Jy blaai in die argief vir 2011 Mei.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Protesteater in die Bos

Mei 25, 2011 in Sonder kategorie

Train Smash!

Vrydag 27 Mei en Saterdag 28 Mei

19h30 vir 20h00

 

 

Op Vrydag 27 en Saterdag 28 Mei bied die Sentrum vir Christelike Spiritualteit die stuk Train Smash! by die Aan De Braak Teater op Stellenbosch aan.

 

Die stuk het baie positiewe kommentaar ontlok toe dit tydens die Woordfees opgevoer is – dele van die klankbaan is selfs op RSG uitgesaai. (Ek het die foto tydens die Woordfees geneem.)

 

Die organiseerders noem dit ’n kabaret – ek sou dit opwindende protesteater noem. Hoe ook al, Riaan Visman en Stephanie Badenhorst kán sing en Rika Vermeulen is puik op die klavier.

 

Gaan geniet dit – postapartheidprotes is interessant. Talle mense sal aanklank vind by hierdie stuk.

 

Kaartjies kos net R100 – en dit sluit ‘n glas wyn in – vanaf 19h30.

 

Besprekings:

Christine Falck van Aan De Braak

falck.mb@mweb.co.za

082 335 3105)

 

Ina-Marie by Local Works in Drostdy Straat, Stellenbosch

021 887 0875

082 053 3756

Profile photo of izakdv

by izakdv

Site Specific

Mei 25, 2011 in Sonder kategorie

So op Afrikadag kan julle gerus Reney Warrington se dekking van Site Specific begin volg…

Baie interessant!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Gelukkige Afrikadag

Mei 25, 2011 in Sonder kategorie

 

Dankie, Google!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Funi!

Mei 22, 2011 in Sonder kategorie

 

Die mooi meisie hierbo is Funi. Sy woon in Athlone, net langs die rioolwerke. (“This is the smell of our place,” sê sy gister ewe ironies.) Sy’s baie slim en werk verskriklik hard – is op pad na ’n hele aantal onderskeidings.

 

Funi wou leer foto’s neem, so toe wys ek haar ’n paar wenke, neem haar saam toe ek wou gaan skiet, stop ’n Canon in haar hand en sê: “Neem!” Die drie foto’s hieronder het sy geneem – gistermiddag.

 

Jy sou nie sê dis haar eerste foto-uitstappie nie!

Kleinrooiborssuikerbekkie

 

Gryskopmeeue

 

Kuifkopvisvanger

 

Wys jou, ’n halwe kans is al wat sommige mense nodig het.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wederkoms

Mei 21, 2011 in Sonder kategorie

Aangesien die Skape en die Bokke oor ongeveer vyf uur geskei gaan word, kon ek nie anders nie as om weer hierdie wonderlike gedig van Loftus Marais te gaan opsoek, uit Staan oor die algemeen nader aan vensters.

Geniet dit, en sien julle môre.

Wederkoms

 

en wanneer die ramshorings blaas

en die hele wêreld terugtrek na jerusalem

in gypsy-karavane en campers

sal ek my mooi maak

regmaak

ek sal my sondes soos juwele dra

want hulle is m‎ýne

my gitrok sal skitter

’n parfuum van skande en swael

sal om my hang

en wanneer ek voor Hom moet staan

sal ek verwyfd curtsy

en Hom netjies verduidelik

dat my catsuit

(opgevou in die groot tas langs my vanity case)

fire-resistant is

Profile photo of izakdv

by izakdv

Is Anton Hammerl dood?

Mei 20, 2011 in Sonder kategorie

Die Hammerl-gesin het aangekondig dat hulle aanvaar Anton is oorlede. Dié wending het gekom nadat ander joernaliste, wat saam met Anton Hammerl was toe hy laas gesien is, nou vrygelaat is. Sien die Mail & Guardian se berig daaroor.

 

Hammerl het foto’s aan sy plaaslike agent gestuur ure voor hy vermis geraak het. Hier is die skakel.

 

Om meer oor Anton Hammerl as mens te lees, kliek hier na Sukasha Singh se berig wat geskryf is toe almal nog geglo het Anton leef.

