Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

The Bang Bang Club

Julie 28, 2011 in Sonder kategorie

Gaan heen en gaan geniet hierdie meesterlike film. Ek weet die media het dit gekruisig, maar ek verstaan werklik nie waarom nie.

 


  1. Dit is ’n uiters getroue weergawe van die boek.
  2. Die manier waarop die geweld van daardie jare uitgebeeld is, is só grafies en só realisties dat ek soms koue rillings gekry het.
  3. Hulle het duidelik baie moeite gedoen om die Suid-Afrika se townships en die aksente, na te vors. Daar word heelwat pragtige Zulu gepraat en die Afrikaans wat soms deurskemer is wonderlik. Die een meisie sis “fokken doos” toe iemand vir Ken Oosterbroek aanvat oor Marinovich se Pullitzer en Silva sê hy’t net “kak” gekry in Soedan. Een stukkie kritiek wat ek wel het, sou wees wanneer Kevin Carter ’n zol aansteek onder ’n Casspir, dan begin die polisiemanne (in Afrikaans) skree: “Dis marijuana! Maak dood daai ding!” Hulle sou natuurlik “dagga” gesê het. Maar goed; die hostelle se binnekante, die sinkkaias, die brandende bande, die binnekante van huisies, die Casspirs, die motors … Alles is werklik fyn nagevors. (Marinovich stort wel op een plek in ’n té moderne stort, maar nou sien julle hoe fyn jy moet kyk om kritiek te kry.) Die foto’s wat geneem is in daardie tyd is op ’n amper wonderbaarlike wyse herskep.

 

In het korte, ek sê weer: dis ’n meesterstuk hierdie. Oscarmateriaal.

 

Ek swem nou al weer teen die stroom, weet ek, want almal hou daarvan om die film af te kraak, maar ten eerste glo ek nie hulle ken Greg en Joao se stories nie, en ten tweede was baie min van die mense wat die film afgeskiet het, dáár.

 

Persfotograwe is ’n rare spesie en min mense verstaan hulle – daarom sukkel soveel oorlogsfotograwe dikwels om verhoudings te laat werk (soos ook in die film getoon word.) Heelwat resensente het mense geken wat die vier geken het, maar … Dit was vier wilde manne. Marinovich het intussen “afgekoel”, maar nie voor hy drie keer geskiet is nie. Silva het egter eers ophou Bang Bang maak nadat hy albei sy bene verloor het (en hy het aanhou skiet terwyl die medici besig was om hom te stabiliseer). Carter het selfmoord gepleeg en Oosterbroek, wat gereed was om uit te klim, is geskiet.

 

Julle kan gerus my stuk oor Silva lees wat ek ná sy ongeluk geskryf het.

 

Heelwat resensente wat negatief was, kan nie verstaan waarom die manne hulle lewens gewaag het vir ’n goeie foto nie. Wel, daardie resensente mis die hele punt van hierdie film. Dit gaan juis oor vier mans wat vreesloos die gewelddadigste moontlike ruimtes ingevaar het op soek na foto’s – soms tot die punt waar hulle verhoudings daaronder gelei het. Hoekom? Want dis wat hulle moes doen. Enige fotograaf ken ’n geweldige lekkerkry wanneer jy daardie knoppie druk en jy wéét jy het die skoot. Ek het self daar in die brandende huise op my hurke gaan sit om die regte skoot te raam … ’n swart matras vertel nie ’n storie nie, maar ’n swart matras omring deur smeulende mure wél. Ek wil egter noem: ek was geen grootse fotograaf in daardie tyd nie, my kennis van die townships het ek deur NRO-werk gekry, en het vir hulle heelwat foto’s geneem. Ek het ook die townships van KwaZulu-Natal beleef in daardie tyd, hoewel ek in 1994 meestal in die Oos-Kaap was, terwyl die viermanskap wat bekend sou word as die Bang Bang Club, hulle bekendste werk in Gauteng gedoen het. (Later sou ek ook ondervinding opdoen in Venda.)

