Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

by izakdv

Reza de Wet is oorlede

Januarie 27, 2012 in Sonder kategorie

Die dramaturg, Reza de Wet, is oorlede. Sy het aan kanker gely.

 

Ek was bevoorreg om haar te ken. Sy was ’n intense mens, maar selfs vir die jong student, wat ek in daardie jare was, het sy altyd ’n vriendelike oomblik gehad.

 

Tydens die openingsaand van Drif het ek digby haar gesit. Sy was ’n bondeltjie spanning met hande wat styf vasgeklem is voor haar. Ek moet erken: Ek het daar en dan besluit dat ek ook eendag soos sy in die gehoor wil sit en sien hoe ’n drama uit my pen opgevoer word. Dalk gebeur dit nog!


Toe, as uitgewer, was ek weer bevoorreg om haar paaie te kruis. Protea Boekhuis het verlede jaar haar liriese stuk, Die see, uitgegee. Hierdie drama het in talle opsigte ‘n kroon gespan op haar werk. Ten eerste het die stuk haar kwarteeu in die teaterbedryf gevier. Meer nog, De Wet, wat die Hertzogprys al twee keer verower het, was vir baie lank nie op die verhoog nie, maar in Die see het sy weer self die kollig betree.


Die stuk handel oor drie slawevroue wat opgelei word as courtisanes vir die Nederlandse bevelvoerder aan die Kaap.

Reza het verlede jaar aan Daniel Hugo, wat Die see vir Protea versorg het, genoem dat dit ook haar laaste stuk sou wees. Sy het reeds in 2007 amptelik afgetree as professor in drama aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad.


Reza de Wet word oorleef deur haar man Lindsay Reardon. Sy sal baie lank onthou word deur liefhebbers van die drama. En sy inspireer my steeds om my eie drama op die planke te wil sien.

by izakdv

’n 10m-lange kamera? Jip!

Januarie 26, 2012 in Sonder kategorie

Al gehoor van ’n kamera wat meer as 10 m lank is en negatiewe skiet wat 1.8 m hoog is? Nog nie? Dan moet jy onmiddellik hierdie skakel volg: http://www.the-digital-picture.com/News/News-Post.aspx?News=1851

Die kamera is deel van Dennis Manarchy se “Vanishing Cultures”. Lees gerus meer daaroor op hierdie skakel: http://www.thefpac.org/index.html

Ek is jaloers. Ek wil ook so iets doen in Suid-Afrika. Nie met so ’n groot kamera nie, my toerusting is voldoende, dankie, maar wel met die doel om te dokumenteer.

Een van die mense wat geweldig baie doen in hierdie verband, is Gavin Furlonger, van PAPA. Lees gerus watter wonderlike werk Gavin reeds doen: http://www.papasa.co.za/

Dan is daar natuurlik mense soos Roger Ballen, wat in die jare tagtig reeds Suid-Afrika se “vanishing cultures” begin vasvang het. Enige een wat nie Roger se puik foto’s ken nie, kan gerus Dorps, small towns of South Africa koop. Dit bevat talle foto’s van dinge wat lankal verdwyn het in ons dorpies: http://www.kalahari.com/books/Dorps/632/40785775.aspx

Koop Dorps gerus en ondersteun dié inisiatief. Ons gaan nog meer doen! Ek werk reeds aan volgende projekte.

by izakdv

Ondewater-Canon

Januarie 12, 2012 in Sonder kategorie

So ’n bietjie pret: Hoe neem jy ’n kamera onder water af sonder om dit te breek?

 

Wel. So:

 

1. Jy neem die kamera op droë grond af.

 

2. Jy verwring perspektief en sit ’n “ripple” op.

 

3. Neem visse af. Kopieer die visse oor die oorspronklike foto.

 

4. Neem ’n swembad af teen die lig. Sny ’n stukkie water uit wat woes reflekteer en skep ’n tweede vlak (layer). Plak dit oor die eerste vlak en reduseer die deursigtigheid.

