Jy blaai in die argief vir 2012 Februarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ligspel in Beaverlac

Februarie 24, 2012 in Sonder kategorie

Verlede Saterdagaand geneem in Beaverlac.

Die lig is verskaf deur die sterre, ’n klein flitsie en gloeistokkies.

 

Vir die tekkies:

Canon 7D & Canon 24 – 105 L IS USM lens

68s opening, ISO 400, f4.5

Manfrotto 055XPROB Pro-driepoot met ’n Manfrotto 804RC2 3-rigtingkop

’n Kabel vir die sluiter

Profile photo of izakdv

by izakdv

treinsmash!

Februarie 16, 2012 in Sonder kategorie

 

Gaan kyk!

18 Februarie om 16:30 en 19 Februarie om 15:30

Dis die moeite werd!

Dit is moderne protesteater. Dit is pret.

Bespreek by Computicket:


En wie het die foto’s geneem en die plakkaat ontwerp?

Ekke !-)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Statements after an arrest under the immorality act

Februarie 15, 2012 in Sonder kategorie

Dis nou al ’n week sedert ek die stuk, deur Athol Fugard, in die Fugard Teater gaan kyk het. Eish. Jammer. Die werk hou nie op nie.

Aanvanklik was ek bang hierdie stuk sou dalk sy relevansie verloor het in die nuwe Suid-Afrika, maar ek was verkeerd. Dit handel immers oor twee mense wat gevang word nadat hulle seks gehad het oor die kleurgrens heen – hemel selfs “kleurgrens” is ’n argaïese woord.

Tog: die wette het verander, maar mense se houdings nie.

En dis wat die stuk steeds interessant maak. Vandag sou die lang arm van die gereg nie ingryp nie, maar ek weet hoe party van my landgenote (wit en swart) steeds teen gemengde verhoudings is.

 

Neem nou maar die relletjie wat uitgebars het oor die DA se plakkaat. Die herrie het oor en oor bewys dat die DA reg was om dit op te sit.

 

Maar het die DA ver genoeg gegaan? Sou dit DA dit waag om ’n wit meisie in ’n swart man se arms te laat? Sal die DA twee mans of twee vroue op hulle plakkate sit – soos Zapiro hier gedoen het?

En dis wat die stuk relevant maak.

Die akteurs is deurgaans kaal op die verhoog – hulle staan letterlik kaal voor die oë van die gemeenskap.

Malefane Mosuhli is puik in die rol van die man wat eintlik skaam is oor sy verhouding met hierdie vrou, wat kwaad is dat hy moet kruip om by haar uit te kom en wat erken dat verlam is deur sy eie ontoereikendheid.

Bo Petersen is die pragtige wit vrou wat die seks inisieer. Sy dra die hardkoppige karakter van die kleindorpse maagd (tot die “ding” met ’n donker man) baie goed oor.

Jeroen Kranenburg is meesterlik in die rol van die polisiesersant.

Kim Kerfoot is die regisseur, terwyl Guy de Lancey die stel ontwerp het. Die ontwerp is, terloops, wonderlik – jy loop in die boekwêreld in, maar dis ’n ongeorganiseerde, deurmekaar wêreld – wat ’n metafoor vir die stuk wat daarin afspeel!

Hoewel Statements after an arrest under the immorality act oud is (veertig jaar), en hoewel die wette verander het, beveel ek steeds die stuk sterk aan. Al is dit om te droom dat niemand meer oor ’n paar jaar vreemd sal kyk na gemengde paartjies nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Viva, Google, Viva!

Februarie 14, 2012 in Sonder kategorie

Het julle die Google-Doodle gespeel vandag? Dis stunning. Kliek op die kussinkie (as jy op Google is) en geniet die musiek.

Maar kyk hoe slim protesteerder Google die manier waarop talle state in die VSA steeds gayhuwelike afkeer. Kyk mooi na die screen capture hierbo. Hierdie prentjie verskyn heel teen die einde. Ek sê VIVA GOOGLE!

