Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Kom loop kaalvoet verby skilderye op die KKNK

Maart 31, 2011 in Sonder kategorie

 

En kom drink koffie saam met my! Protea se span gaan weer die KKNK tref – in mufti, en verkieslik kaalvoet.

 

Die grootste lawaai, stof en dieseldampe gaan kom van die Voetspore-span. Hulle gaan van 2 tot 9 April ’n stalletjie by die Oewergebied langs De Jager Sportkompleks. Gaan loer in (die wyn is lekker ;-).

 

Maar dis nie al nie. Teen ’n prys van R250 kan jy saam met Johan-hulle gaan 4×4 ry, demonstrasies meemaak en ’n heerlike ete geniet (die wyn is ook lekker ;-). Kyk net wat Johan-hulle daar in die Doodsakker aangevang het!

 

Koop dan sommer hul boek Voetspore, van Casablanca tot die Kaap. Dit is ook by ons aanlynwinkel te koop.

 

Wat meer is, jy kan Donderdagaand die amptelike bekendstelling van hierdie boek bywoon. Louis Smit gaan dit saam met Johan-hulle doen – ek gaan daardie aand olifante jag met my kamera. (As jy nou nog nie weet dat Johan lekker wyn het nie, moet jy maar sy boek op ’n ander plek koop!)

 

Philip de Vos, daardie skynbaar nimmer-immer-moegnie rympiesman, en Tertia Visser-Downie tree ook by die KKNK op. Tertia speel Moessorgski se “Prente by ’n uitstalling” en Schuman se “Kindertonele”. Philip lees dan sy rympies voor wat hy geskryf het om by die musiek te pas. Verlede jaar het Philip en Tertia ’n Woordfeesprys gewen vir ’n soortgelyke vertoning, so moenie dit misloop nie. Ek gaan daar wees!

 

Die boek? Volgende jaar!

 

En wie kan dan nou vir Amanda Strydom mis? Sy het meer as een vertoning aan hierdie jaar.

 

Maandagaand om 22h00 gaan ek my ou vriende Wim en Danie van Jamstreet ondersteun – en na Amanda luister wat gaan sing tussen beelde van Lidi van Schalkwyk. Van Schalkwyk het hierdie beelde spesiaal geskep om by Strydom se musiek te pas. Die kaartjies kos net R100.

 

Wim en Danie is wonderlike gashere, so sak toe op hul plaas! Ek gaan daar wees.

 

Amanda Strydom het ook met Deon Opperman en Janine Neethling saamgespan om “Binnekamer” te skep. Julle weet hoe goed Amanda en Janine op die verhoog is. Go for it! Kaartjies kos net R120 en die optredes (5–9 April) is in die Gimsaal te sien.

 

En koop Amanda se boek! Kaalvoet is op die rakke. Koop dit en vra haar om dit te teken. Dit is ook by ons aanlynwinkel te koop.

 

Nou vir ander uitgewers wat ook spore maak by die KKNK. Elzabé Zietsman doen ’n verwerking van Marita van der Vyver se Dis koue kos, skat. Ek doen moeite om na Ziets te gaan luister elke keer as ek die KKNK tref – en hierdie keer gaan ek ook!

 

Dan moet julle Lapa se stalletjie dophou. Hulle doen ontsettend veel om hul kinderboeke te bemark.

 

Moet ook nie vergeet van die amptelike Boekgeleenthede wat Susan Samuel so pligsgetrou reël by die KKNK nie.

 

Vir meer inligting, en besprekings, gaan na die KKNK se webruimte.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Op ’n persoonlike noot

Maart 26, 2011 in Sonder kategorie

(My English-speaking FB-friends can run this through Google-Translate)

Die foto’s het ek gister geneem, vanoggend moes ek help borrels maak. Hier is die storie.

’n Lewe met telge is nooit voorspelbaar nie. Gooi nog twee werkende ouers ook in die mengsel (die ouers kry nie tyd om saam in die bad gegooi te word nie), dan kry jy heerlike chaos.

