Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Nog ’n mooi debuutstorie

Februarie 25, 2011 in Sonder kategorie

 

Hanlie Retief, die nimlike hardekwasjoernalis van Rapport, se debuut het pas verskyn. Dit is ’n keur uit haar onderhoude in Rapport.

Die pakkie het Maandag opgedaag. Haar ma, aan wie die boek opgedra is, was ook daar.

Haar ma het nie geweet van die opdrag nie.

Hanlie maak toe die pakkie oop, gee vir haar ma ’n boek en gryp self een. Hulle twee sit toe en blaai en daar staan dit:

Aan my ma

Julle het seker al agtergekom ek geniet my werk 😉

Koop gerus hierdie boek. Dis meesleurende leeswerk. Hier is onderhoude in met: Marike de Klerk, Karen Zoid, Victor Matfield, Julius Malema, Steve Hofmeyr en baie, baie ander.

Kalahari het dit tans op ’n spesiale aanbieding.

Exclusive Books doen ook baie moeite om ons boeke te koop en te bemark. Ondersteun hulle gerus.

Profile photo of izakdv

by izakdv

En die debuutskrywer is …

Februarie 24, 2011 in Sonder kategorie

 

Reney Warrington.

 

Ek het haar vanoggend ontmoet en formeel die kontrakte oorhandig, sy glimlag steeds soos die Cheshire Cat.

 

Julle kan haar blog hier lees.

 

Haar filmresensies verskyn ook op LitNet onder die naam Reeltime.

 

As julle wil sien hoe sy lyk en wil weet hoekom hierdie stunning boek op haar toenmalige Engelsonnie se tafel gaan beland, kliek hier.

 

Die roman sal eers oor ’n jaar op die rak wees, maar dit beteken julle kan solank R20 per maand spaar – dan koop julle dit wanneer haar storie in die winkels is. Dis die moeite werd!

 

Kan ek julle die storie agter die storie vertel?

 

Uitgewers sit altyd met ’n “slush pile” – dis ’n enorme hoop manuskripte waardeur ons moet werk. Wel, ek het hierdie een van die slush pile af opgetel en begin lees. Toe lees dit lekker en ek chuck dit in my rugsak.

 

Daardie aand moes ek en my seun op die skoolgronde gaan tent opslaan, so, terwyl knapie speel, sit pa rustig met ’n flits en ’n bottel rooiwyn en lees. Hoe verder ek lees, hoe meer raak ek opgewonde oor hierdie uitsonderlike vertelling.

 

Teen die einde was daar net een uitweg en ek het onmiddellik die res van die span genader en gesê: Hier is ’n nuwe stem wat smeek om uitgegee te word!

 

Net om seker te maak die rooiwyn het nie te veel gepraat nie, gee ek die manuskrip toe vir my geliefde om ook te lees. Sy suffer nie fools nie en sal maklik ’n boek eenkant toe stoot as dit haar verveel. Sy het so lekker gelees dat sy nie daardie aand saam met my wou fliek nie. Reney se boek het gemaak dat ek alleen gefliek het, die geliefde het net gelees en gelees tot sy klaar was.

 

Wys jou – nuwe stemme word steeds ontdek deur goeie uitgewers!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Wel?

Februarie 15, 2011 in Sonder kategorie

 Julle het nog nie reg geraai nie. Sy’s ook nog nie reg nie – sy’s nog besig om die skok te verwerk, so ek gaan nog nie sê nie. Wanneer sy reg is, sal die wêreld waarskynlik weet. 😉

 

Ek moet wel sê: Julle raaiskote is slim. Hier is lekker skrywers op die blogs. Etienne van Heerden sê altyd dis goed om te oefen, so, hou aan blog en oefen, oefen, oefen.

 

As julle haar blog lees, sal julle sien sy’t al ’n rukkie lank gewerk aan haar idees, maar, baie belangrik, die roman het sy in haar binnekamer gekoester, klaargemaak en … wel. Volgende jaar is dit op die rakke.

 

So, bloggers, dis gom op die gat en deursettingsvermoë.

 

En lees, lees, lees. Koop boeke en kyk wie werk en wie nie!

Profile photo of izakdv

by izakdv

’n Nuwe stem is gebore

Februarie 14, 2011 in Sonder kategorie

In 2012 gaan daar ’n debuutroman verskyn wat mense gaan laat praat.

Ek het vanoggend vir die skrywer haar kontrak aangebied.

Sy blog hier op LitNet.

Kan julle raai?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Suid-Afrikaner wen Wêreldfotoprys

Februarie 11, 2011 in Sonder kategorie

 

Die Mail & Guardian het pas berig dat Jodi Bieber die World Press Photo Award vir 2010 ingepalm het.

 

Bieber is ’n Suid-Afrikaner.

 

Hierdie aangrypende foto van die agttienjarige Bibi Aisha het die 1ste Augustus 2010 op Time se voorblad verskyn.

 

Aisha het weggehardloop van haar man, wat haar glo mishandel het. Volgens berigte het hy haar opgespoor en summier haar ore en haar neus afgesny.

