by

The Bang Bang Club

Julie 28, 2011 in Sonder kategorie

Gaan heen en gaan geniet hierdie meesterlike film. Ek weet die media het dit gekruisig, maar ek verstaan werklik nie waarom nie.

 


  1. Dit is ’n uiters getroue weergawe van die boek.
  2. Die manier waarop die geweld van daardie jare uitgebeeld is, is só grafies en só realisties dat ek soms koue rillings gekry het.
  3. Hulle het duidelik baie moeite gedoen om die Suid-Afrika se townships en die aksente, na te vors. Daar word heelwat pragtige Zulu gepraat en die Afrikaans wat soms deurskemer is wonderlik. Die een meisie sis “fokken doos” toe iemand vir Ken Oosterbroek aanvat oor Marinovich se Pullitzer en Silva sê hy’t net “kak” gekry in Soedan. Een stukkie kritiek wat ek wel het, sou wees wanneer Kevin Carter ’n zol aansteek onder ’n Casspir, dan begin die polisiemanne (in Afrikaans) skree: “Dis marijuana! Maak dood daai ding!” Hulle sou natuurlik “dagga” gesê het. Maar goed; die hostelle se binnekante, die sinkkaias, die brandende bande, die binnekante van huisies, die Casspirs, die motors … Alles is werklik fyn nagevors. (Marinovich stort wel op een plek in ’n té moderne stort, maar nou sien julle hoe fyn jy moet kyk om kritiek te kry.) Die foto’s wat geneem is in daardie tyd is op ’n amper wonderbaarlike wyse herskep.

 

In het korte, ek sê weer: dis ’n meesterstuk hierdie. Oscarmateriaal.

 

Ek swem nou al weer teen die stroom, weet ek, want almal hou daarvan om die film af te kraak, maar ten eerste glo ek nie hulle ken Greg en Joao se stories nie, en ten tweede was baie min van die mense wat die film afgeskiet het, dáár.

 

Persfotograwe is ’n rare spesie en min mense verstaan hulle – daarom sukkel soveel oorlogsfotograwe dikwels om verhoudings te laat werk (soos ook in die film getoon word.) Heelwat resensente het mense geken wat die vier geken het, maar … Dit was vier wilde manne. Marinovich het intussen “afgekoel”, maar nie voor hy drie keer geskiet is nie. Silva het egter eers ophou Bang Bang maak nadat hy albei sy bene verloor het (en hy het aanhou skiet terwyl die medici besig was om hom te stabiliseer). Carter het selfmoord gepleeg en Oosterbroek, wat gereed was om uit te klim, is geskiet.

 

Julle kan gerus my stuk oor Silva lees wat ek ná sy ongeluk geskryf het.

 

Heelwat resensente wat negatief was, kan nie verstaan waarom die manne hulle lewens gewaag het vir ’n goeie foto nie. Wel, daardie resensente mis die hele punt van hierdie film. Dit gaan juis oor vier mans wat vreesloos die gewelddadigste moontlike ruimtes ingevaar het op soek na foto’s – soms tot die punt waar hulle verhoudings daaronder gelei het. Hoekom? Want dis wat hulle moes doen. Enige fotograaf ken ’n geweldige lekkerkry wanneer jy daardie knoppie druk en jy wéét jy het die skoot. Ek het self daar in die brandende huise op my hurke gaan sit om die regte skoot te raam … ’n swart matras vertel nie ’n storie nie, maar ’n swart matras omring deur smeulende mure wél. Ek wil egter noem: ek was geen grootse fotograaf in daardie tyd nie, my kennis van die townships het ek deur NRO-werk gekry, en het vir hulle heelwat foto’s geneem. Ek het ook die townships van KwaZulu-Natal beleef in daardie tyd, hoewel ek in 1994 meestal in die Oos-Kaap was, terwyl die viermanskap wat bekend sou word as die Bang Bang Club, hulle bekendste werk in Gauteng gedoen het. (Later sou ek ook ondervinding opdoen in Venda.)

 

Een van die redes waarom die boek, wat in 2000 verskyn het, so wonderlik was, is

is juis oor Greg Marinovich se soeke na Inkatha se storie. Ja, hulle was die mense wat die moeilikheid gemaak het, maar hulle is ook aangestig deur die Comrades se gewelddadige optrede. (Die verhaal van die kookolie wat gedrink moes word, kom presies só in die film voor.)

