Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Laaste kiekies van die Addo

April 27, 2011 in Sonder kategorie

Daar is mooi, en baie soorte, voëls in die Addo. Hier is ’n klompie van hulle:

 

Swartpensglansspreeu

 

Suidelike waterfiskaal

 

Kroonkiewiet

 

Bleeksingvalk

 

Hamerkop

(Hierdie outjie is ’n klein bietjie gesny – gecrop met ander woorde)

 

Gevlekte muisvoël

 

 

Namakwaduifie (wyfie)

 

Ek is die ander dag gevra oor my lense. Die meeste van hierdie foto’s is geneem met ’n Canon 300mm f4 L IS plus ’n Canon 1.4 aanpasser (converter). Maar ek het ook baie tyd geneem om die voël gewoond te maak aan my – het talle skote geskiet en saggies nader gegaan.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Addo V

April 25, 2011 in Sonder kategorie

Ek het al baie sebras afgeneem, maar kyk hoe mooi is hierdie een se maanhare!

 

So ’n pragtige koedoebul laat my altyd ’n oomblik lank in totale verwondering.

 

Ek en my seun noem hulle “vervlakste varke” – eintlik is hulle vreeslik interessant en die ma’s is baie goed met hulle kroos.

 

Hierdie ou moet al lank in die tand wees. Een van sy voorsate, genaamd Domkrag, had die nuk om onder toeriste se motors in te wikkel en hulle dan op te tel! Domkrag se dop kan deesdae gesien word in die hoofkamp.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Addo IV

April 24, 2011 in Sonder kategorie

Hierdie silwerrugjakkals was maar skugter.

 

Hy’t nadergekom, weggedraf en weer kom loer.

 

 

Later, toe hy my genoeg vertrou, het hy begin kou aan ’n enorme stuk koedoebiltong. 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Addo III

April 24, 2011 in Sonder kategorie

Die tweede dag het dit gereën in die Addo. Ek het vroegoggend die modder aangedurf en skielik myself midde-in ’n trop buffels bevind.

 

Wat doen jy op ’n nat oggend tussen ’n klomp buffels?

 

Jy haal jou Canon oor en begin skiet!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Addo II

April 23, 2011 in Sonder kategorie

Die nievlieëndemiskruier is ’n uiters bedreigde spesie, maar hulle floreer in die Addo, want hulle hou van olifantmis.

 

Ek en die Canon het heelwat van hulle dopgehou, soms vir ’n hele ruk – regtig koddig.

 

 

Dié knaap gaan binnekort seks hê.

Daar is niks so onweerstaanbaar vir ’n miskruiermeisie as ’n man met ’n moewiese bal mis nie!

 

 (Dis nou ’n oulike k@kstorie, nie waar nie 😉

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Addo I

April 22, 2011 in Sonder kategorie

Ek wil darem so ’n laaste paar kiekies van my vakansie met julle deel.

 

Die Addo Olifantpark het olifante 😉

 

Ag moeder, ma!

 

Hier is ma, en tannie Ellie.

 

Die jongetjie was ongedurig.

Profile photo of izakdv

by izakdv

My digdebuut oorskadu

April 20, 2011 in Sonder kategorie

Ja, ek het ook nou al gedigte gepubliseer. Drie van my pogings is opgeneem in Toulopers, saamgestel deur Jaco Jacobs – en uitgegee deur Lapa.

Die bloemlesing het vandag opgedaag en ek is regtig tevrede met hoe dit gekom het. Ek dink kinders sal mal wees daaroor en heelwat van die gedigte is knap. (Ek sal ander vra om oor myne kommentaar te lewer.)

Saam met Toulopers het ’n pakkie uit die VSA gekom. This thing called the future, deur JL Powers, is ’n baie slim en goedgeskrewe roman oor ’n jong meisie wat haar gesin sien sterf aan Vigs – en tog wil sy ook net liefgehê wees – soos enige ander jong mens. Jessica, die outeur, is ’n Amerikaanse akademikus wat lank hier in Suid-Afrika navorsing gedoen het. Sy praat beter Zoeloe as ek. Jessica was al ’n paar keer by ons aan huis.

