Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

by izakdv

Solomon & Marion

Oktober 31, 2011 in Sonder kategorie

Ek was baie gelukkig om nog ’n kaartjie te kon koop vir die tweede voorskou van Solomon & Marion, Lara Foot se nuutste stuk. Die ervaring is iets om te onthou.

 

 

 

Dit was die eerste keer sedert 1976 dat Dame Janet Suzman weer in Suid-Afrika op die verhoog te sien is. Sy is sedertdien tot Ridder geslaan in die VK, en is ook benoem vir ’n Oscar, ’n BAFTA en ’n Golden Globe. ’n Mens verwag dus slegs die allerbeste van haar, en dit is presies wat jy kry. Haar tydsberekening en haar vermoë om te onderspeel in haar rol as Marion, is iets wat enigiemand moet sien.

 

 

 

Julle ken egter die ou storie dat ’n goeie opponent die beste uitbring in enigeen, en dit was ook die geval met Khayalethu Anthony. Dis verstaanbaar dat al die koerante konsentreer op Dame Janet, maar genade, mense: hierdie jong man (slegs 25 jaar oud) is skuif vir skuif, scène vir scène haar gelyke op daardie verhoog. Tog moes ek hierdie foto van hom op Facebook gaan bum, want hy is nog totaal onbekend. Solomon & Marion is sy eerste hoofstroomrol.

 

Waar Dame Janet ’n verbitterde ou Marion speel wat haar vlymskerp verstand gebruik om die arme Solomon met uitstekende Engels te bombardeer, is Anthony se Solomon ’n jong man wat sosiaal totaal wanaangepas is in hierdie stiff-upper-lip-omgewing. Enige een weet dat dit makliker is om op ’n koord te loop, as om te maak of jy nié op ’n koord kan loop nie. Anthony speel hierdie rol van die jongman wat skynbaar nie kan nie, met soveel oortuiging, jy moet dit net sien.

 

Ek gaan nié ’n spoiler inbou in hierdie stuk nie, en ek wil waarsku teen agtelosige resensente wat dalk wel spoilers gaan inbou in hulle s’n. Gaan kyk liewer éérs die stuk, en dan lees julle die resensies.

 

Net nog dít: Lara Foot is bekend vir die ongelooflike goeie komedie in haar stukke, en hierdie drama, Solomon & Marion, kry ’n ditto. Op een stadium moes die twee akteurs improviseer omdat die gehoor te lank gelag het, en die volgende, baie belangrike woorddolke sou nie gehoor kon word nie. Moenie dat die storie van ’n vrou en haar vermoorde seun jou afsit nie, maar wees gewaarsku: jy sal nooit weer by Woolworths ’n hoender wil koop na hierdie stuk nie! O, hel, ons het gelag.

 

Toe, weg is jy! Kom lees later klaar 😉

 

Goed, as julle iets meer wil weet, of dit klaar gekyk het, hier is ’n baie sinoptiese opsomming van die plot: Marion is besig om ’n brief aan haar dogter in Australië te skryf. Dan verskyn Solomon eendag – hoewel Marion hom al lank sien rondsluip het om die huis.

 

Marion is verbitterd. Sy en haar man is uitmekaar na haar seun vermoor is, en sy woon nou vrou alleen op ’n verlate plot. Solomon, die kleinseun van die vrou wat eens vir Marion gewerk het, is duidelik bekommerd oor haar. Maar daar is iets anders wat hom dryf . . .

 

Ek gaan nie meer oor die storie vertel nie.

 

Solomon & Marion en The Beneficiary, wat ek verlede week geresenseer het, is skynbaar wêrelde verwyder. Tog is daar ’n paar goed wat ek met mekaar wil vergelyk: Albei is eg Suid-Afrikaans en in albei is daar stukke dialoog in Xhosa. Dit is veral die oomblik voor die ontknoping in Solomon & Marion dat Solomon ’n baie belangrike stuk doen in sy moedertaal. (En die moederverwysing is nie om dowe neute nie.) Solomon praat egter goeie Engels en dit sy vermoë om Marion se eie woorde teen haar te gebruik, wat die stuk uitsonderlik maak én dan Marion se siening van Solomon verander.