 

Aisha is deur die VSA-weermag gered en sy woon tans in die VSA.

 

Interessant genoeg het talle mense Bieber se foto gekritiseer as oneties. Ek kan nie dink hoekom nie. Vir my lê die krag van die kamera júís in die vermoë om te vertél. En kyk hoe gemaklik is Aisha op hierdie foto. Dis puik belig, dit vertél die storie en dit bly ’n ontstellend mooi vrou.

 

Die lang lens (ek raai dis ’n 200 mm) maak ook dat die model nie gekonfronteer word met die kamera nie.

 

Ek lig my hoed vir Jodi Bieber.

 

Hierdie foto het myns insiens dieselfde krag as Nick Ut se angswekkende Viëtnam-foto van die meisie wat kaal-kaal hardloop ná die napalm haar klere afgebrand het. Maar kyk net hoeveel meer Bibi Aisha bemagtig word in hierdie foto.

 

Ut en Bieber het natuurlik in totaal verskillende omstandighede gewerk. Ut was dáár toe die bom geval het, Bieber het ná die aanval hierdie foto geneem, maar vir my is dit juis so wonderlik: Hier is ’n portretstudie wat, heel tereg, die nuus oorheers het.

 

(Bieber het ook ’n prys ingepalm in die portretstudiekategorie.)

 

Julle kan die Mail & Guardian volledige berig hier lees.

Profile photo of izakdv

by izakdv

Ek gaan beslis by hierdie supermark koop

Februarie 10, 2011 in Sonder kategorie

Ek het nie “Tools” nodig nie, maar … ek stem saam “Nothing Can Instead”.

Profile photo of izakdv

by izakdv

The last Boers

Februarie 8, 2011 in Sonder kategorie

(Foto van die Mail & Guardian)

 

Die Afrikaanse diaspora is al baie lank aan die gang. Weet julle van die Afrikaanse gemeenskap wat baie jare in Angola was? Of van die Afrikaners in Argentinië?

 

Daar het onlangs ’n paar interessante geskrifte oor hierdie mense verskyn.

 

Die mees onlangse is ’n artikel oor die Afrikaners in Patagonië (Argentinië) wat (vol Afrikaanse sinne en frases) in die Mail & Guardian (4–10 Februarie 2011) verskyn het. Hier is ’n uittreksel:

 

Traces of Afrikaner culture remain – they make biltong from guanacos, a small type of llama native to Patagonia, spice up their Spanish with the odd Afrikaans word and love their brandewyn and Coke — but over the generations it has obtained a distinctly Argentinian flavour.

 

En nog een:

 

Today names such as Kruger, Van der Merwe, Botha, Van Wyk, De Bruyn and Eloff are still around, but the people who hold them are a far cry from the Afrikaners in South Africa and maintain little of the cultural heritage of their ancestors.

 

Dis ’n fassinerende artikel en die moeite werd om te lees. Kliek hier vir die volledige artikel.

 

Die foto wat ek hier bo geplaas het, is van Juan Wright (69), wat beweer hy kon nog net vloekwoorde (bad words) in Afrikaans onthou.

 

Kort tevore het twee ander tekste verskyn wat die moeite werd is om te koop en te lees.

 

 

 

Nicol Stassen se boek Afrikaners in Angola 1928–1975 is ’n baie interessante verslag oor die afstammelinge van die Dorslandtrekkers – ’n groep Boere wat destyds nog uit die ou Transvaal getrek het in hul in Angola gevestig het.

 

Hoewel dit ’n akademiese teks is, lees groot dele daarvan baie lekker. Soos die Boere van Argentinië, het die Portugese Boere stelselmatig verarm en geassimileer met die Portugese bevolking. Dit is veral as jy verby die agtergrond kom en die mense se stories begin lees, dat dit interessant word. Daar is talle foto’s en kaarte in die boek.

 

Ek het Mahala, van Chris Barnard, weer gaan lees ná ek Afrikaners in Angola gelees het – en nou maak Mahala baie meer sin. Barnard het geskryf oor hierdie mense, sonder om té veel ophef te maak oor hul Afrikanerskap.

 

Afrikaners in Angola 1928–1975 is tans by Kalahari te koop teen ’n groot afslag.

 

’n Ander boek wat heelwat te vertelle het oor die Afrikaners in Angola, is William Chapman – Reminiscences

 

 

Chapman was ’n baie interessante oubaas: Hardkoppig, maar slim. Hy het wyd gelees, sy lewe lank, en het interessante ontdekkings gemaak. Hy was ook ’n jagter van formaat. Sy vertellings oor die lewe in die toenmalige Duitswes (tans Namibië) en Angola, laat jou soms hardop lag, ander kere wil jy krul van . . . sjoe? Kyk, ek skiet gereeld met my kamera. Dié ou het al meer leeus geskiet as ek, maar hy het koeëls gebruik. Tog, moet ek onmiddellik sê, is die vertelling nie bloeddorstig nie. Dis amper dead pan – tipies die British Citizen wat Chapman so trots was.

