Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Stuur groete aan Mannetjies Roux – Kunstekaap-teater Kaapstad

Junie 30, 2011 in Sonder kategorie

(Foto van Laurika verskaf deur Computicket)

Jip, ek het dit toe gaan sien, en dit boonop baie geniet.

Ek het die stuk om twee redes gaan kyk. Ten eerste is ek ’n groot liefhebber van Laurika Rauch en Christopher Thor se musiek, ten tweede ken ek vir Johan Badenhorst, die vervaardiger.

Dit kon dus òf puik, òf ’n teleurstelling wees. Dit was toe werklik genotvol. Die musiek was puik en die storie was bo verwagting goed.

Johan, die reisiger met die domineestem, is ’n baie wydbelese musiekkenner. Laurika se stem is soos warm heuning en Christopher Thor is eenvoudig fantasties. Hoekom was ek dan benoud? Wel, ten eerste is Laurika ’n wonderlike sanger, maar sy’s nie gemaklik op ’n kabaretverhoog nie. Ek het haar al sien optree en in intieme ruimtes is sy net nie so gemaklik soos Ziets of Amanda Strydom nie. Die goeie nuus is, op só ’n verhoog soos die Kunstekaap-teater s’n, en met honderde mense voor haar, kom Rauch tot haar reg; hier kan sy spog waarmee sy goed is: toneelspeel en sing.

Daar is ’n tweede rede waarom ek benoud was: haar musiek is baie bekend en iemand moes al hierdie liedjies só vervleg dat hulle steeds sin maak. Verder ken almal nou al die Mama Mia-resep … Om alles te kroon is ek nou ook nie ’n grootse rugbyman nie. Ek geniet ’n goeie wedstryd, maar ek is nie fanaties daaroor, soos die meeste van my taalgenote, nie.

Maar dit werk! Die storie, wat ek nie gaan weggee nie, is baie netjies saamgevleg, die toneelspel is oorwegend goed (hoewel ek gevoel het Isadora Verwey in die moeilike rol van Tante Koba het dalk soms te stereotiep voorgekom) en die musiek is regtig baie goed gedoen, want dis ’n puik ensemble wat hulle daar op die verhoog het.


Gaan heen en geniet dit. Stuur groete aan Mannetjies Roux wérk.

’n Klein bietjie meer detail

Die storie is heeltemal nuut, vars en selfs oortuigend.

Baie van ons ken die liedjies. “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Toemaar die Donker Man”, “Op Blouberg se Strand”, “Die Gang” en selfs “My Ou Tante Koba” word deel van die verhaal.

Die stuk speel af in die Karoo. ’n Skoolmeisie (Engela) gaan besoek haar oom en tannie daar op die plaas, Dwarsbult. Soos baie Karooplase maar is, loop daar eienaardige karakters rond tussen die klippe.

Een van hulle, wat op vreemde wyse Toemaar gedoop word, begin bou aan ’n muur, en dan kom besoek die buurseun elke dag die muur om Engela te sien. (Julle kan nou al klaar die liefdesverhaal sien gebeur.)

Laurika, wat op die verhoog verskyn en dan weer verdwyn, speel die ouer weergawe van die skoolmeisie (Engela). Omdat dit ’n musiekstuk is, kan die ouer en die jonger karakters egter soms teenoor mekaar staan en bewus wees van mekaar. Hierdie wonderlike meta-element, gekoppel aan ’n tikkie van die bonatuurlike, maak uiteindelik van Stuur groete aan Mannetjies Roux iets wat selfs ’n siniese blikskottel soos ek kon waardeer.

Dis vet pret!

Die spelers

Engela Sr: Laurika Rauch*, met Nicole Holm as die dubbelspeler

Oom Frans: Deon Lotz* of Eben Genis

Tante Koba: Isadora Verwey

Engela Jr: Kika Smit of Elizca Coetzer*

Katie: Ilse Klink*, met Gilé Motshwane as dubbelspeler

Toemaar: Elton Landrew

Hanna Karina: Steffie le Roux

Anton: Kyle Grant

* Dit is die mense wat gespeel het toe ek gaan kyk het.