(Vir meer inligting oor die Valentynsdagproteste in die VSA, loer hier.)

Ek het die ander dag deelgeneem aan ’n debat op LitNet oor gayverhoudings in kinderboeke. Hier is die skakel.

Praat van LitNet: So, op Valentynsdag, het hulle ’n lekker kompetisie aangekondig in samewerking met Protea Boekhuis. As julle wil deelneem, kliek hier!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lank lewe Charles Dickens

Februarie 7, 2012 in Sonder kategorie

Google vier vandag Charles Dickens se verjaarsdag met ’n Doodle.

Nog ’n Charles, die prins daar in Engeland, gaan vandag, saam met sy vrou, deelneem aan ’n viering van Charles Dickens se lewe.

En hoekom nie? Dickens bly een van die groot storievertellers in die Engelse letterkunde. Sy karakters was fyn geskets, dikwels grotesk, en sy plotlyne puik. Jy wóú weet wat volgende gaan gebeur.

Ek lees tans Marukami se majestueuse 1Q84, nadat Louis Esterhuizen my verlei het tydens ’n gesprek in sy winkel daar op Stellenbosch. En raai wat? Talle van die karakters kon reguit uit Dickens gestap het. Kyk bietjie na die manier waarop Marukami mense beskryf. Let op hoe Aomame frons. Lees die beskrywing van Ushikawa wanneer Tengo hom die eerste keer ontmoet . . . Dickens sou óf trots, óf jaloers gewees het.

Het ons iemand soos Dickens in Afrikaans? Ek is nie seker nie. Van ons (effens ouer) jeugboeke, wat steeds gewild is, gebruik die helder beskrywings sonder om Dickens na te boots.

Cor Dirks kry dit byvoorbeeld reg om oor die generasies heen kinders te laat lees. My seun geniet Die Uile – vandag nog. Dit vertel vir jou iets van die manier waarop Dirks geskryf het.

Of wat van Trompie? My knaap praat van “daardie stout seun” as hy na Trompie verwys – iets wat natuurlik ’n eretitel is.

Ek dink die Keurboslaan-reeks sou ook trekke van Dickens kon toon.

Interessant genoeg weet ek nie of Chris Barnard in daardie kategorie sou val nie? Boela van die blou water is ’n wonderlike tienerroman, soos ook die twee boeke oor Danda en Danda op Oudeur; dalk is daar iets in die skurke wat tog aan Dickens laat dink?

Jan Rabie se briljante Seeboek van die Sonderkossers het dit nou weer nie. Ek dink ook nie George Weideman het so geskryf nie.

Die moderne klomp? Jaco Jacobs se tienerwerk is redelik gestroop – hoewel sy werk vir die jonger kinders nogal grillerig kan wees. Fanie Viljoen . . . nee. François Bloemhof? Ook nie werklik nie. Carina Diedericks . . . ek weet nie.

Dis goed dat ons skrywers níé ander naboots nie.

Ek moet egter vandag erken ek het baie by Dickens geleer. Viva Charles, viva!

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Komedie van lekkerlag

Februarie 4, 2012 in Sonder kategorie

(Alle foto’s deur Maynardville verskaf)

Ek  het Donderdagaand A comedy of errors, wat in Maynardville opgevoer word, gaan kyk. Genade, ons het lekker gelag.

Shakespeare het aanvanklik die stuk laat afspeel in Griekeland, hoewel die navorsing toon sy temas en storielyn was geheel en al Italiaans.

Aangesien daar tóé reeds ’n deurmekaarspul was, het die regisseur, Matthew Wild, besluit om stuk ’n Chinese gevoel te gee, met ’n Kungfupanda en al. Shakespeare meets Bruce Lee, is die tagline wat hulle gebruik. Dit lyk en voel nou soos ’n Kungfufilm uit die sewentigs. En dit werk!