 

NS Ek het pas verneem dat sy lyk in die woestyn gevind is. Die ander joernaliste wat saam met hom vrygelaat is het sy lyk uitgeken.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Christa Jonker-Jordaan

Mei 19, 2011 in Sonder kategorie

Trisa Hugo, van Boememakranka, het laat weet Christa Jonker-Jordaan is gister in ’n motorongeluk oorlede.

 

Christa was ’n skrywer van Boeke soos Chilli-Lipstiek, Chilli-Lipstiek 2 en Oudword is nie vir sissies nie (daar is een vir mans en een vir vroue).

 

Ek het Christa Jonker-Jordaan se skryfvernuf self beleef op ’n vlug van Johannesburg af Kaap toe. ’n Mooi meisie het langs my kom sit, ’n boek uitgehaal, en begin lees.

 

Sy was seker so sestien, en het my oom genoem. (Sug.) Maar Chilli-Lipstiek 2 het gemaak dat sy bitter min vir hierdie oom te sê gehad het. Die stories is op die meisie af, draai nie doekies om nie en … het ’n lessie iewers weggesteek.

 

Haar boeke is te koop op Kalahari, onthou dit as daar ’n tienermeisie in jou lewe is – of as jy begin oud word en oom genoem word!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Shades of grey in Fugard se Voëlkykers

Mei 11, 2011 in Sonder kategorie

 

Ek kom so pas van Athol Fugard se The Bird Watchers af. Dit was die openingsaand, die wêreldpremier – en dit in die Fugardteater. Fugard was self daar, en hy’t ons na die tyd te woord gestaan.

 

Wat ’n voorreg.

 

As jy dit stuk wil gaan sien, of dit oorweeg om dit te gaan, gaan dan!

 

Ek wil die resensie egter só skryf dat dit nie die pret bederf nie, so as jy die verskeie intertekste en ekstratekstuele verwysings beter wil verstaan, lees gerus.

 

Anders as baie ander Fugardstukke, bestaan hierdie een uit twee tonele. Die eerste toneel open onder ’n pragtige boom, iewers aan die warm Ooskus van ons land. Ons ontmoet ’n dramaturg, Garth (gebaseer op Fugard), ’n teaterregisseur, Lenny (gebaseer op Barney Simon) en die aktrise Rosalyn (gebaseer op Yvonne Bryceland).

 

Die plek is Garth se agterplaas – in albei tonele.

 

In die tweede toneel ontmoet ons hulle al drie weer hier, maar onder heel ander omstandighede.

 

Omdat die stuk, wat fiksie is, so swaar op Fugard, Simon en Bryceland se lewensverhale steun, skets ek graag ’n klein bietjie agtergrond.

 

Historiese agtergrond

Van jongs af het Fugard die gramskap van die Apartheidsregering op die hals gehaal, want sy lewe en werk was baie beslis ánders as hulle visie vir die land. Hy het ook baie gedoen om swart akteurs die geleentheid te gee om in sy stukke te speel. Zakes Moka, John Kani en Winston Ntshona is van die bekendste swart akteurs wat deur Fugard aangemoedig is om voort te gaan met hulle werk.

 

Fugard het ’n hele ruk in Port Elizabeth gewoon en gewerk – en dis hier, aan die Ooskus, waar The Bird Watchers afspeel.

 

Yvonne Bryceland en haar man, Brian Astbury, was, in 1972, die medestigters van The Space Theatre (beter bekend as The Space) in Kaapstad. Talle van Fugard se stukke is hier opgevoer. Fugard het op ’n stadium ook by hierdie teater betrokke geraak.

 

Barney Simon het in 1976 die Markteater in Johannesburg geopen. Ook hier is talle Fugardstukke opgevoer.

 

In die The Space en die Markteater was alle akteurs van alle rasse welkom.

 

Terug na The Bird Watchers

Die stuk open op ’n soel somerdag in Garth (die dramaturg) se tuin. Garth is ’n voëlkyker en is reeds effens dronk wanneer ons hom ontmoet. Hy is dus luidrugtig en beterweterig.