 

Die musikante

Orkesleier, dirigent en klawerbord: Clinton Zerf

Dromme: David Nilsson

Kitaar: Michael Bester

Baskitaar en kontrabas: Werner Spies

Dit was lekker om te sien hoe Zerf die hele vertoning aanmekaar hou; ek het by tye na die monitor sit en kyk om sy aksies te volg, want ek kon dan met die hoek van my oog die spelers sien reageer.

 

Agter die skerms

Vervaardiger: Johan Badenhorst

Skrywer en komponis: Christopher Torr

Regisseur: Paul Eilers

Musiekregisseur: Janine Neethling

Stelontwerp: Kosie Smit

Kostuumontwerp: Sarah Roberts

Beligtingsontwerp: Mannie Manim

Choreograaf: Aletha Williams

 

Spesiale vermelding moet verleen word aan Nina Torr wat “Maandag”, die donkie, lewendig gemaak het.

 

Die stuk word finansieel ondersteun deur Momentum, Rapport, Sarie, kykNET en OFM.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Basta met Buchan!

Junie 29, 2011 in Sonder kategorie

Dis altyd lekker wanneer Angus Buchan ‘n intelligente klap kry. Kyk hier!

  

Daar is ‘n video (van KykNet) en ‘n skakel na Rapport toe.

 

Geniet dit!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kung Fu Panda 2; die Ritalin-weergawe

Junie 17, 2011 in Sonder kategorie

Toe Kung Fu Panda (die eerste keer) uitgekom het, móés Knaap dit natuurlik sien, so ek en hy het dit gaan kyk. Ek het dit selfs geniet, al is dit geensins my soort fliek nie. (Hier is my resensie daaroor.)

 

Natuurlik moes hulle toe ’n opvolg maak. Sug. En natuurlik moes ek vir Knaap vat; dubbele sug.

 

Waar ek my verkneukel het aan die grappies in die eerste fliek, is tweede bloot lawaaierig en banaal. (Selfs Knaap het gekla dit was te lawaaierig – en dit wil gedoen wees.)

 

My grootste probleem met hierdie soort snert is ongelukkig dat dit nog eens die stereotipe onderskryf dat ’n mens nie hoef te werk vir iets nie – pop die regte pil, of sluit by die regte meditasieklas aan, gee jou geld vir ’n Kerk as jy wil, en alles sal outomaties in plek val.

 

In nommer 1 is die keuse van die panda as die Dragon Warrior verantwoordbaar, want die luiperd (die slegte ou) het die vermoë om opponente uit te skakel deur ’n vreemde, verlammende truuk op hulle senuwees uit te oefen met sy kloue. Vettie, die Panda, se rolle maak egter in die doodsnikke van die stryd dat die luiperd dit nie regkry om sy senuwees by te kom nie, en daarom was dit ’n duidelike intervensie van die gode dat Vettie die regte een was.

 

Goed so, selfs die onwaarskynlike een kan dus ook ’n held wees.

 

MAAR: In nommer 2 is die ou steeds vet, skynbaar steeds bitter lui en steeds totaal en al onfiks. Tog dôner hy eiehandig leërskares op.

 

Ek het daar in die fliek gesit en treur vir ons Westerse samelewing – en al wil ons landgenote dit nie glo nie, verteenwoordig die ANC-Jeugliga alles wat negatief is aan die Amerikaanse model, hulle verstaan niks van Ubuntu nie. Ek sluit hulle dus by die sinkende Weste in.

 

Kunf Fu Panda 2 laat my dink aan die bemarkers van Ritalin. Daar is dokters wat bekend is as Ritalin-dokters, en hulle kry dit reg om mammies en pappies te oortuig dat hulle kinders die eerste dag al verbetering sal toon op Ritalin. (Novartis het MOERSE goeie bemarkers.)

 

Daar is selfs ouers wat hierdie nonsens skynbaar glo.