Ek het die voorbladfoto geneem van die meisie wat so haar kop wegdraai van die kamera. So, ek skat dis my eerste internasionale voorblad. (Hier ter plaatse is ’n paar van my foto’s al op voorblaaie gebruik.)

Hier is ’n video wat haar uitgewers gebruik om die teks mee te bemark – hulle gebruik twee van my foto’s hierin.

Maar, ongelukkig, het ’n ander boek ook vandag op my skryftafel beland. Annette Human se pragtige nuwe Welgedaan. En, raai wat, daar gryp my vrou hierdie een en sy is verruk deur Human se boek (ek moes summier nog bestel) en wens my darem so floutjies geluk met die twee tekste waarin my goete is!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Pieter Cilliers vir die Huisgenoot-Boekkuiers

April 19, 2011 in Sonder kategorie

 
Pieter Cilliers, die skrywer van SOEKER is die spreker by die volgende HUISGENOOT-Boekkuiers.
 
Datums?
 
Saterdag 21 Mei 2011, 09h30 vir 10h00: Die Protea Hotel op Stellenbosch
 
Saterdag 28 Mei 2011, 09h30 vir 10h00: Die Protea Hotel Waterfront in Centurion
 
Die Boekkuier kos R160 per persoon en sluit middagete, drinkgoed en aflsag op SOEKER in.
 
Navrae: Annalene Oberholzer by 021 425 3831, of aoberhol@you.co.za
 
Die beste is: Koop die Huisgenoot van 21 April 2011 en blaai na bladsy 60!
 
Kaartjie vlieg vinnig. Koop die Huisgenoot en bespreek. Dit sal ‘n oggend wees wat jy nie gou sal vergeet nie!
Profile photo of izakdv

by izakdv

Die kortstondige raklewe van Anastasia W

April 15, 2011 in Sonder kategorie

(Die stuk bevat gekruide taal, wees gewaarsku.)

 

Hierdie resensie open met nagmaal en eindig in hoenderpastei met begrafnisrys …

Jip. Die kortstondige raklewe van Anastasia W is g’n normale drama nie – dit is dalk nie eens ’n drama nie. Hierdie kan dus ook nie ’n resensie wees nie – dalk is dit eerder ’n uitgooi van die handskoen, ’n daarstel van ’n diskoers – sodat ander my kan aanvat en die gesprek verder neem.

Talle mense het glo uitgeloop by die kunstefeeste waar Marlene van Niekerk se stuk gespeel het – en die koerante loop oor van briewe wat geensins vleiend is nie.

Ek kon egter nie anders nie as om wel positief te voel oor die hele ervaring, want ek was bevoorreg om ’n uitnodiging te kry na die opening van hierdie opvoering in die HB Thom Teater.

Nie alles was lekker nie

Eerlik geseg – ek was die eerste tien minute, dalk selfs meer, baie bly ek het nie betaal vir die ervaring nie, maar as daar na die tyd ’n kollekte opgeneem sou word, sou ek die predikers vergoed het vir die moeite wat hulle gedoen het.

Die toneelspel is grotesk en plek-plek selfs onverstaanbaar. Aanvanklik is dit werklik ’n deurmekaarspul, maar stelselmatig het die spreekwoordelike pennie in die gleuf tussen my breinlobbe begin inrol.

Verwysings na Laurel en Hardy help ook om die oorspeling en die opsetlike vervreemding van die gehoor toe te lig.

Soos ek, as medespeler, as samesweerder, as skepper van my eie interpretasie, die stuk – waarvan ek as ’n “passiewe toeskouer” deel was – beter leer verstaan het, was die uitdaging makliker en draagliker.

Lekker was dit nie – dit was harde sit, dit was lank sit. Talle bekende literati se koppe het by tye in hulle hande gesak. Myne het ook.