 

Die boek kies dus nie kant nie, die film ook nie. Hoewel dit later duidelik word vir die kyker in hoe ’n mate Inkatha deur die regering ondersteun word, was albei partye skuldig aan ernstige vergrype. Voorts word daar in die film baie mooi gewys hoe die polisie optree teen die fotograwe en hoe hulle (die fotograwe) kollektief weier om kant te kies teen een van die groepe.

 

Ek moet ophou, want ek kan nie mooi vir julle sê hoe diep hierdie film my regtig geraak het nie.

 

Hoekom?

 

  1. Dit handel oor vier mense wat ek grensloos bewonder het.
  2. Dit handel oor ’n tyd in ons lewens wat ons dalk wil vergeet (die ANC ook), maar wat baie belangrik is om van kennis te neem.
  3. Die film het reg laat geskied aan die stories én die karakters van die vier lede, en het die boek baie getrou gevolg.
  4. Die film is puik nagevors. Kyk ’n bietjie hoe dit wýs hoe die fotograwe, selfs onder druk, die tweederdesreël volg – en dis presies hoe ons dit in daardie jare gedoen het – dit was voor outofokus.
  5. Die film self is pragtig verfilm. Kyk hoe nabyskote gebruik is om die kloustrofobiese dele te skiet – in die motors is by tye met visooglense geskiet, maar in ander gevalle is die langer lense uitgehaal. Kyk hoe mooi is deure en kosyne gebruik om mense te raam. Kyk hoe mooi is die tweederdesreël ook hier toegepas.

 

Mense, ek is nie net opgewonde nie, ek is werklik verruk met hierdie film.

 

Alf Khumalo speel homself in hierdie film. Hy sou nie as dit ’n vrot film was nie. Alf het al die jare die viermanskap ondersteun omdat hy geweet het dis wit laaities soos hulle wat op daardie stadium die stories moes vertel, vir swart fotograwe was dit gewoon te gevaarlik.

 

Silva en Marinovich was baie nou betrokke by die maak hiervan. Hulle sou nie toelaat dat hulle beeld deur gemors geskaad word nie – hulle het destyds al hierteen gewaak. (Silva is ’n puntenerige mens, soos die film dit ook uitbeeld.)

 

Dit is Steven Silver se eerste vollengte film, maar hy het al talle dokumentêre gemaak. ’n Mens kan dit sien wanneer jy na The Bang Bang Club kyk. Hoewel die irriterende Amerikaanse realiteit dit noodsaak om aan die einde te sê die film is fiksie, is dit gewoon nie waar nie. Hierdie film is uiters lewensgetrou en vertel die storie van vier jong mans wat nie net met hulle eie demone nie, maar ook met die vooroordeel van die samelewing te kampe gehad het.

 

Ondersteun vir Ster-Kinekor en gaan kyk hierdie film. Dis wonderlik op die groot skerm, maar ek gaan vir myself ’n kopie koop sodra hy op DVD uitkom.

 

Ek was heeltemal onvoorbereid op die ongelooflike impak wat hierdie film op my sou hê.

 

Ek wens meer mense wil dit gaan kyk. Dis ’n film waarop Suid-Afrika trots kan wees, soveel anders as die poepgrappe wat ons teater so besoedel, maar gewoonlik vol sale trek.

 

Koop ook die boek. Lees dit en kyk daarna wéér die film.

 

(Terloops, my vorige inskrywing het ook betrekking op hierdie een.) 

3 antwoorde op The Bang Bang Club

  1. Hierdie rolprent is in alle opsigte briljant. Ons kan bly wees dit was Soweto en nie Richmond nie, want daar was dit selfs erger soos die ANC en Inkhata mekaar aangevat het. Ook treffend van die film is die witman is nie weer gebliksem nie!

  2. TS het gesê op Julie 28, 2011

    Sal moet gaan kyk

  3. avega het gesê op Julie 28, 2011

    dankie, ek gaan vir seker sorg dat ek dit gaan sien wanneer ek vlg week in Jhb kom.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.