Profile photo of izakdv

by

Shades of grey in Fugard se Voëlkykers

Mei 11, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek kom so pas van Athol Fugard se The Bird Watchers af. Dit was die openingsaand, die wêreldpremier – en dit in die Fugardteater. Fugard was self daar, en hy’t ons na die tyd te woord gestaan.

 

Wat ’n voorreg.

 

As jy dit stuk wil gaan sien, of dit oorweeg om dit te gaan, gaan dan!

 

Ek wil die resensie egter só skryf dat dit nie die pret bederf nie, so as jy die verskeie intertekste en ekstratekstuele verwysings beter wil verstaan, lees gerus.

 

Anders as baie ander Fugardstukke, bestaan hierdie een uit twee tonele. Die eerste toneel open onder ’n pragtige boom, iewers aan die warm Ooskus van ons land. Ons ontmoet ’n dramaturg, Garth (gebaseer op Fugard), ’n teaterregisseur, Lenny (gebaseer op Barney Simon) en die aktrise Rosalyn (gebaseer op Yvonne Bryceland).

 

Die plek is Garth se agterplaas – in albei tonele.

 

In die tweede toneel ontmoet ons hulle al drie weer hier, maar onder heel ander omstandighede.

 

Omdat die stuk, wat fiksie is, so swaar op Fugard, Simon en Bryceland se lewensverhale steun, skets ek graag ’n klein bietjie agtergrond.

 

Historiese agtergrond

Van jongs af het Fugard die gramskap van die Apartheidsregering op die hals gehaal, want sy lewe en werk was baie beslis ánders as hulle visie vir die land. Hy het ook baie gedoen om swart akteurs die geleentheid te gee om in sy stukke te speel. Zakes Moka, John Kani en Winston Ntshona is van die bekendste swart akteurs wat deur Fugard aangemoedig is om voort te gaan met hulle werk.

 

Fugard het ’n hele ruk in Port Elizabeth gewoon en gewerk – en dis hier, aan die Ooskus, waar The Bird Watchers afspeel.

 

Yvonne Bryceland en haar man, Brian Astbury, was, in 1972, die medestigters van The Space Theatre (beter bekend as The Space) in Kaapstad. Talle van Fugard se stukke is hier opgevoer. Fugard het op ’n stadium ook by hierdie teater betrokke geraak.

 

Barney Simon het in 1976 die Markteater in Johannesburg geopen. Ook hier is talle Fugardstukke opgevoer.

 

In die The Space en die Markteater was alle akteurs van alle rasse welkom.

 

Terug na The Bird Watchers

Die stuk open op ’n soel somerdag in Garth (die dramaturg) se tuin. Garth is ’n voëlkyker en is reeds effens dronk wanneer ons hom ontmoet. Hy is dus luidrugtig en beterweterig.

 

Teenoor hom is Lenny, die stadsjapie, wat veel meer sober en verfynd voorkom. Wanneer Garth vir Lenny wys waar ’n jong dikkopkuiken en sy ma skuil, word Lenny heeltemal bewoë en wens dat hy ’n sakvol wurms gehad het om dit as ’n klein offer aan die ma-voël te bied.

 

Garth spot vir Lenny oor hierdie sentimente en sê die natuur het nie offerande nodig nie.

 

Intussen word dit ook duidelik dat Rosalyn (die aktrise) wil hê Garth moet Kaapstad toe trek om daar te woon en deel te neem aan haar teaterwerk. (Sien my verwysing na Yvonne Bryceland en The Space hierbo.)

 

Garth is egter lief vir die Ooskaap en is besig om twee swart akteurs te help om professionele toneelspelers te word, al is daar “maar twee teaters” in die land wat hulle sal toelaat. (Sien die verwysing na Kani en Ntshona hierbo.) Dié enkele reëltjie, oor die akteurs wat nie mag speel waar hulle wil nie, plaas hierdie stukke midde-in die apartheidsera. (Verder is daar geen direkte verwysing na die politieke bestel van die tyd nie.)

 

Daar is dus spanning tussen Garth en Rosalyn oor haar aandrang dat hy Kaap toe moet trek. Die spanning lê egter dieper. Garth is skynbaar besig met ’n verwerking van ’n ou Griekse drama, en hy het so half-half die rol van Klitaimnestra aan Rosalyn belowe.

 

’n Bietjie Griekse mitologie*

Agamemnon was die leier van die Griekse vloot tydens die Trojaanse oorlog en was getroud met Klitaimnestra. Hulle het saam verskeie kinders gehad, waaronder Iphigenia.

 

Op ’n stadium is daar ’n algehele gebrek aan wind en ’n orakel gee aan Agamemnon die opdrag om Iphigenia te offer aan die gode, dan sal die wind weer opkom. Hy stem in om dit te doen, terwille van die vloot. Die kind word wel gered deur Artemis, die godin van die jag, maar Klitaimnestra was nie baie gelukkig oor hierdie toedrag van sake nie.

 

Tien jaar later sterf Agamemnon aan die hand van Klitaimnestra – uit wraak daarvoor dat hy bereid was om haar kind te offer.