 

Wanneer ek dan, met alle respek, aan mense probeer uitwys dat nuwe neuronvoetpaadjies slegs, en alleenlik, deur oefening en repetisie gevorm word, nie deur pille nie, word hulle kwaad en word ek afgemaak as ’n leek wat niks weet nie. Ritalin-evangeliste is goed opgelei om mense wat verskil, te boelie.

 

Maar, is dit nie presies wat tans met die Weste verkeerd is nie? Kyk na Enron. Kyk na die banke wat inmekaar tuimel.

 

Die VSA is bankrot (om nie van Griekeland te praat nie!). Ysland se ekonomie is in sy maai, alles net omdat mense nie kon, of wou, verstaan dat jy nie aanhoudend kan skuld maak nie.

 

Is dit nie tyd dat ma’s en pa’s begin lees oor die goed wat dokters voorskryf nie?

 

Is dit nie tyd dat mense begin kyk na hulle leiers en vra: Wat wil julle regtig hê vir die toekoms nie?

 

Malema, tipes ’n Ritalin-leier, sê: “Vat die grond sonder om te betaal”. Die massa, tipies hulle wat Novartis se evangeliste glo, sê: “Stem vir Malema!” Niemand dink aan die toekoms nie.

 

Maar wag nou: Hoeveel intelligente mense val nie vir geldmaakskemas wat opbrengste van 300% bied nie? Die logiese vraag is: As Allan Gray slegs 30% haal, hoe is dit moontlik dat hierdie kêrel soveel beter is?

 

Ek kan aangaan, maar die punt is gemaak. Ons samelewing is nie meer krities nie en ons wil nie meer werk vir sukses nie. Ons wil alles in ’n kits hê, ons dink Red Bull gives you wings.

 

Goed, sê julle nou vir my, dis fiksie hierdie.

 

Ja, sê ek. Ek stem saam. Maar in die oorspronklike Karate Kid moes die outjie “wax on, wax off…” Die hele tyd. Daar moes iets gedoen word voor hy (steeds fiktief) die trofee kon inpalm.

 

In Kung Fu Panda 2 moet jy maar net opdaag – lui, vet en onfiks!

 

Nie almal van ons is briljant nie. Ek het die ander dag die Comrades klaargemaak in 11 uur 50 minute – tien minute voor die afsnytyd. Dis ’n belaglike stadige tyd, maar ek het dit gaan doen. En ek het geoefen. Jy hoef nie goed te wees om die Comrades te doen nie, maar jy moet darem wragtig meer doen as om een of ander multivitamien, of Red Bull, of enige so iets te sluk.

 

Ek is beslis nie teen medikasie nie. Ek is teen mense wat dink sukses kom uit ’n bottel.

 

Leer kinders gerus dat hulle met ’n sekere hoeveelheid “wax on, wax off” ook suksesvol kan wees. Leer kinders dat dit oukei is om ’n sekere suspension of disbelief toe te laat in fiksie.

 

Dis ook oukei as die under dog soms wen.

 

Maar:

  • leer ons kinders dat oefening en harde werk jou iewers bring, nie bloot die hoogste IK nie, en beslis nie Red Bull nie, ook nie enige ander pille sonder werk nie;
  • leer ouers om die snert wat dokters aan hulle vertel, te bevraagteken;
  • leer diegene wat hulle geld wil spaar, dat geld nie uit die lug val nie, bevraagteken dus die twak wat mense jou vertel as hulle kwansuis veel beter doen as die ander makelaars;
  • leer die Amerikaners dat oorgewig ongesond is en dat skuld verkeerd is, boonop dat Republikeinse tax cuts for the rich almal armer maak.

 

Vat dus jou kind na Kung Fu Panda 2 (net as dit moet), maar wys vir hulle daarna die oorspronklike Karate Kid en gebruik die geleentheid om iets te doen om aan jou kind langtermynwaardes te leer. (Ek probeer, ek weet dis makliker gesê as gedaan, maar hel, ek probeer.)

Profile photo of izakdv

by izakdv

Jacobus – dalk DudeLit?