 

5. Stoot die kontras op.

by izakdv

Eucalyptus

Januarie 9, 2012 in Sonder kategorie

Papierboek 1

 

Papierboek 2 – Sien heel onder vir die e-boek

 

So nou en dan gebeur dit ek ’n boek lees wat my net heeltemal anders laat dink oor die letterkunde en die lewe. Eucalyptus, deur Murray Bail, is een so ’n boek.

 

Dit is ’n liefdesverhaal, ’n doodgewone liefdesverhaal, wat ook letterkundige pryse losgeslaan het – en my voete onder my uit. Ek kon nie wag om laataand weer in die bed te klim en nog ’n paar hoofstukke te lees nie.

 

Waaroor gaan die boek? ’n Man plant sy hele plaas vol Eucalyptusbome en, wanneer die bome en sy dogter mooi groot is, dan skryf hy ’n kompetisie uit: Die eerste man wat al die bome op sy plaas reg kan identifiseer, kan met sy dogter trou.

 

Dit is dus ’n sprokie. Julle kan dink hoe die verkeerde man die waarskynlike wenner is, hoe die dogter voel en dan… is daar hoop? Lees self. Ek dare julle!

 

Dit is ook ’n literêre roman. Die pa waarsku die dogter gereeld teen mans wat vir haar stories vertel, en natuurlik daag daar dan een op – wanneer dit eintlik al te laat is… Wat gaan gebeur? Lees. Julle sal nie kan ophou. Weens die meta-aard van die teks moet ’n mens kophou, maar dis iets wat enige leser sal kan baasraak.

 

***

Terloops. Daar is meer as 600 spesies Eucalyptus in Australië. Die boek vertel jou oor talle van die verskillende spesies, en dis fassinerend. (In Suid-Afrika ken ons die Bloekom goed.)

 

Soos dit nou maar gaan, maak boeke ook my oë oop vir die wêreld. Ek woon nou al meer as twee jaar naby ’n parkie waar ek feitlik daagliks met my honde gaan stap. En na ek Eucalyptus begin lees het, kom ek skielik agter die hele park is vol verskillende Eucalyptusbome geplant. Genade.

Ek moes hulle natuurlik toe afneem.

 

***

Eucalyptus is al ’n ou boek, dit het reeds in 1998 verskyn, maar Izak is mos maar stadig. Gelukkig het ek goeie vriende. Maya Fowler (An elephant in the room) het dit so ’n ruk gelede nodig gevind om my op te voed en dra nou en dan boeke aan wat sy dink ek moet lees. Is vriende nie wonderlike goed nie?

Ek wil vra: Lees eers die boek voor jy enige resensies lees, want daar is spoilers ingebou in talle van die resensies. As jy my nie wil glo nie, kyk wat Michael Ondaatje hieroor sê: “One of the greatest and most surprising courtships in literature.

  

As jy nie vir my én Ondaatje wil glo nie en meer wil weet, kyk gerus na hierdie skakel, maar hier is spoilers in, jy’s gewaarsku: http://www.trojanpress.com.au/assets/Oz_23_what_tree.pdf

  Die boek is ook as e-boek beskikaar. Kliek hier vir die e-boek.

 

by izakdv

Vlerke

Januarie 9, 2012 in Sonder kategorie

1/2000 f8 ISO500 (35mm)
Canon 1DmkII
Canon 24 – 105 L IS USM

 

1/2000 f5.6 ISO500 (35mm)
Canon 1DmkII
Canon 24 – 105 L IS USM

by izakdv

Vaderskap II

Januarie 4, 2012 in Sonder kategorie

Ek moes dit net deel. Dit het ongeveer ’n uur gelede gebeur.

Ek is besig om meer as 5 ton Protea Boeke na die VSA te verskeep, en al die agente het meer vrae as wat daar nulle in hulle kwotasies is.

Knaap wil toe verf – hy wou sy motor pimp. Ek sit toe koerante en dies meer neer, wys hom hoe om die verf te meng en woerts terug kantoor toe.

