Jy blaai in die argief vir 2011 Desember.

Profile photo of izakdv

by izakdv

The Birds @ Kirstenbosch

Desember 29, 2011 in Sonder kategorie

Wat is vrek snaaks, baie stout en begin om 07:00 die oggend in Kirstenbosch? The Birds, die Engelse vertaling van Aristophanes se klassieke Griekse klug.

Jip. Dis ongeveer 2 500 jaar gelede geskryf, maar daar is steeds heelwat ooreenkomste met vandag se samelewing. Wees egter gewaarsku: Die Grieke het nie ’n Victoriaanse, kwasi-morele godsdiens beoefen nie. Hulle was biseksueel en was daarop uit om soveel seks as moontlik te hê. Ou Aristophanes het ongetwyfeld sy mark geken en het vir hulle geskryf. Roy Sargeant, die regisseur, sê dan ook in sy programnotas dat vandag se slapstick al die pad teruggevors kan word na Aristophanes toe. Dink bietjie wat sal gebeur as Leon Schuster gevra sou word om ’n opvolg te skryf op Lipstick Dipstick … (die SA-weergawe).

Die enigste verskil is dat Aristophanes deurentyd bytende kommentaar lewer op die samelewing.

Dit maak uiteindelik baie goeie teater; gek en klugtig, maar ook slim en bytend. Wat meer is, dit word in die buitelug opgevoer. Jy sit op kliptrappies in ’n klein, intieme amfiteater, nes die ou Grieke van ouds. En die Grieke het ook so vroeg in die oggend die dag begin met ’n drama. (Beskaafd, nie waar nie?)

Sargeant het ’n teks van Gilbert Murray geneem en effens aangepas. Hier is sy eie woorde:

The text we are using is essentially the translation of Gilbert Murray with the naughty bits brought back in. As nothing was sacred to Aristophanus, we trust his shade will forgive us if some of our interpolations don’t treat his text with absolute reverence.

Ek het die teks baie maklik gevolg, al is Murray se vertaling ’n kopknik na die ouer Engels. Ek het egter wel gehoor dat een van die Afrikaanssprekende teatergangers vir ’n vriendin gesê het dat sy moes konsentreer om die Engels te volg.

Ek het die voorreg gehad om ná die tyd saam met Cecile Cilliers ontbyt te eet en haar ongelooflike insigte in die ou wêreld het my die teks stuk nóg meer laat geniet. Van belang is dat sy ook die produksie goed gevind het – julle hoef dus nie bloot my woord te aanvaar nie.

Gaan dus. Neem ’n oop gemoed en neem kussings. Daardie kliptrappies is hard. Selfs my vet boude was seer na 90 minute – en ek hét ’n kussing gehad.

Die stuk is nie vir kinders nie, hoewel ek twee meisies van ongeveer sestien dopgehou het (die jongste in die gehoor). Hulle het duidelik die grappies verstaan en was geamuseer daardeur. Ek ken veertienjariges wat volwasse genoeg is om die stuk te volg, en ek ken veertigjariges wat g’n snars daarvan sal verstaan nie.

My enigste kritiek is dat die veiligheidswagte by Kirstenbosch nie baie teatervriendelik is nie. Hulle moet beter opgelei word vir sulke geleenthede. En ek dink ook die tuin moet afslag gee aan teatergangers – veral vir hierdie soort stuk.

Ek het ’n seisoenkaartjie by Kirstenbosch en kon dus sonder probleme ingaan, maar eers nadat ek die wag moes oortuig dat ek nie grawe gebring het om sy broodbome te steel nie.

Hoe ook al – dis juis sulke kleinsieligheid wat gemaak het dat Aristophanes hierdie drama geskryf het. Die twee hoofkarakters, Peisetaerus en Euelpides, verlaat die stad se kleinlikhede en oortuig die voëls om ’n nuwe ryk, Cloudcookooland, tot stand te bring. Alles verloop skynbaar glad – tot die gode ’n wulpse vrou stuur om Peisetaerus se knaters te koop.