Junie 9, 2011 in Sonder kategorie

Laas met Jaco Kirsten se Om na ’n wit plafon te staar, het ek so lekker gelees aan ’n manlike teks.

Manne, koop Jacobus as jy borshare het.

Is daar ’n term soos DudeLit? Indien wel, kan Willem Krog se debuutwerk Jacobus, soos Kirsten se roman destyds, dalk die pad soheentoe aandui. Dudes sal beslis nie maklike pienk boekies lees nie, geensins. Die meeste mans lees juis nie-fiksie, want hulle het ’n kleintjie dood in tekste wat verbeeldingloos by hulle wêreld verbysweef. Daar moet egter ’n soort letterkunde wees wat mans sal aanstaan, en, hier is dit!

Jaco Kirsten het die wêreld van die man oopgeskryf, maar ook tong in die kies ondergrawe. Hy het dus ook, uit manlike kringe, pak gekry; tog was die meeste mans, wat nie bang is vir hulself nie, baie positief oor Kirsten se boek. En nou kom Krog en hy doen dit weer. Soos Kirsten se teks, loop ons hier die pad van ’n man wat skaamteloos man is, ’n man wat sy tiermelk sonder ys drink, maar ’n man wat ook weet waar die gevare in suiwer manlikheid lê.

Soos met Kirsten destyds, gaan dit mans wees wat hierdie boek gaan probeer stukkend trap, want soos closet-gays die grootste moffiebashers is, só sal mans, wat onseker is oor hulle manlikheid, hierdie teks ten alle koste wil swartsmeer.

Jacobus is boonop vrek interessant inmekaargesit. Dis ’n roman, maar die boek val in verskillende dele uiteen – amper soos ’n kortverhaalbundel. Dit is egter nie kortverhale nie, want elke liewe kamee speel in op die sentrale karakter; die Jacobus van die titel.

En tog, Jacobus is eintlik alomteenwoordig afwesig – ’n bietjie soos Bob Dylan destyds in die briljante film I am not there.

 

Moenie dat bogenoemde sin jou afsit nie, die boek lees glad nie moeilik nie. Om die waarheid te sê, dis ’n page turner as daar nou onlangs een was. Ek was die naweek op ’n plaas en het Saterdagaand vuurgemaak en aanhou lees tot ek klaar was – ek kon eenvoudig nie ophou nie (het net nou en dan opgestaan om nog hout op die kaggel te gooi).

Jaco, die sentrale karakter, leer op skool reeds dat die waarheid en moraliteit niks goeds inhou vir ’n mens se loopbaan nie. Kortom, die skool en die kerk leer hom as jy lieg is jy oukei; as jy bedrieg is jy gewild.

Sy hele lewe lank onderdruk hy dan die stemmetjie van rede en leef in die leun. Rondom om hom is daar egter ander karakters wat weier om in die leun te leef, en hulle tjop almal so op ’n manier af; deels omdat hulle telkens in Jaco, en ander wat wel in die leun leef, vasloop. Maar, elke hond kry sy dag en Jaco s’n kom uiteindelik ook.

Ek wil nie meer sê nie, behalwe dalk dit: Op die voorblad is ’n stapel lêers met die name Kosie, Jacques, Jacobson, Kobus, Jaco, en James. Hulle is natuurlik almal afleidings van die naam Jacobus. Die leser leer dan ook vir Kosie, Jacques, Jacobson, Kobus, Jaco en James ken in hierdie roman, en so leer ons vir Jacobus ken, want al daardie lêers hou verband met mekaar – en met Jaco, die hoofkarakter, se vermoë om te kan aanhou lieg.

Koop die boek. Lees dit. Gee dit vir die man in jou lewe.

Hierdie boek gaan pryse wen – veral as daar vroue op die keurpaneel sit, of mans wat nie bang is vir hul manlikheid nie.