 

Teenoor hom is Lenny, die stadsjapie, wat veel meer sober en verfynd voorkom. Wanneer Garth vir Lenny wys waar ’n jong dikkopkuiken en sy ma skuil, word Lenny heeltemal bewoë en wens dat hy ’n sakvol wurms gehad het om dit as ’n klein offer aan die ma-voël te bied.

 

Garth spot vir Lenny oor hierdie sentimente en sê die natuur het nie offerande nodig nie.

 

Intussen word dit ook duidelik dat Rosalyn (die aktrise) wil hê Garth moet Kaapstad toe trek om daar te woon en deel te neem aan haar teaterwerk. (Sien my verwysing na Yvonne Bryceland en The Space hierbo.)

 

Garth is egter lief vir die Ooskaap en is besig om twee swart akteurs te help om professionele toneelspelers te word, al is daar “maar twee teaters” in die land wat hulle sal toelaat. (Sien die verwysing na Kani en Ntshona hierbo.) Dié enkele reëltjie, oor die akteurs wat nie mag speel waar hulle wil nie, plaas hierdie stukke midde-in die apartheidsera. (Verder is daar geen direkte verwysing na die politieke bestel van die tyd nie.)

 

Daar is dus spanning tussen Garth en Rosalyn oor haar aandrang dat hy Kaap toe moet trek. Die spanning lê egter dieper. Garth is skynbaar besig met ’n verwerking van ’n ou Griekse drama, en hy het so half-half die rol van Klitaimnestra aan Rosalyn belowe.

 

’n Bietjie Griekse mitologie*

Agamemnon was die leier van die Griekse vloot tydens die Trojaanse oorlog en was getroud met Klitaimnestra. Hulle het saam verskeie kinders gehad, waaronder Iphigenia.

 

Op ’n stadium is daar ’n algehele gebrek aan wind en ’n orakel gee aan Agamemnon die opdrag om Iphigenia te offer aan die gode, dan sal die wind weer opkom. Hy stem in om dit te doen, terwille van die vloot. Die kind word wel gered deur Artemis, die godin van die jag, maar Klitaimnestra was nie baie gelukkig oor hierdie toedrag van sake nie.

 

Tien jaar later sterf Agamemnon aan die hand van Klitaimnestra – uit wraak daarvoor dat hy bereid was om haar kind te offer.

 

(*My dank aan Prof. Piet Conradie vir die hulp met hierdie klein Griekse kamee.)

 

Die tweede bedryf

Dertig jaar ná ons die karakters in die eerste bedryf ontmoet het, keer die dramaturg, Garth, terug na die agterplaas. Hierdie keer is die reis egter in sy verbeelding. Hy ontmoet weer vir Lenny en Rosalyn. Albei is reeds dood, maar hulle lewe steeds in Garth se kop.

 

Garth lei na aan groot skuldgevoelens. Hy besef dat hy Lenny se wens om ’n offer te bring aan die ma-voël heeltemal onderskat het. Garth voel ook skuldig dat hy nooit die Griekse drama voltooi het wat hy aan Rosalyn belowe het nie.

 

Inter- en ekstratekste

Drie van ons het kaartjies gekoop vir die openingsaand: Ek, my ou pel Awie, en Georg, ’n Switserse farmakoloog wat vir ’n paar dae in Suid-Afrika is vir navorsing.

 

Georg het van te vore al ’n Fugardstuk gesien en wou baie graag weer. Hy is geweldig intelligent en wyd belese, maar heelwat van die historiese verwysing in die stuk het hom onkant gevang.

 

Die stuk is egter nie ’n “anti-apartheiddrama” nie. Dis eerder ’n Griekse drama wat in Suid-Afrika afspeel. Die Voëls is dan ook nie verniet een van Aristofanus se bekendste drama’s nie. Vir die Grieke was voëls die beliggaming van nuwe, jong gode. Lenny se offerande, wat hy nooit gebring het nie, was dus ’n verspeelde offer aan die gode.

 

Hierdie verwysings na ander stukke maak van The Bird Watchers ’n teks wat ewe maklik in enige ander land opgevoer sou kon word, tog is dit eg Suid-Afrikaans. Soos Georg sal die oorsese gehore die Griekse intertekste snap, terwyl ek en Awie die politieke newetekste ook kon raaksien.