En tog. Tog was ek aandadig aan iets groots.

Neem, eet en word aandadig

Soos ons in die teater ingestap het, was daar nagmaalkies vol muskadel (nagmaalwyn) en klein, gesnyde stukkies brood. ’n Orrelis was besig om kerkmusiek te speel (stukke soos “Nader my God by U”.) Ek het aan ’n medeskrywer en haar man gesê die wyn en brood is nie bloot ’n lusmaker nie, dit gaan ons aandadig maak aan iets.

Ek het deelgeneem aan die ritueel.

Bertolt Brecht het ook só gemaak. Ek was bevoorreg om al van sy stukke te sien. Die gehoor word lank voor die stuk begin reeds deel daarvan – en na die tyd gaan die ervaring voort. Die grense van die teater word deurbreek – en verskuif.

Aan die einde van die stuk het ons weer geëet – begrafniskos. Nog eens het ek meegedoen, maar hieroor sal ek netnou verder berig.

Begrafnisondernemers Inklusief

Jan-Jan Joubert se berig in die Rapport van 9 April 2011 (“Protesteater haal boeie af”) help om die openingstoneel te verduidelik.

Die Anastasia W in die titel verwys na Anestacia Wiese, ’n 11-jarige meisie wat in Maart 2007 in Mitchells Plain verkrag en vermoor is. Sy is op pad na die winkel oorval en haar lyk is die volgende dag op die plafon van haar ma se huis gevind.

Die stuk begin waar die twee hoofrolspelers, Sus en Daan (begrafnisondernemers), Anastasia se lyk op die plafon kry.

Iets vir die jonger garde: Mense van my ouderdom, en ouer, het leer lees op die Sus en Daan-reeks. Hierdie twee is dus die argetipe (wit) kinders in die Afrikaner se psige, hoewel Daan, volgens Sus, “’n bruiner pa gehad as ek” (p. 6).

Die twee ondernemers doen goed besigheid, danksy die astronomiese sterftesyfers in Suid-Afrika. Moorde, padsterftes, Vigs, TB en mediese inkompetensie maak van ons land ’n ondernemer se droom, vir die sensitiewe Daan is dit egter ’n nagmerrie:

Anastasia my mond

Dis diep die nag wat ons beroof

my aandsang van dooie siele

die wind bly ewig doof

O kindeke waar gebleven

O volk waar is jou treur

Jy weet nie wat jy doen

My aandsang van dooie siele

Is diep in lanferkloof (p. 10).

Sus, aan die ander kant, is die wit madam wat maar alte maklik oorsee gaan om te ontsnap:

… ek ruik na Estée Lauder, ek eet, ek drink uit Villeroy & Bosch, ek is humanisties, ek lees Don Quichot, ek sit aan die voete van Vesselina Kasarova, hier is genoeg geraamtes vir Twin Towers op Tafelberg … (p. 6).

Die ondernemers se twee werkers, Savage en Lovemore, tree aanvanklik op as kommentators, hofnarre selfs, in hierdie huis van die dood. Soos die stuk aangaan, ruil die rolle grootliks om. Maar ons kom daarby.

’n Opperse belediging vir die penis

Uiteindelik is Die kortstondige raklewe van Anastasia W ’n alleraanslag op die penis. In ’n land waar geweld so dikwels penisgedrewe is, en selfs die staatspresident skynbaar sy penis in elke moontlike gat indruk, kan dit nie anders nie dat gate vir penisse bespreek word.

Daan is penisbefoeter en speel gereeld met syne.

Wanneer Sus oorsee is en Daan in die sorg van Savage en Lovemore gelaat word, ruk sy drange soms handuit (en dis nie bloot net dat hy telkens in die openbaar sy ding met sy hand uitruk nie). Dis dan dat enige gat sal doen, soos Lovemore dit stel: “Mevrou sê ons moet KY smeer in sy Dutch wife, hy is jags, any orifice will do” (p. 11).