 

’n Enorme lekkerte was dat The Beneficiary geopen het voor ’n gehoor waarin die meerderheid van die gehoor Xhosasprekend was. Die waarderende gehoor by Solomon & Marion was egter so bleek soos ’n spook. Daar was baie Afrikaanssprekendes, dit kon jy ná die tyd hoor toe mense woorde soos ongelooflik, fantasties en wonderlik begin gebruik het.

 

Albei dramas, Solomon & Marion en The Beneficiary, het egter sóveel te vertel vir wit én swart Suid-Afrika, dat ’n mens regtig hoop dat gehore binnekort die stukke begin weerspieël. Albei stukke speel op ’n realistiese verhoog wat die ervaring so maklik maak soos om TV te kyk – net veel meer pret.

 

Gaan kyk asseblief Solomon & Marion. Janet Suzman is een van die grootste toneelspelers wat nog in Suid-Afrika gebore is, en Khayalethu Anthony is een van ons belowendste jong spelers. Lara Foot is eweneens ’n dramaturg wat stukke lewer waarop ’n mens trots kan wees.

 

Solomon & Marion laat ’n mens trots wees om ’n Suid-Afrikaner te wees.

 

Moet net nie die “Director and Author’s Note” lees voor die tyd nie. Die eerste, akademiese stuk moes deur ’n redakteur se hande gegaan het voor dit in die program ingesluit is! Eish. Lees ná die tyd die persoonlike stukkie. Dis aangrypend.

 

Tegniese goed:

Marion Banning: Dame Janet Suzman

Solomon Xaba: Khayalethu Anthony

Dramaturg en Regisseur: Lara Foot

Assistentregisseur: Thami Mbongo

Stelontwerp: Patrick Curtis (baie slim gedoen)

Beligting: Mannie Manim (nog eens, baie slim)

 

Die voorskou waar ek was, het uitverkoop. Die openingsaand was ook uitverkoop. Gou spring. Die Golden Arrow Studio in die Baxter is klein. Moenie hierdie een mis nie! Dit is nog op die planke tot 26 November.

by izakdv

Leeus bo

Oktober 30, 2011 in Sonder kategorie

 As jy aan die begin van die jaar vir my vertel het dat die Curry-beker vandag in Johannesburg sou staan, sou ek jou aanraai om nie vir die polisie te vertel wat jy rook nie.

Ek was nog nooit ’n aanhanger van die Leeus nie, maar ek erken ruiterlik dat ek baie bly is vir hulle part.

Verlede naweek het ek so gevoel toe Man City vir Man United met 6:1 kafgedraf het.

Soms moet die under dog wen. En die Leeus was vir lank genoeg soos ’n brandsiek kat in ’n dieretuin.

BRUL manne BRUL!

by izakdv

My taal, my grond

Oktober 24, 2011 in Sonder kategorie

Daar is ’n nuwe drama in die KunsteKaap Teater wat regtig die moeite werd is om te gaan kyk. Taalmense, spits julle ore, oor so vier paragrawe vertel ek hoekom. Die stuk gaan oor taal, oor ’n erfplaas en ’n omie met ’n hoed.

 

Jip, dit klink soos ’n stuk wat my pa sou geniet het. En hy sóú, as hy nog geleef het, want die storie is net soveel my pa se storie as wat dit Ndlalifa, die hoofkarakter s’n is.

 

Ek was by die openingsaand van The Beneficiary deur Sinethemba Twani.

