het dus hier en daar gewonder hoekom sekere mense / objekte nie makliker opgespoor kan word as ander nie. Daar is ook een bepaalde ontsnapping wat slim is, maar vanuit ‘n vreemde plek moes plaasvind. Julle sal gou sien wat ek bedoel as julle daar kom. Ek vermoed die simboliese aard van hierdie “tronk” was van meer belang as die realisme.

Nie een van my probleme neem egter die pret van die boek weg nie. Ek sukkel ook soms om Margie Orford se logika te volg, en tog werk haar boeke. Ditto met Steinmair se Poppekas. Elke swaai in die plot vra van jou om jou eie kop te herprogrammeer. Dit is ‘n slim riller met baie indrukwekkende metafore. Selfs kritiese rillerlesers sal die enkele vrae wat ná die tyd by jou bly, kan vergewe.

Ander werk

 

Steinmair het gedebuteer met ‘n onderskatte digbundel, A see-through suitcase.

Haar eerste roman, Marike sa laaste dans, het ek baie geniet. Sy het daarmee die Jan Rabie-prys ontvang.

Poppekas het my verras. Koop dit en geniet dit.

Haar volgende roman, Die Neus, word binnekort vrygestel.

* * *

 

Oor die foto van Deborah: Ek het dit by die Woordfees geneem. Canon 7D & Canon 85mm f1.8 USM, 1/125 f2.8 ISO200.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ek was hier

Augustus 23, 2012 in Uncategorized

Koop as sagteband.

Koop as e-boek.

Nanette van Rooyen se jeugroman Ek was hier het my só geïnspireer dat sommer gaan foto’s neem het wat losweg wat by die resensie pas. (Nie dat ek baie aanmoediging nodig het nie!) Die hoofkarakter is gek oor skaatsplank ry en dan ontmoet sy ’n jong knaap wat mal is oor graffiti.

Eers gou hierdie gerusstellende woorde: Die hoofkarakters is nié vandale wat die stad lelik maak nie. Inteendeel.

Ek was hier is ’n spannende, taamlik volwasse liefdesroman wat op die jeug gemik is.

Raak ek nou sag in die kop deur “volwasse” en “jeugroman” in die dieselfde sin te noem? Wel, nee. Ek sou graag wou verduidelik:

Ek gebruik die term “volwasse” om vier redes:

  • Ten eerste is die storie uit die boonste rakke. Nannete van Rooyen is ’n meesterlike verteller.
  • Ten tweede is dit ’n boek wat ewe veel deur ouers geniet sal word as die jeug waarop dit gemik is. En net om seker te maak dat ek nie alleen is in my oordeel nie, het ek die boek geleen vir volwassenes… Niemand het nog gekla nie.
  • Ten derde is die kinders se liefde aanvanklik baie tienerig, maar wanneer ’n krisis opduik, skop ’n verdieping in wat wys dat tieners ook ménslik is (iets wat soms moeilik is om te glo, ek weet). Dié deel van die verhaal – wat ek nie wil uitlap nie – sou ook in ’n volwasse roman kon werk.
  • Die vierde rede lê by die ouers van die twee hoofkarakters. Hulle behandel hulle tieners soos jong volwassenes; dít maak van hulle ronder karakters as die benerige kinders uit die jeugboeke van mý tienerdae wat simpel goed aangevang het en dan pak gekry het.

 Moderne, sprankelende buitestanders

Frankie is die vroulike hoofkarakter. Sy is ‘n skaatsplankryer en is lief vir kunsflieks. Haar pa is ’n kok, en boonop ’n Belg wat steeds Nederlands praat. Haar ma is ’n hippie. Dit is ’n plesier om so ’n interessante huishouding te leer ken.

Frankie bly egter ’n tiener. So wanneer die hormone inskop, moet ma en pa maar bontstaan.

Milan, die manlike hoofkarakter, se pa kom uit ’n kommunistiese land. Hy is ’n stil, sagte man met ’n swart gordel in judo. Hy het sy seun alleen grootgemaak. Die verhouding tussen pa en seun is pragtig, want hier is wedersydse respek. Milan is lief daarvoor om sy kitaar te speel. Hy luister ook Pink Floyd en Led Zeppelin. (Volgens die boek beteken dit hy is “old school”, dít laat my net óúd voel.)

Al die karakkters wat ek hier genoem het, leef dus op daardie randjie van die samelewing – wat hulle ánders maak. Hulle is dus buitestanders, maar beslis nie bleeksiele is nie. Albei die kinders is gewild by die skool en die meisies vry nogal na Milan. Hy het egter net vir één meisie oë, en dis Frankie.