 

Een van die redes waarom die boek, wat in 2000 verskyn het, so wonderlik was, is

is juis oor Greg Marinovich se soeke na Inkatha se storie. Ja, hulle was die mense wat die moeilikheid gemaak het, maar hulle is ook aangestig deur die Comrades se gewelddadige optrede. (Die verhaal van die kookolie wat gedrink moes word, kom presies só in die film voor.)

 

Die boek kies dus nie kant nie, die film ook nie. Hoewel dit later duidelik word vir die kyker in hoe ’n mate Inkatha deur die regering ondersteun word, was albei partye skuldig aan ernstige vergrype. Voorts word daar in die film baie mooi gewys hoe die polisie optree teen die fotograwe en hoe hulle (die fotograwe) kollektief weier om kant te kies teen een van die groepe.

 

Ek moet ophou, want ek kan nie mooi vir julle sê hoe diep hierdie film my regtig geraak het nie.

 

Hoekom?

 

  1. Dit handel oor vier mense wat ek grensloos bewonder het.
  2. Dit handel oor ’n tyd in ons lewens wat ons dalk wil vergeet (die ANC ook), maar wat baie belangrik is om van kennis te neem.
  3. Die film het reg laat geskied aan die stories én die karakters van die vier lede, en het die boek baie getrou gevolg.
  4. Die film is puik nagevors. Kyk ’n bietjie hoe dit wýs hoe die fotograwe, selfs onder druk, die tweederdesreël volg – en dis presies hoe ons dit in daardie jare gedoen het – dit was voor outofokus.
  5. Die film self is pragtig verfilm. Kyk hoe nabyskote gebruik is om die kloustrofobiese dele te skiet – in die motors is by tye met visooglense geskiet, maar in ander gevalle is die langer lense uitgehaal. Kyk hoe mooi is deure en kosyne gebruik om mense te raam. Kyk hoe mooi is die tweederdesreël ook hier toegepas.

 

Mense, ek is nie net opgewonde nie, ek is werklik verruk met hierdie film.

 

Alf Khumalo speel homself in hierdie film. Hy sou nie as dit ’n vrot film was nie. Alf het al die jare die viermanskap ondersteun omdat hy geweet het dis wit laaities soos hulle wat op daardie stadium die stories moes vertel, vir swart fotograwe was dit gewoon te gevaarlik.

 

Silva en Marinovich was baie nou betrokke by die maak hiervan. Hulle sou nie toelaat dat hulle beeld deur gemors geskaad word nie – hulle het destyds al hierteen gewaak. (Silva is ’n puntenerige mens, soos die film dit ook uitbeeld.)

 

Dit is Steven Silver se eerste vollengte film, maar hy het al talle dokumentêre gemaak. ’n Mens kan dit sien wanneer jy na The Bang Bang Club kyk. Hoewel die irriterende Amerikaanse realiteit dit noodsaak om aan die einde te sê die film is fiksie, is dit gewoon nie waar nie. Hierdie film is uiters lewensgetrou en vertel die storie van vier jong mans wat nie net met hulle eie demone nie, maar ook met die vooroordeel van die samelewing te kampe gehad het.

 

Ondersteun vir Ster-Kinekor en gaan kyk hierdie film. Dis wonderlik op die groot skerm, maar ek gaan vir myself ’n kopie koop sodra hy op DVD uitkom.

 

Ek was heeltemal onvoorbereid op die ongelooflike impak wat hierdie film op my sou hê.

 

Ek wens meer mense wil dit gaan kyk. Dis ’n film waarop Suid-Afrika trots kan wees, soveel anders as die poepgrappe wat ons teater so besoedel, maar gewoonlik vol sale trek.

 

Koop ook die boek. Lees dit en kyk daarna wéér die film.