Tydens die pouse het die DJ (’n aktiewe deel van die “dekor”) “One night Bankok” gespeel en daar is afgesluit met “Everybody loves Kungfu Fighting!”

Vir dié van julle wat die stuk nie ken nie, die volgende: ’n Ryk, identiese tweeling word gebore en terselfdertyd gee ’n arm vrou ook geboorte aan ’n identiese tweeling. Die ryk man koop dan die arm kinders as speelmaats en lyfbediendes vir sy eie twee seuns. Hulle gaan op reis, maar daar is ’n storm en die twee pare kinders word geskei. Die een ryk seun en sy bediende gaan woon on die stad waarin A comedy of errors, afspeel, die ander in ’n land wat in ’n staat van oorlog verkeer met hierdie stad.

Veel later beland hulle in dieselfde stad, en nou dans die poppe!

Die poppies ook. Kyk, Shakespeare was stout, en hierdie akteurs laat sy wense leef. Die een sekscene (skreeusnaaks) tussen die verskriklike vet kombuismeisie en die (geheel en al verdwaasde) lyfbediende, is só realisties dat Corina (aka Droomkind) gewonder het of daar ’n ouderdomsbeperking op die stuk is.

 

Die einste Corina was baie jaloers oor die stywe broekies en geweldige lank bene waarmee die meisies rondgeloop het. Die skoene, platformstewels soos ek laas in Chuck Berry-video’s gesien het, was eweneens indrukwekkend.

Eintlik hoef ek nog net nog een klein dingetjie te sê: Om die komediant Rob van Vuuren in Shakespeare te sien slapstick doen, is ’n belewenis. Om egter te sien hoe James Cairns reël vir reël sy gelyke is, dis iets om te aanskou. Hulle twee het die identiese tweeling gespeel wat lyfbediendes was. Hulle was beslis die mees genotvolle duo op die verhoog.

Gaan heen en geniet elke oomblik van hierdie uitsonderlike vertoning. Dis pret. Enorme pret. Vet pret!

Regisseur: Matthew Wild

Kostuum- en stelontwerp: Angela Nemov

Beligting: Kobus Rossouw

Klank: Lynley Pillay

Musiek (geskryf vir die stuk): Shaun Michau

Stemafrigter: Liz Mills

Bewegingafrigter: Anelisa Phewa

Julle sal nie spyt wees nie! Ek het elke sent se waarde vir my kaartjies gekry.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Slang vs Padda

Februarie 1, 2012 in Sonder kategorie

Bruinwaterslang (Lycodonomorphus rufulus) vs Rose se skurwepaddatjie (Capensibufo rosei)


Ons het in Luiperdskloof gestap toe ons op hierdie twee afkom. Dit was so ongeveer 100 m onder die eerste waterval.

 

 

Eers het die slang die padda styf vasgehou en – baie belangrik – die agterpote geïmobiliseer. Hierdie greep het minute lank geduur. Die slang se kop was op hierdie stadium nie betrokke by die aksie nie.

 

 

Ná ’n tydjie probeer die slang egter die padda slukbaar maak, maar kyk hoe die stert die greep op die agterpote verloor. Oeps!

 

 

Die slang sê reeds die tafelgebed, maar minder as ’n sekonde later skop die padda verwoed met daardie agterbene en kom weg.

 

 

Die slang het weer probeer aanval, maar die padda het droë grond bereik en weggekom. Hier sit sy.

 

My seun, wat die hele petalje saam met my aanskou het, so kommentaar was: “Ek was eers hartseer vir die padda. Maar die slang moet ook kos kry, so nou is ek ‘n bietjie hartseer vir die slang ook, maar eintlik bly vir die padda.”

 

Terloops: Ek het met 2/3 onderbelig, aangesien die water so donker is. Die padda se maag, selfs die slang s’n, sou anders heeltemal weggebrand wees.

 

Ek het op ISO 320 en f4.5 geskiet. Geen flits nie. (Ek het my 70 – 200 f2.8 L USM gebruik.)