 

Ook hierdie teks bevat talle historiese foto’s en dit verhandel ook tans teen ’n groot afslag by Kalahari.

 

Wie weet, eendag skryf iemand nog boeke oor die Afrikaners in Australië en Nieu-Seeland? En wat van Londen?

Profile photo of izakdv

by izakdv

Okay, ek kies die hel

Februarie 7, 2011 in Sonder kategorie

(Spotprent deur Zapiro, kliek hier vir die vol grootte prent.)

 

Hmmm. So Zuma sê ’n stem vir hom is ’n stem vir die hemel?

Beteken dit dat hy, wat dink hy is in beheer van die ANC, homself tot godjie verklaar het?

Wel, ou pel, ek het vir baie jare trots ANC gestem. Die vorige verkiesing, danksy Zuma, het ek nie. En ek het Sondag gaan registreer om weer vir my ’n plekkie in die hel te boek.

Te hel met jou, Zuma!

Profile photo of izakdv

by izakdv

Om doodsberigte te skryf

Februarie 4, 2011 in Sonder kategorie

 <>

 Huldigings aan Fanus Rautenbach en Tol Pienaar

Om doodberigte te skryf, is deel van ’n uitgewer se beroep, want om dood te gaan, is deel van die lewe. En uitgewers leef ná aan mense.

Om egter twee doodsberigte in een week te skryf, van mense wat so heeltemal uiteenlopend was, het vreemd gevoel.

Eers het Fanus Rautenbach gesterf. Kort na hom Tol Pienaar.

Ek gaan eers oor Tol berig, want hy is minder bekend as Fanus, maar ewe interessant.

U. de V. Pienaar is op 12 Augustus 1930 gebore. Hy behaal op 23-jarige leeftyd ’n PhD in histologie en embriologie aan Wits, waarna Raymond Dart hom summier as dosent aanstel, maar Tol, soos hy bekendgestaan het, wou veld toe.

Rocco Knobel, wat op daardie stadium aan beheer van die Parkeraad was, wou nie byt aan hierdie knaap se aansoek nie, want, het Knobel gesê, hy is oorgekwalifiseer.

Tol Pienaar het sy PhD in sy sak gedruk en gesê: “Toets my.”

Knobel hét, en Pienaar is aangestel as ’n junior-veldwagter. ’n Bietjie meer as ’n jaar later het ’n gekweste leeuwyfie hom gebyt, maar dit het Tol Pienaar nie gestuit nie.

Sy brein en insae in die natuur het ook gemaak dat hy gou weer meer akademies begin werk het.

– In 1961 is hy bevorder tot Bioloog.

– In 1974 word hy die assistent-direkteur vir Bewaring; vier jaar later word hy bevorder tot direkteur.

– In 1978 word hy die Parkopsigter van die Kruger Nasionale Park.

– In 1987 word hy die hoofdirekteur van SANparke, ’n pos wat hy tot in 1991 beklee het.

Gedurende sy dae as hoofdirekteur het hy hard gewerk aan ’n boek oor die Kruger Wildtuin – vanaf die dae toe die Sabie-reservaat in 1898 geproklameer is, tot en met die aftrede van die legendariese Kolonel James Stevenson-Hamilton, wat in Sabie aangestel is om die wild te bewaar, en uiteindelik die Kruger Wildtuin help vestig het soos ons dit vandag ken.

Dis ’n ongelooflike boek en een wat in elke natuurliefhebber se boekrak moet staan. Neem uit die verlede is te koop by Kalahari.net.

  

Oor Fanus Rautenbach gaan ek nie ’n lang stuk skryf nie, want hy is meer bekend en talle ander het onlangs sy lewe en loopbaan beskryf, beter dalk as wat ek dit kan doen.

Ek sal hom egter onthou vir drie goed:

– Sy stout grappies wat hom gereeld van die lug laat verdwyn het onder die preutse Nasionaliste,

– Sy pragtige werk wat hy oor die “hemelkinders” (mense met Downsindroom) gedoen het, en

– Staal Burger.

Ek onthou nog goed hoe ek by die radio gesit het om te hoor hoe Burger “doedie” sê. Van die plotlyne en die intriges onthou ek niks, maar die spanning en afwagting, dit kan ek nou nog terugroep soos ek hier sit. Protea het later hierdie reekse geboekstaaf.

Staal Burger en Wonderdade van Staal Burger is albei te koop by Kalahari.net.

Sy memoirs, Fanus Onthou En Sebastian Lag in die mou, is by Lapa uitgegee. By Tafelberg het daar meer onlangs ’n keur uit sy geskrywe werk verskyn, onder die titel Tien uit tien.

Maar wat sê jy nou oor Fanus Rautenbach? Hy was groter as stompsinnige opmerkings – om die waarheid te sê, hy het hulle verpes.

Ek het toe maar die volgende geskryf in ons huldiging: Mooiloop, ou grote. Gaan maak amok daar op die hemelse radiostasie – ons is seker die mikrofoon was al aan toe jy daar land. (Maak net seker dat Petrus nog nie die sensuurknoppie gedruk het nie.)