 

(Terloops, my vorige inskrywing het ook betrekking op hierdie een.) 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Oupa Nkosi en die vrye media

Julie 19, 2011 in Sonder kategorie

Suid-Afrika was nog nooit ’n land wat gehou het van ’n vrye media nie. PW en sy voorgangers het lustig die media onderdruk. En die ANC is nie baie lus om anders as PW te wees nie.

Hierdie storie van Oupa Nkosi (kliek hier) is egter kommerwekkend.

Kyk gerus sy foto’s (hy is een van ons puik persfotograwe), maar luister veral na sy vertelling terwyl julle na die foto’s kyk. Dit het hom ure geneem om toegelaat te word om sy foto’s te neem.

Hoekom pla dit my? Die rede is eenvoudig: In die dae toe ek nog so nou en dan ’n kamera in die townships rondgeswaai het tydens die noodtoestande, was dit gewoonlik die staat wat nie gehou het van ons teenwoordigheid nie. Die skares was bankvas agter ons. Die skares, die mense dus, het geweet die polisie het opdrag om nie sleg te lyk op kamera nie.

Tydens die studentebetogings in Venda het ek soms opsetlik in daardie niemandsland tussen die betogers en die polisie gaan staan. Niemand het mooi geweet wat om te doen as ek daar was nie, en die polisie het dan dikwels teruggeval.

Nou is dit egter die skares, die betogers self, wat die media begin intimideer. En hoekom? Want húlle magsbasis het die nuwe meesternarratief geword in ’n samelewing waar individuele regte nie meer beskerm word nie. En dis hartseer. Vandag gaan fotograwe veiliger wees tussen die polisie as tussen die betogers.

Daar was in die ou dae ook gevalle waar betogers nie die pers geduld het nie – veral Inkatha se impi’s was by tye baie negatief oor die pers, maar ek vrees hulle was so na aan die regering, dat min persmense hulle as neutraal beskou het. Inkatha was gewoon deel van die staat se masjinerie.

Nou, met ’n liberale grondwet en ’n gepeupel – en ’n staat – wat huiwer om die grondwet kans te gee, kan ons moeilikheid kry.

Daar is ’n rede waarom die betogers, wat Oupa Nkosi afgeneem het, vir Nkosi en sy kollegas met die dood gedreig het – hulle was besig om ander se grondwetlike regte aan te tas.

My saluut, dus, vanoggend aan Oupa Nkosi. Nie net vir sy puik foto’s nie, maar ook vir die storie agter die foto’s.

Bayete, Oupa Nkosi!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Magnus Malan is oorlede

Julie 18, 2011 in Sonder kategorie

Generaal Magnus Malan is vanoggend in Kaapstad oorlede. Hy was omring deur sy vrou en kinders.

Malan het op dertienjarige ouderdom reeds by die weermag probeer aansluit, maar is natuurlik geweier.

Sodra hy oud genoeg was, het hy ’n soldaat geword. Min mense het sulke diep spore getrap in ons weermag as juis hy.

Ons was bevoorreg om sy outobiografie uit te gee, in Engels en in Afrikaans.

Kliek hier vir die Afrikaanse boek: Magnus Malan – My lewe met die SA Weermag.

Click here for the English book: Magnus Malan – My life with the SA Defence Force.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Bure: Tutu en die kaalwangvalk

Julie 14, 2011 in Sonder kategorie

 

Wat het my foto van ‘n kaalwangvalk te doen met Biskop Tutu?

 

Kliek hier om uit te vind!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Yemen: Faces of a revolution

Julie 1, 2011 in Sonder kategorie

Yazeed Kamaldien was in Yemen toe opstand teen die regering begin het. Hier is drie van sy foto’s. Kom besigtig meer.

 

 

Yazeed se uitstalling open 26 Julie om 18:00 by die Alliance Francaise, Loopstraat 155, Kaapstad.

 

 

Toegang is gratis en die foto’s sal te sien wees tot 6 Augustus.

 

 

Vir meer inligting, bel die Alliance Francaise by 021 423 5699.