Hierdie “Dutch wife” is, in die woorde van Savage, “’n blok met ’n gat in” (ibid). ’n Houtblok, om presies te wees, en die gat is net mooi op die hoogte van ’n man wat staan en steek.

Die man se drang om sy penis in gate te steek kom skynbaar al van ons volksplanters af, vandaar die naam “Dutch Wife”. Lovemore sê:

Dis ’n heirloom, so I’m told, van hulle voorsaat, die volksplanter, Abel Huisamen. (…) Dis die honest truth, Mikey, dis wat die sailors op die Goede Hoop genaai het, bietjie varkvet innie pompgat en dan pffft-pffft-pffft. Wood on wood, lattie sparks fly (pp. 11 – 12).

Savage, wat self die penis swaai, is skepties. Hy vra: “Jissis, was daar dan nie spanspekke in daai convoy nie, lyk my sagter op ’n man” (p. 12).

Waarop Lovemore antwoord: “Nee, my bra. Daai’t moes hulle opvriet teen die skeurbuik, die eerste soft landing was eers die local boesmanpoesies” (ibid).

Savage, wat dit nou ook gou uittoets, sê “dit was die transitional fuck” (ibid).

Maar Lovemore is meer sinies:

Shot, bra, en ons is noggie yt nie lyk dit, driehonderd jaar dis een moerse cock-up hier, by way of speaking, dit naai en vrek, dit moor en slag en jaag kak aan vir Afrika. Soos hulle sê in die classics, it’s a long fuck to freedom (ibid).

Nou moet ons dalk noem dat Lovemore ’n cross-dresser is. Hy/sy is dus manlik, maar vertolk die rol van die vrou. Die penis word dus weggelaat in Lovemore se mondering. Dit word selfs deeglik weggesteek in baie stywe onderklere. Savage is manlik, maar skynbaar die lover van Lovemore – en dus gay.

Dit laat Daan met die rol as heteroseksuele man. Daar is talle verwysings na insest in die stuk (let ook op die van Huisamen – ons dool maar by die huis rond nie waar nie?). ’n Mens sou ’n hele studie kon doen oor die ooreenkomste tussen Anastasia W en Triomf, ek gaan egter nie, want daar is ander temas wat interessanter is. Van belang is bloot dat Daan se keuse van “poesie” (’n woord wat baie voorkom) natuurlik nie dui op voortplanting nie.

Maar dis die punt. Jy plant nie voort as jy ’n negejarige verkrag en dan vermoor nie. Jy kan nie eers plesier soek nie. Jy is dan bloot ’n geweldenaar. En dís waaroor Die kortstondige raklewe van Anastasia W handel. Wanneer die vrou se nut tot die verbruik van haar poes gereduseer word, is hulle raklewe soms kort. So was Anastasia W s’n bitter kort: Net een middag waartydens sy herhaaldelik verkrag is (verbruik is, dus), en toe weggesmyt is. Haar poes was teen daardie tyd verpulp, onbruikbaar; haar nut (haar kut), helaas, daarmee heen.

Hel. Ons lewe in ’n siek land. G’n wonder die verhoogstuk is makaber en grotesk nie. Hoe anders hanteer jy ’n paragraaf soos die een hierbo?

Die seksgeweld, waaroor Anastasia W gaan, word grootliks voor die deur van die heteroseksuele man gelê. En, baie belangrik, ons swart penisgenote word nie gespaar nie. Savage (p. 7) sê die probleem lê wyd: “…tussen Jan van Riebeeck die kaaskop uit die moederland 1652 en Zuma die stortkop van die vaderland 20 fokken 10.”

En dis hier waar Lovemore dan die briljante idee kry om die konsep van die Dutch wife te repliseer – vir kommersiële doeleindes. Gee vir elke penis ’n bekostigbare, veilige gat:

… hardeware vir die houte, nou gat ons ’n anner deuntjie virrie raindow nation sing. (…) Mainstream, of course: made to size, no mess, no fuss, no victim, no condom, no baby, ’n low budget fuck vir frugal times (p. 12).