Toe my knaap klein was, kon ons hom omkoop om daardie sjokoladelyfie skoon te kry deur pa te laat saam bad. Daar is baie skuim in so ’n bad, en die water is koud om nie die sjokolade te laat smelt nie. Pa doen lustig mee, maar droom van die dag dat ’n volwasse, vroulike skuimmaker ’n warm bad met hom sal deel… Intussen verduur hy die koue skuim maar omdat die mannetjie se glimlaggie so kosbaar is.

Knaap het intussen gegroei en stort deesdae – wat vir almal makliker is. Maar gister wou hy weer in skuim bad. (Hy was baie mooi soet, want die skool het vroeër gesluit en ek moes nog ’n vol dag se werk insit, so hy moes homself vermaak terwyl Pa sy werk probeer onder die knie kry.) Hy was teen vieruur al uitgekuier met sy eie geselskap en ek het gehoop ’n bad sou my nog so ’n halfuur gee. Toe nie. Mannetjie hou van ’n waarderende gehoor.

Die vloer, nou ja… Sy ma het maar laat blyk dat sy pa sal moet seker maak alles is weer oukei.

Na die bad is daar so woes gespeel dat Knaap moes gaan stort voor hy sy slaapklere kon aantrek. (Seuntjie, water en modder … Eish.) Na aandete probeer Pa nog werk, Ma gaan maak siek kinders gesond en Knaap is baie soet.

Pa kom baie laat in die bed, want na hy die eerste deel van die analise afgehandel het, moes daar nog gepoog word om Achille Mbembe onder die knie te kry. (Lees gerus sy werk, hy is Afrika se antwoord op Derrida, maar hy is intelligenter as Derrida.)

Vanoggend moes Pa al weer bitter vroeg op, want ek moes 20 km hardloop en die geliefde moes al weer baie vroeg by die hospitaal wees – so ek moes terug wees voor sy vetrek.

Met my 20 km in my bene (en ’n moerse val later) kom ek vol rowe by die huis aan, soen die geliefde tot siens, stort en geniet ’n halfuur van verdere analise voor Knapie wakker word.

Pa maak Milo, gesels ’n bietjie en … word toe gevra om weer saam te bad, soos in die ou dae. Nou ja, pa se effens stywe bene is nie lus vir ’n koue bad nie, maar Knapie se gesiggie is so hoopvol dat ek nie kan nee sê nie.

Die probleem is, Knaap is nou heelwat langer as drie jaar gelede, so pa se kant van die bad is kleiner.

Maar skuim het ons gemaak!

Op ’n stadium sê Knaap: “Hou aan tot die biesies bewe!”

Toe ek lag vir die mooi uitdrukking sê hy: “Wat? Ek het dit by jou geleer!”

Wie kan nou nie ’n koue bad waardeer nie?

Etienne van Heerden het so tien jaar gelede ’n slag vir my gesê: “Sakkie, kinders is die Groot Avontuur.” Ek kan nie stry nie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Foto’s wat jou laat stilsit

Maart 24, 2011 in Sonder kategorie

William James Everton (aka Oubaas) was ’n tronkbewaarder op Robbeneiland. Vandag woon hy in omgeboude garage in die agterplaas van die Plaatjiegesin. Daar is geen toilet in die kamer nie, ook nie lopende water nie.

 

Dit is sy storie, soos vertel deur die kamera van Mail & Guardian se Demelza Bush. Sit die klank aan – die tweede keer wat jy dit kyk.

 

Bliksem.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Liz Taylor is oorlede…

Maart 23, 2011 in Sonder kategorie

… sonder om eers een keer met my te trou.

Op ‘n ernstiger noot, hier is ’n berig oor haar dood.

Profile photo of izakdv

by izakdv

‘n Laaste Woordfeeskykie

Maart 19, 2011 in Sonder kategorie

Dis nou die laaste van my Woordfeeskiekies, want die fees is nou al lankal verby.

 

Elsa Joubert. As jy nog nie een van haar boeke gelees het nie, begin nou!

 

Wilna Snyman. Lees gerus hierdie berig wat oor haar geskryf is in die Beeld.