 

Ek het egter vir Georg enkele verwysings gegee, en gou-gou was hy weer by.

 

The Bird Watchers is dus nie ’n maklike stuk nie, maar dis die moeite werd – veral ook vir die puik toneelspel.

 

Die toneelspel

Sean Taylor, in die rol van Garth (verbloem as Fugard), se taak was die moeilikste. Fugard is bekend en, net nadat Taylor, as Garth, gebuig het, was die ware Athol Fugard op die verhoog. Wat meer is, in die eerste toneel is Garth redelik dronk (Fugard hét in sy jong dae in alkoholprobleem gehad), en in die laaste toneel is Garth dertig jaar ouer. Die ander karakters het egter nie verouder nie – hulle speel weer hulleself, soos hulle dertig jaar gelede was. Dit was wonderlik om die kontras te sien.

 

Dorothy Ann Gould het die rol van die aktrise (wat opsetlik dramaties is) baie goed vertolk – en ’n baie mooi monoloog as Klitaimnestra gedoen.

 

Dit was egter Guy de Lancey wat my die meeste beïndruk het. Hy het amper nie gespeel nie. Hy was stil, amper onopvallend, en daarom so treffend. Filmliefhebbers sê dikwels Clint Eastwood is so ’n groot akteur omdat hy so min doen. Gaan kyk na De Lancey se onderspeelde krag. Dit was indrukwekkend.

 

Opsommend

Natuurlik moet ’n mens Fugard gaan kyk. Na die tyd, toe Fugard ons te woord gestaan het, is die punt gemaak dat hy nou meer “in shades of grey” kan werk, noudat Apartheid verby is. Hierdie stuk vertel veel oor die gryse Fugard se interne wedloop teen die demone wat hom noop om aan te hou skryf.

 

Gaan heen en geniet dit

 

Die tegniese span

Die beligting is ontwerp deur Mannie Manim, ’n ou vriend van Barney Simon uit die dae van die Markteater. Kostumering is gedoen deur Saul Radomsky en die klank deur James Webb. Jaco Nothnagel was die produksiebestuurder en Queenie Jacob die verhoogbestuurder.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Roger Hargreaves

Mei 9, 2011 in Sonder kategorie

 

Mr Bump in ’n Google-Doodle

 

Roger Hargreaves is op 9 Mei 1935 gebore. Google het ’n groot aantal Google-Doodles gemaak om dit te vier. Gaan na Google se soekblad. Jy sal een sien. Refresh, en elke keer wat jy refresh druk, sal ’n nuwe een verskyn. Ek het ’n klompie gesien – The Guardian, in Engeland, beweer egter daar is minstens sestien.

 

Hargreaves het aanvanklik in sy pa se besigheid gewerk, daarna vir ’n advertensiemaatskappy. Sy droom was om ’n spotprentkunstenaar te word.

 

Volgens oorlewering het sy reeks karakters begin toe sy seun eendag vra: “What does a tickle look like?”

 

 

Mr Tickle, met die lang rubberarms, het ontstaan. En daarmee saam ’n hele familie.

 

Mr Tickle het ’n boek geword, en niemand wou dit uitgee nie. Wys jou net! Uiteindelik het ’n uitgewer die waarde daarvan gesien. Vandag is daar reeds meer as 100 miljoen Hargreaves-boeke verkoop.

 

Chorion het, na sy dood, die regte op sy werk bekom. Hier is die amptelike webruimte wat hulle geskep het.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Anton Hammerl se foto’s nou beskikbaar

Mei 8, 2011 in Sonder kategorie

Die skakel wat Anton Hammerl se agente aan my gestuur het, wou om een of ander rede glad nie werk van my blog af nie.

Ons het ’n nuwe skakel wat wel werk. Kliek hier om Hammerl se foto’s te sien, of kopieer die skakel hieronder en plak dit in jou snuffelaar. Jammer!

http://www.africamediaonline.com/search?tab_index=1&from_search=1&previous_keyword=&keyword=HAMMERL&search.x=0&search.y=0&rm=rm&rf=rf&color=color&bw=b%2Fw&sub_collection%5B%5D=&media_date=