Die liefde tussen tieners

Julle het seker al agtergekom ek hou van ’n mooi liefdesverhaal. As dit boonop een is wat nie volgens clichés en patrone geskep is nie, dan kan jy maar aangee.

Gedurende die loop van hierdie verhaal gebeur ’n verskriklike ding. Frankie se liefde vir Milan word behoorlik getoets. Dit is hier waar ek die volwassenheid raakgelees het waarna ek vroeër verwys het.

Ouer mense is baie geneig om te ontken dat tieners soos “gewone” mense kan seerkry en liefkry. Ons skryf dit so maklik af as “kalwerliefde” of “hormone” – so asof ons nie ook maar deur hormone gedryf word nie.

Ek was hier is vir geen oomblik soetsappig en clichématig nie, maar die manier waar Frankie stukkie vir stukkie haarself in Milan se lewe (en sy klere) in wurm, is pragtig. Die boek is ook nie gewaagd nie – Fanie Viljoen se Betower is veel meer gewaagd as Ek was hier.

Grafitti

 Ja, dis ’n boek oor graffiti. Milan gebruik allerlei maniere om Frankie van hom bewus te laat word en slim graffiti is een van die metodes.

Is graffiti boos? Milan en Franki is albei mal oor Banksy, daardie Engelse kunstenaar wat so beroemd geword het met sy graffiti. Banksy doen moeite om by te dra tot die samelewing. Sy werk is nie bloot terrorisme nie. Frankie is baie mal oor dié idee. Ná Milan haar belangstelling in graffiti geprikkel het, begin sy allerlei maniere navors om nié permanente skade aan te rig nie, maar om juis op ‘n positiewe manier haar merk te laat. (Daar is net één naam wat sy strategies verewig – julle mag raai watter een!)

Afrikaans en Nederlands

Ek was mal oor die taalgebruik in die boek. Dit is glad nie deurspek van Engels nie. Frankie dra wel ’n hoodie, maar dis aanvaarde taalgebruik – net soos ’n doughnut nie ’n oliebol is nie, is ’n hoodie nie ’n kappie nie.

Die taal wat wél die hele tyd met Afrikaans kruis (in sekere stukke dialoog), is die Nederlands wat Frankie se pa deurgaans besig.

’n Ware wenner

Ek was hier het verlede jaar Lapa se jeugromankompetisie gewen. Ek kan verstaan hoekom, maar moenie dat die term “jeug” jou afsit nie. Dis ’n roman hierdie, al is die hoofkarakters jonk en al lees dit baie vinnig.

En as jy iets soek om in ’n tiener se hande te plaas, wel… ek gaan nie met die beoordelaars stry nie!

Dis ‘n lekker boek.

* * *

Oor die foto’s: Ek wou nie die skaatser afneem nie. Ek wou die graffiti afneem met ‘n skaatser daarby.

Ek het dus ‘n Canon 5DmkII en ‘n Canon 16-35mm f2.8L USM lens gebruik.

Om die aksie nie te vries nie, het ek op 1/13 geskiet, ISO100 en f22.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Rigtingbedonnerd

Augustus 23, 2012 in Sonder kategorie

Koop as sagteband.

Koop as e-boek.

 

Ek was vanaand by die bekendstelling van Fred de Vries se nuutste publikasie Rigtingbedonnerd.

 

Nee. Ons is nie familie nie. Hy kom uit Rotterdam. Ons ken mekaar ook nie eintlik nie. By ons laaste ontmoeting het Fred my as ’n winkelassistent gesien en so behandel ook. Ek het natuurlik rustig saamgespeel en vir hom die boeke help soek wat hy wou hê. Ek is ook een van die miljoene Afrikaanssprekendes met wie Fred nie ’n onderhoud gevoer het nie.

 

Johan, die bestuurder van The Book Lounge

 

Hoe ook al. Ek dink Fred het werklik gesoek na antwoorde. Die Nederlandse arrogansie is al effens afgewerk.

 

Dana Snyman was baie positief oor die boek. Dana is nie ’n ou wat huiwer om sy bek oop te maak nie, so, as Dana sê dis goed, voel ek gemaklik daarmee.

 

Die boek is oorpronklik vir ’n Nederlandse gehoor geskryf, toe het Tafelberg hom genader om dit ook in Afrikaans uit te gee. Zandra Bezuidenhout het die vertaling na Afrikaans gedoen.