Na ’n tydjie is daar hierdie benoude roepie: Pappa! Help!

Toe ek onder kom, vertel ek hom summier dat hy nie mag beweeg voor ek nie die kamera het nie. (Kamera is altyd gereed, maar dit was in die kantoor.)

Helaas. Vloer is intussen skoon, ek en Knaap is albei gestort en die agente is besig.

All in a day’s work.

Ek het darem sterretjies gekry van Knaap.

* * *

Vir die tegnici: In die situasie waar mannetjie met sy rug na die lig staan (heelbo), skiet altyd 1 stop oor, want die lig van agter sou anders die kleure op sy lyfie wegsteek. Brand agtergrond. Jy wil die kleur op hom hê en daar was nie tyd of die noodsaak om flitse op te stel nie. Ditto met hierdie selfportret hierbo.

by izakdv

Hart se punt

Januarie 4, 2012 in Sonder kategorie

Gister moes ek weer iets doen wat my hartjie breek. ’n Man uit midde-Afrika bring gisteroggend vir my sewe foto’s en vra ek moet hulle asseblief skandeer en vir hom op skyf sit. Die een hier is my vrou. Dit is my eersgeborene. En hier is my jongste. En dis die ander twee seuntjies.

Vroulief is beeldskoon. Nommer een is duidelik skrander, want sy wen ’n prys op die een foto. En kleinman fris en kontant. Hy het 4.2 geweeg by geboorte.

Ek beloof toe om ná werk dit vir hom te doen en vanoggend weer terug te gee. Sommer die wit- en swartpunte ook reggestel, kontras gedoen en die merkies op die fotos, al stukkend gevat, skoongemaak. Soos mens mos maar doen vir ’n professionele kliënt, behalwe dat hy natuurlik nie sal betaal kan nie. Daarom doen ek dit gratis.

Maar tog. Ek kon vir hom sewe foto’s op skyf sit.

Dis wat hy het. Sewe foto’s.

Daar is min goed wat ’n mens so diep raak soos kinders. Selfs van my baie goeie vriende wat nie kinders het nie, doen dikwels baie moeite om die kinders in die vriendekring ter wille te wees.

Ek sou nie kon werk waar ek nie my kind kan sien grootword nie.

Die gebroke hartjie in die foto is juis ’n skepping deur Knaap. Hier in die vakansie het hy en maatjies gliserienseep gesmelt, gegeur en gekleur (onder toesig). Sodat pa nog kon werk. (Ek het verlof geneem en gaan nog ’n paar dae neem, maar dit het nie die verwyt Jy werk altyd afgeweer nie.)

Tog, ek is hier. Ja, ek moet vir knaap leer dat ek my ure moet werk voor ek kan speel, maar ek het ’n wonderlike werk waar ek byderhand is om pa te wees as dit nodig is.

Toe sien ek gistermiddag hierdie sepie, stukkend, voor die bottel winkelseep lê. Natuurlik moes die kamera uit. En ná ek die sewe foto’s vir die man op skyf gesit het, ontwikkel ek toe die hartjiefoto. Ek kon nie anders as om dit ook op die blog te sit nie.

Gisteraand nog het die jongman weer gevra ons moet ligsirkels teken. En hier is sy beste resultaat van gisteraand.

Ek sou nie ’n trekarbeider kon wees nie. Dalk wel as daar geen ander manier was om vir Knaap kos te gee nie. Maar ek is bly daardie beker het my verbygegaan.

by izakdv

Mag daar meer swartmense geëet word in 2012

Januarie 2, 2012 in Sonder kategorie

Woordvoerder in Kaapstad: “In fact we’d love to see a few blacks get eaten, just to prove that we’re a non-racial city.”

 

Lees gerus hierdie skakel en lag saam.

(Dit is satire, oukei?)

by izakdv

Ek gaan vandag in Kewtown braai

Januarie 1, 2012 in Sonder kategorie

 

My 2012 begin op ’n filosofiese, dog positiewe noot. Ek gaan vandag in Kewton braai.