 

(*My dank aan Prof. Piet Conradie vir die hulp met hierdie klein Griekse kamee.)

 

Die tweede bedryf

Dertig jaar ná ons die karakters in die eerste bedryf ontmoet het, keer die dramaturg, Garth, terug na die agterplaas. Hierdie keer is die reis egter in sy verbeelding. Hy ontmoet weer vir Lenny en Rosalyn. Albei is reeds dood, maar hulle lewe steeds in Garth se kop.

 

Garth lei na aan groot skuldgevoelens. Hy besef dat hy Lenny se wens om ’n offer te bring aan die ma-voël heeltemal onderskat het. Garth voel ook skuldig dat hy nooit die Griekse drama voltooi het wat hy aan Rosalyn belowe het nie.

 

Inter- en ekstratekste

Drie van ons het kaartjies gekoop vir die openingsaand: Ek, my ou pel Awie, en Georg, ’n Switserse farmakoloog wat vir ’n paar dae in Suid-Afrika is vir navorsing.

 

Georg het van te vore al ’n Fugardstuk gesien en wou baie graag weer. Hy is geweldig intelligent en wyd belese, maar heelwat van die historiese verwysing in die stuk het hom onkant gevang.

 

Die stuk is egter nie ’n “anti-apartheiddrama” nie. Dis eerder ’n Griekse drama wat in Suid-Afrika afspeel. Die Voëls is dan ook nie verniet een van Aristofanus se bekendste drama’s nie. Vir die Grieke was voëls die beliggaming van nuwe, jong gode. Lenny se offerande, wat hy nooit gebring het nie, was dus ’n verspeelde offer aan die gode.

 

Hierdie verwysings na ander stukke maak van The Bird Watchers ’n teks wat ewe maklik in enige ander land opgevoer sou kon word, tog is dit eg Suid-Afrikaans. Soos Georg sal die oorsese gehore die Griekse intertekste snap, terwyl ek en Awie die politieke newetekste ook kon raaksien.

 

Ek het egter vir Georg enkele verwysings gegee, en gou-gou was hy weer by.

 

The Bird Watchers is dus nie ’n maklike stuk nie, maar dis die moeite werd – veral ook vir die puik toneelspel.

 

Die toneelspel

Sean Taylor, in die rol van Garth (verbloem as Fugard), se taak was die moeilikste. Fugard is bekend en, net nadat Taylor, as Garth, gebuig het, was die ware Athol Fugard op die verhoog. Wat meer is, in die eerste toneel is Garth redelik dronk (Fugard hét in sy jong dae in alkoholprobleem gehad), en in die laaste toneel is Garth dertig jaar ouer. Die ander karakters het egter nie verouder nie – hulle speel weer hulleself, soos hulle dertig jaar gelede was. Dit was wonderlik om die kontras te sien.

 

Dorothy Ann Gould het die rol van die aktrise (wat opsetlik dramaties is) baie goed vertolk – en ’n baie mooi monoloog as Klitaimnestra gedoen.

 

Dit was egter Guy de Lancey wat my die meeste beïndruk het. Hy het amper nie gespeel nie. Hy was stil, amper onopvallend, en daarom so treffend. Filmliefhebbers sê dikwels Clint Eastwood is so ’n groot akteur omdat hy so min doen. Gaan kyk na De Lancey se onderspeelde krag. Dit was indrukwekkend.

 

Opsommend

Natuurlik moet ’n mens Fugard gaan kyk. Na die tyd, toe Fugard ons te woord gestaan het, is die punt gemaak dat hy nou meer “in shades of grey” kan werk, noudat Apartheid verby is. Hierdie stuk vertel veel oor die gryse Fugard se interne wedloop teen die demone wat hom noop om aan te hou skryf.

 

Gaan heen en geniet dit

 

Die tegniese span

Die beligting is ontwerp deur Mannie Manim, ’n ou vriend van Barney Simon uit die dae van die Markteater. Kostumering is gedoen deur Saul Radomsky en die klank deur James Webb. Jaco Nothnagel was die produksiebestuurder en Queenie Jacob die verhoogbestuurder.

 

6 antwoorde op Shades of grey in Fugard se Voëlkykers

  1. avega het gesê op Mei 13, 2011

    Ai die Kaap is so ver…

  2. avega het gesê op Mei 13, 2011

    Onthou nou net die aand wat ek en my man Master Harold and the Boys by die Markteater gaan kyk het in die vroeë 80s (met John Kani) Waar’s die dae..

  3. Izakdv het gesê op Mei 13, 2011

    jy was bevoorreg, vega, soos ek nou is!

  4. shlwanjan het gesê op Mei 20, 2011

    Dankie {-; jammer mens het nie altyd hierdie tipe agtergrond as mens ‘n stuk gaan sien nie.

  5. Izakdv het gesê op Mei 22, 2011

    Ek is bly ek kon ‘n paar mense help, het self baie geleer toe ek meer gaan lees het oor die stuk!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.

Jy mag hierdie HTML-merkers en eienskappe gebruik: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>