 


 

Die storie is skynbaar eenvoudig: Lifa is ’n moderne jong man wat alles gee vir sokker. Hy is goed en wen ’n beurs om ’n sokkeradministrateur te word. Die wêreld is aan sy voete. Maar dan daag sy oupa eendag uit die Oos-Kaap op en bied die familieplaas aan Lifa – aangesien hy die enigste manlike afstammeling is met wie die oupa nog kontak het.

 

Lifa is glad nie opgewonde nie. Om die waarheid te sê: Hy is die moer in. Sy pa het weggeloop toe hy baie klein was en sy ma, Nomfusi, het hom met baie harde werk groot gemaak. Intussen het hy, Lifa, ewe hard gewerk om vir hom self ’n plekkie in die sokkerson te bespreek. Hy het dus geen lus om nou alles te los en daar op ’n plaas te loop sit nie. Interessant genoeg is dit sy ma wat baie graag wil hê hy moet dit aanneem, want dit is háár manier om die plaas in die hande te kry.

 

Die ontknoping is voor die hand liggend, hoewel nie voorspelbaar nie. En, net soos jy dink jy weet wat gaan gebeur, dit móét mos, dan loop iets weer skeef.

 

The Beneficiary is in ’n sekere mate ’n outydse drama: Die stel is realisties (wanneer laas het julle ’n volledige voorkamer op die verhoog gesien?) en die vloei is lineêr. Die storie is selfs outyds – Ingrid Jonker se bedonderde pa het al hieroor geskryf. Veertig, selfs tagtig, jaar gelede sou hierdie presiese stuk in Afrikaans gewerk het. Lifa sou ’n wit knaap wees wat wou rugby speel, maar die plot sou presies dieselfde gewees het. En dís interessant.

 

Tog is daar wonderlike nuwe goed wat op die verhoog gebeur het.

 

Die oupa, gespeel deur Chris Gxalaba, praat uitsluitlik Xhosa. En dis diep-Xhosa, nie township-Xhosa nie. Nêrens is ’n onderskrif nie, jy luister gewoon na hom wat pragtige, beeldryke Xhosa praat. En nee, moenie dat dit jou afsit nie! Die stuk is so geskryf dat enige een te alle tye bewus is van wat gesê word. Dis omdat die res van die gesin se Xhosa so swak is, dat die diepte van die ou man se woorde te alle tye oor en weer verduidelik word – ook aan die karakters. By ’n hele aantal geleenthede sê Lifa aan sy ma: “I don’t understand.” En dan is dit dikwels dat hy die woorde verstaan, maar nie die ryk beelde van die plattelandse Xhosa nie.

 

Ek was mal hieroor. Vir my was dit ’n fantastiese stap in die bevryding van ons inheemse tale. As ons dít méér kan regkry, dan is daar hoop vir inheemse tale in Suid-Afrika – en ek sluit Afrikaans hierby in. (Praat van Afrikaans, die akteur, Chris Gxalaba, is ook vlot in Afrikaans én Engels. Wat ’n talent!)

 

Al die akteurs het oortuig. Dit was ’n plesier om hulle dop te hou en om my te kon inleef in die storie.

 

Dis moeilik om meer te sê sonder om simpel te klink. Ek dink net dis oor en oor die moeite werd.

 

The Beneficiary is maklike teater. Dis werklik snaaks by tye, maar het genoeg pitkos om enige iemand te laat dink. Gaan sien dit. Deur die ontwikkeling van Xhosateater te ondersteun, dra jy direk by tot die oorlewing van Afrikaans. Dit was heerlik om in ’n oorwegend Xhosasprekende gehoor te sit, en te hóór hoe hulle dit geniet. Wanneer ons as Suid-Afrikaners mekaar se ooreenkomste gaan begin raaksien, steel ons die toekoms terug uit Julius Malema se hande uit – ook die toekoms van al ons inheemse tale.

 

Die volgende stuk, wat op 10 November open, is toevallig ’n Afrikaanse stuk – Hol deur Nicola Hanekom. (Dit speel op ’n trapmeul af.)