En dis op híérdie punt waar die twee werknemers, wat hulleself nou ekonomies begin bemagtig, die oorhand kry.

Presies hoe hulle die oorhand kry (nie baie eerlik nie), moet julle maar self gaan kyk. Dit is egter interessant dat dit die nie die heteroseksuele mans is wat die oorhand kry nie.

Die metafoor is dus duidelik: Die een wat die penis kan beteuel, wen.

Soos ek sê: Marlene beledig die penis baie deeglik in haar stuk. (Lesbiese vroue sê hoeka dat ’n penis gewoon in die pad is van uitstekende seks.) Aan die einde sny Daan selfs syne af.

Maar waar laat dit die vrou?

’n Brief aan Suid-Afrika

Verlede jaar, tydens die Versindaba, was Marlene van Niekerk een van die organiseerders van ’n geleentheid genaamd “’n Brief aan Suid-Afrika”. Tydens hierdie geleentheid is digters gevra om hulle omdigting van Allen Ginsberg se “America” te kom voorlees.

Ginsberg, bekend as ’n sogenaamde Beat-digter, se brief toon dat hy moedeloos is oor Amerika se verval. Interessant genoeg soek hy, heel moontlik natuurlik ironies, die oorsaak van die verval búíte die grense van die land: “America it’s them bad Russians. Them Russians them Russians and them Chinamen. And them Russians. The Russia wants to eat us alive”.

Tydens haar reise na die buiteland, skryf Sus gereeld aan Daan. Hy maak egter nie die briewe oop nie en, wanneer sy dan terugkeer, lees sy een van die briewe voor wat sy, ongeopend, optel in die ondernemerskantoor. Hierdie brief is Marlene van Niekerk se “Brief aan Suid-Afrika” (pp. 23 – 24). Ek haal dele daarvan aan:

Suid-Afrika, luister mooi, ja jy daar aan die onderpunt tussen twee oseane, ek sit hier in Toskane op ’n onbekende boer se grond waar swart hane met rooi kamme pronk tussen sipresse –

 

Suid Afrika, moenie anderpad kyk nie, ek praat met jou! (…)

 

Suid-Afrika, my eintlike issue is ek sit alleen hier met my hoed vol polkadots tussen die olyfbome voor my lyntjiesbriefpapier en: Ek is nie bang nie. ’n Man sal nie hier uit die bosse kom en met ’n mes teen my keel my klere van my lyf skeur soos wat met een uit elke twee gebeur in jou gefokte woonbuurte daar benede ryk sowel as arm nie. Hier is niemand hier wat dink hy of sy behoort my hoed of my hand, my koets, my kut of my ketel wat op my stoof staan te besit nie. (…)

 

Geen kolonie wat op dié wyse sogenaamd beskaafd geraak het deur die gesante van God kan die vryheid verduur van ’n konstitusie wat drie eeue later kamtig die hemel met geopende deure aan almal beloof nie. (…) Nou is daar in plaas van apartheid ’n handves van menseregte, maar die massas krepeer nou eers. Suid-Afrika, wat moet ek doen? (…)

Kort na sy hierdie brief voorgelees het, vlug Sus weer na Europa.

Die punt is dus dat die vrou in Suid-Afrika, die slagoffer is: Wit of swart, ryk of arm. Sus, die wit vrou, kan wegkom. Sy hardloop dus, wanneer sy kan. Sy is ryk genoeg (danksy die duisende sterftes waaruit sy geld maak) om tydelik te ontvlug.

Sus is egter ook, op ’n vreemde manier, aandadig danksy haar insestueuse verhouding met haar broer. Die wit madam, die “ware” Dutch wife, leen dus soms haar gaatjie uit in ruil vir die voordele wat daarmee saamgaan. Sy is dus tegelyk slagoffer én medepligtige. Maar is dit beperk tot die wit madam?

Die noodkreet: “Suid-Afrika, wat moet ek doen?” is op ons almal se lippe.