Die stuk speel tot en met 15 Januarie. Moenie dit misloop nie.

Tegniese goed:

  • Roy Sargeant is die regisseur.
  • Nhlanhla Mkhwanazi het die choreografie behartig – hy is duidelik ’n voëlkenner, want sy spelers maak hulle karakters puik na.
  • Die hoofrolle word gespeel Jeroen Kranenburg (wat werklik snaaks is) en Nhlanhla Mkhwanazi (wat ’n heerlike, plaaslike geurtjie in die bredie gooi – tot die gehoor se groot vermaak).
  • Anele Situlweni en Frans Hamman laat jou heerlik lag met hulle wonderlike voëlmaniere terwyl hulle die twee mense na die voëls lei.
  • Michael Inglis is ’n puik hoep-hoep.
  • Die res van die groep, Wiseman Sithole, Armand Aucamp, Francis Chouler, Riaan Visman, Lee Roodt, Anele Situlweni, Melissa Haiden en Zondwa Njokweni, speel almal hulle harte uit met baie goeie komiese tydsberekening.
  • Michael Tuffin het die musiek spesiaal geskryf vir die stuk.
  • Groot applous moet ook gaan na Keith Anderson wat vir die kostuums verantwoordelik was.

Ondersteun ons plaaslike teater. Die Voëls is nie so briljant soos Aristophanes se Lycistrata nie, maar dit is goed. Die spelers is puik, en as genoeg mense gaan, kan ons dalk volgende jaar Lycistrata sien speel. Ek is seker Sargeant sal nie terughou op die masturbasietonele nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

RIP John Kannemeyer

Desember 27, 2011 in Sonder kategorie

John Kannemeyer was ‘n moeilike mens, maar ‘n briljante biograaf.

Ek salueer ‘n groot skrywer.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Saluut, oom Adam

Desember 21, 2011 in Sonder kategorie

Dit is vandag Adam Small se 75ste verjaarsdag.

Ek het ’n rukkie gelede ’n gedig geskryf vir Small en dit voorgelees by die Woordfees op Stellenbosch.

vir goed

 

sjibolet! sou op jóú nie werk nie

die taal

is te suiwer in jou mond

 

dáárom is die daais gelaai

die wit en swart daais

die daais

wat witkant bo moes lê

 

maar kyk

in jóú hand was ’n pen:

die pen wat sjibolet! gespoeg het

die pen wat Makiet gebaar het

die pen wat Adam Small

se kinders

laat huis toe kom het

 

vir goed

Daar was ’n paar baie goeie gedigte wat daardie dag voorgelees is. Om van die ander te hoor, volg hierdie skakel om ’n potgooi af te laai van die RSG-program, Vers en Klank, wat Margoy Luyt opgeneem het en op 4 Desember uitgesaai het:

http://www.rsg.co.za/forcedownload.asp?fn=20111204%5FVERS%5FEN%5FKLANK%2Emp3&f=%2Fimages%2Fupload%2Fsound%2Fklanke%2F

Verlede Sondag het akteurs ’n aantal van Small se eie verse voorgelees, ook vir RSG-program, Vers en Klank, wat op 18 Desember uitgesaai is: http://www.rsg.co.za/forcedownload.asp?fn=20111218%5FVERS%5FEN%5FKLANK%2Emp3&f=%2Fimages%2Fupload%2Fsound%2Fklanke%2F

(Ek plaas die volledige skakels sodat julle dit in die snuffelaar kan plak, dan laai die lêers onmiddellik af.)

Iris Bester het ook laat weet dat ’n vroeër hoorbeeld oor Adam Small weer op Donderdag 5 Januarie 2012 uitgesaai gaan word, om 21:10, net na die 9-uurnuus op RSG.

En moenie Adam Small se skrywersprofiel op LitNet misloop nie: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=34421&cat_id=667

Profile photo of izakdv

by izakdv

COP 17, kop jy?