 

The Beneficiary is nog op die planke ot 5 November. Ek beveel dit baie sterk aan. Dit speel af in die KunsteKaap Teater en is deel van hulle program om nuwe talent te kweek.

 

Ondersteun ons plaaslike talent. Jy gaan vir 80 minute lank baie pret hê.

 

Die rolverdeling is soos volg:

  • Gcinikhay, die oupa: Chris Gxalaba (wat ’n talent)
  • Nomfusi, die ma: Zoliswa Kawe (pragtig en baie oortuigend, hoewel ámper te jonk vir die rol)
  • Ndlalifa, die seun wat die keuse moet maak: Thabang Sidloyi (’n jong man met ’n blink toekoms, sy gesigsuitdrukkings is wonderlik gepas)
  • Cheppies, Lifa se vriend: Melikhaya Tana (hier is ’n gebore komediant)
  • Ruby, Lifa se meisie: Nobuhle Kehtelo (beeldskoon, met ’n stem wat manlike organe roer)
  • Die regisseur was Fatima Dike
  • Stelontwerp is gedoen deur Dicky Longhurst
  • Die beligting is ontwerp deur Alfred Rietman

by izakdv

Blessedse Hoender!

Oktober 20, 2011 in Sonder kategorie

 

Ons was die ander aan die fotografeer by Intaka. Kyk net hoe donsig is die ou kuikentjies.

 

 

Maar toe raak ’n bleshoender opgewerk oor die ma en haar baba’s. Ta besluit mooi om aan te val.

 

 

Die ma het ’n behoorlike knou weg.

  

 

Die een kuiken ook.

 

In die natuur is daar net een reg: “Ek moet oorleef.” Donsige kuikentjies van ’n ander is nie cute nie, dis opposisie!

by izakdv

Bek sonner brieke

Oktober 1, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek was gisteraand by die bekendstelling van Elias P. Nel se heel nuutste boek, Bek sonner brieke. Kyk bietjie wat David Kramer en die rieldansers van Betjieshoek hier kom doen het.

 

 

Hier is Elias saam met Dr Ben Bladergroen, Elias se vrou Julia, en Dr Moira Bladergroen – net voor die partytjie afgeskop het. Daar was meer as ’n honderd mense in by die bekendstelling.

 

 

Elias se jonger boetie was eerste aan die woord.

 

 

Dianne Ferrus was die seremoniemeester.

 

 

Nicodémus Olivier het vir ons vertel die lug is blou.

 

 

Dr. Dirk van Schalkwyk was die gasspreker. Hy is, net soos Elias, ’n meesterverteller. Ons het by tye heerlik gelag. Net die regte man vir die bekendstelling van hierdie uitsonderlike boek.

 

 

David Kramer het sy banjo gebring en die riel geslaan.

 

 

Elias het nie op hom laat wag nie, en was gou op die dansvloer op maat van David se musiek.

  

 

’n Hele paar van die Betjiesfonteiners was ook op die been.

  

 

Na ’n paar asemteue was Elias aan die woord.

  

 

Elias is ’n meesterstorieverteller. Die boek is vrek snaaks en, elke nou en dan, wil jy huil. Die spreker in die boek is Oompie Gooltros, iemand wat so nooit as te nimmer lieg nie, selfs die tye dat hy sy baisiekil deur die lug trap is waar. Maar dis Oompie Goltros se vermoë om meer oor ánder mense te vertel, wat hierdie boek ’n kleinnood maak.

  

 

Daarna het die Betjiesfontein Rieldansers ons vermaak.

  

  

  

 

 

Ek het ook gedans, en Carolyn Meads het belowe sy gaan foto’s op Protea se blog sit, so loer so teen Maandag daar.

 

 

 

 

 

Ná die dans, het Elias boeke geteken.

 

Dit is ’n volkleurboek – talle van die heerlike verhale het ’n tekening by, maar dit kos slegs R130. Koop dit. Dis ongelooflik.

 

 

Hier is meer inligting.