Hoe kon die ANC se vroueliga vir Zuma steun as president? Hoe kan Winnie Mandela so klakkeloos aan Julius Malema se lippe hang?

Hoe kon wit vroue (en mans) vir Verwoerd gestem het?

Want, natuurlik, is die verkragter ook ’n slagoffer van ’n siek samelewing. Hy is die geweldenaar, maar wat laat mense sulke goed doen?

Aan die einde van derde bedryf, tydens ’n “set piece” (aldus die teks, p. 26) van drywende rockmusiek, word Ingrid Jonker se ikoniese gedig omgedig (pp. 27 – 30). Ek haal enkele reëls aan:

En sy maag was hol en sy ma was dronk

In die lokasie van die omsingelde hart

wat Afrika skreeu die geur

van geregtigheid en bloed

En sy pa het geskel en op die sinkplaat gebonk

Die djembe van onmin, die kwaito van smaad

en was dit die vader of was dit die moeder

en wat maak dit saak of was dit ’n ander

wat die ysterpyp gegryp het om die kind mee te slaat?

 

(…)

 

Die kind is nie dood nie

Die kind is die skadu van trotse regerings

Die kind wat verhonger in die sand van Philippi

Die kind word ’n man wat deur Afrika trek

Die kind word ’n reus wat die wêreld deurreis

 

met ’n ysterpyp in sy hand

 

Daar is nie maklike antwoorde nie. Veel vroeër (p. 5) sê Lovemore: “Taxi, taxi! Hoe kry ek ’n taxi uit hierdie gedig?”

Die uitwissing van hongersnood en die skep van meer menslike omgewings sal help, maar nou mors ons nuwe regering nog meer geld as die vorige spul. In Lovemore (p. 7) se woorde: “Of hulle iets het om te celebrate except’ie arms deal watse dybote daily innie droogdok duck.”

Laat hulle dan maar hoenderpastei eet

Marlies Haupt, ’n jong vriendin van my, steeds student, het die stuk die volgende aand gaan sien. Ek wou graag haar reaksie hoor daarop. Sy was gek daaroor. Sy’t egter ’n baie interessante opmerking gemaak wat ek graag deel: Marlies sê die rede waarom hierdie geweld op die verhoog ’n mens nie skok nie, is omdat ons dit elke dag in die koerante beleef.

Sjoe.

Die probleem is, sy is reg. As ons té sensitief is, raak ons kens, soos Daan.

Toe Daan se ouma oorlede is, het die gesin hoenderpastei geëet op die begrafnis; die haantjie, wat pastei geword het, was egter ’n speelmaat van Daan.

Die dood van die hoender het hom geruk.

Daarom is dit juis so skokkend dat hy later, wanneer hy waansinnig word oor die talle dooies wat hy moet help begrawe, begin om self hoenders te vang en dood te maak.

Hy aan wie geweld gepleeg is, word die geweldenaar.

Die verhoog is later vol hoenderkarkasse. En aan die einde van die stuk is die karkasse ook in die foyer, jy kom nie weg van Daan se destruktiewe einde nie.

Wanneer die stuk afloop, is Savage en Lovemore in beheer. Hulle is ryk, hulle praat korporatiewe woorde met hulle aandeelhouers en dra kispakke. Sus en Daan is daarmee heen.

Wanneer die (spreekwoordelike) gordyn val, daag Sus en Daan ook nie op vir die buiging nie. Hulle is uitgeskryf.

En dan hoor ons hulle: Al singende in foyer. Daar staan hulle, soos zombies en sing. Hulle deel, sonder emosie, hoenderpastei uit – op geelrys (begrafnisrys). Op die tafels staan melktert, koeksisters en hertzoggies.

Almal wat wou, kon dus fisies deelneem aan die begrafnis. Wie se begrafnis? Almal s’n. Al die honderde duisende wat vermoor is. En Daan, sensitiewe Daan, mal Daan, Daan wat so oor sy hoenderhaan getreur het, het, by implikasie, al hierdie hoenders vermoor om ons te laat vreet.