 

 

 

Toast Coetzer van Buckfever Underground was ook daar. Fred het baie geleer by Afrikaanse musikante.

 

Ek wil dit ook nou lees en beoog ’n behoorlike resensie. Ek het egter gehou van wat hy gesê het by die bekendstelling in The Book Lounge.

 

* * *

 

Oor die foto’s: Ek ken The Book Lounge, so ek het geweet hoe ver ek van Fred en Dana sou wees.

Ek het toe my Canon 7D geneem en ’n Canon 85mm f1.8 USM lens. Die 1.8-lens maak dat ek in lae lig goeie foto’s kan kry. Dit is ook ’n skerp lens.

 

Die 7D is goed in lae lig en fokus maklik met hierdie lens. Wat meer is, die 1.6 sensor maak van hierdie lens ’n baie nuttige 136 mm telefoto – met ’n 1.8 in die gat. Baie positief.

 

Ek het toe op AV (f-stopvoorkeur) geskiet en eenvoudig alles op 1.8 geskiet. Ek het die kamera toegelaat om ’n eie ISO te kies.

 

Van die foto’s het ek met 1 stop oorbelig, want Dana en Fred het voor ’n groot venster gesit met die lig van agter. Ek het nie ’n flits gebruik nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Gert Vlok Nel is terug

Augustus 19, 2012 in Sonder kategorie

Gert Vlok Nel sing weer. Ek en my vriend Pieter Human het Vrydagaand na hom gaan luister in die Breytenbach-sentrum op Wellington.

 

Onherroeplik. Dis die naam van sy nuwe cd. En, moet ’n mens byvoeg, Gert het bevestig hy is onherroeplik deel van die Afrikaanse letterkunde. Hierdie cd, en die lirieke daarop, is, soos sy vorige werk, besonders.

 

 

Gert is nie die beste sanger nie. Sy diksie is vrot en sy musiek is eenvoudig. Hy sal lank op een noot bly tokkel. EN TOG. EN TOG. Magtig, mense, sit ’n uur lank aan sy voete. Jy sal nie anders kan as om met ’n warm gloed die res van die week in te gaan nie.

 

Onherroeplik. Inderdaad. Jy sal nie vergeet as jy hom eers beleef het nie. Gert het ná die tyd vir Pieter gesê sy cd het baie goed verkoop by Oppikoppi. Dit is dus nie net ek wat mal is daaroor nie.

 

Schalk Joubert, die meester van die baskitaar, was ’n deel van Vrydagaand se sukses. Schalk het ook die cd vervaardig.

 

Die vroue het geswymel.

 

 Schalk is gewoon ’n briljante musikant.

 

Hier is Gert en Pieter ná die tyd. Hulle was kamermaats op Stellenbosch.

 

Die twee manne wou ook afgeneem word. Hulle woon op dieselfde dorp as Gert. Dit was duidelik dat Gert die ondersteuning geniet het.

 

* * *

 

Ek dink die Breytenbach-sentrum moet hulle klankmense betig. Aan die begin was die kitaar en die baskitaar té hard. Dit het gemaak dat ek werklik gesukkel het om Gert se woorde te hoor. Gelukkig is dit gedurende die vertoning verander, so ek kon later beter hoor.

 

Die ander wanklank was ’n spul dronk mense wat waaragtig die hele vertoning deur gesit en gesels het. Die Afrikaner is en bly maar kômin. Gelukkig het ons mense soos Gert wat kômin mense onherroeplik met die mooiste poësie besing.

 

Koop Onherroeplik. Dis oor en oor die moeite werd.

 

* * *

 

Oor die foto’s: Ek gebruik nie ’n flits tydens vertonings nie. Die lig was baie laag vir fotografie (maar puik om by te sien). Ek het ook nie vooraf geweet hoe ver of naby ek aan Gert sou kon kom tydens die vertoning nie en het dus ’n zoemlens gekies, bo ’n vaste lens met ’n beter F-stop.

 

So, ek is Wellington toe met ’n Canon 5D MkII en ’n Canon 24 – 105 mm L IS f4 USM.

 

Aangesien die lig laag was, het ek uiteindelik op ISO6400 besluit, die kamera op sluiterspoedvoorkeur gesit en het 1/40 gekies. Dis gevaarlik, maar met die lens se stabiliseerder kon ek foto’s kry. Moeilik, maar LEKKER om dit te kon doen.