 

 

André le Roux, die skrywer van Kan ek maar aan jou selluliet vat? Hy sê dis die Kook & Geniet van intieme verhoudings …

 

Hendrik Venter, die uitgewer van Pomp.

 

Kerneels Breytenbach: uitgewer, skrywer, lekkerbek, resensent, musiekkenner …

 

 

Ampie Coetzee praat oor die sensuur van die apartheidjare.

 

Die beeldskone Marlene le Roux. As jy hierdie pragtige vrou sonder ’n draad klere wil beleef, koop die boek Look at me. Maak ek nou van haar ’n seksobjek? Dalk, maar koop eers die boek voor jy my aanvat!

 

Riaan Visman oor die stuk Trainsmash.

 

Sommerfoto 1: Laataand in die Plataankafee.

 

Sommerfoto 2: ’n Lang sluiterspoed, ’n stewige boom en ’n optiese beeldstabiliseerder maak spoke wakker in die Bos.

 

Sommerfoto 3: Studente op pad na ’n jol.

 

Ek wil nog ’n Woordfeesstorie vertel oor Pieter W. Grobbelaar. Ek hoop om dit binnekort te doen. Dan is ek klaar.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Soeker

Maart 18, 2011 in Sonder kategorie

Ja, ek val rond soos ’n dronk weeluis, maar dis alles die boek ten behoewe. Ek was ’n hele aantal dae in Gauteng, waar ons, onder andere, Soeker, deur Pieter Cilliers, gaan bekendstel het. Hier is ’n berig wat vandag in die Volksblad verskyn het. Vir diegene wat in die Beeld se verspreidingsgebied woon, kyk na bladsy 16 in vandag (die 18de) se koerant.

 

Die foto hierbo is deur Daan Prinsloo, self ’n outeur, geneem. Hier staan ons, van links na regs: Louise Prinsloo (outeur van Lukas, die geliefde geneesheer), Martjie Bosman (eindregisseur van Soeker, en die skrywer van Landelik en Toevallige Tekens), die uwe (met das!) en Nicol Stassen (my baas, en die skrywer van Afrikaners In Angola).

 

Ons het verlede week by die Woordfees ook oor die boek gepraat. Kliek gerus hier om heelwat foto’s te sien, en om die berig oor Soeker te lees in die Rapport.

 

Hierdie foto van Pieter en Yolanda Dreyer is deur Awie Badenhorst geneem.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Woensdag 9 Maart

Maart 13, 2011 in Sonder kategorie

Nog ’n paar foto’s van die Woordfees…

 

Andries (Roof) Bezuidenhout gesels op RSG oor die gevaarlike Nasionalisme binne die ANC.

 

 

Ian Roberts maak reg om te gesels op RSG oor die produksie rakende die geskiedenis van ’n baie spesiale konsertina.

 

Ollie Viljoen het ook oor die konsertina gesels.

 

 

Die US Woordfees het TT Cloete vereer vir sy werk.

 

 

Heilna du Plooy gesels hier oor die werk van TT Cloete.

 

Andries Bezuidenhout gesels met Hanlie Retief oor haar boek Hanlie Retief gesels met. Vir ‘n volledige bespreking en baie meer foto’s, kliek hier. (Die stuk en die foto’s by hierdie skakel is deur Book.co.za, al staan my naam bo aan.)

 

Naomi Bruwer van LitNet en een van die professionele fotograwe in aksie, Jacques Ensink.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Stephanie Badenhorst op RSG se Spektrum

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

Ek het hierdie foto gisteraand by Stephanie Badenhorst en Riaan Visman se Trainsmash geneem. Ek het pas verneem dat een, of albei, van hulle vanmiddag op RSG se Spektrum gaan wees.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Fokofpolisiekar

Maart 11, 2011 in Sonder kategorie

Donderdag se grote was Fokofpolisiekar.

 

Annie, hulle biograaf, was maar op haar senuwees tydens die radio-onderhoud.

 

 

Jaco “Snakehead” Venter was so chilled op die radio soos ’n goeie Martini. Hy moes al weer move net hier na.