Terloops: Daar is ’n boek van Robert Bly met die naam Iron John. Talle mense sê dis die manlike weergawe van Women who run with the wolves. Ek besit Iron John en vind dit interessant, maar ek sukkel soms om vat te kry aan manlikheid wat dit nie sigself bevraagteken nie. Beide Jaco Kirsten en Willem Krog kry dit reg om manlikheid te dekonstrueer – te midde van ’n viering van sekere aspekte daarvan; ek dink dis hoekom ek so mal is oor albei se tekste.

Vadersdag, nog iets waaraan ek ’n kleintjie dood het, kom klaarblyklik binnekort nader.

Jacobus is ’n geskenk vir ’n vader, of ’n toekomstige vader. Dis ’n blerrie lekker boek.

Ek is een van die laaste mans wat die vorige weermag in al sy glorie beleef het – kampe ook. Ek was daar, ek het die T-shirt gedra. Hierdie boek is vir my, en ander soos ek, geskryf, want ons weet dat daar harte was onder daardie bruin uniforms, breine in daardie staaldakke en jeukerige ballas wat net wou wegkom van ’n wêreld waar daar vir jou gedink word. Die army was die teelaarde van ’n sekere soort manlikheid wat die Kerk (hoofletter bedoel) en die Party (ditto) wou kweek. Tog het baie van ons die teendeel daar geleer van wat die Kerk en die Party sou wou hê. Vir ons is daar nou DudeLit soos Jacobus.

Maar lees self as jy nie bang is vir ’n spieël nie.

Kalahari.net het Jacobus tans op ’n spesiale aanbieding.

Robert Bly se Iron John is ook tans teen afslag beskikbaar, so ook Women Who Run with the Wolves: Myths and Stories of the Wild Woman Archetype deur Clarissa Pinkola Estes.

Sou julle belangstel in my resensie van Jaco Kirsten se Om na ’n wit plafon te staar, kliek hier.

Hier is bespreking van I’m not there; dit mag ook help om Jacobus te ontsluit.

Belangrike opmerking: Ek is altyd benoud om op hierdie blog te veel te sê oor boeke waarby ek professioneel betrokke is, maar ek kan openlik verklaar dat ek niks met hierdie boek te doene gehad nie (al werk ek vir die maatskappy). Ek het dit eers gelees toe dit reeds op die winkelrakke was. Martjie Bosman was die redakteur van hierdie teks, die lof kom dus uitsluitlik vir haar en Willem toe. Interessant, nie waar nie, dis ’n vrou wat nie bang was om vir Willem na die eindstreep te help nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Fugard Filmfees

Junie 7, 2011 in Sonder kategorie

 

 Mense, ek gaan my bes doen om ’n paar van hierdie vertonings by te woon.

 Alle vertonings begin om 20h00 in die Fugard Teater.

 As julle nie die Fugard ken nie, kom kyk! Hulle het puik klank en uitstekende projektors.

 Wat wys?

 ·         Dinsdag 7 Junie: Boesman and Lena. Regie deur Ross Devenish, met Athol Fugard en Yvonne Bryceland in die hoofrolle (1974).

 ·         Woensdag 8 Junie: Marigolds in August. Regie deur Ross Devenish, met Athol Fugard, John Kani and Winston Ntshona in die hoofrolle (1979).

 ·         Donderdag 9 Junie: The Guest. Regie deur Ross Devenish, met Athol Fugard in die hoofrol (1976).

 ·         Vrydag 10 Junie: The Road to Mecca. Regie deur Athol Fugard en Peter Goldsmid. Die hoofrolle word vertolk deur die Oscar wenner Kathy Bates, asook Athol Fugard and Yvonne Bryceland (1992).

·         Saterdag 11 Junie: Tsotsi. Regie deur Gavin Hood. Die film is in 2006 met ’n Oscar bekroon as “Best Foreign-Language Film”.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Lees hierdie resensie en lag

Junie 7, 2011 in Sonder kategorie

Soms is ‘n resensie beter as die objek wat geresenseer word.

Ek vermoed ons het hier so ‘n geval. Lees gerus Chris Roper se resensie van THE MILKSHAKE REVOLUTION.