Waar is Kewtown? Dis ’n arm buurt, ’n sogenaamde “bruinbuurt” – taamlik naby die plek waar die koeltorings opgeblaas is en reg langs die rioolwerke.

Hoekom? Want ons vriende het ons genooi – en hierdie twee mooi meisies (hierbo) gaan daar wees. Hoekom dan nou nie?

Die einste twee meisiemense se grootste bekommernis is: Lyk ek mooi genoeg? Kan ek NOG gewig verloor? Moet ek nie minder eet nie?

Dêm. Maar krap dieper, dan begin jy by die mens agter die bene uitkom en jy besef dat selfs tieners mense is.

Jip. Die snaakse ding is, hulle is mense soos alle ander mense.

Hoekom sê ek dit?

Iets krap. Die ander dag was ek by ’n ongelooflike opvoering deur die EOAN-groep. En daar was net een ander wit gesin in enorme die Joseph Stone ouditorium. Hoekom?

André Brink het al in Kennis van die aand die EOAN-groep aan die Afrikaanssprekendes bekendgestel. Sy hoofkarakter was fiktief, maar die plek waar hy sy opleiding gekry het, is nie. Vandag, dekades na Kennis van die aand verskyn het, is daar steeds talle wit Kapenaars wat nie sonder ’n kaart of GPS by die Joseph Stone sal uitkom nie – dis nou te sê as hulle dit sal waag om hulle 4×4’s soheentoe, na Kewtown toe, te bestuur.

Hoekom? Herman Wasserman het ’n ruk gelede ’n puik stuk geskryf oor die Afrikaanse pers wat steeds “ons” en “hulle” aanhang. Maar die feit is, baie van die goed wat Herman as “ons” bestempel, geld net so veel daar in Kewtown. “Ons” én “hulle” hou van melktert, ’n stukkie braaivleis en van ma se kos. Hierdie twee meisies is verslaaf aan Twitter, Facebook en MixIt.

Funie, my assistent en medefotograaf is ’n uiters intelligente meisiekind wat nog groot hoogtes gaan bereik. Hier is sy. (Sy hou nie van afgeneem word nie 😉

En hier is haar punte aan die einde van graad 11.

Engels 72%

Afrikaans 70%

Wiskunde 90%

Besigheidstudies 71%

Lewenswetenskappe 80% (was bekend as Biologie)

Fisiese wetenskap 73% (was bekend as Skeinat)

Lewensoriëntering 84%

Dôner. Dan is sy nog mooi ook. Sy’s lief vir lees, vir fotografie, vir kuns en … wil ’n aktuaris word.

My wens vir 2012 is werklik dat ons, wat Afrikaans praat, minder moet laer trek. Ek sien dit nog te veel in die Kaap, ook in Pretoria, om nie van die dorpies Noord van Pretoria te praat nie.

Ek gaan op die eerste dag van 2012 in Kewtown braai. Nie oor ek ’n statement wil maak nie. Nee. Ek gaan want ek is deur vriende genooi wat my taal praat, lief is vir braai en my ou-oomlyf laat goed voel as hulle mooi dogters my drukkies gee. Salig.

* * *

Op ’n tegniese noot. Die twee meisie hierbo is afgeneem in die ateljee.

Die lig is verskaf deur twee Canon Speedlight 430EX-flitse wat deur wit sambrele geskiet is.

Ek het ’n Canon 7D gebruik, wat self die flitse beheer, en vir Funie het ek ’n Canon ST-E2-versender geleen sodat sy met haar Canon 350D ook die flitse met afstandbeheer kan laat afgaan.

Om daardie foto te kry, het ek plat op die grond gesit, die meisies het op ’n lae tafel gestaan en ek het met ’n wyehoeklens daardie bene bekruip.

1/125 f5.6 ISO100 (16 mm)

Canon 7D, Canon 16 – 35 2.8 L