Desember 6, 2011 in Sonder kategorie

 

Volgens berigte in die pers was daar oor die naweek ’n hele aantal Zuma-ondersteuners wat ’n protesoptog tydens COP-17 geïnfiltreer het en mense geïntimideer het wat die regering kritiseer. Vroue van die Rural Women’s Assembly (RWA) is byvoorbeeld uitgeskel as “bicthes” en die suggestie is gemaak dat hulle net daar is om geld te maak met hulle vaginas – hoere dus, is hulle genoem. Lees gerus hier.

 

Hier is nog ‘n berig. Dat sommige lede van dieselfde lot intimideerders na bewering ook plakkate gedra het wat sê “100% Zuma” en “Fire Malema”, beteken nogal iets. Van hulle het klaarblyklik selfs kanga’s rondgeswaai om Zuma te ondersteun. (Nee, ek sal nie vloek nie, al wil ek.)

 

Dis ontstellend, maar hoeveel van ons weet dat die NP soortgelyke goed aangevang het?

 

Ons is deesdae baie vinnig om die sondes van ons vaders te vergeet. Daar is egter drie boeke wat ek onder julle aandag wil bring, al drie geskryf deur Dot Serfontein.

 

Serfontein is Antjie Krog se ma. En, soos haar dogter, was tannie Dot op haar dag ‘n vermaarde joernalis. (Krog het haar eie beeld baie geskaad met haar baie swak dekking van die WVK, maar haar vroeër werk was goed.)

 

Tannie Dot se boeke is ongelooflik belangrik vir ons as Afrikaanssprekendes, want dit vertel ons waar ons vandaan kom. Anders as Antjie Krog, was Dot Serfontein ‘n Nasionalis deur en deur.

 

Ek weet daar is deesdae geen enkele persoon wat ooit NP gestem het in julle vriendekringe nie, maar Dot Serfontein is trots op haar NP-wortels. Ek het self ‘n bietjie navorsing gedoen onder mense van tannie Dot se generasie, en … ons voorouers was geen politieke engeltjies nie. Nazi-tegnieke het hoogty gevier onder die NP-ondersteuners van sommige takke. Zuma het nog baie om te leer.

Ek dink ‘n teks soos Systap onder die juk moet verpligte leesstof wees vir enige Suid-Afrikaner – maar veral vir Afrikaners van my ouderdom en jonger. Wees egter gewaarsku: Jy gaan dalk goed van jou oupa ontdek wat jy dalk nie wou weet nie. Hy was dalk erger as Malema – en het weggekom daarmee.

 

Twee ander wat ek sterk kan aanbeveel is Vrypas en Ek is maar ene, albei deur Dot Serfontein.

 

 

* * *

  

Op ’n heel ander noot kan julle gerus op LitNet gaan kyk na die fiasko rondom Strijdom van der Merwe se blou lyn. Dis om van te huil.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Huldeblyk aan Adam Small

Desember 2, 2011 in Sonder kategorie

Hier is ‘n nota van Melt Myburgh af:

 

* * *

 

Liewe vriende, digters en poësieliefhebbers,

 

Luister gerus op Sondag, 4 Desember 2011 tussen 10:00 en 10:35 na “Vers en Klank” op RSG (100-104FM).

 

Die gedigte wat vir Versindaba se huldeblyk aan Adam Small geskryf is, word uitgesaai.

 

* * *

 

RSG is ook op die web beskikbaar by www.rsg.co.za

 

Margot Luyt het baie moeite gedoen hiermee. Luister gerus!

Profile photo of izakdv

by izakdv

1 Desember: Wêreldvigsdag

Desember 1, 2011 in Sonder kategorie

Liefde

Veilige seks

Liefde

Kondome

Liefde

Femidome

Liefde

Positief

Liefde

 

 

1/80, f1.8, ISO320

Canon 7 D, Canon EF 1.8 50mm II

1 Desember 2011