Jy blaai in die argief vir 2011 November.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Hol

November 30, 2011 in Sonder kategorie

 

 

Ek hol tans my gat af, en sukkel dus om tyd te maak vir resensies. Ek geniet egter my werk, so, voor ek verder in die nie-holte van werk vasdraf, moet ek gou oor Hol skryf sodat ek die lam gevoel in my agterwêreld kan afskud.

 

Ja, Hol gaan oor woordspelings, maar ook oor meer as dit.

 

Vir ’n hele uur lank is Nicola Hanekom op daardie trapmeul. Sy hol en sy praat oor die holtes in haar siel.

 

Jip, sy hol al vandat die gehoor opdaag en hulle plekke inneem. En dan hol sy tot die einde toe. Sy’s fiks, dis verseker.

 

’n Mens moet erken Hanekom kan hol! Wat meer is, sy het die stuk self geskryf.

 

Hol is nie maklik nie, maar daar is talle ligte oomblikke in die stuk. En, hoewel die probleem van eetversteurings en seksuele misbruik ter sprake kom, voel jy as lid van die gehoor nooit dat jy wil uithol nie.

 

Ons is opgevoed, sien.

 

Mense wat van Maya Fowlers se roman The elephant in the room gehou het, sal ook by Hanekom se stuk aanklank vind. Dit is belangrik om mense se obsessie met hulle lywe aan te hoor. In Theo Kemp se Skool is daar ’n hoofstuk wat ook handel oor meisies en hulle eetversteurings. Hier beleef ons dit vir ’n hele uur lank.

 

Hanekom verdien ’n kopknik en applous vir die skryf van die stuk en vir die manier waarop sy die hoofrol speel.

 

Ondersteun Afrikaanse teater. Dis dalk nie vir altyd daar nie.

 

Hol speel in die Kunstekaap en is nog aan tot 2 Desember. Nicola Hanekom is die dramaturg en sy speel ook die rol. (Sy is alleen op die verhoog.)

 

Die tegniese span lyk só:
Regie Fred Abrahamse
Ontwerp Marcel Meyer

Hol word aangebied deur Kunstekaap. Dit is ’n projek van die Kunstekaap se Nuweskryfprogram. Die stuk word ondersteun deur die Nasionale Loteryverspreidingtrustfonds en die Nasionale Kunsteraad.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Diesel & Dust (en ’n mooi onderwaterstorie)

November 30, 2011 in Sonder kategorie

As julle in fotografie belangstel, Obie Oberholzer is in Stellenbosch op 1 Desember 2011, sien detail hieronder.

 

 

 

Ek het gisteraand die bekendstelling van Diesel & Dust deur Obie Oberholzer bygewoon in die Book Lounge, Kaapstad. Dit was gepak. Daar was letterlik nie genoeg plek nie. Die foto’s is fantasties, soos jy kan verwag. En die stories … ag nou ja. Gaan luister self.

 

Ek het die boek gekoop, al is ek op ’n knap begroting. Dis oor en oor die moeite werd.

 

Die foto’s is ongelooflik.

 

As julle wil gaan:

1 Desember 2011, 18:30 vir 19:00

Sasol Kunsmuseum

Ryneveldstraat 52, Stellenbosch

RSVP matthew@jacana.co.za / 011 628 3200

 

# # #

 

Laastens: Hier is ’n mooi storie wat niks met Obie te doen het nie, maar alles met foto’s:

 

’n Skubaduiker, Markus Thompson, het ’n Canoon 1000D opgetel terwyl hy in British Columbia geduik het. Die sout het die kamera verwoes (dit was meer as ’n jaar onder die water), maar Sandisk Extreme III 20mb/s 2GB-kaart het nog gewerk.

 

Thompson wou toe die foto’s vir die oorspronklike eienaar teruggee en het via Google+ die man opgespoor, danksy die foto’s.

 

Lees self die storie hier: https://plus.google.com/104277202662943073951/posts/MH4ZjS8fi2q

Profile photo of izakdv

by izakdv

Die man wat sensuur kon stop – en dit gedoen het!

November 23, 2011 in Sonder kategorie

Wat doen ons die dag ná Swart Dinsdag?

 

Dit is soms moeilik om silwer randjies raak te sien op sulke donker dae, maar hier is ’n boek wat vir julle kan hoop gee.

 

Kobus van Rooyen was die hoof van die Suid-Afrikaanse sensuurraad. Hy is aangestel om boeke en films te verban. In plaas daarvan het hy van binne af die wet gebruik om boeke te ontban.

 

PW Botha en sy boeties het niks daarvan gehou nie. Kobus is gedreig en sy huis is selfs een maal met ’n petrolbom bestook, maar een mens kan ’n verskil maak.

 

Lees gerus A South African Censor’s Tale. Dit is werklik snaaks by tye en gee jou dalk ’n paar idees oor hoe om aan te hou veg teen die ANC wat al hoe meer soos die NP word.

 

Philip Altbeker het ‘n baie interessante stuk oor die boek geskryf in Business Day. Lees gerus.

 

NUUSFLITS!

 

Kobus is tans in Londen en praat Donderdag 24 November op BBC Today oor sy boek en oor die wet wat gister ingestem is. Dit sal tussen 09:00 en 11:00 Suid-Afrikaanse tyd uitgesaai word. Julle kan oor die internet na die gesprek luister, kliek die volgende skakel om BBC Today lewendig op jou rekenaar of selfoon te hoor: http://news.bbc.co.uk/today/hi/default.stm

 

Net onder die logo is ‘n knoppie wat sê LISTEN.

 

Ironies, nie waar nie? Ons moet vanuit Londen na hom luister.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Dis waar alles begin het

November 18, 2011 in Sonder kategorie

Julle weet nou al ek is mal oor fotografie, maar weet julle wie die eerste kommersiële films ontwikkel het?

Louis Daguerre, ’n Franse fisikus, het dit reggekry om beelde vas te vang sonder dat hulle weer (gou) vervaag. Hy is nie die eerste ou wat probeer het nie, maar is wel die eerste ou wat die proses kommersieel haalbaar gemaak het.

Hy is vandag 224 jaar gelede gebore, en dis hoekom Google se doodle vandag soos een van sy portrette lyk. Lees gerus meer.

Vandag skiet ons maklik ’n paar honderd foto’s op ’n enkele voël om een uitstaande foto te kry.

Ons het die vermoë om tien (of selfs meer) skote na mekaar te skiet teen 1/1000ste van ’n sekonde.

Vandag se CMOS-sensors werk nie meer met giftige chemikalieë soos in die dae van films nie, maar die beginsel – dat lig op ’n fotosensitiewe kol val en kommersieel gestoor kan word vir die nageslag – bly dieselfde.

Saluut, Louis Daguerre. Jy het al baie vir my beteken.

Bloureier in broeidrag @ Intaka

1/1000; f7.1

Canon 7D

Canon 300mm f4 L IS + Canon 1.4 MKII verlenger