 

Die Joernalis, Henry Cloete (middel), het die manne, en vir Annie, in toom gehou op die verhoog. Hy’s moerse cool.

 

Hier sit hulle. Rockers, rockers en journo’s op ’n ry. Jaco is al weer terug in die Kaap, Johnny is doenig in Gauteng.

 

Wynand

 

Francois

 

Hunter

 

Annie

 

’n Baie gelukkige bewonderaar. Protea het tien boeke ingevlieg vir die Woordfees. (Die boek is eers aan die einde van die maand in die winkels.) Hierdie knaap was een van die baie min wat vannag al kan lees. S‎ý boek het boonop ’n storie. Hy’t R170 op hom gehad. Die boek kos R180. Daar was net tien beskikbaar. Toe staan iemand agter hom en sê: “Hier’s die ekstra R10. Ek kan nie toesien dat jy vanaand sonder hierdie boek moet loop nie.”

 

Annie het die boek opgedra aan Whisky. Dít is Whisky hoe Whisky lyk. Hallo Whisky.

 

Wynand teken ’n feesprogram.

 

 

Wynand teken Nicol Stassen se boek. (Nicol is die grootbaas van Protea Boekhuis.)

 

 

Hunter teken Nicol se boek.

 

Whisky teken ook Nicol se boek.

 

Francois teken ’n bewonderaar se kitaar.

 

Louise, die band se bestuurder.

 

Daniel, van Zef Leopard.

 

Profile photo of izakdv

by izakdv

Tom Lanoye se Sprakeloos wen nóg ’n enorme prys

Maart 10, 2011 in Sonder kategorie

 

Tom Lanoye, die man wat deur die US Woordfees genooi is om die eerste boekpraatjie van hierdie jaar se fees te lewer, is pas nog ’n keer vereer vir Sprakeloos, die uitsonderlike roman waarvan die Afrikaanse vertaling pas by Protea Boekhuis verskyn het.

De Maatschappij der Nederlandse Letterkunde het gister bekendgemaak dat hulle die gesogte Henriette Roland Holst-prijs aan Lanoye se Sprakeloos toeken.

Die prysgeld beloop Euro2 500 en daar is ook ’n oorkonde aan verbonde.

Hierdie prys word al om die drie jaar aan ’n prosawerk toegeken. Poësie en Drama kom gedurende die ander jare aan die beurt.

Dit is nie die eerste groot lof wat Sprakeloos wen nie. De Koninklijke Academie voor Nederlandse Taal- en Letterkunde nomineer slegs al om die vyf jaar ’n prosawerk, en Sprakeloos het hierdie eer te beurt geval in 2010.

Lanoye het ook al te vore nomisasies gewen vir ’n Gouden Uil, die Libris Literartuurprijs en in 2007 is sy hele oeuvre vereer met ’n Gouden Ganzenveer.

 

Iets meer oor Henriette Roland Holst

Henriette Roland Holst (1869 – 1952), bekend as Jet, was een van Nederland se voorste digters en literatuurkritici. Haar nooiensvan was Van der Schalk. Sy was ook ’n aktiewe sosialis wat aan haar die bynaam “Rode Jet” verskaf het. In hierdie rol het sy haar lewe lank vir werkers en jonger vroue in die bresse getree. Dit was klaarblyklik Herman Gorter wat haar aan die werk van Karl Marx bekendgestel het. Sy was getroud met die beeldhouer Richard Roland Holst en was ’n familielid van die ewe bekende digter Adriaan Roland Holst.

Iets meer oor die Tom en Sprakeloos

Book Southern Africa se verslaggewers was dáár toe Tom en Daniel Hugo gesels het. Hier is ’n puik berig en foto’s (nie van my nie, al staan my naam daar bo aan.)

As julle wil hoor hoe Tom klink as hy voorlees uit Sprakeloos, kliek hier.

  

En dan het BOOK SA ook ’n oulike berig, met ’n video, geplaas oor ’n gesprek tussen Tom en Antjie Krog. Luister gerus!