Ons moet egter nie ’n ander aspek uit die oog verloor nie. Die einde behoort aan die nuwe orde, die oue is verby. Die nuwe orde (deur Savage en Lovemore) bestuur die soustrein. In hierdie klimaat is hoender ’n luukse, iets wat voorberei word vir die uitgelesenes. (Die armes kry niks, of net pap.)

Hoender het ook manier geword om die armes kalm te hou. Let op hoe gereeld Nando’s of KFC uitgedeel word by gemeenskapsvergaderings. In hierdie verband kan ek uit ’n onlangse artikel deur Lionel Faull (in die Mail &Guardian van 8 – 14 April 2011) aanhaal. Die stuk is getiteld “We are moving corpses” en handel oor MK-veterane wat beweer dat hulle pensioengeld nie by hulle uitkom nie. Dan hierdie woorde, deur Israel Mdlalose:

When you go to a meeting with some comrades to ask crucial questions, KFC appears. While you are eating, you see the cars [of the leaders] leaving.

Die Boerse voorkoms is dus bedrieglik, die nuwe bedeling het gou die oue begin naboots.

Die jonges eet nie saam nie

Ek het meegedoen aan die eet van die pastei. Vir my was dit deel van ’n ritueel, maar ’n jong kollega van my kon glad nie glo dat ek éét na so ’n stuk nie.

En Marlies, wat nie veel jonger is as die kollega nie, sê dieselfde het tydens hulle vertoning gebeur: Die ou mense het geëet, die jonges nie.

Beteken dit dalk iets? Is ons jonger generasie dalk besig om die rituele af te sterf? Val hulle nie so maklik vir die hoendereetkultuur nie?

Ek weet nie. As dit so is, is daar hoop.

Kritiek?

Ek het kritiek. Dis lank. Dis swaar. Dis harde werk. Dis dalk meer ’n opera as ’n drama. Die stuk is waarskynlik redelik konteksgebonde – en die sokkertema dateer dit verder. En tog. En tog … Dit sal waarskynlik, ongelukkig, ’n tydjie duur voor ons nie meer afgestomp word vir die geweld nie, voor ons nie meer duisende per jaar verloor weens voorkombare probleme nie.

Met Breyten se Boklied het ek destyds gevoel dis ’n stuk wat liewer op ’n markplein opgevoer moes word waar mense kon sit ek kyk terwyl hulle koffie drink, of rondloop.

Met hierdie stuk weet ek nie. Die harde werk is dalk deel van die katarsis, die gevangenskap wat ons moet deursit vir ons kollektiewe skuld.

En, ek moet erken: Dit was tog die sit werd. Marlene van Niekerk se Die kortstondige raklewe van Anastasia W het my diep geraak.

Iets oor die span wat dit laat gebeur het

Die kortstondige raklewe van Anastasia W deur Marlene van Niekerk is opgevoer in samewerking van Aardklop en die ABSA-KKNK. Die stuk is moontlik gemaak deur borgskappe van die LW Hiemstra Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds en die Universiteit van Stellenbosch

Die rolverdeling sien soos volg daaruit:

Sus: Nicole Holm

Daan: Eben Genis

Savage: Dean Balie

Lovemore: Marlo Minnaar

Asook Gertjie Besselsen (Mr Cat and the Jackal), Jacques du Plessis (Mr Cat and the Jackal), Mareli Stolp, Xavier Cloete, Charl Clayton.

Regie en ontwerp: Marthinus Basson

Vervaardiger: Hugo Theart

Musiek: Braam du Toit en Mr Cat and the Jackal

Animasie: Colijn Strydom

Beligting: Nick Myburgh

Klank: Adriaan Drotsche

Verhoogbestuurder: Poksie Pienaar

Assistent-verhoogbestuurder: De Klerk Oelofse

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kiekies van die Kango

April 15, 2011 in Sonder kategorie

Terwyl ons in Oudtshoorn was, het ons Knaap deur die Kangogrotte geneem.